Jongste aktiwiteit:

Bessie (Deel 4)

Twee ure later sit Bessie in die passasiersitplek van juffrou Malherbe se motor. Die maatskaplikewerker-tannie het gesê sy moet vir eers by iemand bly tot alles uitgesorteer is. Bessie het net haar ma gehad, nou is haar ma weg en sy het niemand. Sy weet êrens daar buite het sy ’n pa, maar sy het hom nog nooit ontmoet nie. Juffrou Malherbe het aangebied dat Bessie eers by haar kan bly tot hulle hom opgespoor het. Die maatskaplike tannie en juffrou Malherbe het Bessie gehelp om ’n paar van haar goedjies in te pak. Die maatskaplike tannie het deur hulle woonstel geloop en net haar kop geskud. “Hoe het julle hier oorleef?” het sy gevra, maar Bessie het haar nie geantwoord nie. Sy het nog nie een woord gesê na juffrou Malherbe haar van haar ma se ongeluk vertel het nie.

“Waar het jy so mooi leer teken, Bessie?” onderbreek juffrou Malherbe die stilte in die kar. Bessie trek haar skouers op, sê niks. Sy neem aan juffrou Malherbe praat van die prente wat sy in die woonstel by die rooidakhuis gesien het. Sy het gesien hoe juffrou Malherbe deur die huis loop en by al die prente stilstaan om hulle te bekyk. Almal prente wat sy, Bessie self, geteken het en met wondergom opgeplak het. Bessie staar by die motorruit uit na die huise en bosse wat verby swiep soos hulle ry. Sy voel hoe juffrou Malherbe kort-kort na haar kyk. Dit maak haar ongemaklik.

Minute later ry hulle by die skoolhekke in. Juffrou Malherbe en haar man woon in ’n huis op die skoolterrein. Die huis is spesiaal daar gebou vir die skool se hoof. Bessie was nog nooit in die skoolhoof se huis nie. Die huis is omhein met hoë palmbome en struike. Die huis is pragtig van buite. ’n Groot siersteen huis met ’n bruin dak. Voor die die groot vensters om die huis, hang daar hortjies, van dieselfde soort as voor die skool se vensters. Juffrou Malherbe help haar om haar tasse uit die motor te haal en beduie vir Bessie om haar te volg. Hulle loop deur die mooi tuin tot by ’n stoep. Op die stoep is twee wit hout gemakstoele met kleurvolle kussings, ’n mandjie vol tydskrifte en ’n wit koffietafel wat by die stoele pas. In die een hoek hang ’n stoepswaai soos een van daai wat mens altyd in die stories op TV sien. ’n Groot swaar houtdeur seël die ingang van die huis. Voor die deur lê ’n welkom matjie. Alles is so perfek, dink Bessie. Prentjie-perfek.

Juffrou Malherbe sluit die houtdeur oop en loop vooruit. Bessie volg haar. Sy steek vas in haar spore. Die binnekant van die huis is selfs nog mooier as die buitekant. Juffrou Malherbe gaan ook staan en kyk na Bessie. Sy glimlag. “Kom ek gaan wys vir jou waar jou kamer is.” sê sy en Bessie se voete kry weer stadig lewe, maar haar oë hou nie op kyk nie. Sy sien ’n sitkamer met sagte bruin leerbanke, ’n groot platskerm TV en klein kaggeltjie. Sy sien ’n kombuis met baie kaste en ’n groot stoof en dubbeldeur yskas-alles netjies skoon en op hulle plek. Oral teen die mure hang skilderye in mooi rame. Dit lyk glad nie soos haar patetiese pogings op lyntjies papier wat met wondergom aan die woonstel se mure klou nie. Die huis het drie slaapkamers. Een is juffrou Malherbe en haar man se kamer en die ander twee is gastekamers. Hulle het nie kinders nie. Bessie wonder hoekom iemand wat met kinders werk self nie kinders het nie.

Juffrou Malherbe lei haar na een van die twee gastekamers. Die kleure is ligbruin en blou. Nie potblou nie, blou soos die see, amper groenblou. Daar is ’n dubbelbed met baie kussings. Die gordyne voor die venster is lank en swaar. Dit maak die kamer donker. Juffrou Malherbe trek die gordyne effens oop en die laatmiddagson bars dadelik die kamer binne. Buite in die tuin voor die kamervenster, sien Bessie ’n visdammetjie en fonteintjie. Mens kan die water oor die klippies hoor loop en val tot in die dammetjie. Bessie hou dadelik van die kamer. Dit laat haar kalm voel. “Die kaste is almal leeg.” sê juffrou Malherbe en beduie na die groot kaste teen die een muur. “Jy kan jou goedjies daarin bêre. Ek gaan solank begin met aandete. Jy kan kombuis toe kom sodra jy klaar is.” Bessie pers haar lippe saam en knik net. Die vlekkies in juffrou Malherbe se oë dans weer. “Maak jouself tuis, Bessie.” sê sy, draai om en loop by die deur uit. Bessie bly staan. Sy kyk en kyk. Dan gaan sit sy op die punt van die groot bed. Sy hoor juffrou Malherbe besig raak met potte en panne in die kombuis. Gister dié tyd het sy op haar eie bed gesit, dink Bessie. Gister dié tyd het haar ma nog geleef.




Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

3 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed