Jongste aktiwiteit:

Bessie (Deel2)

Bessie baan haar weg oop tussen die rommel tot by haar ma. “Mamma, word wakker.” sê sy en skud haar ma aan die skouer. Haar ma kreun saggies. “Mamma, word wakker!” sê Bessie ongeduldig. Haar ma sit stadig regop, sy hou haar oë toegeknyp en sluk-sluk aan die droogheid in haar mond. Bessie loop kombuis toe om vir haar ma ’n glas water te gaan haal. “Hoe laat is dit?” vra haar ma toe Bessie weer in die sitkamer kom. Bessie antwoord nie haar vraag nie. “Jy het belowe jy gaan ophou, mamma.” verwyt Bessie haar. Haar ma sê niks, neem net die glas water en drink dit gulsig leeg. Dan sit sy die leë glas op die deurmekaar koffietafel en gryp na die sigaret pakkie en lighter. Bessie sit op die bank se armlening en hou haar ma dop. Die ouer vrou knyp die sigaret tussen haar lippe vas, steek dit aan, gee die eerste trek en blaas dan die rook stadig in ’n dun strepie die lug in. “Ek het werk gekry.” sê sy so tussendeur die tweede trek-en-uitblaas. “By die restaurant oorkant die hotel.” antwoord sy asof Bessie haar gevra het waar sy die werk gekry het. “As ’n waitress?” vra Bessie dan uiteindelik, net om die stilte te breek. “Nee Elisabeth, as ’n trokdrywwer! Natuurlik as ’n waitress.” Kom die sarkastiese antwoord van haar ma af. Bessie laat haar kop sak en pers haar lippe saam. Sy kan aan baie dinge dink wat sy nou kan sê, maar dit sal nie help nie. Sy staan op en loop badkamer toe, druk die bad se prop in en draai die krane oop. “Ek tap vir ma ’n bad!” roep sy in die gang af en loop kamer toe om haar skoene uit te trek.

Bessie wag tot sy hoor haar ma maak die badkamerdeur toe voor sy weer teruggaan sitkamer toe. Met ’n swartsak in die hand begin sy die vertrek skoonmaak. Die whiskey bottel se inhoud gooi sy in die kombuis se wasbak uit. Sy hoor haar ma in die badkamer huil. Bessie los die skoonmaakwerk en loop badkamer toe. Sy leun met haar kop teen die toe deur. Haar hart klop te hard dink sy en asof haar ma dit ook gehoor het, hou die gehuil skielik op. “Bessie?” roep haar ma van binne. Bessie maak die deur oop. Haar ma sit in die bad, bene opgetrek en rooi oë. “Ek’s jammer , my kind.” snik sy. Bessie kniel by die bad, vat die seep en waslap en begin haar ma se rug was. “Dis okay, mamma.”troos Bessie. Haar ma begin weer saggies huil. “Sjuuut. Dis okay.” fluister sy. “Probeer nou net hierdie keer ’n bietjie harder, asseblief.”

Dis Maandag. Die begin van ’n nuwe week, die begin van haar ma se nuwe werk én die begin van Bessie se moeilikheid. Almal weet seker teen dié tyd dat sy Vrydag Rentia se rompie afgetrek het, want vandat sy by die skoolhek ingekom het vanoggend, kry sy oral sulke onderlangse kykke van almal af. Dit lyk nie of Rentia vandag by die skool is nie, want Bessie het haar nog nie met ’n oog gesien nie. Die skoolklok lui en al die leerders tree in rye aan vir die afkondigings. Bessie sorg dat sy heel agter in haar klas se ry staan. Sy gee tog nie om waaroor die afkondigings gaan nie. Die prefekte probeer die kinders stilhou terwyl die onderwysers uit die personeelkamer kom en na hulle klaskamers gaan. Daar is altyd twee onderwysers wat afkom na die rye toe om die afkondigings te doen. Bessie se maag trek saam. Juffrou Visser en juffrou Malherbe is die twee onderwysers wat aangeloop kom. Juffrou Malherbe is die skoolhoof. Die twee onderwyseresse kom staan voor die rye en ’n doodse stilte daal oor die kinders neer. Bessie laat haar kop sak en pers haar lippe saam. Juffrou Visser doen die gewone afkondigings. Gee sportuitslae, kondig prefektevergadering tye af, ensovoorts. En dan hoor Bessie juffrou Malherbe se stem. “Bessie Kruger, ek wil jou in my kantoor sien asseblief. Nou dadelik.” Bessie kyk nie op nie. Sy kan almal se oë op haar voel brand. Dan kondig ’n prefek aan dat die rye kan verdaag en die bondel lywwe om haar beweeg in verskillende rigtings. Bessie kyk uiteindelik op. Sy staan alleen, almal het verdaag na hulle eerste klasse vir die dag. Juffrou Malherbe en juffrou Visser is ook weg. Bessie oorweeg dit vir ’n oomblik om weer weg te hardloop, maar besluit daarteen. Sleepvoet drentel sy in die rigting van die skoolhoof se kantoor.

Die sekretaresse beduie haar dat sy kan deurgaan. Bessie sien die kantoordeur oopstaan en haar maag trek saam. “Kom binne, Bessie.” sê juffrou Malherbe toe Bessie aan die deur klop.
Juffrou Malherbe sit agter haar lessenaar, haar bril op die punt van haar neus. “Sit Bessie.” sê sy en beduie na die stoel oorkant haar. Bessie gaan sit. “Weet jy hoekom jy hier is, Bessie?” vra juffrou Malherbe. Bessie knik. “Ja, juffrou.” Juffrou Malherbe vou haar arms. Bessie sit regop, rug mooi reguit en kennetjie uit. Sy kyk juffrou Malherbe in die oë. Juffrou Malherbe het mooi oë, merk Bessie op. Dis ligblou met groen vlekkies. Die oë kyk baie sag na Bessie, amper…amper soos ’n ma se oë. Die oë gee nie kwaai kykke na Bessie nie en as juffrou Malherbe praat is dit met ’n rustige stemtoon. Dit maak Bessie effens onrustig. Sy het gedink juffrou Malherbe gaan haar sommer met die intrapslag al uitskel en hard met haar raas, maar die vrou voor haar is dood kalm. “Bessie, jy weet ek kan nie sulke gedrag by die skool toelaat nie. Wat jy gedoen het, is uiters onaanvaarbaar.” sê juffrou Malherbe. Bessie knik, maar sy wonder of dit gaan oor die Wiskunde, Rentia of albei. “Jy gaan vir juffrou Visser omverskoning vra en wat die Wiskunder opdrag aan betref, sal jy elke dag ’n uur na skool bly die week en jou werk op datum bring. Verstaan jy?” Bessie knik weer. “Ja, juffrou.” antwoord sy. “En Bessie,” gaan juffrou Malherbe voort “jou skoolwerkboeke is vir jou skoolwerk, nie vir allerhande kunswerke nie.” Bessie skrik en juffrou Malherbe moes dit opgemerk het, want sy verduidelik. “Ek kry al ’n geruime tyd klagtes van onderwysers dat jy jou werkboeke bekrap.” Bessie laat sak haar kop. “Jammer, juffrou.” Maak sy verskoning. “Jy is baie kunstig hoor.” Die onverwagse kompliment laat Bessie weer skielik opkyk in die onderwyseres se oë. Sy sien die groen vlekkies in die blou oë dans. “Ek het ’n paar van jou boeke self deurgegaan na die klagtes ingekom het. Jy teken baie goed, maar jy kan dit nie in jou klaswerkboeke doen nie.” sê juffrou Malherbe. “Ek verstaan, juffrou. Dit sal nie weer gebeur nie.” Die stoel voel hard onder Bessie en sy wens juffrou Malherbe wil klaar praat. “Het jy al daaraan gedink om aan die jaarlikse kuns eisteddfod deel te neem?” vra die juffrou. Bessie skud haar kop. “Nee, juffrou, ek stel nie belang nie.” antwoord sy. “Mmm. Dis jammer.” sê juffrou Malherbe en sug diep. “Nou maar toe, dis al vir nou. Jy kan maar gaan.” Dankie, tog, dink Bessie. Sy spring op. “Bessie,” sê juffrou Malherbe. “Voltooi nou asseblief jou Wiskunde en probeer uit die moeilikheid bly.” Bessie pers haar lippe saam en knik. “Ja, juffrou.” sê sy en loop by die hoof se kantoor uit.




Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

5 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed