Jongste aktiwiteit:

Ano
vir

Ano

Lees meer oor Ano

Oktober 2018 Projek

1.Die gemeste kalkoen

Augustus 1620 het die Mayflower, ‘n 180-ton skip met 102 passasiers vanuit Engeland na Amerika vertrek. Weens onstuimige weer en sterk winde het hierdie skip aan die kus van Massachusetts (Cape Cod), anker gegooi, i.p.v. by die kus van Virginia waar ander kolonies reeds gevestig was. Die maande daarna was baie moeilik en byna helfte van die pelgrims is dood. Met lentetyd het die oorlewendes huise begin bou en graan aangeplant. Stadigaan het hulle met hul Wampanoag Indiaan-bure bevriend geraak en ruiltransaksies aangegaan.

Na die eerste oes in die herfs van 1621 het die pelgrims se goewerneur, William Bradford ‘n ‘Dag van Dankbaarheid’ afgekondig waartydens hulle hul dankbaarheid teenoor God sou uitdruk vir ‘n geseënde oes sowel as hul nuutgevonde Indiaanse vriende.

In 1817 het die Staat van New York hierdie dag as ‘n jaarlikse vakansiedag ingestel en eers in 1863 het President Abraham Lincoln die dag afgevaardig as ‘n Dag van Danksegging wat steeds in Kanada, Amerika, Nederland, Australië, Filippyne, sommige van die Karibiese Eilande en in Liberië gevier word. Soortgelyke feeste word in Duitsland, Japan, Engeland en Indië gevier.

Alhoewel dit ‘n historiese dag is met godsdienstige en kulturele oorsprong, word dit ook reeds lankal as ‘n sekulêre dag ervaar. Vir baie mense is hierdie geleentheid ‘n vier-dag-naweek wat bestaan uit voetbal, speletjies, familie byeenkomste en ‘n tafel wat kreun onder die kos. Die alombekende gestopte kalkoen, cranberries, kapokaartappels en ‘pumpkin pie’ word tradisioneel met hierdie geleentheid verbind. Dit word ook dikwels as die voorloper tot Kersfees gesien.

Die ware betekenis van hierdie dag is egter om as ‘n familie saam te kom, geskille eenkant te laat lê en in mekaar se vreugde en hartseer te deel. Daar word ook klem gelê op die deel van dankbaarheid vir die jaar se voorspoed sowel as vir dit waarop hulle in die volgende jaar hoop. Die fokus is op God en die verhouding tussen God en die mens. Dankbaarheid is ‘n houding wat die hart versterk en ‘n intieme verhouding met God onderstreep. Ongelukkig het die kommersialisering van hierdie dag die oorspronklike betekenis begin uitdoof en vir baie mense het dit bloot ‘n dag van groot partytjies en (vr)eet geword.

Die gebruik om aan God dankie te sê vir dit wat jy ontvang het, behoort nie net tot een dag in die jaar beperk te word nie!

Ano

Desember 2018 projek

1.Die “Vader van Motivering”

Dr Wayne Dyer, ʼn psigoterapeut, skrywer en motiveringspreker was in 1985 aangewys as een van die ses mees prominente Amerikaners. Met ʼn totaal van meer as 40 boeke (21 daarvan New York Times beste verkopers), ʼn skrywersloopbaan wat oor vier dekades strek, 5,200 radio- en televisie optredes wat Oprah, The Today Show en The Tonight Show ingesluit het, was hy geen onbekende nie.

Vir so ʼn besonderse en “die glas is nie half nie, dit oorstroom”-tipe persoon, was sy kinderjare moeiliker as wat mens sou raai. Gebore op 10 Mei 1940 in Detroit, Michigan, was hy die jongste van drie boeties wie se pa nie die verantwoordelikheid van ouerskap kon hanteer nie. Sy ma wat as ʼn ‘Candy Girl’ moes werk, het nie genoeg verdien om die gesin te versorg nie en Wayne het die grootste deel van sy eerste tien lewensjare in ʼn kinderhuis gespandeer totdat sy ma weer toesig oor haar kinders kon verkry.

Waar so ʼn ondervinding vir die meeste ʼn negatiewe ervaring sou wees, het hy herhaaldelik uitgewys dat dit grootliks ʼn verryking in sy lewe was in terme van veerkragtigheid en dat dit hom gehelp het om ʼn beter onderwyser te wees, sowel as ʼn lewende bewys dat mens enige teenspoed kan oorkom. Alhoewel die lewe in die kinderhuis geensins maklik was nie, het Wayne Dyer skynbaar hier gefloreer. Dit was dan ook die vyfjarige Wayne wat nuwe kinders (heel dikwels ouer as hyself), onder sy vlerk geneem het en vertel het dat die kinderhuis nie ʼn plek is waar verwerpte kinders woon nie, maar dat dit ʼn groot en lekker familie is.

Reeds as kind het hy klein werkies vir mense gedoen en selfs koeldrankbottels bymekaargemaak in ruil vir ʼn paar sent – ʼn gebore entrepreneur! Saans wanneer die huisgesin gaan slaap het, het hy na televisieprogramme soos “The Tonight Show” gekyk en onderhoude voor die spieël geoefen – tot groot vermaak van sy gesin natuurlik. Reeds as jongeling het hy die droom gehad om eendag wanneer hy groot is, ook aan daardie program deel te neem (wat toe wel ʼn paar keer gebeur het).

As ses-en-twintig-jarige publiseer hy sy eerste boek, Your Erroneous Zones (1976), wat niks te make het met seks nie, maar wel alles te doen het met positiewe denke. Dit sou uiteindelik 35 miljoen kopieë verkoop en het sy loopbaan as skrywer en motiveringspreker met ʼn knal van stapel gestuur. Hy was nie bang om ou denkwyses uit te daag nie en moedig die leser of gehoor aan om vir hom- of haarself te dink en notisie te neem van hoe jou denke jou lewe kan verryk of selfs kniehalter. Neem dus verantwoordelikheid vir jouself en moet nie ʼn ander se sienswyse blindelings navolg en daarna wonder waarom jou lewe nie wil ‘werk’ nie!

Dr Dyer se unieke benadering tot die lewe sluit in ʼn fokus op die spirituele sowel as verstandelike denkwyse. Vir sommige moontlik ʼn vreemde uitkyk, maar wanneer mens beter begrip het vir die verband tussen die brein (denkwyse) en die liggaam, val baie dinge in plek. Jou gedagtes bepaal uiteindelik die kwaliteit van jou lewe en of jy gelukkig en/of tevrede met jou omstandighede voel. Gou ontdek hy die samelewing se behoefte vir persoonlike groei en selfontdekking en werk daaraan om hierdie kennis na ʼn wyer gehoor te neem.

Hy voel die verskuiwing in menslike denkwyse aan en dit moedig hom aan om die spirituele aspekte van die menslike bestaan te ondersoek. “My doel is om mense te help om na hulself te kyk en ʼn verskuiwing in hul denkwyse aan te moedig. Onthou, ons is nie ʼn land, ʼn ras of ʼn geloof nie. Ons is onsterflike wesens en deur jouself as ʼn onsterflike wese sonder ʼn etiket te sien, transformeer ons uiteindelik ook die wêreld.”

Hoe maklik verstaanbaar is die volgende aanhaling nie : “As jy iets nie wil doen nie, sal jy altyd ʼn verskoning vind. As jy iets wil bereik, sal jy ʼn geleentheid raaksien.” Mense wat altyd kla of bitter en meestal ongelukkig is, by hulle is daar áltyd ʼn verskoning waarom hul lewe so lyk. So ʼn persoon is dus ook ʼn slagoffer van omstandighede sonder om te besef dat dit heeltemal binne hul vermoë is om daardie omstandighede self te verander. “CHANGE YOUR THOUGHTS…!”

Daar word liefdevol na hom verwys as “die vader van positiewe denke” en dit was eers in 1992 in die boek “Real Magic” waar hy oor spiritualiteit begin praat het – om nie soos ʼn Christen te lewe nie, maar om soos Jesus te lewe.

Wayne Dyer was drie maal getroud. Uit sy eerste huwelik met Judy word ʼn dogter gebore, geen kinders uit sy tweede huwelik met Susan Casselman nie, en in die huwelik van twintig jaar met sy derde vrou Marcelene, is vyf kinders gebore. Tesame met die twee stiefkinders uit Marcelene se vorige huwelik, was hy uiteindelik die vader van agt kinders. Alhoewel hy reeds in 2009 met leukemie gediagnoseer was, het dit geensins sy loopbaan as skrywer en motiveringspreker beïnvloed nie en sterf hy aan ʼn hartaanval op 75-jarige ouderdom op 29 Augustus 2015.

“Don’t die with your music still in you.”

Bronne :

Wayne Dyer Biography


https://en.wikipedia.org/wiki/Wayne_Dyer

About Dr. Wayne Dyer

Ano

Januarie 2019 Projek

1.Asië vier Nuwejaar

Oral ter wêreld word die Chinese Nuwejaar op die tweede nuwemaan (donkermaan) na die langste dag van die jaar (of die kortste dag as jy in die noordelike halfrond is) gevier. Dit val tussen 20 Januarie en 20 Februarie. Die Chinese Nuwejaar staan ook bekend as die Lentefees of Maannuwejaar en is ʼn baie belangrike feesdag wat aan die begin van die tradisionele Chinese maankalender gevier word. Vieringe duur gewoonlik van die aand voor die eerste dag tot met die Lanternfees op die 15e dag van die eerste kalendermaand. Volgens ʼn Amerikaanse skrywer is dit ʼn kombinasie van Nuwejaarsdag, Onafhanklikheidsdag, “Thanksgiving” en Kersfees. Dit duur enigiets van ʼn paar dae tot twee weke.

Aangesien elke maand die maansiklus volg, sluit die Chinese kalender ook ander elemente soos die maan- en sonkalender in. Die Gregoriaanse kalender word normaalweg in China gebruik, maar die Chinese kalender word nog steeds ingespan om feesdae soos Nuwejaar, Voorjaar- en die Herfs-fees aan te dui. Chinese koerante soos Sing Tao Daily en Kanzhongguo haal ook Chinese datums naas die Westerse datums aan.

Die Maannuwejaar is ’n eeue-oue tradisie en vind plaas na aanleiding van verskeie mites en gebruike. Die fees is tradisioneel ʼn tyd om gode en voorouers te vereer.

Die basiese idee van die Nuwejaarsviering is hernuwing – die einde van die oue en die verwelkoming van die nuwe. Die aand voor die tyd kom families byeen vir die jaarlikse reünie-ete. Dit is ook tradisie dat die familie hul huis deeglik skoonmaak om slegte geluk uit te vee en plek te maak vir goeie geluk. Vensters en deure word met rooi papier versier tesame met gedigte met temas van geluk, rykdom en ʼn lang lewe. Nuwe klere word ook gekoop. Die ou gebruik om op die laaste aand voor Nuwejaar te bad het begin verdwyn omdat die gemiddelde Chinees elkeen ʼn stort tot sy beskikking het.

Op Nuwejaarsdag deel hulle geskenke uit en wens mekaar goeie dinge toe, gewoonlik rykdom en voorspoed. Ander bedrywighede sluit die skiet van klappers en die gee van geld in rooi koeverte in. Die kleur “rooi” is dus ʼn baie belangrike deel van die feesvieringe. Gewilde eetgoed sluit in kluitjies wat met groente gevul word. Danse word in kleurvolle kostuums van drake en leeus uitgebeeld.

Die viering van die Chinese Nuwejaar is dan ook een van die wêreld se grootste feeste. Eerstens is daar die Nuwejaar-klok wat 0:00 op die TV vertoon word, maar dit kan kwalik onder die lawaai van die klappers gehoor word. Chinese het ʼn lang tradisie om klappers tydens hierdie feestyd af te vuur want dit sal die vreesaanjaende monster Nian (wat om middernag sy verskyning maak), verwilder. Hierdie monster kom om goeie mense en hul vee te teister en te beseer. Om hierdie aanval af te weer moet mense liefs binne bly, hul deure gesluit hou en sober bly.

Wanneer die mense deur die hele nag moet wakker bly, word ander aktiwiteite ingespan soos om te gesels, TV te kyk, en kaart te speel. Omdat dit so moeilik is om deur die hele nag wakker te bly, is hierdie tradisie stadigaan besig om uit te sterf. Vroegoggend word klappers afgevuur om die nuwe jaar in te wy en geluk in hul huis in te nooi. In China is daar egter groot verskille tussen die gebruike van streek tot streek en tradisies van die viering van die Nuwejaar. Omdat die klappers tot lugbesoedeling, brande en moontlike beserings lei, word dit egter al hoe meer tot die platteland beperk, maar die res van die vieringe is kleurvol en word in oorgawe met musiek, kos en drank gevier.

Omdat die klappers tot lugbesoedeling, brande en moontlike beserings lei, word dit egter al hoe meer tot die platteland beperk, maar die res van die vieringe is kleurvol en word in oorgawe met musiek, kos en drank gevier.

Maar wat van die Christen? Kan hy ook aan hierdie vieringe deelneem?

Die Chinese gebruik is ryk aan betekenis. In die boek “Mooncakes and Hungry Ghosts: Festivals of China”, word geskryf: “Dit is veral belangrik vir gesinne, vriende en familielede om geluk te verseker, eer te betoon aan gode en geeste en mekaar voorspoed toe te wens vir die komende jaar.”

Hoe moet die (Chinese) Christen dan hierdie viering beskou aangesien daar so baie tradisionele en godsdienstige elemente daarby betrokke is? Moet hulle net die gebruike volg en is dit gepas vir Christene? Die Chinees is baie tradisievas en toon geweldige respek aan hul ouers en ander ouer familielede. Omdat ouers aan hul kinders lewe gegee het, is dit net natuurlik vir die kinders om sulke respek te betoon, wat dus ook ʼn belangrike rol speel in die viering van die Nuwejaar.

Oujaar is ʼn hoogtepunt vir die Asiatiese familie waar die gesinne ʼn spesiale maaltyd saam geniet. Dit is ook ʼn geleentheid vir reünies en die mense doen alles in hul vermoë om dit nie mis te loop nie. By hierdie feestafel word die plekke nie net vir die teenwoordige familielede gedek nie, maar ook vir die afgestorwenes wat in gees teenwoordig is. Daar word dan ook tot hierdie afgestorwenes gebid vir voorspoed en geluk.

Hoe moet Christene hierdie gebruik beskou? Omdat die Christen God liefhet en veilig wil wees, vermy hulle dus gebruike wat met die aanbidding van familielede se “geeste” verband hou of waar hul beskerming afgebid word. Aan die ander kant wil die Christen ook eer betoon aan sy Skepper en Vader.
Die Nuwejaarsviering sluit ook die gebruik in om respek en eer te betoon aan verskillende huisgode, soos die god van die deur, die god van die aarde of beskermgees, die god van rykdom of voorspoed, asook die god van die kombuis en die stoof. Die opvatting is dat hierdie god ʼn paar dae voor Nuwejaarsdag hemel toe gaan om ʼn verslag oor die gesin te bring aan die Jadekeiser, die oppergod in die Chinese godewêreld. In die hoop dat die kombuisgod ’n gunstige verslag sal gee, stuur hulle hom weg met ’n spesiale ete, asook offerandes van lekkernye en strooptertjies. Om hom ’n spoedige reis toe te wens, neem die gesin sy portret, smeer hulle soms die lekkernye op sy lippe en word dit dan buite verbrand. Om die kombuisgod weer na die huis te nooi, word daar op Oujaarsaand ’n nuwe portret bo die stoof gehang.

Alhoewel hierdie gebruike dalk onskuldig lyk, moet Christene egter aan God gehoorsaam wees en nie ander gode aanbid nie. Jesus het sy hemelse Vader as “die enigste ware God” erken, en Hy het duidelik vir sy aanbidders gesê dat hulle “geen ander gode” buiten hom mag hê nie (Johannes 17:3; Eksodus 20:3).

Die Maannuwejaar hou ook ten nouste verband met astrologie. In die maankalender word elke jaar vernoem na een van die 12 diere in die Chinese diereriem. Die dier bepaal glo die persoonlikheid en gedrag van mense wat daardie jaar gebore word en of dit ’n goeie jaar sal wees om sekere bedrywighede na te streef.

In sy Woord, die Bybel, het God diegene bestraf wat hulle gewend het tot “die aanbidders van die hemel, die sterrekykers, dié wat met nuwemaan bekend maak wat oor hulle sal kom”. Hy het ook die aanbidding van “die geluksgod” en “die god van die noodlot” veroordeel (Jesaja 47:13; 65:11, 12). In plaas van op die een of ander geheimsinnige of onsigbare krag te vertrou wat mense glo met die geesteryk of die sterre verband hou, word daar vir ware aanbidders gesê: “Vertrou op God met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak” (Spreuke 3:5, 6).

Dit is een ding om te weet wat die agtergrond van die gebruike en opvattings in verband met Nuwejaar se vieringe is en dit is iets heeltemal anders om te besluit om nie daaraan deel te neem nie. As jy in ’n gemeenskap woon waar dit die gebruik is om die jaarlikse Chinese Nuwejaar te vier, of as jou familie gebruike in verband met die Nuwejaar weens tradisie onderhou, het jy ’n gewigtige besluit om te neem. Dit verg natuurlik moed en vasbeslotenheid om ondanks druk standvastig te bly. Wanneer een familielid ophou om deel te neem aan hierdie vieringe, is dit te begrype dat hy teenstand van sy familie en vriende kan kry. Hulle mag voel dat die persoon sy rug op hulle (en hul tradisies) gedraai het.

Daar is egter baie wat gedoen kan word om ’n gelukkige gesinsverhouding te behou en deur jou familie en vriende gerus te stel en nie hul opvattings verkleineer nie, kan julle steeds goeie bande hê en in harmonie saam kuier. Verseker hulle dat jy hul steeds liefhet en dat jou geloofsoortuigings nie van jou ʼn vreemdeling maak nie. Jy hoef ook nie tot Nuwejaar te wag om te gaan kuier nie. Deur jou familie se sienswyse en gebruike te respekteer sal familiebande staande bly.

Bronne :
https://af.wikipedia.org/wiki/Chinese_Nuwejaar
https://wol.jw.org/af/wol/d/r52/lp-af/2009889#h=1

Ano

Februarie 2019 projek

1.Vader Tyd – ʼn onmisbare ergernis

Tyd is nie tasbaar nie, dit kan nie gekoop word nie, kan nie opgegaar word nie en oënskynlik is daar altyd ʼn tekort daaraan, veral vir die moderne mens. Tog is dit iets wat sonder ophou voortstap asof daar geen einde is nie, en dit wag vir NIEMAND nie. Dit het geen emosie nie en maak nie saak of jy ryk of arm is nie, elkeen ontvang presies dieselfde hoeveelheid minute elke dag.

Die mens se behoefte om tyd te meet is byna ouer as tyd self. Die Egiptenare het reeds so vroeg soos 1300 – 1500 vC van ʼn sonwyser gebruik gemaak om tyd te meet.

Ongeveer 400 vC het die Grieke ʼn water-horlosie ontwikkel. Water het uit die een houer na die volgende gedrup en merkies op die houer het ure aangedui. Daar word bespiegel hoekom sulke intelligente mense nie ook die sand-horlosie kon ontwerp het nie aangesien sand in baie streke meer volop as water was.

Sowat ʼn 1000 nC het Alfred die Grote brandende kerse gebruik om tyd af te meet. Merkies op die kerse het ure aangedui.

Daarna het die uurglas gevolg wat ook bekend gestaan het as ʼn sand-glas of sand-horlosie. Sommige bronne beweer dat die eerste uurglas deur ʼn monnik bekend as Liutprand van ʼn katedraal in Chartes, Frankryk, in 800 nC ontwerp is. Selfs al lyk dit asof die uurglas ʼn baie primitiewe instrument is, dui die meeste bronne egter daarop dat die uurglas eers gedurende die 14e eeu algemeen in Europa gebruik was. Alhoewel, seevaarders skynbaar van ʼn soortgelyke instrument gebruik gemaak het om afstand te meet, was dit meer akkuraat as die water-horlosie omdat dit nie deur die beweging van die see beïnvloed was nie. Daar word dus gespekuleer dat die eerste uurglas reeds so vroeg as 1000-1100 nC in gebruik geneem is, alhoewel nie almal hiermee saamstem nie en die beskikbare bronne nie heeltemal ooreenstem nie.

Die heel eerste klinkklare bewys van ʼn tipe uurglas soos wat ons dit vandag ken, was in ʼn skildery vasgevang wat deur Ambrosio Lorenzetti in 1338 geskilder het. Later in daardie selfde eeu word daar in ʼn dokument gedateer 1345 op ʼn Engelse skip, melding gemaak van aangekoopte uurglase. Toe Koning Charles V van Frankryk in 1380 tot sterwe kom en ʼn opname van sy besittings gemaak word, word daar melding gemaak van ʼn “groot see-horlosie in ʼn groot hout-en-brons kas”. Dit is dus duidelik dat ‘almal’, van seevaarders tot konings van hierdie instrument gebruik gemaak het.

Maar natuurlik, tensy daar ʼn ander definitiewe bewys gevind kan word, is die oudste bewys van die gebruik van uurglas die skildery van 1338. Die uurglas verskyn daarna in vele Renaissance skilderye en dit word tot vandag nog gesien as ʼn simbool van die mens se sterflikheid.

Die uurglas bestaan uit twee soortgelyke peervormige glasvorms wat vertikaal staan met ʼn nou opening in die middel. Hierdie vernouing reguleer die hoeveelheid sand wat daardeur kan beweeg. Gewone sand is egter nie geskik nie omdat sand a.g.v. humiditeit uitswel. Sand wat op sommige strande gevind word is te hoekig en vloei nie gemaklik deur die nou opening nie. Rivier sand word soms gebruik sowel as marmer stof, fyngemaakte lood of fyngedruk- en gebakte eierdoppe.

Die mees besonderse uurglase was die geskenke aan koningshuise. Charlemagne (742-814) van Frankryk het ʼn uurglas gehad wat 12 ure kon meet. Holbein het asemrowende uurglase vir Henry VIII (1491-1547) van Engeland gemaak. Ander besonderse uurglase sluit in een wat gedurende die 17e eeu in Italië vervaardig is. Dit het bestaan uit 4 glase waarvan een elke kwartier aangedui het, die tweede elke halfuur, die derde elke driekwart uur en die vierde glas ʼn volle uur.

Die nadeel van enige van die bogenoemde tyd-instrumente hang van die mens af om daardie instrument dop te hou en akkuraat te reguleer. Sommige uurglase kan ʼn minuut meet en ander ʼn uur, maar daar word nie groot waarde geheg aan die akkuraatheid van hierdie instrument nie.

Henry de Vick (14e eeu), word egter beskou as die uitvinder van die moderne horlosie, alhoewel ʼn Duitse uitvinder, Peter Henlein in 1511 ʼn horlosie vervaardig wat met ʼn staal veer werk. Hierdie horlosie was baie groot en dit het ook ʼn hele aantal ure per dag verloor, maar dit was die begin van die moderne horlosie soos wat ons dit nou ken.

Vandag is tyd en die dophou daarvan belangriker as ooit. Kort voor die jongste eeuwisseling is reeds sowat vyfhonderd miljoen horlosies jaarliks verkoop. Die uurglas het dus geen toekoms anders as om gebruik te word as dekor vir ʼn spesifieke geleentheid nie. Sommige mense gebruik dit nog wanneer hulle eiers kook en ander wanneer speletjies gespeel word, maar verder is dit net ʼn mooi ornament. Die kleinste uurglas is die grootte van ʼn mansjet knoop, en die grootste sowat 1m hoog. Daar is egter geen perke aan die vorm wat ʼn uurglas kan aanneem nie, of die materiaal wat daarvoor gebruik kan word nie.

Die uurglas is leeg, dus is dit tyd om die storie tot ‘n einde te bring.

https://sites.google.com/site/kliekrubriek/vader-tyd
https://www.apartmenttherapy.com/sands-of-time-the-hourglasss-u-121964
https://www.encyclopedia.com/science-and-technology/technology/technology-terms-and-concepts/hourglass

Maart 2019 projek

1.Bring my die ou-ou tyding

As daar nie verskillende menings bestaan nie, sou ons almal absoluut dieselfde gelyk, gedink en gedoen het. Miskien is dit waarom die mense wat modes slaafs navolg, so verveeld, vervelig en tot vervelens toe oninteressant eenders kan lyk.

Dieselfde geld vir boeke en ander geskrifte. Dit is mos lekker om iemand anders se idees te lees, bietjie wyer te kyk en sien hoe ander die wêreld ervaar en ondersoek. As jy nou nie te toe-kop is nie, mag dit selfs ʼn deurtjie na ʼn anderste denkwêreld vir jouself oop forseer. Ons leer mos van mekaar! En daarby hou ek daarvan om meer dikwels boeke te lees deur skrywers van ander kontinente. Daarso dink hulle anders, hulle ervaar die lewe op ʼn ander eerste wêreldse vlak en ons het verseker nog baie om te leer. Soms kan Suid-Afrikaners heeltemal te hard vasklou aan hul dikwels te enge en verouderde sienswyse en wil alles en almal beveg wat dit waag om iets te bevraagteken. Of dit net vir ons geld weet ek nie, maar die liewe Boere kan maar hardkoppig en moeilik wees!

Nie net is ons taal lewend en altyd aan die verander nie, maar ons hele bestaan het met die koms van die internet op sy kop gedraai. Na ʼn ewigheid van afsondering kon ons by ander nasies inligting met die druk van ʼn knoppie uitruil. Tydskrifte en ander leesstof van anderkant die groot water het hul verskyning op die winkels se rakke begin maak.

Tog kry nie almal se geskrewe werk kry ʼn gemaklike sitplekkie in my gedagtes nie en ʼn boek wat nie sin maak nie, word gou eers boekrak toe verskuif voor dit uiteindelik na die naaste liefdadigheid winkel verhuis. Soms kan mens bloot net nie met die ander se skryfstyl of idees identifiseer nie. En dit is alles reg – daar is vir elkeen ʼn plekkie in die son.

Met so ʼn uitdaging steek ek nou eintlik my kop baie bewustelik in ʼn tamaaie byenes in en sal nie verbaas wees indien hy gou ʼn paar knoppe gaan opdoen nie. Hubby het my al vroeg na ons kennismaking ingelig dat mens nie oor politiek en godsdiens praat nie want dit loop te maklik op n stryery uit. Jy hou jou mond en sit op jou handjies. En in hierdie huis waag ek dit ook nie om te kibbel oor die teenstellings wat in die Bybel voorkom nie. Sommige onderwerpe is nie onderhandelbaar nie en vrede is verkieslik bo ʼn getwis oor iets wat nie werklik die onrus werd is nie.

Die heel oudste geskrif wat ek dus al onder oë gehad het, is sekerlik die Bybel. Kleintyd al het ek geleer om dit wat daar staan nie te bevraagteken nie. Daardie boodskap was immers afgelewer tesame met “ek is jou ma/pa en jy sal ten alle koste vir my luister”. Tog kan ek soms nie help om te wonder waarom ons in twee-duisend jaar as mens en samelewing en as intellektuele wese soveel kon groei en verander, en steeds elke ding tot op die laaste letter moet uitvoer nie. Ek bedoel, die uwe se uitgebreide familie is byna fanaties in die nakoming van die Tora en is op die oog af besig om vir hulself ʼn mooi plekkie oop te werk.

Maar net vanoggend lees ek ʼn artikel van ʼn mede-gelowige wat ʼn paar stukke uit die Bybel aanhaal. En soos te wagte kan wees is Ryan Chase, ʼn Pastoor in Sioux Falls, South Dakota, besig om ʼn groot preek af te steek oor hoe mens aan rou uitdrukking BEHOORT te gee. Jip, en hy haal al die mooie teksverse uit die Bybel aan wat vertel hoe ʼn gelowige nie behoort te rou nie. Sulke goed maak my nie net warm onder die kraag nie, my hele lyf begin sommer brand. Hy verloor uit die oog dat elke mens en elke situasie uniek is en dat een pleister nie vir almal dieselfde plak nie.

Ryan Chase het een van sy tweeling baba seuntjies begrawe – baie hartseer inderdaad. Hy begin sommer om die stelling “daar is nie ʼn verkeerde manier om te rou nie” uit te daag. Volgens hom is daar net een manier, en dit is die Bybel s’n. Hy verloor heeltemal uit die oog dat mense nie in klein boksies gebore en getoë word nie en dat ons darem al in die laaste twee-duisend jaar meer kennis opgedoen het en vooruit beweeg het. Ons doen dinge bloot net anders as doerie tyd! As dit nie so was nie, sou ons steeds te voet oor stowwerige paaie van een dorp na die ander beweeg het.

Boonop preek hy dieselfde woorde wat ek al meer as een keer uit ʼn ander se simpatieke mond moes aanhoor. (Simpatie, wanneer jy iets nie met jou hart verstaan nie, is leë woorde.) Ek wil dit eintlik voorskryf noem, maar omdat dit so in die Bybel staan, is dit natuurlik vir baie die eerste en laaste woord. En omdat dit in die Bybel staan, is dit reg en gepas vir enige situasie.

Hy vergeet dat die samelewing ʼn eeu of twee gelede eers die bedroefdes toegelaat het om ʼn jaar lank sonder skaamte swart klere te dra. Dit was bloot die uiterlike stelling aan die wêreld dat jou hart seer is. Daarna was dit as verkeerd gesien en in die laaste eeu is die mense byna geforseer om “asb. net nie daaroor te praat nie”, want dan rol jy soos ʼn varkie in jou hartseer (geniet dit seker ook) en, ons wil asseblief net nie daarvan weet nie. Dus, die moderne mens word aangemoedig om asseblief net so gou moontlik te vergeet want, volgens die geleerdes (en ongeleerdes wat dink hulle verstaan alles), mag jy nie “if only” of “what if” vra nie. Jy moet jou trane ten minste reeds na die derde dag kan afdroog en treur soos ʼn gelowige mens wat in die ewige lewe glo. Mense wat vrae vra (wat ʼn heeltemal natuurlik gebeurtenis in ʼn baie moeilike situasie is), treur dus soos ʼn ongelowige. Miskien praat hy nie die hele waarheid oor dit wat dalk in sy huis gebeur het, die oomblik wanneer die voordeur agter die laaste besoeker se hakke toegeslaan het nie.

Neem die kennis dat jou geliefde in die hemel is dan die hartseer en pyn van verlies weg? Ongelukkig nie. Jy kan aan die ewige lewe glo en sonder twyfel weet dat hierdie persoon ook daarin deel, steeds onbeskryflik hartseer wees en langer treur as wat die samelewing daarvan wil hoor. Geloof is nie ʼn wonderpil wat alles net regmaak nie asof iets nooit gebeur het nie. Jy sal lang trane huil en dit is goed om daardie trane te stort. Dit wat teruggehou en onderdruk word omdat jy as Christen veroordeel word omdat jy huil (ja, been there, heard that) sal uiteindelik jou gesondheid en selfs jou lewe kos.

Geloof is nie die plaasvervanger vir hartseer nie. Dit maak niks reg nie. En beide die gelowige en ongelowige huil ewe hard wanneer hul hart en drome aan flenters lê.

Openbaring 21:4 word gou uit verband aangehaal en as ʼn troos aangebied. “Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.” Job se storie word net soveel verkeerdelik opgedis en eintlik redelik misbruik. ʼn Absolute gunsteling wat my oombliklik van bloedgroep laat verander is Matteus 5:4, “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.”

Ek sal nooit voorstel dat die Bybel verander moet word nie maar kan nie help om die begeerte te hê dat die druk-pers ‘n probleem mag ontwikkel en ‘n paar versies per ongeluk kan verdwyn nie. Eintlik is dit eerder die leser se plig om met groot omsigtigheid om te gaan met dit wat hy uitdeel as ‘goeie raad’. Net omdat dit daar staan en ons dit as die Woord van God aanvaar beteken nie dat dit van toepassing op elke situasie is nie. Dit is om ʼn saak onnodig te oorvereenvoudig sonder om al die komplekse fasette daarin raak te sien.

Ano

April 2019 Humor projek

1.Lag tog ‘n slag

Die koms van die internet het ons lewens totaal en al verander en genadiglik ook die deure oopgemaak tot soveel meer holistiese en alternatiewe behandelings. Dus, niemand het nodig om slegs op die (soms verouderde) kennis van sy mediese dokter staat te maak vir liggaamlike- en geestelike gesondheid nie. Alhoewel die era van pille en operasies nog lank nie verby is nie, neem al hoe meer mense verantwoordelikheid vir hul gesondheid deur van onkonfensionele terapie gebruik te maak.

Die geheim is egter om alles ten minste een maal te probeer en aan te hou met dit wat vir jou werk. Humor is egter nie net gratis terapie nie, maar veel eerder gesonde ʼn lewensingesteldheid, dit is vry van risiko’s en maklik bekombaar!

Daar word gereken dat 83% van werknemers uiters gespanne is en ten minste 55% heeltemal ongelukkig is in hul werk. Dit lei tot ʼn totaal van 70% werknemers wie se lewe en gesondheid in gevaar verkeer. Navorsing het egter bewys dat humor nie net jou werksomstandighede kan verbeter nie, maar die somtotaal van jou bestaan kan verbeter en meer gelukkig maak. En, gelukkige mense is ook gesonder werkers. Hulle gaan minder dokter toe en word vinniger gesond. Dus, om uit jou maag uit te kan lag verlig kortisol (stres hormone) en verhoog die uitskeiding van beta-endorfine wat jou immuniteit verhoog en selfs pyn kan verlig. Dit ontspan stywe spiere en verminder bloeddruk.

Humor, as terapie, is ook iets wat jou help om die moeilike situasies in die lewe beter te hanteer, soos bv. kanker. ʼn Persoon wat humor in meeste situasies kan raaksien en geniet, vergeet makliker vir ʼn wyle van hul probleme as een wat net heeltyd oor hul probleme en siektes tob. Humor terapie kan die gebruik van oefening, hansworse, komiese rolprente, boeke, speletjies en legkaarte insluit.

Gordon Allport het gesê dat nog lank voordat die fisiese waarde van humor ontdek was, was dit reeds algemeen bekend dat humor ʼn karaktereienskap van gesonde mense is. Dit help met die gesonde bewustheid van jouself, sowel as groter insig en verdraagsaamheid.

Die korttermyn voordele van ‘n lewe gevul met humor sluit in dat jy meer suurstof inneem wat weer jou hart, longe en spiere stimuleer en stel ʼn goed-voel hormoon in jou brein vry. Dit verlig spanning in ʼn kits. Die langtermyn voordele sal wees dat dit jou immuniteit verbeter, dit is ʼn natuurlike pynstiller, dit maak moeilike situasies effens makliker om te hanteer en dit verbeter jou algemene gemoedstoestand. Depressie en angs word dus ook hier verlig wanneer swartgalligheid nie die hele tyd bo-toon in jou gemoed voer nie.

Buiten al die opsigtelike voordele, trek humor verseker mense na jou toe aan. Negatiewe mense sal vind dat ander hul vermy maar soms steeds nie weet waarom dit gebeur nie. Soms is dit moeilik vir so ʼn persoon om uit die sirkel van swartgalligheid weg te breek, maar aan die einde van die dag is die voordele daarvan net soveel meer.

Hieronder volg dertig voordele waarom humor altyd goed is. Nie net vir jou siel nie, maar ook vir jou totale ervaring as mens :
1. Humor verhoog die mens se vermoë om stresvolle situasies te hanteer.
2. Humor verhoog die immuniteit sisteem.
3. Humor ontspan stywe spiere.
4. Humor verbrand kalorieë.
5. Humor verhoog jou gevoel van geluk.
6. Humor verhoog produktiwiteit.
7. Humor verlig spanning en stres.
8. Humor keer uitbranding.
9. Humor verhoog motivering en produktiwiteit.
10. Humor verhoog jou inkomste.
11. Humor verhoog algemene breinkrag.
12. Humor vergemaklik die neem van besluite.
13. Humor verhoog die aanvaarding van nuwe idees.
14. Humor sneller nuwe konneksies in die brein.
15. Humor verhoog die persoon se vermoë om probleme op te los.
16. Humor help mense om meer toeganklik te wees ten opsigte van jou idees.
17. Humor verbeter jou geheue.
18. Humor verbeter jou oorredingsvermoë.
19. Humor help met die inneem van nuwe inligting tydens studie.
20. Mense hou van ander wat die komiese kan raaksien.
21. Dit help ons om vriendskappe te bou.
22. Humor help om intimiteit te verhoog.
23. Humor verklein die verskille in status en aansien.
24. Humor bou vertroue.
25. Humor moedig samewerking aan.
26. Humor verhoog die waarneming van leierskap eienskappe.
27. Humor verminder konflik.
28. Humor skep geleenthede.
29. Humor bou geloofwaardigheid.
30. Humor verhoog graderings in die werkplek.

Lag en die wêreld lag saam met jou, huil en jy huil alleen.

30 Benefits of Humor at Work

No laughing matter?


https://www.mayoclinic.org/healthy-lifestyle/stress-management/in-depth/stress-relief/art-20044456

Ano

Silwerklas

1.Verstote en verkluim 

Terwyl ek my jaarlikse verskyning maak, raak die gemeenskap diep bekommerd dat die haweloses nie die koue van my besoek sal oorleef nie want sien, ek ontdek hulle waar hul in deurkosyne teen my koue asem skuil, onder brûe versteek lê en selfs in daklose geboue langs ʼn oop vuur saamdrom.

Ai, dit is vir my tog so mooi wanneer die gemeenskap saamspan om die lewens van minderbevoorregtes met skenkings van nie-bederfbare kos, warm klere en komberse probeer verlig. Meeste mense hou nie van my besoek nie en nog minder wanneer daardie haweloses aan siektes sterf wat deur my veroorsaak word! Of sommer net van die koue doodgaan. Ai, ek is so bitterlik jammer, maar dit is die manier van die natuur. Niemand kan egter die hele jaar deur Somer vermaak word nie! Wat bo is moet ook onder draai, en wat vandag groei en blom moet anderdag tot rus kom.

Saam met die warm klere word kospakkies uitgedeel wat bestaan uit ʼn warm koppie sop, ʼn pakkie kos en basiese toiletware. Maar is dit ooit genoeg? Immers kuier ek hier vir ʼn paar maande en nie net vir ʼn maaltyd nie.

Saggies blaas ek die klam miswolke oor die stad.

Woordtelling 201

Ano

Januarie 2020 – OOP Projek

1.Besoek aan ‘n anderste plek

Dit is soms goed om ʼn toeris in jou eie omgewing te wees, en so besoek ek en Hubby een dag die Nan Hua Tempel in Brondhorstspruit. Dit is ʼn ander tipe stilte wat ons hier omvou. Om die waarheid te sê, dit is eintlik ʼn heel ander tipe wêreld as dié waaraan ons Westerlinge gewoond is – ʼn skrale 70 km vanaf ons tuisdorp. Nie net is die Chinese boustyl met sy kleurvolle krulle en fieterjasies vreemd nie, maar die talle beelde wat die Boeddhistiese geloof uitbeeld is buitengewoon-anders maar nietemin interessant. Daar is hoendertjies met die bene en voete van ʼn leeu, apies met spiese, mannetjies wat op drake ry en klokkies op elke hoek van elke gebou wat klingel in die wind. Selfs die geboue se veelvlakkige dakke lyk soos drake!

Net so vreemd soos die beelde is, is die betekenis daarvan net so ingewikkeld. Niks is bekend of “normaal” nie en alles word in simboliek uitgebeeld. Die olifant waarop die Samantabhadra sit, simboliseer die spirituele praktyk deur krag, stamina en toewyding. Sy ses tande verteenwoordig die ses deugde van ʼn toegewyde Boeddhis, nl.: moraliteit, geduld, vrygewigheid, moeite, konsentrasie en wysheid. Die Bodhisattva hou ʼn papierrol in sy een hand terwyl die ander boontoe wys as ʼn teken van goedhartigheid. Sy regtervoet rus op ʼn blom wat deur die olifant se slurp vasgehou word. Tien goue lampe, vyf aan elke kant verteenwoordig die tien gebruike van die geloof.

Nan Hua beteken “Blom van die Suide”. Net soos wat ek sou verwag dat enige persoon my geloof en vorm van aanbidding moet respekteer toon ons dieselfde respek teenoor hulle want, hier is ons op hul gebied. Skoene word buite die deur uitgetrek en jy mag nie foto’s van die derduisende (maar pragtige) beeldhouwerk neem nie. Daar is nie stoele daarbinne nie, maar bankies waarop die mense kniel. Die aanbidder kniel kniel en staan 3x op en my kniee sou dit in der ewigheid nooit toegelaat het nie, daarom is ek maar te dankbaar dat ons nie aan sulke rituele deelneem nie.

Die eerste tempel of “shrine” word die Great Hero Hall genoem. Selfs die trappe wat na die voordeur lei het ʼn spirituele betekenis in die sin dat die mens meer sal verstaan soos jy hoër klim (enlightenment). In hierdie gebou is daar drie reusagtige beelde van Boeddhas, wat elkeen iets anders verteenwoordig soos ʼn lang lewe, lig op jou pad, onvoorwaardelike liefde, wysheid en gesondheid. Die mense wat hier kom aanbid bring offerande in die vorm van vrugte of blomme om die guns van hierdie gode te wen en sodoende goeie gesondheid te ontvang en ongeluk in jou lewe af te weer. (Hoe bly is ek dat ons gehalte van gesondheid en voorspoed nie verdien kan word deur die grootte van ons bydraes nie!)

Dienste word op Sondae aangebied en die publiek mag dit ook bywoon. Net soos in die Christelike geloof is boetedoening baie belangrik. Hier bely jy skuld vir alles wat jy verkeerd gedoen het, bewustelike of nie, en jy belowe ook om alle praktyke te stop wat pyn aan ʼn ander persoon sou veroorsaak. In beginsel is dit dus iets waarna al die gelowe streef, om jou naaste soos jouself lief te hê en goed te behandel.

Wat my veral opval, is die heerlike, absolute stilte en rustigheid. Niemand is gejaagd nie, niemand sing, praat of lag selfs hardop nie en al wat hoorbaar is, is die gekwetter van vele voëls. Dit is ʼn rustigheid wat nie in die stad aangetref word nie en die afwesigheid van verkeer en vliegtuie is opmerklik. Waarom is mense so bang vir stilte? Hoe meer die Westerling lawaai en die wind en klatergoud jaag, hoe minder tyd is daar vir introspeksie, iets wat egter broodnodig is vir ʼn gesonde gees, maar ten alle koste vermy word.

Buiten die drie tempels op die terrein, is daar ook ʼn gastehuis, restaurant en eetsaal (geen vleisgeregte nie), ʼn teekamer met eksotiese tee en koffie, ʼn skool, museum met baie interessante uitbeeldings van die Chinese geskiedenis, ʼn geskenkwinkel sowel as ʼn nedersetting wat uit 66 twee-slaapkamer huise bestaan. Die gebrek aan vleisgeregte en die vreemde disse laat my honger maag nog ‘n bietjie dieper intrek (en uithou). Immers is hoender ‘n tipe groente, dus hou Ano nie daarvan om van seewier en groen tee te leef nie.

Die besoek aan hierdie indrukwekkende oranje-en-rooi tempels met die oorvloed van beelde het nie my geloof verander nie, maar wel my wêreld en kennis van ʼn ander geloof verbreed. Miskien beskou ons Boeddhisme nie as die een wat sy volgelinge ʼn ewige lewe sal gee nie, maar wanneer ons verdraagsaam teenoor mekaar se verskille optree, is daar tog ʼn plekkie vir elke mens in die sonlig.

Dus, vir ‘n paar uur het ek saggies gedans asof niemand kyk nie, want niemand het gekyk en geoordeel omdat ek nie aan hul geloof deelneem nie. Hoe wens my hart nie dat ons meer male so teenoor mekaar kan optree nie.

Ano

Junie 2020 – Vryheids projek

1.Die prys van vryheid

Woordtal : 1217

Vryheid – die distrik waar my pa byna 93 jaar gelede op hul familieplaas gebore is. Saam met my daaglikse porsie mieliepap-en-melk het ek dikwels ook ʼn goeie les in geskiedenis gekry en die herinneringe aan sy passievolle vertellinge kan my tot vandag tot op die rand van trane bring. Die feit dat ek as baba aan Bloedrivier se wit riviersand gesmul het, laat my nou effe gril. Onbewustelik het ek dus geskiedenis op vele maniere ingekry!

Menige dae het my pa vertel hoe hy saam met die jong Afrikane opgegroei het en hoe hulle in Bloedrivier se droë rivierloop kleilat gespeel het. Miskien was dit nog onskuldige dae, voor ʼn kind leer dat vandag se speelmaats dalk more se vyand mag wees. Dit was egter interessant dat my pa se eerste taal toe nie Afrikaans was nie maar wel Zoeloe, wat hy tot vandag steeds vlot praat. En dit is interessant dat my pa aansienlik minder ooghare vir die gewraakte Ingelse het, as vir die Zoeloes.

So tussen sy vertellinge deur het ek geleer van die intense en grusame slagvelde tussen die Voortrekkers en Zoeloes, toe die Britte en die Zoeloes en laastens tussen die Boere en die Britte.

Eers was dit die Voortrekkers wat met 467 Boere, 3 Engelse, ʼn onbekende hoeveelheid swart- en kleurlingbediendes en 57 waens optrek teen die Zoeloes om die dood van die Piet Retief geselskap te wreek. Toe hulle besef dat hul geensins opgewasse sou wees teen die vyand nie, lê hulle ʼn gelofte op 9 Desember 1838 af wat elke aand tot die 15e Desember tydens aandgodsdiens, herhaal sou word.

“Mijne broeders en medelandgenoten, hier staan wij tans op een ogenblik voor een Heilige God van hemel en aarde om een Belofte aan Hem te beloven, als Hij met Zijn bescherming met ons sal wezen, en onze vijand in onze handen zal geven dat wij hem overwinnen, dat wij die dag en datum elke jaar zoals een Sabbat in Zijn eer zullen doorbrengen, en dat wij een tempel tot Zijn eer stichten zullen waar het Hem zou behagen, en dat wij het ook aan onzen kinderen zullen zeggen dat zij met ons erin moeten delen tot gedachtenis ook voor onze opkomende geslachten. Want de ere van Zijn Naam daardoor zal verheerlikt worden, dat de roem en eer van overwinning aan Hem sal worden gegeven.”

Op Sondag 16 Desember kom hierdie handjievol mense teen ongeveer 10,000 Zoeloes te staan. Die Voortrekkers word deur Andries Pretorius gelei en die Zoeloes deur Ndlela kaSompisi, ʼn bevelvoerder in die krygsmag van koning Dingane. Meer as 3,000 Zoeloes sneuwel terwyl slegs 3 boere minder ernstige wonde opdoen. Die Ncomerivier se naam word hierna verander na Bloedrivier en mens kan nie anders as om die beskermende hand van God raak te sien nie. Die Gelofte word daardie aand vir oulaas afgelê.

Die Slag van Isandlwana (die Anglo-Zoeloeoorlog) was ʼn militêre geveg wat gelei het tot die uitwissing van die Britse mag op 22 Januarie 1879. Na die Britte ʼn ultimatum aan Zoeloe Koning Cetshwayo gerig het, het hul met sowat 8,000 man teen 20,000 Zoeloes te staan gekom. Daar word verskeie redes gegee waarom die Britte so ʼn yslike nederlaag gelei het, maar persoonlik dink ek mens dra nie ʼn rooi baadjie wanneer nie gesien wil wees nie! Die tradisionele interpretasie is egter dat die Britte gesukkel het om hul verdedigingsvuur vol te hou en dus oorval is. Dit het ook nie gehelp dat hulle nie van skuilings of loopgrawe gebruik gemaak het nie. Ander bronne beweer dat die Britte se gevegslinie lank en uitgerek was, i.p.v. om skouer-aan-skouer te veg. Die daaropvolgende paar veldslae en nadraai van hierdie oorwinning was egter nie in die guns van die Zoeloes nie. Die Britte wou nie kwesbaar voorkom nie en het hul leër versterk, Zoeloeland weer ingeval en verskeie gevegte gewen. Met die Slag van Ulundi is Koning Cetshwayo gevange geneem.

Om die Anglo-Boereoorlog se storie in ʼn paar sinne op te som, was dat die Britse sekretaris van Binnelandse Sake, Lord Carnavon ʼn plan gehad het om met ʼn wit minderheidsregering oor die swart meerderheid te heers. Dit sou ʼn bron van goedkoop arbeid verseker maar die Boere was nie juis opgetoë dat hul grondgebied deur die Britte oorgeneem sou word nie. Vir Henry Bartle Frere se loopbaan as goewerneur in Suid-Afrika was die twee Boererepublieke en Zoeloekoningkryk egter groot struikelblokke. Sy slinkse planne was die beginpunt van die Eerste Vryheidsoorlog wat drie maande sou duur (20 Desember 1880 – 23 Maart 1881), en die Tweede Vryheidsoorlog wat net meer as 2 1/2jaar sou duur (11 Oktober 1899 – 31 Mei 1902). Tydens hierdie laaste oorlog het die Britte egter die Boere se plase afgebrand en die vrouens en kinders in konsentrasiekampe gestop waar duisende aan siektes en ondervoeding sou sterf.

Die Tweede Vryheidsoorlog was dus die beginpunt van my pa se haat teenoor enigeen wat van Engelse oorsprong is. Om sake te vererger moes hy tussen die destydse Standard 8 tot matriek ʼn Engelse Hoërskool bywoon en die inwoning in ʼn koshuis vol vyand’s kinders het sake geensins vergemaklik nie. Wat in hierdie paar jaar gebeur het, is steeds ʼn misterie – iets waaroor hy nog nooit wou praat nie. Dan het my ma se oudste suster na die Tweede Wêreldoorlog met ʼn Britse vlieënier getrou, en dit was natuurlik verdere bitter olie op die reeds verbitterde vuur.

Vryheid is egter lank nie meer die klein dorpie wat op 5 Augustus 1884 (tussen die twee Vryheidsoorloë) deur twee boere gestig is nie. Dit het tot stand gekom nadat Lucas Meijer aan die Zoeloe Koning Dinizulu militêre beskerming teen die Britse owerheid belowe het, en in ruil daarvoor het die twee boere ʼn aansienlike porsie land bekom. Aanvanklik was dit deur Duitsland en Portugal erken as ʼn onafhanklike Nieuwe Republiek maar is teen die einde van die Tweede Vryheidsoorlog (1888) in die Republiek van Suid-Afrika opgeneem.

Die dorp wat tans meer as 230,000 inwoners het, is ʼn lieflike plattelandse dorp met vele geskiedkundige geboue wat die Lucas Meijer Huis, die Ou Raadsaal, die Ou Fort en die Landdroskantoor insluit. Meeste van hierdie geboue staan in Landdrost Straat waar die historiese museum, Nieuwe Republiek Museum geleë is. Dit is die grootste dorp in Noord Natal en die hartklop van die gebied. Met ʼn vermenging van Zulu, Afrikaans, Engels en Duitse kulture is dit ʼn diverse, maar interessante groep inwoners bymekaar en die gebied is ryk aan geskiedenis.

Die pragtige landskap word versier deur hout plantasies, mielies en veeboerdery, al is die steenkoolmyne ʼn seer in die oog. Vier riviere naamlik, die Wit- en Swart Umfolozi, Mkhuze en Pongola riviere verseker ʼn goeie bron van plesier vir visvangers en ander watersportliefhebbers. Die natuurlike warmwaterbronne is natuurlik ook ʼn groot trekpleister en vir voëlkykers is daar 370 spesies om deur hul verkykers te bekyk.

Dit is ook die geboortedorp van n hele aantal bekende persone :
• Colleen De Reuck, Suid-Afrikaanse langafstandatleet.
• Cindy Elizabeth Eksteen, Suid-Afrikaanse krieketspeler.
• Joe Pietersen, Suid-Afrikaanse rugbyspeler.
• Mouritz Botha, Suid-Afrikaanse rugbyspeler.
• Thys Lourens, Suid-Afrikaanse rugbyspeler.
• Ruan Combrinck, Suid-Afrikaanse rugbyspeler.
• Keegan Longueira, Suid-Afrikaanse fietsryer.
• Danny Myburgh, ʼn Springbok amateur bokskampioen.
• Christian du Plessis, bekende operasanger.
• Bob Holness, ʼn Britse radio- en televisie persoonlikheid was ook hier gebore.

Vryheid, die geskiedenis-juweel van Kwa-Zulu Natal.

http://www.boereafrikana.com/Gelofte.htm
https://af.wikipedia.org/wiki/Slag_van_Isandlwana

Ano

Julie 2020 – Klanknabootsingprojek

1.Geraas in die agtergrond

Woordtelling 1017
Stergradering Silwer

Van die kleinste insek tot die grootste land- en seedier sowel as elke mens, word beïnvloed deur die klanke van ons omgewing. Maar te veel of te harde geraas is nadelig vir elkeen wat onwillekeurig daarna moet luister. Dit beïnvloed alledaagse aktiwiteite soos slaap, kommunikasie, stresvlakke en selfs voortplanting. Almal reageer in ʼn sekere mate op geraas terwyl sommige spesies uiters sensitief daarvoor is.

Tydens die noodgedwonge inperking regoor die wêreld, was dit die eerste keer in twee eeue wat ons heeltemal tot stilstand kon kom en die geraas in ons omgewing kon evalueer. Aan die meeste van hierdie klanke is so gewoond dat mens dit net agtergrondgeraas geword het! Die onophoudelike lae dreuning van motors in nabygeleë besige paaie, vliegtuie, masjinerie, die bure se hond wat onophoudelik kef, ʼn te harde televisie of radio, huishoudelike toerusting, sirenes, die onophoudelike gehuil van ʼn koliek baba en selfs die “onskuldige” musiek van die bure se tiener-kind, is iets waarmee ons geleer het om saam te leef. Dit het bloot ʼn deel van ons moderne bestaan geword. Geraasbesoedeling is dus nie noodwendig harde geraas bo ʼn sekere desibel nie maar kan alledaagse klanke wees. Wanneer jy egter jou ore wil toedruk en ʼn verhoogde hartklop ervaar, ervaar jy geraasbesoedeling.

Die definisie vir geraasbesoedeling is dus alle klank wat onnatuurlik in hoeveelheid of volume is. Tensy jy bevoorreg genoeg is om op ʼn plaas gewoon, ver weg van die stad se geraas, kan dit redelik moeilik wees om ʼn omgewing te vind waar die stilte groter as die nimmereindigende lawaai is.

Die uitwerking van geraas op mense :
Geraasbesoedeling word as die tweede grootste oorsaak vir gesondheidsprobleme beskou. In Amerika het meer as 40 miljoen volwassenes gehoorprobleme en in Europa sowat 22 miljoen mense. Dit als word veroorsaak deur onophoudelike verkeer, vliegtuie, treine en fabrieke. China se geraasvlakke is die hoogste ter wêreld en word gevolg deur Indië, Egipte en Turkye.

Mense wat aan langdurige geraas blootgestel word slaap slegter, het meer hartprobleme en ʼn verhoogde toename in bloeddruk en adrenalienvlakke wat weer aanleiding tot hartaanvalle of ander hartverwante siektes gee. Gehoorverlies is algemeen en verlaagde konsentrasie en/of geheue, of selfs verandering in gedrag waarvan irritasie en aggressie ʼn simptoom is. Hoofpyn, verhoogde stres, moegheid, depressie, angs kan ʼn direkte verband met klank hê. Navorsing het getoon dat mense wat naby lughawens en treinstasies woon, meer afhanklik is van slaapmedikasie en besoek meer dikwels sielkundiges of terapeute as hul eweknie wat in stiller omgewings woon.

Kinders neem dikwels aan aktiwiteite deel waar hul gehoor beskadig kan word. Dit sluit in musiekkonserte, sportbyeenkomste en raserige speletjies. Langdurige blootstelling aan lawaai verminder hul kognitiewe vaardighede, het dikwels slaapprobleme en het ook ʼn negatiewe invloed op hul metabolisme en hartgesondheid. Studies het aangetoon dat kinders wat naby lughawens of treinstasies woon ʼn groter kans het om met gehoor- en leerprobleme te sukkel.

Die uitwerking van geraas op diere :
Diere maak staat op hul fyn gehoor om te bepaal waar hul volgende maaltyd vandaan sal kom en of hulle dalk self ʼn maaltyd gaan word. Geraasbesoedeling kan gehoorverlies veroorsaak en konstante verhoogde vrees verkort hul lewensduur. Die uitwerking van geraas veroorsaak dat diere die omgewing verlaat, voëls moet teen ʼn hoër frekwensie moet sing, vlermuise en uile sukkel om hul prooi te vind en paddas sukkel om maats te kry. Net soos by die mens ondervind diere ook stres. Migrerende voëls vermy gebiede met hoër geraasvlakke en die langer reisafstand kan selfs hul dood beteken.

Die uitwerking van geraas op seelewe :
Vir ʼn vis is die klank onder water dieselfde as sig vir die mens. Mensgemaakte klankgolwe onder die water se oppervlak affekteer elke lewende spesie daarin. Net soos op land sukkel die visse om te kommunikeer, ʼn maat te kry, te jag en uiteindelik affekteer dit ook voortplanting. Sedert die 1960’s het die vervoer ter see 16x vermenigvuldig. Oliebore, skepe en militêre aktiwiteite beïnvloed die delikate sonar klanke waarvan dolfyne en walvisse gebruik maak om soms oor honderde kilometers te kommunikeer. Sommige spesies is op die rand van uitwissing a.g.v. geraasbesoedeling.

Die uitwerking van geraas op plante en bome :
Plante en bome maak staat op diere en insekte om sade en stuifmeel van een plant na ʼn ander oor te dra. Indien die geraas dit vir diere, voëls en insekte ongemaklik maak om in die omgewing te woon, kan die bestuiwing van plante nie plaasvind nie. Selfs nadat geraasbesoedeling drasties afgeneem het, kan ʼn omgewing steeds dekades neem om te herstel veral wanneer ʼn sekere tipes bome dekades neem om van ʼn saad tot volwassenheid te groei.

Maar is daar enige raad? Hoe kan ons hierdie geraas bietjie demp en sodoende ons liggaam en gees broodnodige rus en stilte gee? Wonderbaarlik is plante ʼn natuurlike teenmiddel teen oormatige klank want nie net absorbeer plante die geraas nie, dit verminder ook die mens en dier se verhoogde stresvlakke.

Nie net dien struike en bome as versiering vir die omgewing of bied privaatheid nie, maar dit word ook dikwels langs snelweë geplant om die geraas te absorbeer. Potplante word meestal binne geboue gebruik om klank in winkelsentrums of kantore te demp. Dit is die natuur se natuurlike klankdemper en geraas word geabsorbeer deur die plant se bas, blare en takke. Veral plante met ʼn dik, rowwe bas en vlesige blare is goeie absorbeerders. Hoe meer plante bymekaar geplant word, hoe groter dit groei en hoe digter die blare-muur, hoe beter. Immergroen struike en bome is dus ook beter as plante wat hul blare gedurende die droë seisoen verloor. Grasperke en sagte grond help ook om klank te absorbeer. Lopende water van ʼn natuurlike of selfs mensgemaakte fontein help ook om klank te demp en die “white noise” van vloeiende water het ʼn kalmerende invloed op die brein.

Die slotsom is dat die mens nie sonder die natuur kan bestaan nie. Nie net is dit ʼn bron van kos nie, maar dien ook as ʼn natuurlike beskerming teen enige skadelike en ongewensde geraas- en lugbesoedeling en is ʼn natuurlike teenmiddel teen vele vorme van siektetoestande (wat dikwels deur die mens self veroorsaak word).

Bronne : https://www.everythingconnects.org/noise-pollution.html

Causes and Effects of Noise Pollution on Humans and Animals


https://www.ambius.com/learn/how-plants-reduce-noise/

Ano

September 2020 – Liefdesprojek

1.Waar liefde is, is lewe

Mahatma Ghandi het geskryf, “Where there is love there is life.”

Wys my die mens wat sonder liefde WIL lewe en ek wys jou ’n leuenaar. Niemand, nie eens die grootste hardekwas, grootbek-lawaaimaker wil doelbewus ’n lewe sonder liefde hê nie. Almal vra tog na deernis en omgee, al is dit hoe onopsigtelik. Boonop is die grootste moeilikheidmakers dikwels diegene wat die meeste liefde vra want selfs negatiewe aandag is beter as geen aandag!

In 1938 het die Harvard Universiteit navorsing begin doen deur 724 vrywilligers in diepte oor ‘n tydperk van vele dekades te monitor om te bepaal wat die deelnemers gelukkig maak. Alles is in ag geneem – fisiese sowel as geestelike eienskappe, IK en die deelnemers se sosiale interaksies. ’n Boek, Triumphs of Experience, geskryf deur George E. Vaillant, is in 2012 gepubliseer en die resultaat van die studie was dat rykdom, roem of hoeveel tyd wat die persoon by die werk deurbring hoogstens ’n tydelike gevoel van geluk verskaf. Ware, standhoudende geluk is ’n gevoel wat nie van eksterne faktore verkry kan word nie, maar is eerder ’’n brose plantjie wat jy in jou hart plant en met groot deernis koester totdat dit die aanslae van die lewe kan weerstaan.

Liefde (of die gebrek daaraan) affekteer ons nie net ons emosioneel en geestelik nie, maar ook fisies. Tydens die vlaag van verliefdheid “ly” ons aan ’n vinnige hartklop, vlinders in die maag, vergrote pupille, swetende handpalms, die drang om heeltyd aan die ander persoon te raak en so meer. Die intieme en fisieke vertoon van liefde verlaag bloeddruk, verminder stres, verbeter slaap en jy het ’n groter weerstand teen siektes. Wanneer ons gelukkig voel, hanteer ons ook ander verhoudings anders – beter eintlik. Ons tree “sagter” op en het meer geduld. Ons lewe langer en het minder psigiatriese probleme. Om noue bande en goeie verhoudings met ander mense te hê verhoog ons gevoel van “om te behoort”. In kort, ons voel gelukkig.

Ongelukkig blyk dit ook dat ons tans in ’n tyd leef waarin noue bande met ander mense nie ernstig opgeneem word nie. Die resultaat is dan ook dat ons konstant met verhoogde stresvlakke sukkel, groter geneigdheid het om ’n afhanklikheidsprobleem te ontwikkel en dat die selfdood getalle sonder keer net aanhou styg. Inplaas daarvan om eensaamheid en isolasie aan te spreek, skryf die medici alte vinnig ’n voorskrif uit en die probleem word nooit werklik aangespreek nie. Die simptome van ’n liefdelose of leë lewe word dan alleenlik tydelik met medikasie verlig. Studies het ook getoon dat mense wat eensaam is korter leef en oor die algemeen meer gesondheidsprobleme ervaar. Hul lewensuitkyk is ook aansienlik donkerder en meer negatief as hul gelukkige medemens s’n.

Liefde kom egter in vele vorms voor en nie net deur romanse nie. Familie en vriendskapsverhoudings is net so belangrik wanneer dit by ons gesondheid kom. Die positiewe ondersteuning van ’n groter groep mense kan jou selfvertroue ’n geweldige hupstoot gee en kan selfs help dat jy ’n veiliger leefwyse bo ’n riskante een verkies. Dit verminder angstigheid, bekommernis en kan selfs die ontstaan van depressie en ander psigiese siektes voorkom. Tog kan ons nie nou tot die gevolgtrekking kom dat alle depressielyers ’n tekort aan liefde ondervind nie.

Wanneer ’n persoon gekoester voel, skei sy brein twee hormone af : dopamien en oxytocin. Hierdie chemiese stowwe veroorsaak dat jy lekker voel en jou liggaam vra vir nog meer daarvan. Oxytocin is ’n hormoon wat help dat twee persone aanklank by mekaar kan vind en dit verhoog intimiteit. Hierdie hormoon word ook vrygestel wanneer jy met jou geliefde troeteldier speel. Dopamien word afgeskei wanneer jy iets geniet, of jy nou fisies deelneem of net deur na iets mooi te kyk. Ongelukkig word hierdie stof ook afgeskei wanneer jy ’n afhanklikheidsprobleem het. Dit sit jou kop tydelik in die wolke en jy wil graag meer daarvan voel. Daarom is dit dan ook die rede waarom verslawing ’n baie moeilike ding is om van ontslae te raak.

Maar liefde kan ook seermaak. Wanneer daardie eerste tydperk van verliefdheid oorwaai en die hormone in die brein na normaal begin terugkeer, kan ons gesondheid bietjie onder stremming kom. ’n Siekte soos Broken Heart Syndrome is nie net ’n lawwe uitdrukking vir wanneer iemand diep hartseer beleef nie, maar dit is ’n werklikheid. Hierdie toestand word ook Verhoogde Stres Kardiomyopatie genoem waar die hart tydelik vergroot en nie genoeg bloedtoevoer deurlaat nie. Dit is ’n ernstige kondisie en kan tot permanente hartprobleme en selfs die dood lei. So ’n toestand kom dikwels voor na egskeiding, ’n ernstige besering, die dood van ’n geliefde of gedurende ’n tyd van groot stres.

Die goeie nuus is egter dat selfs al ervaar mens intense hartseer of verlies, jou hart en emosies wel weer KAN herstel. (Nie almal WIL herstel nie.) Ongeag geslag, ouderdom, ras, geloof, ens., kom liefde in alle vorme regdeur jou lewe voor. Dit is nie iets wat slegs vir sekere persone of sekere ouderdomme beskore is nie. Met tyd, bietjie self-ondersoek en om oop te wees vir nuwe ervarings, is die kanse goed dat jy wel weer vlinders in jou maag sal voel terwyl jy diep in jou metgesel se oë staar.

Vyf dinge wat jy kan doen om jouself meer gelukkig te laat voel :
Spandeer kwaliteit-tyd saam met vriende en familie.
Gee jou volle aandag terwyl julle bymekaar kuier en sit jou selfoon vir ’n wyle neer. Die wêreld gaan nie ophou draai as jy nie onmiddellik op elke inkomende boodskap of oproep reageer nie.
Luister en probeer om met nie-veroordelende aandag ten volle teenwoordig te wees.
Gee die mense ook geleentheid om na jou te luister. Vertel van jou wedervaringe en hoe jy voel. Wees eerlik en opreg.
Identifiseer ongesonde verhoudings. Indien die probleem nie uitgewerk kan word nie, is dit ongelukkig beter om kontak te vermy voordat jou gesondheid daaronder begin ly.

https://www.canopyhealth.com/en/members/articles/how-does-love-affect-our-physical-health.html#:~:text=Love%20Promotes%20Emotional%20and%20Mental,%2C%20and%20improved%20self%2Dconfidence.
https://www.mentalhealth.org.uk/publications/relationships-21st-century-forgotten-foundation-mental-health-and-wellbeing

Ano

April 2021 – Oordenkingsprojek

1.Om te eier of nie te eier nie

Paasfees is ‘n wêreldwye fees alhoewel nie almal dit op dieselfde manier vier nie. Die eerste Christene het Paasfees “Pasga” genoem, ‘n Hebreeuse woord. Waarvan die oorgrote meerderheid van Christene dalk nie bewus is nie, is dat die oorsprong van die woord “Easter” afgelei is van die godin se naam Eostre en hierdie fees het plaasgevind aan die begin van die Noordelike Halfrond se lente. Die eerste Christene het geleidelik die fees se naam, die tyd van die jaar en sommige simbole in die Christelike viering ingekorporeer. Christene herdenk Christus se kruisiging en opstanding met kerkdienste, musiek, blomme en kos, veral soet spesery broodjies. Regoor die wereld, ongeag jou geloofsoortuiging, is dit die gebruik om hierdie tyd saam met familie deur te bring.

Die heel eerste gebruik was dat Christene ‘n nuwe kledingstuk tydens Paastyd sou dra. Jou beste – uit eerbied en ter herdenking aan die opstanding van Christus. Vandag is dit steeds tradisie in Amerika en veral in New York is dit die gebruik om jou in jou beste uitrusting op te tof.

Volgens geskiedenis het die Jode ‘n lammertjie aan God geoffer en dit as deel van die Paas-maaltyd geniet en Ortdokse Christene volg steeds hierdie Joodse tradisie. Vir ander sal hierdie belangrike maaltyd nie voldoende kan wees sonder ‘n stukkie ham nie en in Suid-Afrika is dit veral die Kapenaars wat daarvoor lief is om ‘n visgereg voor te berei.

En dan natuurlik, die gewraakte paashaas en eiers. Wel … hase teel aan soos hase en gee gewoonllik gedurende die lentetyd geboorte. Dus, die velde is nie net oortrek met veldblomme nie, maar ook derduisende baba hasies! Dit was ‘n natuurlike uitvloeisel dat die tyd van opstanding ook met vrugbaarheid verbind sou word. Die oorsprong van hierdie haas-en-eiers met Paastyd is opgeteken in ‘n ou Duitse boek : Die ou vroutjie was baie arm maar ook baie lief vir kinders. Sy sou dan een maal per jaar (lentetyd) helder gekleurde eiers in haar tuin versteek. Omdat die kinders ook die hasies gesien het, het hulle gedink dat die hasies die eiers gebring het.

Baie antieke nasies soos die Grieke en Egiptenaars sien eiers as ‘n teken van vrugbaarheid en nuwe lewe en het eiers in hul Christelike rituele gebruik. Later het sendelinge opgemerk dat baie mense gedurende die lentetyd in die veld na eiers soek, dus het hulle helder gekleurde eiers weggesteek sodat die mense dit kon vind. Die kleure wat gebruik was, was geel vir die opstanding, blou vir liefde en rooi vir die bloed van Christus. Die heel eerste eier-soektog kan teruggevoer word na die tyd waarin Martin Luther gelewe het.

In die vroeë 14e eeu het die Katolieke Kerk begin om drama en rituele as effektiewe metodes te gebruik om die Woord van God te versprei, juis omdat die mense nie kon skryf en lees nie. Die opvoering van die kruisiging en opstanding het dus reeds hier begin en word vandag nog gereeld opgevoer. Die Paasspele wat sedert die 1600’s in Oberammergau, Duitsland opgevoer word, is ‘n dramatiese uitbeelding van Christus se leiding.

Dus, gelowig of nie, paasfees is ‘n baie spesiale tyd waarin ons graag saam met ander geliefdes kuier en rondom die etenstafel feesvier.

Bronne : https://www.royalscotsclub.com/how-is-easter-celebrated/
https://www.goodhousekeeping.com/holidays/easter-ideas/g191/history-easter-traditions/

(woortelling 540)

Ano

Oktober 2021 – Akrostiese projek

1.Oktoberfees in September

(628 woorde, Silwer)

Met ’n allemintige 6.4 miljoen besoekers en 6.7 miljoen liters bier, staan 2013 uit as ’n rekordjaar vir die Oktoberfest wat jaarliks in Munich, Duitsland gehou word. Dit is die grootste volksfees ter wêreld en al is die naam Oktoberfest, word dit eintlik gedurende die laaste twee weke van September gevier en eindig op die eerste Sondag van Oktober. Hierdie verskuiwing was gedoen ter wille van die laaste dae van warmer weer in die noordelike halfrond.

Die heel oorspronklike fees het op 12 Oktober 1810 plaasgevind toe Bavaria se kroonprins Ludwig (later Koning Ludwig) met prinses Therese van Saxony-Hildburghausen getroud is. Die inwoners van Munich was almal uitgenooi na die feesvieringe en dit het buite die stad se poorte plaasgevind. Dit was gekenmerk deur vele dae van drankverbruik en perdewedrenne. Voor die perdewedrenne was daar eers ’n optog deur die pasgetroude koninklikes en 16 pare kinders wat in Wittelsbach kostuums getooi was. Hierdie kostuums het die nege Bavariese dorpe en omliggende streke verteenwoordig.

In 1818 word stalletjies vir die eerste gebruik om kos en die bekende Duitse bier te verkoop, en eers in 1881 word die eerste gebraaide hoender stalletjies geopen, ’n tradisionele dis wat tot vandag toe bedien word.

Buiten die alombekende smaaklike bier, word feesgangers getrakteer op volksdanse, heerlike tradisionele kosse en ’n gemoedelike atmosfeer. Alhoewel hierdie fees jaarliks gevier word en dit die eerste keer in 1810 plaasgevind het, was dit ongelukkig nie sonder noodgedwonge onderbrekings nie, en word altesaam 26 jaar weens buitengewone omstandighede gekanselleer.

In 1854 word die fees gekanselleer nadat 3,000 inwoners van Munich weens ’n cholera uitbraak sterf. 1866 breek die Austro-Prussian oorlog uit en a.g.v. hierdie oorlog word dit ook in 1870 gekanselleer. Nog ’n cholera uitbraak in 1873 veroorsaak dat die fees nie kon voortgaan nie. Met die uitbreking van die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918), was die fees weer tydelik opgeskort. In die daaropvolgende twee jaar na die oorlog was dit vervang met kleiner feeste en gedurende 1923/1924 was dit weens inflasie gekanselleer. Toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek (1939-1945), is die Oktoberfest weereens gekanselleer. Noodgedwonge word dit ook in 2020 en 2021 weens die wêreldwye uitbraak van die Coronavirus gekanselleer.

Op 26 September 1980 ontplof ʼn pypbom in ʼn asblik naby die hoofingang. Altesaam dertien mense sterf en 225 beseer, waarvan 68 ernstig gewond is. Gundolf Köhler word geidentifiseer as die bomplanter – ʼn regsgesinde aktivis, alleenloper en uitgeworpene van die samelewing. Hy sterf ook in sy eie aanval. Sedertdien is die sekuriteit baie opgeskerp om die veiligheid van die toeriste en feesgangers te verseker en ’n skrale vyf jaar later, in 1985 en gedurende die 175 ste viering, woon ’n rekordgetal mense van 7.1 miljoen mense die fees by.

In 2015 word ’n rekord hoeveelheid bier verbruik – altesaam 7.3 miljoen liter in ʼn skrale 16 dae. Dit is genoeg om drie Olimpiese swembaddens vol te maak! Alleenlik bier wat deur Munich brouerye gemaak word, word tydens die fees in Munich verkoop en sluit ses brouerye in naamlik, Augustiner, Hacker-Pschorr, Hofbräu-München, Löwenbräu, Paulaner en Spaten.

Die Oktoberfest is wêreldwyd die grootste jaarlikse fees en lok letterlik miljoene mense van oraloor, waarvan 15% buitelandse besoekers is. Veertien groot tente en negentien kleineres word gebruik om almal sitplek te gee. Ander stede dwarsoor die wêreld neem ook aan die fees deel waarvan die grootste een buite Duitsland in Kitchener-Waterloo, Kanada, is.

Indien jy hierdie fees sou wou bywoon, wees voorbereid om jou verskyning in volksdrag te maak. Die meeste feesgangers dra tradisionele Bavarian drag – die mans in lederhosen (’n leer broek) en die vroue in dirndls (’n rok bestaande uit ’n romp en bo-stuk, ’n leer korset en ’n voorskoot). En natuurlik, dan gaan jy ʼn deelnemer wees aan die jaarlikse rekord hoeveelheid bier en hoender wat verslind word.

Prost!

Bron : https://en.wikipedia.org/wiki/Oktoberfest

Ano

 

2.Die dans van die dooies

(997 woorde)

Vir die deursnee Westerling is die Mexikaanse tradisie, Die Dag van die Dooies, ofte wel, The Day of the Dead, niks anders as bisar en selfs grillerig nie. Tog is dit in dieselfde oomblik is dit ook bewonderenswaardig omdat hulle sonder skaamte die herinneringe van hul afgestorwenes lewendig hou. Anders as die Westerling wat graag wil begrawe, vergeet en nooit weer daaroor praat nie, vier hierdie mense die dooies se lewens en herinneringe op ʼn spesifieke datum baie openlik.

Dit is nie ʼn begrafnis nie, dit is nie morbied nie, en dit is nie eens spookagtig nie, maar gaan alles oor kleur en geur en is werklik ʼn feesviering, ongeag al die gemengde emosies wat daarmee gepaard gaan. Dit is ʼn nou eenmaal ʼn Mexikaanse ‘ding’ om ekstreme hartseer en ekstreme vreugde in dieselfde oomblik te ervaar en te vier.

Iets waarvan ons moet kennis neem is dat hierdie tradisie niks met halloween te make het nie. Halloween beeld ʼn nag van vrees en kwaaddoen uit, terwyl Die Dag van die Dooies ʼn feestelike viering van respek en lewegewende vreugde is. Dit is ʼn hemelsbreë verskil. Al is die dood beide van hierdie feeste ʼn onderliggende tema, is dit die einde van die ooreenkomste. Die een wakker vrees aan, die ander verwelkom die mooiheid in ʼn andersins treurige ervaring.

Die oorsprong van hierdie tradisie kan 3000 jaar teruggevoer word na die Aztec-mense, wat nou as Mexiko bekend staan. Alreeds ʼn honderd jaar voor dit formeel ingestel was, het die Aztecs kopbene gebruik om hul voorgangers te vereer en dit is steeds die hoof simbool van hierdie tradisie wat al vir meer as ses-honderd-jaar jaarliks gevier word. Die dood was gesien as ʼn natuurlike deel van die lewe – iets wat die Westerling ook ten alle koste probeer vermy.

Eers na die Spanjaarde die Axtec ryk omver gegooi het, het die Katolieke Kerk hierdie inheemse ritueel na 1 en 2 November verskuif – dae wat as All Saints Day en All Souls Day bekend staan. Die Latyns-Amerikaans inheemse tradisies en simbole van die afgestorwenes het vermeng met die Katolieke geloof oor lewe na die dood. Selfs gedurende die onstuimige jare waarin 50 regerings na die oorname van die Spaanse regering in 1821 Mexiko regeer het, het hierdie tradisie standvastig voortbestaan.

In hierdie seremonies bou die mense altare in hul huise met offerandes aan hul geliefdes. Altare word met helder geel- of oranje cempasúchil- en gousblomme versier. Die gousblomme se skerp geur help die afgestorwenes se gees om hul huis maklik te vind. Kerse verlig foto’s en enige ander spesiale items wat daar geplaas mag word, en families lees briewe en gedigte voor en vertel stories en grappies van die oorledenes. Soms word verwelkomende vure gebrand wat die geeste deur die oop deure en vensters sal verwelkom. Party sal selfs ʼn kombers, kussing, wasbak, seep en ʼn spieël insluit.

Kos wat geoffer word sluit items in soos tamaties, rissies, lekkers, kosse waarvan die oorledenes gehou het, tequila en “pan de muerto”, ʼn eenvoudige brood waarop suiker gestrooi word, gegeur met lemoengeursel en dan met lemoen bloeisels versier word. Dit word saam met ʼn warm sjokolade drankie of koffie geniet.

Kleurvolle kostuums en interessante grimering word gedra en daar is spesiale danse wat uitgevoer word. Wierook word gebrand en kopbene wat van suiker gemaak word, word geverf en met vere versier en ook op die altaar uitgestal. Die oorlede se naam word op die voorkop van die kopbeen geskryf.

Al die elemente van die aarde word ingesluit om die oorledenes op hul reis te vergesel. Vuur, kerse word gebrand om die pad vir die gees te verlig; water, sodat die gees sy dors kan les; aarde, tradisionele kosse word voorberei sodat die gees daarvan kan eet; en wind, delikate papierstroke word in patrone uitgeknip en aanmekaar gelas. Hierdie patrone help die geeste om maklik van een wêreld na die ander te beweeg.

Speelgoed word vir die ‘klein engele’ neergesit. Sommige families sal ook Christen simbole soos ʼn kruis insluit. Christelike tradisies sluit ook die lui van klokke in. Ligte tone word gebruik om die gees van kinders te verwelkom en dieper tone vir volwassenes.

Wanneer mense ʼn altaar bou, dink hulle nie net aan hul geliefdes nie maar ook aan hul eie sterflikheid en hoe om dit met waardigheid te aanvaar. Wêreldwyd begin al hoe meer mense hierdie tradisie volg want dit herinner ons aan ons sterflikheid, ʼn onderwerp wat die moderne mens met groot sorg probeer vermy.

Juan Aguirre, die Uitvoerende Hoof van die Mexikaanse Kultuur, Mano a Mano, vertel: “Hierdie tradisie is gegrond op die inheemse geloof dat lewe op aarde ʼn voorbereiding is vir die volgende wêreld en van groot belang is vir die voortdurende onderhouding van ʼn sterk verhouding met die oorledenes.”

Indien jy ooit sou belangstel om aan hierdie feesvieringe deel te neem, neem asseblief die volgende in ag:
Die grimering word “Sugar-skull grimering” genoem en is ongelooflik interessant en op ʼn estetiese vlak, ook beeldskoon. Indien jy nie van ʼn Mexikaanse, Latynse of Spaanse herkoms is nie, mag die gebruik van sulke grimering as ʼn belediging gesien word.

Indien jy tog sou besluit om die suiker-kopbeen, kostuums, tradisionele Mexikaanse drag, of enige ander bykomstighede soos ʼn blommekrans te dra, maak seker dat dit altyd met respek gedoen word. Hou altyd in gedagte dag dit nie ʼn halloween viering is nie, en daarom moet enige grillerige of bloedige elemente in jou kostuum vermy word.

https://www.history.com/news/day-dead-dia-de-muertos-origins

Ano

November 2022 – OOP Projek

1.Wanneer hartseer ‘n gewoonte word
(Woordtelling 1504)

Ons koppel gewoontes gewoonlik aan iets soos om altyd in ʼn spesifieke stoel te sit, op dieselfde kant van die bed te slaap, jou koffie links om te roer, om jou tande voor of na ete te borsel. Selfs irriterende gewoontes soos die byt van naels, of om nie te kan praat sonder om ʼn string vloekwoorde te gebruik nie, word vinnig en ongesiens deel van jou lewe. Mens dink selde daaraan dat pynlike emosies uiteindelik ook outomatiese reaksies, gewoontes of selfs ‘n verslawing kan word, soos woede, skaamte, bekommernis, skuldgevoelens, en selfs hartseer.
Enigiets wat mens lank genoeg onbeperkte vryheid in jou lewe gee, word ʼn gewoonte. Jou brein vorm vinnig paadjies sodra wanneer ʼn sekere stimulus jou pad kruis, jou reaksie eintlik altyd dieselfde is. Die ergste is dat indien jy nie eens daarvan bewus is dat jy ʼn gewoonte of outomatiese reaksie op sekere gebeure het nie, en dat jy dit kan verander nie, sal dit ‘n permanente deel van jou lewe word. En om te dink dat hartseer ooit ʼn gewoonte of verslawing kan wees, klink heeltemal onlogies, nie waar nie? Wie wil dan ooit in ʼn permanente toestand van hartseer verkeer wanneer dit verseker hoogs ongemaklik moet wees? Heel waarskynlik “kry” die persoon dan ook iets uit so ʼn situasie, hetsy dit ekstra aandag of simpatie is. Dit mag bewustelik wees, of dalk nie.
Sommiges weet net nie hoe om uit hul huidige emosionele toestand weg te breek nie, en het ook nog nie tot die gevolgtrekking gekom dat sy gedagtes die basis van elke ondervinding vorm nie. So ʼn persoon word in ʼn emosionele siklus vasgevang wat bestaan uit woede, selfbejammering, martelaar speel, magteloosheid, ander die skuld gee vir sy probleme, die weiering om na sy emosionele gesondheid om te sien, of om verantwoordelikheid vir sy emosionele welstand te neem. Of mense onkundig of bloot net onwillig is, is debateerbaar.
Om op ʼn daaglikse basis met talle mense te werk wat deur ʼn tydperk van rousmart gaan, begin jy gou agterkom wie weer hul lewe een of ander tyd op dreef sal kan kry, en wie nie. Die mense wat die meeste sukkel, het gewoonlik die gewoonte om ander te blameer waarom hul lewe nie uitwerk soos dit “moet” nie. So ʼn persoon is altyd op soek na ʼn eksterne rede waarom hulle nie hul hartseer kan verwerk nie, en enige rede mag geldig wees. Soms is dit doodeenvoudig ʼn blok wat die persoon vir homself skep en dit sal nie verander totdat hy dit besef, en bereid is om iets daaraan te doen nie.
Soms is dit bloot net makliker om in ‘n toestand van voortdurende hartseer te verval, want om emosioneel weer sterk en gesond te word, verg vertroue en harde werk. Niemand kan immers ‘n blywende verandering aan jou gemoedstoestand maak behalwe jyself nie. Onbewustelike hou so ‘n persoon van die resultaat wat hierdie ewigdurende hartseer bring. ʼn Slagoffer van die lewe hou van bejammering, simpatie en die aandag wat daarmee gepaard gaan.
Die rol van die kerk skep ook dikwels ʼn vrugbare teelaarde vir die feit dat mense nie hul traumas verwerk nie. Daar word jy aangespoor om “al jou probleme en hartseer vir Jesus/God te gee, en alles sal regkom”. Jy hoef niks te doen nie. Gee net jou probleme aan die Almagtige God, en sit terug en kyk hoe Hy dit vir jou regmaak. Die kerk hou ons doelbewus blind – waarskynlik omdat hulle dit ook self glo en nie besef dat mens nooit van jou probleme kan weghardloop nie. Dat jy dit nie kan oorskuif na Iemand anders, en jou lewe daarna volmaak gelukkig sal wees nie. Speel net ʼn CD met lofliedjies en jy sal gou beter voel. Dit beteken, deur aandag te gee aan jou hartseer gaan jou net ongelukkig maak. Kom ons luister eerder na mooi liedjies en dan vergeet ons hoe ons voel.
En dan wonder ons waarom die wêreld in soveel pyn is. Jy kan dalk nie kies wat met jou gebeur nie, maar jy het verseker ʼn keuse in hoe jy daarop gaan reageer – veral op die lange duur.
Dit is veral opmerklik hoe maklik ʼn persoon ʼn skuldgevoel sal ervaar wanneer hy vir ʼn enkele oomblik gelukkig voel. Hy weet dat die hartseer nie sy geliefde terug sal bring nie, maar dit is makliker om hartseer te wees, en dit is verséker makliker as om al daardie pynlike emosies te verwerk. Dit is asof hy verwag dat ʼn oomblik van geluk beteken dat hy bly is dat sy geliefde dood is.
Maar is dit moontlik om te leer hoe om gelukkig te wees? As jy eers verstaan dat gewoontes net outomatiese reaksies is, en dat elkeen die vryheid het om dit te verander, dan kan mens die verantwoordelikheid neem om iets daaraan te doen. Hoe jy die wêreld sien en ervaar, is ʼn keuse. Gelúk is ʼn keuse.
Huffington Post het ʼn lys van wetenskaplike bewyse geplaas wat ons leer wat gelukkige mense doen. Hier is ʼn paar voorbeelde:
Glimlag. Glimlag en sê dankie vir die persoon wat jou inkopies in die sak pak. Glimlag vir vriende sowel as onbekendes, dit is tog maklik genoeg, dan nie? ʼn Glimlag laat jou mooier en jonger lyk.
Lag. Wanneer ons lag, verminder ons die simptome van stres, angs en depressie.
Bid. Mense wat aandag gee aan hul spiritualiteit en/of geloof. is oor die algemeen gelukkiger en gesonder.
Spandeer tyd buite. Om tyd in die buitelug deur te bring is nie net goed vir jou gesondheid nie, maar ook goed vir jou siel.
Maak gebruik van ʼn joernaal. Wanneer jy jou seëninge kan tel (en neerskryf), verhoog dit die ervaring van geluk. Deur dankbaar te wees vir wat jy het, verskuif die fokus weg van die negatiewe gebeure in jou lewe. Dit kanselleer nie die slegte uit nie, maar jou fokus verskuif.
Mense wat verslaaf raak aan hartseer het ook ʼn paar gewoontes in gemeen:
Onaktiwiteit. Mense wat onaktief is ervaar hoër vlakke van angs en depressie. Om aktief te wees is beter vir jou geestelike gesondheid. Ons is immers veronderstel om na ons liggaam én geestesgesondheid om te sien.
Sukkel om sosiaal te verkeer. Om sosiaal na ander uit te reik verg energie, en hartseer mense het nie energie nie. Dit word dus makliker om af te sonder as om met ander in kontak te wees.
Ongelukkige mense is dikwels vyandiggesind. Dit is asof so ʼn persoon ʼn ewige wolkbreuk is net wat ʼn plek soek om uit te sak. Hulle raak maklik in rusies betrokke en is meer geneig tot geweldadige optrede.
Hulle is pessimisties. Optimiste se lewens het meer gelukkige voorvalle as pessimistiese mense s’n. ‘n Houding van negatiwiteit trek outomaties slegte gebeure na jou toe aan, wat dan die gevoel van ongelukkigheid verder versterk.
Hulle fokus op negatiewe herinneringe. “Alles” was sleg. My huidige situasie is as gevolg van die feit dat my oupa se plaas in die Anglo Boereoorlog afgebrand, en my ouma in die konsentrasiekamp gevange gehou was.
ʼn Ongesonde dieet. Dit is interessant om te sien hoe die kos wat by jou mond ingaan, ʼn direkte invloed op jou gemoedstoestand het. Indien ons ʼn dieet volg met ʼn oormaat van geprosesseerde kos en baie suiker, maar min vars groente en vrugte, het ons brein bloot net nie genoegsame voedingstowwe om optimaal te kan funksioneer nie.
Die fokus is grootliks op materiële genot en -vervulling. Wanneer die mens sy waarde of geluk heg aan materiële voorwerpe, moet hy altyd die volgende nuwe ding najaag, wat hom dan natuurlik ook net weer tydelik gelukkig sal maak. Uiteindelik word dit ʼn kringloop waarvan die uiteinde altyd ongelukkigheid en ontevredenheid is.
ʼn Ongelukkige persoon sien homself as ʼn slagoffer van die lewe. Tot die dag wat die mens nie verstaan hoeveel inspraak en mag hy in sy eie lewe het nie, sal hy altyd voel dat hy aan die noodlot uitgelewer is. Meestal moet mens eers die gewoonte breek om jouself te wees, voordat daar werklik verandering kan plaasvind.
Ongelukkige mense het dikwels ʼn afhanklikheid aan alkohol. Dit is ʼn maklike en wettige dwelm wat jy by enige supermark van die rak af kan koop. Niemand gaan twee maal kyk as jy ʼn bottel wyn saam met die brood en tamatiesous jou mandjie sit nie. Depressiewe mense het ook dikwels die geneigdheid om hul lae gemoed met alkohol te sus en besef nie dat alkohol ook ʼn depressant is nie.
Om af te sluit, wat kan hierdie kringloop en gewoonte van hartseer verbreek? Om te leer dat jy soveel meer kennis en keuses tot jou beskikking het as wat jy ooit besef het. Om te verstaan dat daar alreeds ʼn onuitputlike bron van geluk binne-in jouself opgesluit lê en jy net die sleutel moet vind om dit oop te sluit. Geen baba word met ʼn toestand van hartseer gebore nie, en niemand hoef so dood te gaan nie. Dit is binne elkeen se bereik om werklik gelukkig te wees, maar dit gebeur nie vanself nie.

https://www.bustle.com/p/9-habits-unhappy-people-have-in-common-according-to-science-7702461
Ano

Desember 2022 – Samesyn projek

3.Kameraadskap is die hartklop van ‘n maatdskappy

(Woordtelling, 510)

Wat is die maklikste manier om mense saam te bind? Deur te sorg dat elkeen van die span gewaardeer, gerespekteer, en geliefd voel, skep die werkgewer ‘n verhouding waarvan ander graag deel van wil wees. Wanneer personeel voel dat hulle gewaardeer word, sal elkeen outomaties sy beste lewer, en op die einde van die dag beteken dit vooruitgang vir die maatskappy.

Mense floreer op goeie konneksie, en die samesyn in ’n maatskappy maak almal se werk darem net soveel makliker, veral omdat dit gewoonlik die plek is waar jy die grootste gedeelte van jou dag deurbring. Sonder hierdie gevoel van kameraadskap is dit gou ’n plek waar jy emosioneel, en selfs fisies, uitgestoot kan voel. Wanneer jy weet dat daar mense in elke situasie agter jou sal staan, sal jy ook makliker teenoor boelies kan opstaan en ander kleiner probleme die hoof kan bied.

’n Goeie spanleier sal sorg dat sy span gewaardeer voel. Die span reageer instinktief hierop deur meer produktief te wees. ’n Goeie spanleier sal ook sy span met deernis en empatie lei en sal nie woorde van waardering en aanmoediging terughou nie, veral as die spanlid hoogstaande werk gedoen het. ’n Spanleier kan dus sy werkers se moraliteit aanmoedig of heeltemal afbreek. Daar waar groter begrip en medelye getoon word, is lojaliteit byna altyd ‘n gegewe.

Deur ʼn gevoel van samesyn te skep, bou jul vertroue en vriendskap wat ’n baie belangrike deel van tevredenheid in enige beroep speel. In maatskappye waar daar samesyn onder die werkers bestaan en die mense gelukkig is, is die bedankings van personeel heelwat minder. Personeel wat gewaardeer voel en ’n goeie verhouding met ander in die kantoor het, is geneig om minder siekteverlof te neem en sal meer bereid wees om oortyd te werk sodat ’n projek voltooi kan word. Mense wat ongelukkig voel, sal min kommunikeer, nors voorkom, uitermatig streng by die werksure hou en selfs probeer om lyf weg te steek.

Die vriendskap wat tussen die personeel groei – binne sowel as buite die kantoor – is een van die belangrikste saambindende faktore van ’n goeie maatskappy. Hierdie positiewe houding word dan ook onbewustelik na kliënte oorgedra en daarvandaan versprei dit weer verder. Daar is niks wat ’n maatskappy so vinnig ’n slegte naam gee as ongeskikte of ongelukkige personeel nie.

Wanneer ’n nuwe persoon dus in diens geneem word, is dit belangrik om te oordeel of hierdie nuwe persoon by die groep sal kan inpas. Mens wil darem ook nie iemand aanstel wat geen aanklank by die ander sal vind nie. Kommunikasie vorm dus ‘n sterk basis van alle goeie werksverhoudinge.

Dit maak ook nie saak of julle fisies ’n kantoor deel, of dalk regoor die wêreld versprei is nie. Dit maak ook nie saak of die mense tydens vergaderings om ’n tafel kan sit, en of hierdie vergaderings slegs d.m.v. Skype geskied nie. Die oogmerk behoort toegeneentheid en gewillige samewerking te wees, ongeag tyd of afstand. ’n Voorvereiste vir hierdie samesyn is vertroue, respek en waardering. Indien een van hierdie bene ontbreek, gaan die maatskappy se driebeen-stoeltjie vinnig omkantel en disharmonie sal soos ’n kanker deur die lewensaar van die maatskappy versprei.

Ano

Januarie 2023 – Projek NUUT

2.Vryheid van keuse

(Woordtelling 1080)

 

“Life is a matter of choices, and every choice you make makes you.” – John C. Maxwell

Elke dag wat jy wakker word is daar ’n geleentheid om die lewe met kraaknuwe oë raak te sien. Elke. Liewe. Dag. Niemand kan verwag om ’n ander uitkoms te kry as hy net met sy ou denkwyses, dag in en dag uit, voortploeter nie. Dit is ook nie iets wat net vir die paar bevoorregtes beskore is nie, maar binne bereik van byna almal.

Soms lyk dit egter of die rykes net met soveel meer keuses as die armes gekonfronteer word. Die besluit waar om te eet, wat om te eet, wat om aan te trek vir die geleentheid, watter rolprent om te gaan kyk, watter produk om te koop, is maar ’n klein voorbeeld van die keuses wat vir die meeste armes dalk nooit heeltemal realiseer nie. Party se lewens blyk net meer ingewikkeld te wees as ander. Dalk is ons self die oorsaak daarvan, veral as mens nie kan besluit wat jy wil hê nie, en uiteindelik jou gedagtes tien maal verander nie.

Daar word gereken dat ons daagliks sowat 122 besluite maak, en ongeveer 35,000 gedagtes het. Hoe besiger die persoon se kop, hoe moeiliker word dit om vinnig en goeie, besluite te neem. Dit gaan dus dikwels doller in jou brein as die geskarrel van ’n koplose hoender. Om daardie hoendertjie te vang en weer op hok te kry is wel moontlik, al sal sommige stry dat dit nie op hulle van toepassing is nie. Maar nou ja, as mens iets nie wil doen nie, sal jy ’n verskoning kry en as jy iets graag wil hê, sal jy ’n geleentheid vind.

Om gewoontes te verander beteken dan natuurlik ook dat mens met vars oë na jou lewe moet kyk. Dan moet ander faktore soos motivering en ondersteuning ook in ag geneem word. Dit is baie moeilik om ʼn slegte gewoonte te verander wanneer jou familie jou oor jou besluit kritiseer, aldus Andreas Michaelides, die Hoof van Sielkunde by Noom.

Besluite raak nie net jou gewig of fisiese gesondheid nie, maar help ook om kroniese en nie-kroniese toestande soos diabetes, angs en stres te verander. Wanneer jy beter kennis oor ʼn saak het, maak mens makliker en beter besluite. Uiteindelik beïnvloed dit nie net fisiese gesondheid nie, maar ook jou emosionele toestand en dit bevorder weer ʼn gesonder wêreld vir almal.

Maar hoe maak mens ʼn besluit, en hou daarby?

  • Moet dit nie te moeilik maak nie. ʼn Klein verandering elke dag oor ʼn lang tydperk is baie beter as een radikale verandering op een slag.
  • Vermy dit om groot besluite te neem wanneer jy moeg is, of onder groot druk verkeer.
  • Vertel iemand van so ʼn besluit net wanneer jy seker is dat so ʼn persoon jou sal ondersteun en nie doelbewus ʼn stok in die wiel sal steek nie. Nie almal hou van verandering nie, en wanneer jy besluit om iets in jou lewe te verander, mag jou familie of vriende dalk nie so opgewonde wees nie – heel waarskynlik omdat hierdie verandering ook hul lewens gaan beïnvloed.
  • Maak seker dat jou motivering goed is. Die besluit om 50kg te verloor net omdat jy vet lyk, sal vinniger afgewater raak as wanneer jy sou besluit om daardie gewig te verloor omdat jy graag jou kleinkinders wil sien grootword. Die motivering sal bepaal of jy hiermee sal kan volhou, al dan nie.

Om jou lewe te verander, moet mens soms afleer hoe om jouself te wees. Jy het nodig om nuwe denkrigtings in te oefen totdat dit ʼn standhoudende gewoonte geword het. In plaas daarvan om Eskom elke dag te kritiseer, en heeltemal geïrriteerd te raak oor die voortdurende beurtkrag, kan jy hierdie onderbrekings sien as ʼn gereëlde geleentheid om bietjie weg te breek uit jou sieldodende roetine. Eskom laat weet dat jy oor 55 minute weer jou boek of breipenne kan optel, of kans gaan kry om daardie nuwe blommetjies te plant voordat dit verlep. Nuwe brein-paadjies sluit ook die geleentheid in om elke ‘n ander besluit in moeilike omstandigheide te neem, eerder as om elke keer met woede te reageer.

Volgens Noom se navorsing onder 2,000 volwasse Britse inwoners, is die volgende die moeilikste besluite waarmee hulle te doene kry:

  • Watter TV program om te kyk.
  • Wat om te eet.
  • Wat om aan te trek.
  • Of hulle iets nuut sal koop (klere of skoene).
  • Om te gaan oefen, of nie.
  • Hoe laat om te gaan slaap.
  • Om nog ʼn koekie te eet, of nie.
  • Om iemand te vra om met jou uit te gaan.
  • Die week se spyskaart.
  • Om die aand uit te gaan of tuis te bly.
  • Watter boek om volgende te lees.
  • Wat om in die restaurant te bestel.
  • Sal jy ʼn wegneem ete bestel of self kook?
  • Moet jy ʼn voorgereg of nagereg bestel?
  • Waarheen om vir vakansie te gaan.
  • Hoe laat om op te staan.
  • Sal jy jou wekker se alarm stel, of nie?
  • Watter sosiale verpligtinge om na te kom.
  • Wat om vir jou verjaardag te doen.
  • Sal jy stap, van publieke vervoer gebruik maak, of self ry?

Ai, die moeilike lewe van die bevoorregtes darem! Diegene wat minder materiële besittings het, se veld van keuses is doodeenvoudig net nie so wyd nie en dit is moontlik dat hulle minder stres op hierdie gebied ervaar.

Selfs jou persoonlikheid bepaal hoe jy jou keuses maak.

  • Impulsiewe besluite.
  • Neem die populêre besluit en die een van minste weerstand.
  • Die weiering om ʼn besluit te neem en dit eerder aan iemand anders oor te laat.
  • Om besluitneming heeltemal te vermy.
  • Om alle faktore in ag te neem en ʼn gebalanseerde besluit te neem.

Oënskynlik lewe die oorgrote meerderheid van ons samelewing in ʼn staat van algehele onbewustheid – en hulle weet nie eens dat hulle soos robotte deur ander se idees en grille gemanipuleer word nie. Min besef ook dat selfs hul gevoelens en selfs gedagtes ander mense beïnvloed, soos die delikate vlerk-bewegings van ʼn brose skoenlapper. Niemand van ons is ʼn eiland nie, en wat die een persoon doen, het ʼn rimpel effek wat wyer strek as wat jy kan droom. Deur bewus te wees van jou keuses en gedrag, kan jy vir elke persoon waarmee jy in aanraking kom, ʼn bron van hoop en inspirasie wees. Dus, jou besluit om elke dag vars en nuut aan te pak, word raakgesien op plekke en tye wanneer jy dit die minste verwag.

Bronne: https://metro.co.uk/2022/08/09/study-reveals-how-many-decisions-we-make-each-day-17150428/

https://www.pbsnc.org/blogs/science/how-many-decisions-do-we-make-in-one-day/

 

Ano

 

Februarie 2023 – BLOU projek

1.Van soetsappigheid na brandende kole

(Woordtelling 1103)

 

Reeds van die vroegste tye in ons Afrikaner se geskiedenis is volksliedjies gesing om ons kinders aan die slaap te sus. “Siembamba” is in 2013 as een van die grootste Afrikaanse liedjies van alle tye aangewys en het vir die eerste keer in 1927 in Joan van Niekerk se boek, Die Groot Afrikaans-Hollandse Liederebundel, verskyn. Daar word wyd bespiegel oor die oorsprong en betekenis van hierdie lied, heel waarskynlik omdat die lirieke, soos ons dit vandag ken, kindermoord suggereer. Navorsing bewys egter dat die woorde tot in die 19e eeu as “Sien Mamba” bekend was. Dit sing die storie van ʼn slang wat ʼn kind bedreig en dringend doodgemaak moet word, en nie die kind wat in die sloot gegooi en verpletter moet word nie.

“Daar kom die Alibama” het ongeveer in 1863 ontstaan. Die oorlogskip, CSS Alabama, wat later as die Alibama bekend geword het, was deel van die Amerikaanse vloot en was bekend dat hy handelskepe gekaap het. Alhoewel die Alabama die skepe se bemanning gevange geneem het, was hulle nooit leed aangedoen nie en is weer by ʼn neutrale hawe vrygelaat. Die Afrikaanse liedjie het ontstaan toe die bekende skip by die Kaapse hawe gedurende 1863/1864 aangedoen het.

Danie Bosman (1907-1946) was ʼn pionier van Afrikaanse musiek en in 1969 is ʼn rolprent is oor sy lewe gemaak waarin Franz Marx en Min Shaw die hoofrolle vertolk het. Danie het homself as komponis bewys in die jare rondom die Tweede Wêreldoorlog en sy musiek het die toets van tyd deurstaan. Liedjies soos “Oom Bossie van die Bosveld”, “In die Skadu van ou Tafelberg”, en “In my Droomskuitjie” het gou volksbesit geword. Hoewel Danie se musiek al meer as tagtig jaar oud is, sal hy altyd onthou word as iemand wat ʼn groot invloed op Afrikaanse musiek gehad het.

Jy is my liefling” het oorspronklik in die 1930’s gewild geword, maar Min Shaw het dit weer as treffer laat herlewe. “Ver in die Ou Kalahari” is een van die liedjies wat deur die meeste kunstenaars opgeneem sou word, en Jan Pohl se “Die Mannetjie” is seker een van sy bekendste komposisies. Ernst van Rooyen het “Daar doer in die Bosveld” saam met Anton de Waal geskryf en dit is in Jamie Uys se rolprent met dieselfde naam, gebruik.

Ons kan seker nie aan Afrikaanse musiek dink en van Al Debbo se “Hasie” vergeet nie! “Die Oukraalliedjie” het in die 1940’s ontstaan en eers werklik gewild geword nadat Groep Twee dit in 1966 opgeneem het. In Maart 1967 het dit die Top 20 op Springbok Radio gehaal. “Die Donkie” was ʼn groot treffer vir Chris Blignaut, en Koos du Plessis se “Kinders van die Wind”, “Die Pad na Nooitgedacht”, en “Sprokie vir ʼn Stadskind” bly steeds immergroen. Baie van hierdie musiek is natuurlik ook in die FAK se musiekbundel opgeteken.

Anton Goosen skryf die eerste Afrikaanse rock-liedjie, “Blommetjie gedenk aan my”. Dit vertel die verhaal van ʼn vrou wat op pad na haar troue in 1968 in ʼn motorongeluk oorlede is. Marie Charlotte Roux se verloofde het beheer oor hul Volkswagen verloor, sy is uit die motor geslinger en eers die volgende oggend verkluim langs die pad gevind. Dit sou eers tydens die Paasnaweek van 1976 wees wat haar spook vir die eerste keer langs die pad opgelaai sou word.

En toe gebeur die onvermydelike. Die jeug van Suid-Afrika is moeg van die minneliedjies en soetsappigheid van Afrikaanse kunstenaars, moeg vir die regering van die dag, die apartheidsbeweging, die misdaad, en die Voëlvry-beweging stuur die musiek in ʼn heel ander rigting.

Terwyl kunstenaars soos Jannie du Toit, Laurika Rauch, Janita Claassen, Rina Hugo, Anton Goosen, Coenie de Villiers, Lucas Maree, Koos du Plessis & Carike Keuzenkamp hulself toegespits het op vermaaklikheid en steeds vol sale getrek het, het Afrikaanse musiek in die laat 1980’s skielik ʼn ander wending begin neem. Alternatiewe kunstenaars soos Piet Botha, Bernoldus Niemand, Koos Kombuis & Johannes Kerkorrel het openlik kommentaar gelewer op Apartheid en die Afrikaner identiteit.

Groepe soos FokofpolisiekarK.O.B.U.S!, Insek, Straatligkinders, Jack Parow, Brasse van die Kaap en Die Antwoord het soos paddastoele opgeskiet. Die lirieke van hul musiek het die ouer garde se hare laat rys en die kinders het gejuig. Anti-apartheids protesmusiek van Voëlvry is opgevolg met nuwe protesmusiek en kunstenaars wat openlik hul teenkanting teen die regering aangedui het. Groepe soos Glaskas, Klopjag, en natuurlik Bok van Blerk het liedjies begin skryf as protes teen die heersende misdaadklimaat.

Twee van Johannesburg se bekendste kuierplekke – Club 58 in Hillbrow, en ʼn avant garde-plek in Berea, The Black Sun, het uit sy nate gebars soos die Boere daar gedans, gesing en gekoggel het. Die nuwe geslag kunstenaars was gereed vir ʼn alternatief op die vroeëre versigtigheid van die Afrikaanse musiek. Bles Bridges en Cora Marie het verseker nie in hul smaak geval nie, en hulle wou Afrikaanse musiek laat rock en herleefNiemand sou kon dink dat die jonger geslag Afrikaners so uitgehonger was dat hul openlik met die land se heiligste koeie sou spot nie.

Mense het van heinde en verre gereis om na die Gereformeerde Blues Band se Johannes Kerkorrel en Andre Letoit te kom kyk, maar meestal was dit die yuppies van Yeoville wat die sale volgemaak het. Oorvol eintlik. Met tye was dit so vol dat die mense van die dakbalke gehang het, op die grond gesit het, of in die deure gestaan het. Hierdie musiek was nie vir almal ewe welkom nie, veral nie by die ouer gardes nie.

Maar waarom was hierdie nuwe Afrikaanse klanke dan so gewild?

 “In die sestigerjare het dr. Verwoerd vir ons ouers gesê die Nasionale Party veg vir hul kinders. Ons is daardie kinders. Ons het Afrikaans kom aantref as ʼn stywe, formele ‘onderdrukkerstaal’. Ons wil in Afrikaans wys dat ons jong Afrikaners ons nie hoef te vereenselwig met daardie houding wat die taal byna laat sterf het nie. Ons vat ons taal nou terug.” – Johannes Kerkorrel en André Letoit van die Gereformeerde Blues Band.

In hierdie jaar van 2023 kan ons wraggies sê dat, anything goes. Op die meeste radiostasies is word daar ’n groot verskeidenheid van Afrikaanse popmusiek gespeel, van soetsappige minneliedere, poëtiese musiek, lirieke wat vermaak, lirieke wat tot vervelens herhaal word, Christelike musiek, tot klets rymers en punk-rock. Baie hiervan val maar bietjie vreemd op die oor, maar daar is verseker iets vir elkeen om na te luister. Soms val dit sag op die oor, ander kere is dit niks anders as lae kwaliteit en doodgewoon onbeskof nie, met taalgebruik wat jou hare laat rys. Miskien is dit weereens die jeug se uitdrukking van ons omstandighede, chaoties en gewelddadig.

Ano

Bronne : https://www.fak.org.za/2019/02/26/die-storie-van-afrikaanse-musiek-1-pieter-smith/

https://www.afrikanergeskiedenis.co.za/danie-bosman-1907-1946/

https://af.wikipedia.org/wiki/Afrikaanse_musiek

https://www.afrikanergeskiedenis.co.za/danie-bosman-1907-1946/

https://laurikarauch.com/1988-insig-verwoerd-se-kinders-sing-n-ander-taal-artikel/

https://www.wereldwyd.co.za/die-ryk-geskiedenis-van-afrikaanse-volksliedjies/

 

Maart 2023 – OOP Projek

2.Alleen of eensaam?

(Woordtelling : 830)

 

Om alleen te wees beteken nie noodwendig om eensaamheid te ervaar nie. Om alleen te wees is om tyd in jou eie geselskap te geniet waarteenoor eensaamheid of isolasie ʼn emosionele skeiding van die mense rondom jou is, selfs al is jy in die geselskap van ander. Eensaamheid word dus nie veroorsaak deur om alleen te wees nie, maar om geïsoleerd van ander te voel. Dit het een van die grootste sosiale uitdagings van ons tyd geword.

ʼn Persoon wat eensaam voel, se siel treur met ʼn intense verlange na iets waarvoor hy dalk nie eens altyd  ʼn naam het nie. Dalk is dit weens familie wat nooit kom kuier nie, ʼn verlore liefde of onvervulde drome. Waaruit hierdie verlange ookal sou spruit, die grootste oorsaak hiervan is baie dikwels omdat die mens kontak met sy binne-wêreld, of siel, verloor het, en dan die lewe as ʼn verlate plek ervaar. So ʼn persoon voel dikwels so desperaat dat hy homself nie uit daardie swart gat kan trek nie.

Die mens is ʼn sosiale wese wat veiligheid en troos in die verhoudings met ander ondervind. Bevredigende sosiale kontak is noodsaaklik vir geestelike-, emosionele- en fisiese gesondheid. Die koms van die internet en sosiale media het hierdie noue kontak met ander eintlik verbreek in plaas daarvan om verhoudings sterker te maak. Navorsing bewys dat eensaamheid veral oor die laaste twee dekades drasties toegeneem het.

Eensaamheid word onderverdeel in twee groepe, naamlik emosionele eensaamheid wat beteken daar is ʼn afwesigheid van hegte verhoudings in die persoon se lewe, en sosiale eensaamheid wat voorkom by persone wat nie ʼn sosiale netwerk het nie.

Dit kan ook tot vele gesondheidsprobleme lei. Psigiatriese versteurings soos depressie, alkohol misbruik, slaapprobleme, en Alzheimer’s, is dikwels die direkte gevolg van eensaamheid. Fisiese probleme soos diabetes, artritis, lupus, hartsiektes, hoë bloeddruk, vetsug, kanker, en algemene agteruitgang van gesondheid word ook meer dikwels by eensame mense gediagnoseer as by diegene wat ʼn gesonde sosiale lewe het.

ʼn Studie wat in 2006 op 2,800 vroue met borskanker gedoen is, het bewys dat diegene wat min ondersteuning van vriende en familie het, se kans om daaraan dood te gaan, vyf keer hoër is.

Dit is egter belangrik om klem te lê dat nie alle gesondheidsprobleme uit eensaamheid spruit nie. Selfs mense met ʼn goeie ondersteuningsnetwerk kan aan dieselfde siektes lei alhoewel die voorkoms daarvan minder is.

Vrouens het ʼn groter risiko om eensaamheid te ervaar, sowel as weduwees, om alleen te woon, bejaardes, finansiële druk en ʼn beperkte groep vriende of sosiale interaksie. In Engeland woon die helfte van mense bo 75 alleen en een uit elke tien ervaar intense eensaamheid.

Verrassend genoeg ervaar sowat 80% van kinders onder 18 eensaamheid in teenstelling met 40% van mense bo 65. Die rede hiervoor is dat volwassenes deur die jare beter vaardighede aangeleer het en dus hul eensaamheid beter hanteer. Kinders en jong volwassenes is steeds besig om hul plek in die lewe te vind en het ʼn baie groter behoefte aan aanvaarding en liefde, wat die vorming van hul identiteit beïnvloed. Bejaardes wat aan ernstige gesondheidsprobleme lei rapporteer egter ʼn hoër voorkoms van eensaamheid.

Drie tipes eensaamheid is geïdentifiseer naamlik, weens omstandighede, ontwikkelingseensaamheid en interne eensaamheid.

Wanneer ʼn persoon eensaamheid weens omstandighede ontwikkel, is dit gewoonlik a.g.v. slegte ervarings, mense wat wegtrek, sukkel om vriende te maak, die dood van ʼn familielid, ongelukke, of konflik. Daar is dikwels ʼn gaping tussen die persoon se behoeftes en die vlak waarop dit aangespreek word.

Ontwikkelingseensaamheid kom voor by diegene wat onbevoeg voel, tekorte in sy ontwikkeling ervaar, armoede, fisiese- en emosionele gestremdhede.

Interne eensaamheid kom voor by persone wat ʼn lae selfbeeld het, swak hanteringsmeganismes het, minder veerkragtig is, en geestelike nood ervaar.

Oor die algemeen is diegene dan ook dikwels depressief, hulpeloos, en is oor die algemeen minder gelukkig en ook meer negatief en pessimisties. Eensaamheid is ook ʼn risiko faktor vir alkohol misbruik. Mense wat rousmart ervaar, rapporteer ook ʼn groter insidensie van totale eensaamheid en het dan ook ʼn hoër risiko om depressie te ontwikkel. Kroniese stres word deur eensaamheid aangewakker, sowel as kroniese inflammasie en ʼn verswakking in die immuunstelsel. Korttermyn inflammasie is nodig wanneer ʼn snyplek gesond moet word, maar langtermyn inflammasie is die grootste bydraende faktor in hartsiektes en kanker.

Met ewig-stygende selfdood syfers, is daar dan ook ʼn bewys van die direkte verband tussen eensaamheid en die tonnelvisie wat na selfdood lei. ʼn Eensame persoon se slaappatroon word ook geaffekteer. ʼn Gebrek aan goeie slaap kan ook tot ander geestesongesteldhede lei, wat die persoon dan verder geïsoleerd laat voel.

Indien eensaamheid nie aangespreek word nie, kan dit ernstige geestelike- en fisiese gevolge vir die persoon, sowel as die breër gemeenskap, inhou. Dikwels is so ʼn persoon nie in staat om effektief uit te reik nie. Indien niemand egter bewus is van ʼn ander se emosionele nood nie, word so ʼn persoon nie sommer by sosiale geleenthede intrek nie. Dit is ʼn dilemma waarvan daar oënskynlik geen uitkoms is nie.

https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC4225959/

https://www.bbc.com/news/health-21517864

 

Ano

 

April 2023 – KLUG projek

2.Wetteloosheid, ons nuwe normaal

(Woordtelling 763)

 

Dit is geen geheim dat Suid-Afrika onder ’n donker wolk van korrupsie swoeg om kop bo water te hou nie. Verval van die infrastruktuur, hoë misdaad, werkloosheid, armoede, stygende inflasie, stygende rentekoerse en -petrolpryse, beurtkrag vir die afgelope 16 jaar, is slegs enkele voorbeelde van die uitdagings wat ons daagliks in die gesig staar. Voeg daarby ’n nie-funksionele strafregstelsel en ons het die perfekte resep om as ’n falende staat geklassifiseer te word.

Die hele situasie rondom Thabo Bester se ontsnapping uit die tronk het vele Suid-Afrikaners na hul asems laat snak. Hoe is dit moontlik om so maklik uit ’n gevangenis uit te stap en die owerheid kom dit eers byna ʼn jaar later agter! Dit sou seker lagwekkend gewees het indien dit nie so ernstig was nie. Die feit dat hy hulp van binne én buite die tronk gehad het, is eintlik van minder belang teenoor die innoverende plan waarmee hulle dit uitgevoer het.

Terwyl sy verdwyning ’n briljant uitgewerkte plan was, is ontsnapping uit ons tronke geensins ’n nuutjie nie. Volgens die Departement van Korrektiewe Dienste het 139 gevangenis tussen 2020 en 2022 dit reggekry om te ontsnap. Sommige klouter deur hul vensters, ander oorval die wagte, neem die sleutels af en stap doodeenvoudig by die deur uit. Annanias Mathe was bekend dat hy verskeie kere uit maksimum-sekuriteit tronke ontsnap het. Dit laat mens wonder hoe goed ons is om oortreders binne te hou, en te keer dat die getal misdadigers ophou groei.

ʼn Ander groot probleem in ons regstelsel is die gewoonte om sake uit te stel. Oudpresident Jacob Zuma se ondersoek oor Staatskaping draal al sedert Junie 2005 en daar is geen einde in sig nie. As hy nie gesondheidsprobleme het nie, of weens ouderdom nie kan verskyn nie, duik daar bloot net ʼn ander rede op. Met ander woorde, die staat en strafregstelsel word gemanipuleer deur diegene wat bereid is om afkoopgeld te betaal en sodoende vind vervolging selde plaas, veral van hooggeplaastes.

Miljárde rande van die belastingbetaler word jaarliks gespandeer aan sake wat nooit by vonnisoplegging uitkom nie. Ons sien dikwels hoe hooggeplaaste politici geïmpliseer word, maar daar word nooit teen hulle opgetree nie, en hulle word ook nooit uit hul amp onthef nie. Die mees onlangse voorbeeld is toe André de Ruiter bekend bemaak het dat die korrupsie en sindikate in die Eskom-sage tot in die parlement strek. Tot vandag het geen haan daaroor gekraai nie. Diegene wat weet wie hierby betrokke is, is oënskynlik te bang om die nodige stappe te neem. Dit beteken bloot dat sommige meer onaantasbaar is as ander.

Dit is nie net Eskom wat deurloop nie, maar daar is ook ʼn Mafia bedrywig in die konstruksie- en mynbedryf, en daar het bitter min gekom van die plundering wat gedurende 2021 in KwaZulu Natal plaasgevind het.

Verder is dit bloot die onbevoegdheid van die staat om die aantal misdade wat gepleeg word, effektief te hanteer. Daar is ʼn groot gaping tussen die aantal sake wat aangemeld word, en die uiteindelike skuldigbevinding van misdadigers, soveel so dat baie landsburgers nie eens meer “minder ernstige” misdade soos inbrake rapporteer nie.

Tydens ʼn konferensie gehou deur AfriForum wat die verval van die strafregstelsel bespreek het, het Adv. Nel konkrete voorbeelde uitgelig wat op die verval van die strafregstelsel dui, sowel as die kwynende onafhanklikheid van die regbank. Adv. Gerrie Nel, prof. Kos Malan en dr. Llewelyn Curlewis was sprekers by die konferensie. Hulle is van mening dat ons strafregstelsel ʼn sinkende skip is wat nie gered kan word nie.

Die Nasionale Vervolgingsgesag is óf meesters op die gebied om sake onbepaald te laat sloer, óf hulle het nie die vermoë om sake van korrupsie te vervolg en af te handel nie. Volgens dr. Curlewis is die Suid-Afrikaanse regstelsel lank reeds nie meer die toonbeeld van oppergesag waarna ons altyd gestreef het nie. Elke burger in hierdie land is uitgelewer aan die korrupsie van ons falende regstelsel, en daardie selfde burgers is dikwels ook die slagoffers van onopgeloste misdade, sommige so ernstig as moord.

Strafverhore is ʼn klug, veral waar daar politiek by betrokke is.

Maar wat sou die oplossing wees? ʼn Privaatsekuriteitsindustrie? Sal dit enigsins moed verskaf aan die sielsmoeë publiek wat jaarliks miljarde rande aan die staatskas bydra in die vorm van belasting? Waar gaan als eindig? Gaan die vuis-voos publiek ten spyte van hierdie belasting, ook moet begin betaal sodat die inbrekers, verkragters en boelies privaat gearresteer en vervolg kan word? Ons hoedens is laag oor ons oë getrek en ons hoop op ʼn beter toekoms vir almal, is aan die kwyn.

 

 

https://www.ofm.co.za/article/centralsa/322882/ontsnappings-tientalle-gevangenes-ontsnap-uit-tronke-regoor-die-land

https://afriforum.co.za/staatskommissies-regering-se-gunstelinguitsteltegniek/

https://afriforum.co.za/konferensie-oor-verval-van-die-strafregstelsel-n-alternatief-tot-die-sinkende-skip-van-geregtigheid/

Ano

Junie 2023 – Winter projek

1.Feit of Fiksie: Die kweekhuiseffek

(woordtelling : 1164)

 

Dit is nie nét die mens en sy misbruik van die aarde wat die huidige klimaatsverandering teweeggebring het nie, al dra ons grootliks daartoe by. In die laaste 800,000 jaar was daar ten minste agt siklusse van ys- en warm periodes, en die laaste Ystydperk ’n skamele 11,700 jaar gelede.

Satelliete wat om die aarde roteer, stel die wetenskaplikes in staat om hierdie baie belangrike inligting te versamel. Ons planeet se temperatuur besig om te styg en die jare 2016 en 2020 word erken as die warmste opgetekende jare van die laaste 150 jaar. Die oseaan absorbeer die meeste van hierdie hitte en die seewater se temperatuur het noodwendig gestyg. Die ys gletsers smelt, nie net in Groenland en Antarktika nie, maar ook die ysbedekking van die Alpe, Himalajas, Andes-gebergtes, Alaska en Kilimanjaro. Die Noordelike halfrond se sneeuval is korter en smelt vinniger as ʼn dekade of drie gelede. Ekstreme weerpatrone is ook besig om toe te neem, met ʼn groter toename in orkane, ernstige droogtes, en ʼn toename in onbeheerste brande. Vulkaniese uitbarstings is ook aan die toeneem en die seevlakke styg.

Kosproduksie, water, en gesondheid word direk deur klimaatsverandering geraak en al is dit ’n globale probleem, word nie alle streke ewe veel hierdeur beïnvloed nie. Sekere groepe soos bejaardes, jong kinders, swanger vroue, en verarmende gemeenskappe, word baie meer deur ekstreme weerstoestande geraak as ander. Ons vermoë om aan te pas by hierdie nuwe toestande sal ons voortbestaan ook direk beïnvloed.

Klimaatsverandering veroorsaak verandering in die weerpatrone wat op sy beurt weer lei na ʼn inkrimping van kos produsering. Droogtes en vloede veroorsaak dat graan nie meer so maklik groei nie, en selfs die produksie van vleis neem af. Visspesies sterf uit of hul trek dieper die see in op soek na koeler water. Dit veroorsaak dus dat die mense wat van visvang afhanklik is vir oorlewing, ʼn groter uitdaging in die gesig staar wanneer hul kos op die tafel moet sit.

Droogtegebiede raak al hoe droëer en dit mag so ʼn gebied in ʼn semi-woestyn laat ontaard waar vars water net sekere tye van die jaar beskikbaar is. Groot storms veroorsaak dat die stede se watersuiweringswerke en natuurlike buffers teen besoedeling, bloot net nie met die groot hoeveelheid reën kan byhou nie. Die toename in besoedeling veroorsaak dan ook ʼn vermindering in skoon water.

Gesondheidsprobleme neem toe namate dit al hoe warmer word. Hitteuitputting, en mense wat aan asma lei, kan asemhalingsprobleme ondervind weens ekstreme warm weer. Die afname in kosproduksie kan tot wanvoeding lei en die verspreiding van aansteeklike siektes soos meningitis floreer in warm, droë gebiede. Groot hoeveelhede water is die ideale broeiplek van muskiete en hierdie insek is uitsluitlik verantwoordelik vir die verspreiding van malaria. Diarree en sterftes kan ontstaan weens die gebrek aan skoon drinkwater en besoedelde kos.

Selfs ons geestelike gesondheid kom onder stremming soos die kwik styg. Stres, angs, depressie, post-traumatiese stres, en die styging in selfdood gevalle, is ʼn indirekte gevolg van klimaatsverandering. Met ander woorde, mense pas baie stadig aan by die verandering in hul omgewing, en ervaar meer stres as gevolg van meer ekstreme weerpatrone.

Soos die seewater verhit en die ys op die pole smelt, begin die seevlak styg. Dorpe en stede wat langs die kus gebou is, word bedreig om heeltemal deur die seewater oorspoel te word, of ten minste aan erge storms blootgestel te word, wat dan weer groot skade aan infrastruktuur teweegbring. Lande soos Bangladesj, Nederland, Engeland en Guyana is besonders weerloos teen die stygende watervlakke.

Afrika in die besonder is baie weerloos teen klimaatsverandering omdat ons reeds sukkel met armoede, tekort aan kos, en gereelde politieke onrus. Daar word voorspel dat teen 2050, tussen 350- en 600 miljoen Afrikane onder ʼn ernstige watertekort gebuk sal gaan. Mense sal na die stede stroom en die infrastruktuur onder verdere druk plaas. Armoede sal toeneem. Minder landbougrond sal beskikbaar wees en minder kos sal geproduseer word. Afrika is word reeds geteiken deur toestande soos wanvoeding, malaria en ander lewensgevaarlike siektes wat deur parasiete en bakterie oorgedra word, en ʼn styging in temperatuur sal dit net vererger.

Dit is egter geen geheim dat wetenskaplikes daarvan hou om met mekaar te verskil nie, maar in die debat oor klimaatsverandering, stem 97% saam dat die aarde al hoe warmer word, en dat die mens se gedrag grootliks daartoe bydra dat hierdie verskynsel met rasse skrede laat toeneem het. Die algemene publiek is egter nie so bereidwillig om hierdie aanspraak te aanvaar nie, en slegs 60% van die Amerikaanse bevolking stem met met die hierdie navorsing saam.

Die Noorweegse bekroonde fisika Nobel-pryswenner, Professor Ivar Giaever, sê egter in sy verklaring dat “Daar is geen klimaat-krisis nie. Dus is daar geen rede vir paniek nie. Ons verwerp die skadelike en onrealistiese net-zero CO2 beleid wat vir 2050 voorgestel is. Indien beter benaderings opduik, en dit sal sekerlik, sal ons genoeg tyd hê om hieroor te reflekteer en aan te pas. Die mikpunt van die globale beleid behoort ‘vooruitgang vir almal’ te wees deur te sorg dat daar te alle tye betroubare en bekostigbare energie beskikbaar is.” Politieke weerstand speel natuurlik ʼn baie groot rol wanneer daar oor hierdie debat gekibbel word. Sosiale media en vals beriggewing dra verseker by tot die verwerping van NASA se navorsing.

Die wetenskaplikes het ongeveer 150 jaar se opgetekende inligting rakende weerpatrone. Soms is dit besonder warm of besonder koud in enige spesifieke jaar, en sommige dekades word meer geteister deur brande, oorstromings of droogtes, as in ander tye. Tog is dit duidelik sigbaar dat hierdie uiterstes al hoe meer gedurende die laaste paar dekades voorkom, en ook meer skade aan die omgewing aanrig.

Wetenskaplikes gebruik samel geologiese inligting in deur na die natuur te kyk, soos die ringe van bome, verskillende lae in ys, en koraalriwwe. Deur die bestudering van hierdie prehistoriese informasie, kan daar ingeligte afleidings gemaak word oor die weerstoestande van ʼn spesifieke tydperk. Studies wys dat die aarde nou die warmste is in die laaste 1000 jaar.

Die kweekhuiseffek het die grootste invloed op hierdie veranderinge. “Antieke” lug of gasse wat in lugborrels in die ys vasgevang is, wys dat die konsentrasie van koolstofdioksied van naastenby 280 dele per miljoen, in die laaste 150 jaar tot 420 dele per miljoen toegeneem het. Die konsentrasie van metaan, die tweede belangrikste bydrae tot die kweekhuiseffek, het verdubbel. Ons vrylating van koolstof is dus tans baie meer as 56 miljoen jaar gelede.

Ons weet reeds dat daar nog altyd ʼn wisseling van klimaat was, en sowat 50 miljoen jaar gelede het ons planeet ʼn tydperk van bevriesing beleef. Die groot bron tot kommer is egter die toenemende verwarming wat ons in die laaste 150 jaar ervaar, wat presies ooreenkom met die Industriële Revolusie, en die geweldige toename van motors, vliegtuie, fabrieke en die verbranding van fossiel stowwe soos olie en gas, als wat koolstofdioksied vrystel.

Die vraag is egter nou of dit omgekeer kan word, of nie. Dalk is ons net besig om ons eie ondergang te bewerkstellig.

 

Evidence | Facts – Climate Change: Vital Signs of the Planet (nasa.gov)

International Climate Impacts | Climate Change Impacts | US EPA

https://www.nytimes.com/article/climate-change-global-warming-faq.html

https://www.pottsmerc.com/2023/01/23/jerry-shenk-relax-there-is-no-climate-emergency/

 

Ano

 

Julie 2023 – OOP projek

3.Wat lei tot die tragedie van gesinsmoorde?

(Woordtelling 1075)

 

Gesinsgeweld speel nie noodwendig ‘n rol nie, maar ‘n gevoel van hopeloosheid en onmag om jou en jou gesin se omstandighede te verander, speel wel ‘n rol. Om tot die daad van gesinsmoord oor te gaan, moet jy aan een of ander vorm van ‘n geestesversteuring lei, heel waarskynlik depressie in ‘n erge graad. Ander faktore wat ‘n rol kan speel is onbehandelde Post Traumatiese Stres Versteuring, alkohol- of dwelm afhanklikheid, en ‘n geskiedenis van mishandeling of verwaarlosing gedurende jou kinderjare.

Dit moet egter duidelik gemaak word dat al is depressie byna altyd ‘n onderliggende faktor, die oorgroot meerderheid van depressiewe mense nie hulself om die lewe wil bring nie, maar die meeste mense wat hulself om die lewe bring, het wel depressie gehad.

Ilse Pauw van Health24 het bevind dat veral onder die Afrikaanse gemeenskap die rol van die pa baie belangrik is. Hy is die hoof van die huishouding, gewoonlik die grootste broodwinner, die beskermer, en mag ‘n oordrewe sin vir verantwoordelikheid hê. So ‘n man is waarskynlik ook daaraan gewoond om besluite namens sy gesin te neem en kan oorweldig voel deur die druk van die lewe. Huweliksprobleme of geskille oor toesig oor die kinders na egskeiding dra by tot die gevoel van oorweldiging.

Finansiële probleme is algemeen in sulke gevalle en hy kan voel dat hy sy familie in die steek laat. Soveel druk kan veroorsaak dat ‘n andersins kalm individu totale beheer oor sy lewe, en sy vermoë om probleme op te los, heeltemal kan verloor. Hy sal homself eerder doodmaak as om te erken dat hy hulp nodig het.

‘n Patriargale man voel dat sy gesin nie sonder hom sal kan oorleef nie, daarom dat hy eerder almal sal doodmaak as om hulle alleen in die wêreld te los om na hulself om te sien. Vir so ‘n persoon is dit byna onmoontlik om openlik te erken dat hy hulp nodig het.

Neil McGibbon, ‘n Kaapstadse kliniese sielkundige, wys daarop dat die misplaaste idee van manlikheid ‘n groot rol in gesinsmoorde speel. So ‘n persoon sal dikwels sy emosies onderdruk eerder as om die beeld van sy manlikheid prys te gee.  Daar is ‘n sterk ingewortelde idee dat “mans nie praat, of huil nie”, of dat mans om een of ander rede minderwaardig is indien hulle hulp sou soek. Hulle moet te alle tye “sterk” wees. In wese faal die samelewing dan ook individue oor die algemeen.

Alhoewel dit baie raar is, gebeur dit tog dat ‘n andersins liefdevolle moeder haarself ook tot ‘n gesinsmoord sal wend. ‘n Oordrewe sin vir verantwoordelikheid en om oorweldig en buite beheer te voel weens hul persoonlike omstandighede, is dikwels die hoofrede waarom ‘n vrou tot so ‘n gewelddadige daad sal oorgaan.

‘n Geval wat die land geruk het, was die gesinsmoord van die drie jong dogtertjies van ʼn Suid-Afrikaanse gesin wat in 2021 na Nieu-Seeland geïmmigreer het. Lauren Dickason, ‘n 42 jarige Suid-Afrikaanse dokter, het haarself tydens die voorval in die diepte van nageboortedepressie bevind. Sewentien in-vitro bevrugtings, en die dood van haar ongebore baba was heel waarskynlik die begin van ʼn kringloop van depressie wat uiteindelik tot hierdie absolute tragiese einde sou lei. In Lauren se verhoor het die duidelik geword dat sy ook ʼn oordrewe sin vir verantwoordelikheid teenoor haar kinders gehad het. Dit was vir haar baie moeilik om hulle bv. alleen op ʼn klimraam te laat speel, en het hulle sonbrandroom gesmeer selfs al staan hulle binnenshuis in ‘n kolletjie son.

Die feit dat sy die moord op haar drie voorskoolse dogtertjies begin beplan het terwyl hulle nog in Suid-Afrika woonagtig was, is werklik kommerwekkend. Hoekom kon ‘n persoon met uitgebreide mediese kennis haarself nie help nie, of selfs nie uitgereik het na iemand wat haar effektief kon bystaan en deur die depressie help nie? En, indien sy wel behandeling gekry het, het ons gesondheidsorg haar dan hierin gefaal?

In die meeste gevalle is depressie niks anders as ‘n groot leuenaar nie. Dit vertel vir jou ‘n klomp onwaarhede soos bv. dat hierdie wêreld beter sal wees sonder jou, en indien daar jong kinders in die huis is, is dit maklik om te dink dat dit beter vir hulle sal wees indien hulle saam met jou sal sterf, eerder as om alleen in ‘n ongenaakbare wêreld agtergelaat te word. Jy dink dus dat jy hierdie daad uit liefde pleeg en sien dit nie as ‘n misdaad nie.

Volgens Konrad Czech, ‘n psigiater van Clairmond, Kaapstad, is depressie, die afhanklikheid en misbruik van dwelms en alkohol, gesamentlik met ‘n spesifieke persoonlikheidstipe, dikwels die oorsaak dat ‘n persoon sy gesinslede mag uitwis voordat hyself ook sy lewe beëindig.

Welmoet Bo is egter van mening dat daar heelwat redes agter gesinsmoorde sit. “ʼn Patriargale samelewing kan sommige mans daartoe lei om te glo dat hulle die finale sê in alles het, insluitend of hulle gesinne lewe of sterwe. Mens kan nie anders as om te vra waarom dit in die afgelope tyd so algemeen in Suid-Afrika voorkom nie, maar die antwoord is moeilik te vinde. Drank en dwelms maak inhibisies los en speel ʼn groot rol, maar die punt is, waarom gaan sommige mense so ver terwyl ander dit nie doen nie?”

Volgens Dr. Mary Kuria, ‘n professor in sielkunde in Nairobi, is daar ‘n baie sterk verband tussen geestesgesondheid, jou ondersteuningstelsel, en gesinsmoorde. Sy bevestig ook dat alkohol- en dwelmmisbruik, tesame met ‘n geestesafwyking, ‘n persoon meer ontvanklik maak vir die moontlikheid van ‘n gesinsmoord. Dit is nie net die kwantiteit van jou sosiale verbintenisse nie, maar ook die kwaliteit daarvan wat saak maak. Dit als vorm deel van jou ondersteuningsnetwerk, of die gebrek daaraan.

Alhoewel die presiese oorsaak en gemoedstoestand van so ʼn persoon nie 100% duidelik is nie, blyk dit dus dat ʼn geestesafwyking in een of ander vorm, tesame met misbruik van ʼn middel, hetsy drank, dwelms of voorgeskrewe medikasie, die onvermoë om groot stres te hanteer, als daartoe bydra om die persoon te laat knak en tot ʼn ondenkbare daad oor te gaan.

Al kan ons nie so ʼn persoon se daad ongestraf laat verbygaan nie, maak dit steeds nie die persoon “sleg” nie. Dit is ongelukkig die tragiese uiteinde van moeilike omstandighede. Waarom verskillende mense in dieselfde omstandighede verskillend optree, hang grootliks af van ons veerkragtigheid en vermoë om moeilike situasies te hanteer. Wat vir die een persoon ‘n onoorkomelike situasie mag wees, is vir die ander net nog ‘n slegte dag in sy lewe.

 

Bronne :  https://jougesin.solidariteit.co.za/gesinsmoorde-wie-en-waarom/

https://www.news24.com/life/archive/What-fuels-family-murder-20120721

 

Ano

 

Augustus 2023 – Musiek projek

1.Musiek vir beter gesondheid

(Woordtelling : 1054)

 

Musiek is reeds vir derduisende jare deel van die mens se lewe en die oudste musiekinstrumente word op sowat 40,000 jaar oud geskat. Die gebruik van musiek en klank dateer reeds uit die Antieke Griekse tydperk, en die vroegste verwysing na die gebruik van musiek as terapeutiese hulpmiddel is in ʼn artikel genaamd, “Music physically considered”, gedateer 1789. Dit is egter eers sedert die 20e eeu, na die Tweede Wêreld Oorlog beëindig is, wat musiek amptelik as terapie erken en gebruik word. Tydens die wêreld oorloë is gevind dat, wanneer daar musiek in hospitale gespeel was, soldate vinniger van hul liggaamlike- en emosionele wonde genees het.

Dit is baie jammer dat meeste van ons hedendaagse uitdagings en probleme behandel word deur die voorskryf van medikasie, eerder as om alternatiewe vorme van gesondheidsorg te ondersoek. Dit is nie altyd duidelik of die medici nie die kennis van alternatiewe terapieë het nie, dat dit meer tyd in beslag sal neem as die normale doktersbesoek, of dat die pasiënt moontlik nie die finansies het om verskillende opsies te ondersoek nie. Ongelukkig dek die meeste mediese fondse ook nie alternatiewe vorme van terapie nie, en moet dit dus met kontant uit die sak van die pasiënt betaal word.

Wanneer medici na ander alternatiewe vorme van behandeling as “new age” of “whoo-whoo” verwys, help dit ook nie. Met hierdie sienswyse en die streng riglyne van die mediese fondse, bly daar dikwels net een manier oor: sluk ʼn pil en kom sien my oor ʼn maand.

Musiekterapie is egter ʼn alternatiewe, minder indringende en veilige manier om ʼn spesifieke toestand te behandel. Dit kan baie effektief gebruik word in die behandeling van stres, depressie, probleme om te slaap, en kan selfs jou toleransie tot pyn verhoog. Dit is belangrik om in ag te neem dat musiekterapie selde alleen staan en verkieslik saam met ander terapie toegepas moet word.

Musiek is reeds ʼn groot deel van die meeste se daaglikse lewe. Verskillende tipes musiek het egter verskillende uitwerkings op die brein en nie almal reageer op dieselfde manier nie. Oor die algemeen verminder klassieke musiek stres en angstigheid, alhoewel die rustigheid daarvan vir ander eerder ʼn bron van irritasie kan wees. So ʼn persoon sal dalk eerder Rock musiek geniet, terwyl die vinnige tempo daarvan ander se angstigheid kan vererger.

Die oorgrote meerderheid van terapie steun baie swaar op verbale kommunikasie, dus is musiekterapie meer gepas vir mense wat sukkel om hulself deur woorde uit te druk, veral persone wat aan dimensie, outisme of ʼn breinbesering ly. Diegene wat trauma verwerk, vind dit ook moeilik om hul emosies en die omstandighede verbaal te verwoord. Musiek – oftewel die lirieke – is hier dan ʼn makliker manier om jouself uit te druk as net met normale praat-terapie.

 

Toestande waar musiek ʼn daadwerklike verskil kan maak:

PDD (Pervasive Development Disorder)Hierdie term sluit in Outisme, Asperger’s sindroom, Deurdringende Ontwikkelingsversteuring, en Rett sindroom, ‘n neorologiese en genietiese toestand wat meisies affekteer. ʼn Persoon wat homself in hierdie spektrum bevind, ondervind dikwels probleme met kommunikasie en sosiale interaksie, en het ʼn verhoogde belangstelling en reaksie op musiek. Musiekterapie mag dan help om so ʼn persoon beter kommunikasievaardighede aan te leer en te help om oor die algemeen meer normaal te ontwikkel.

Dimensie. Dimensie is ʼn toestand wat geassosieer word met siekte of trauma. Verandering kan vinnig of langsaam plaasvind en kognitiewe funksies wat geaffekteer word is besluitneming, oordeel, geheue, denkprosesse, redenasie en verbale kommunikasie. Dimensie het ʼn verandering in gedrag- en persoonlikheid tot gevolg, afhangende van die area van die brein wat geaffekteer word.

Dit word waargeneem dat veral ouer persone met dimensie ’n verlaging in aggressiewe- en geïrriteerde gedrag ondervind, en hul gemoedstoestand verbeter. Musiekterapie kan selfs help om die risiko van hart- of ander brein siektes in demensie-lyers te verlaag.

Depressie. Depressie is ’n gemoedsversteuring wat die persoon se eet-, slaappatroon, en selfs fisiese gesondheid beïnvloed, hoe hy oor homself voel en die manier waarop hy op die lewe se uitdagings reageer. Dit is baie meer as net ʼn gevoel van verbygaande hartseer en eerder ʼn kroniese neiging om die donker kant van die lewe te raak te sien en emosionele pyn op ʼn diep vlak te ervaar.

Daar is bewyse dat musiekterapie, tesame met die gebruik van praat-terapie en anti-depressante, die persoon se gemoed op die langtermyn positief beïnvloed. Studies het getoon dat tydens musiekterapie, volwasse vroue se hartklop en bloeddruk verlaag het, en hul gemoedstoestand verbeter het. Dit word ook positief aangewend in pasiënte wat depressie na ʼn groot operasie ontwikkel.

Angs. Studies het getoon dat mense wat aan angs ly, groot baat by die toepassing van musiekterapie vind. Dit verlaag nie net jou hartklop en bloeddruk nie, maar laat simptome van angstigheid vinniger verdwyn. Musiek affekteer die stres hormoon, kortisol, en wanneer dit verlaag, ervaar die persoon verligting van simptome wat deur angs veroorsaak word.

Slaaploosheid. Dit is te verstane dat ʼn persoon wat aan slaaploosheid ly, ook ʼn gebrek aan energie deur die dag sal ondervind. Langtermyn slaaploosheid kan lei tot depressie, angstigheid, gebrek aan aandag, probleme met geheue en probleme om nuwe inligting aan te leer. Die voordele van musiekterapie kan tot gevolg hê dat die pasiënt vinniger aan die slaap raak, minder versteurings tydens slaap ondervind en groter konsentrasie ervaar deur die loop van die dag.

 

Afhangende van die individu se persoonlikheid, kan musiekterapie soms ook irritasie veroorsaak, veral wanneer dit nie die persoon se voorkeur luistergenot is nie. Té harde musiek, veral wanneer oorfone gebruik word, kan ook ’n gehoorprobleem veroorsaak.

Musiekterapie is egter nie net die luister van musiek nie, maar ook om ʼn instrument te bespeel, sang en selfs dans. Oor die algemeen hou die mens van ritme en daarom vorm musiek ʼn integrale deel van ons lewens. Dit is slegs een vorm van kreatiwiteit, maar wanneer dit effektief aangewend word, kan dit (emosionele) berge verskuif.

Al is musiek nie die kuur vir enige psigiese toestand nie, kan dit simptome van uiterste stres en pyn verlig en die pasiënt se gemoed verbeter. Musiekterapie bied die geleentheid om kreatief aan hul gevoelens uiting te gee en hul uitdagings te verwerk, veral wanneer die persoon sou leer om ’n musiekinstrument te bemeester. Dit leer jou nie net om kreatief te dink nie, maar is ’n nie-verbale uitlaatklep vir die emosionele probleme wat so baie sukkel om te verwoord.

https://www.psychologytoday.com/us/blog/natural-standard/201306/music-therapy-health-and-wellness

https://www.medicalnewstoday.com/articles/music-therapy#definition

 

Ano

 

Oktober 2023 – KORT projek

1.Kortste dag of langste nag?

(Woordtelling :  391)

Die kortste dag van die week moet sekerlik Saterdag wees, vir sommige dalk Sondag. Voor jy jou oë uitvee, is dit slaaptyd en die naweek is alweer verby! Dit is egter die kortste dag van die jaar wat ʼn veel groter invloed op ons lewens het.

Die kortste dag in die Noordelike halfrond is geen speletjie nie. Plekke soos die Noordpool, Swede en Noorweë ondervind ses maande sonskyn en ses maande van algehele donker, met geen daaglikse sonsopkoms of -ondergange gedurende daardie tyd nie.

Die sonstilstand is dus ʼn uiters belangrike gebeurtenis vir die mense van hierdie omgewing. In die eeue voor gedrukte kalenders ʼn alledaagse item in elke huishouding geword het, moes die mens op die tekens van die natuur staatmaak om te weet hoe lank die winter (of donkerte) nog sou duur. Die langste nag, of die dag met die minste ure van lig, het dus aangedui dat die seisoen draai en die somer stadig op pad is. Hierdeur kon hulle bepaal wanneer dit die beste tyd sou wees om te plant want hongersnood gedurende die wintermaande was ʼn skrikwekkende werklikheid. Diere is natuurlik gedurende die eerste deel van die winter geslag sodat dit nie nodig sou wees om hulle deur die lang winters te voer nie.

Hierdie langste nag/kortste dag wissel jaarliks, maar val in die Noordelike halfrond altyd op die 20ste, 21ste of 22ste Desember. Die natuur het sy eie ritme en dit is dan ook die dag waarop die hergeboorte van die son gevier word, of ʼn tydperk van nuwe begin – vir plante, diere, sowel as vir die mens. Selfs vandag nog is hierdie belangrike dag ʼn geleentheid en tradisie vir families om bymekaar te kom, te eet en fees te vier.

In die Suidelike halfrond is ons egter baie meer gelukkig met matige winters en baie sonlig, al is dit koud. Die korste dag van die jaar val gewoonlik op 20 of 21 Junie. Omdat ons nie te naby aan die Suidpool is nie, word ons genadiglik gespaar van ʼn ses-maande lange dag of nag. Wintergewasse soos wortels, beet, radyse, sekere soorte uie, appels, avokado’s, lemoene,  nartjies, papaja, pere en tamaties is volop, al is dit winter. Daar is dus nie die gevaar dat ons sommer van die honger sal sterf net omdat dit winter is of te donker is om landbou te beoefen nie.

 

Ano

 

November 2023 – OOP projek

1.Koop-koop se bek hang oop!
(Woordtelling : 675)

President Roosevelt het in 1939 aangekondig dat Thanksgiving op die vierde Donderdag in plaas van die laaste Donderdag van November gevier sal word. Dit is ʼn Amerikaanse- en Kanadese tradisie wat vir die meeste selfs meer beteken as Kersfees. Op hierdie dag kreun die tafels met gebakte kalkoen wat met uie en blokkies brood gestop word. Kapok aartappels, groenbone, soet patats, rooibosbessie (cranberry) sous laat die tafel kreun, terwyl pekaneut- of pampoenpastei met ʼn bietjie room as nagereg voorgesit word.
Die dag daarna was tradisioneel die begin van die feesseisoen. Baie besighede het van hierdie geleentheid gebruik gemaak om hul produkte teen spesiale pryse te verkoop. Dit is alom bekend dat Black Friday die besigste dag van aankope in Amerika is, indien nie ook regoor die res van die wêreld nie.
Black Friday het nie altyd verwys na die gek aankope die dag na Thanksgiving nie, maar daar is verskeie weergawes oor die ontstaan van hierdie dag.
Die eerste keer toe die term Black Friday gebruik was, het dit niks te doene gehad met aankope vir die feesseisoen nie, maar was ʼn verwysing na die ineenstorting van die goudmark op 24 September 1869. Twee roekelose aandeelmakelaars, Jay Gould en Jim Fisk, het saamgespan om soveel aandele as moontlik aan te koop in die hoop dat dit die goudprys sou opjaag. Op die laaste dag van September het hul onderduimse gekonkel aan die lig gekom en die aandelemark het getuimel. Almal – baronne tot boere – was oombliklik bankrot.
Die mees algemene storie is egter dat die besighede die hele jaar teen ʼn verlies sou werk, maar dan ʼn groot wins sou wys wanneer die kliënte op een enkele dag tonne geld sou spandeer. Dit is egter nie die werklike rede vir die naam van hierdie dag nie.
Onlangs het nog ʼn storie sy verskyning gemaak. Plantasie eienaars kon skynbaar gedurende die 1800’s op hierdie dag swart slawe teen ʼn afslagprys bekom. Daar is egter geen feite om dit te staaf nie.
Nog ʼn storie is dat die werkersklas die verskoning sou gebruik dat hulle siek voel na die groot ete van die vorige aand en indien hulle nie by die werk opdaag nie, dit ʼn vier-dag naweek sou beteken.
Die regte rede vir die benaming van hierdie dag is dat gedurende die 1950’s, die polisie van Philadelphia hierdie term gebruik het om die chaos wat die dag na Thanksgiving uitgebreek het, te beskryf. Hordes mense het na die stad gestroom om na die Big Army-Navy Football wedstryd te kyk. Dit was ʼn geleentheid wat slegs een maal per jaar op ʼn spesifieke Saterdag plaasgevind het. Die polisie kon nie hierdie toestroming van mense na die stad beheer nie en dit het gou omgeskakel in absolute chaos. Winkeldiewe het dan ook van die geleentheid gebruik gemaak om hulself mildelik te help.
In die jare daarna het handelaars vergeefs probeer om die negatiewe naam om te skakel na “Big Friday”. Dit was alleenlik gedurende die 1980’s wat handelaars daarin kon slaag om ’n positiewe gevoel aan hierdie negatiewe dag te koppel. Die publiek het uiteindelik die negatiewe verbintenis met die dag vergeet en sedertdien het dit in ’n vier-dag-aankoop-bonanza ontaard waarin besighede spesiale pryse op hul produkte aanbied.
Die analis, Marshal Cohen van die NPD Groep, het bevind dat aanlyn aankope sedert 2020 drasties gestyg het. Aanlynaankope is tans baie gewilder as om in ’n winkel saam met vele ander te stoei vir winskopies. Die Covid pandemie het natuurlik gehelp om hierdie proses te bespoedig en winskope isreeds vanaf Oktober aanlyn te vinde. Die voordeel is dat jy in die rustigheid van jou eie sitkamer na hartelus aankope kan doen, sonder om vir ure lank in ’n ry te staan. Om te voorkom dat die webwerwe van die besighede ineenstort, word hierdie spesiale aanbiedinge reeds dae, of selfs weke, voor die tyd bekend gemaak.
In 2022 was die aanlyn aankope in Amerika en Kanada vir Black Friday op ’n hoogtepunt van 9,12 biljoen dollar. Afhangende van die toestand van die ekonomie, word daar selfs groter winste vir 2023 verwag.

https://www.history.com/news/black-friday-thanksgiving-origins-history
https://en.wikipedia.org/wiki/Black_Friday_(shopping)

Ano

Desember 2023 – Veldslag projek

1.Die slag van Opatikloof

(Woordtelling : 310)

 

Na die Slag van Bloedrivier besoek ʼn kommando van 300 man Dingaanstat om die beeste wat op Bloukrans gesteel is, terug te kry. Die beeste word in die nabygeleë Opatikloof aangehou en die Boere slaan laer op by Entonjaneni-hoogte. Pretorius se hand is egter tydens die Bloedrivier veldslag gewond en hy gee die bevel oor aan Karel Landman.

Bongoza, ‘n Zoeloespioen wat saam met die Boere gewerk het, laat hom opsetlik deur die Zoeloes gevange neem sodat hy inligting oor die beeste kan insamel. Terug by die kommando, en terwyl hulle op pad is na Dingaanstad, verdwyn Bongoza egter halfpad in die kloof af. Die kommando hoor ʼn kreet “i zi pagati (hulle is binnekant!)” waarna die Zoeloes hulle van alle kante af bestorm. Die Zoeloes probeer om die kommando van die laer af te sny, Hans de Lange raak bewus van die gevaar en jaag terug om Landman te waarsku. In die poging om die hinderlaag te ontsnap, het hulle drie keer die Umfolozirivier oorgesteek en uiteindelik die Ulandivlakte bereik. ʼn 9-uur lange stryd tussen 300 Boere en nagenoeg 5,000 Zoeloes volg. Hulle het egter nie genoeg ammunisie nie, en tydens die skermutseling in die rivier sterf ses Voortrekkers, insluitend die Brit, Alexander Biggar, en 5 Zoeloes wat aan die kant van die Boere geveg het. Meer as ʼn duisend aanvallende Zoeloes sou op daardie geveg sneuwel.

Laat die aand kom die Voortrekkers in ʼn uitgeputte toestand in die laer aan. Dit was ʼn noue ontkoming en alhoewel die Slag van Opatikloof heeltemal oorskadu word deur die Slag van Bloedrivier, speel dit egter ʼn uiters betekenisvolle rol in ons geskiedenis.

Die Slag van Opatikloof was deel van die Groot Trek en het op 27 Desember 1838 plaasgevind, slegs 11 dae na die Slag van Bloedrivier. Indien die Zoeloes hier sou seëvier, sou die oorwinning by Bloedrivier tot niet wees.

 

https://af.wikipedia.org/wiki/Slag_van_die_Opatikloof

https://afrikanergeskiedenis.co.za/27-desember/

https://www.gelofteland.org/index.php/ons-volk/23-kultuurdagboek/2063-27-desember-1838-slag-by-opatekloof-en-umfolozi-vlakte

 

Ano

 

2.Die slag van Grahmstad

(Woordtelling : 590)

 

In 1812 stig Kolonel John Graham ʼn militêre pos wat vandag bekendstaan as Grahamstown. Teen 1818 het die grensboere weer groot verliese gely as gevolg van die Xhosas se onophoudelike veediefstal. Hierdie stam word gelei deur Makana wat as profeet deur sy mense vereer word. Hy sê dat die voorvadergeeste opdrag gegee het om die witman die see in te jaag.

Klaas Nuku, ʼn vertroueling van Makana en tolk tussen die Xhosas en die Engelse, verskaf valse inligting aan kolonel Wilshire. Onwetend word Wilshire in ʼn lokval gelei en stuur ʼn honderd soldate in die rigting stuur wat Nuka aanwys, natuurlik in die teenoorgestelde rigting as waaruit die aanval sou plaasvind. Dit was egter die Hottentot-kaptein, Boezac, wat die nuus van die aankomende Makana aan Kolonel Wilshire op 22 April 1819 bring. Dit was slegs ʼn bestiering dat Boezac en sy buffeljagters juis op daardie oggend in Grahamstad aangekom het en kon dus help om die aanval af te weer.

Daar was geen sprake van ʼn gelyke kragmeting tussen die tienduisend bloeddorstige Xhosa krygsmanne, en die drie-honderd-en-vyftig blanke manskappe nie. Veer pluime op hul koppe, en arms en bene versier met ossterte, het hulle hul assegaaie laat ratel en op hul skildvelle geslaan. Sonder ophou het hulle geskree om die “vyand” te intimideer. Haastig het Kolonel Wilshire begin om sy manskappe gereed gemaak vir die geveg. Die enigste twee kanonne wat deur die garnisoen agtergelaat is, word teen ʼn heuweltjie opgestel.

Makana se groot aanvalsmag verdeel na links en regs om die verdedigingslinie te omsingel, en ʼn mag van vierduisend verdeel om die hoofkwartier en ander forte aan te val. Die aanvalsterrein was verseker gunstig vir die Xhosas omdat die spruit tussen twee heuwels deurvloei. Dit is ook hier waar die forte en ʼn paar huise geleë is.

Nie lank na die geveg begin het nie, raak die sestig manne wat die Kasterne verdedig, se kruit op. Daar is geen teken dat die Xhosas se aanval afneem nie en hul lot is beklink.

Elizaheth Salt, wat later as die Heldin van Grahamstad bekend sou staan, tel ten spyte van groot protes van die soldate, ʼn vaatjie kruit op haar skouers. Sonder die beskutting van die gewere stap sy doodluiters ʼn myl tussen die Xhosa krygsmanne deur op pad na die Kaserne. Die Xhosas is te verstom om te reageer en weet nie wat sy wil doen of waarheen sy op pad is nie. Maar dit is ʼn vrou en hulle wil haar nie sommer net koelbloedig doodmaak nie.

Danksy Elizaheth se dapper optrede word die Oostelike Kaserne gered en die Slag van Grahamstad word gewen. Om en by tweeduisend Xhosas word hier gedood terwyl slegs drie blanke soldate omgekom het. Daar word vertel dat die gewondes bondels gras in die koeëlwonde gedruk het om die bloeding te keer. Hulle het ook in die water geskuil en baie is dan ook sommer daar in die water dood. Die spruit se water was rooi van die bloed.

Indien hierdie aanval in die nag sou plaasvind, sou niemand Grahamstad van totale uitwissing kon red nie. Makana was so seker van hul oorwinning dat daar reeds derduisende vrouens en kinders in die heuwels met matjies, potte en ander kookgereedskap gewag het om Grahamstad in besit te neem. Die Xhosas was egter ontmoedig deur die weerstand waarmee hulle te doen gekry het. Hulle was ook ontmoedig omdat die voorvadergeeste nie uit hul grafte opgestaan het om te kom help nie. Die geveg wat om twee uur begin het, was ʼn skrale drie ure later verby.

 

https://journals.co.za/doi/pdf/10.10520/AJA0018229X_1348

https://www.gelofteland.org/index.php/ons-geskiedenis/92-heldedade-in-ons-geskiedenis/1335-die-heldin-van-grahamstad

 

Ano

 

Januarie 2024 – OOP Projek

1.Waar pas skooldrag by die 21ste eeu in?

Woordtelling 1054

 

ʼn Skooluniform is ʼn eenvormige stel klere wat deur ʼn bepaalde groep skoolgaande leerlinge gedra word en verskeie lande van regoor die wêreld maak hiervan gebruik. Dit word gewoonlik gebruik om die eenvormige beeld van ʼn bepaalde skool uit te dra.

Die dilemma rakende skooluniforms is egter reeds verskeie dekades oud. Van die vroegste opgetekende klagtes in verband met die kostes van skooldrag, dateer uit die jare 1950’s. Ons staan nou in die jaar 2024, so waarom is dit nog steeds ʼn onderwerp wat jaar na jaar opduik, en waarom is daar nog steeds nie ʼn goeie, werkbare oplossing nie? Die maak en verkoop van skooluniforms is egter ʼn winsgewende besigheid en die verskaffers is nie te gretig om van hul beheer en inkomste afstand te doen nie.

Spesifiek in Suid-Afrika is dit nie soseer die vraag of kinders skoolklere moet dra of nie, maar dit koste daaraan verbonde. ʼn Kind het selde slegs een stel skoolklere, so dit is iets wat baie vinnig ʼn groot las op die ouer se beursie kan plaas. Sonder die insette van die ouers sluit die skool dikwels ʼn kontrak met ʼn spesifieke vervaardigers en die ouers moet teen wil en dank daarvoor opdok, of hulle dit kan bekostig of nie. Dikwels is dit die meer gegoede ouers wat op die skoolraad dien en die septer stilletjies in die agtergrond swaai.

Reeds in 2006 word die Nasionale Riglyne vir Skooluniforms vir die eerste keer in die Staatskoerant gepubliseer. Omdat die aankope van skoolklere bydra tot die ouers se finansiële las, het die Departement van Onderwys dan ook in 2015 die Nasionale Riglyne vir Skooluniforms uitgevaardig om die gebruik van ʼn enkele verskaffer te ontmoedig. Hierdie teen-mededingende riglyne is in plek gestel sodat ouers kan kies waar hulle hul kinders se skoolklere wil koop en om kostes te bespaar. Ongelukkig is dit dan ook só dat baie skole nog steeds eksklusiewe kontrakte met slegs een of twee verskaffers aangaan, ongeag die nasionale riglyke en pleidooie wat oor dekades strek. ʼn Enkele, en eenvoudige wit skoolhemp met die skool se wapen op die sak, kan ‘n paar honderd rand beloop. Generiese skoolklere – grys broek en wit hemp – is aansienlik goedkoper en kan by enige kettingwinkel aangekoop word. Die probleem is egter dat die meer gegoede skole meer eksklusiewe klere wil hê, en terselfdertyd is die kwaliteit ook beter. Maar wat help hierdie eksklusiwiteit wanneer die ouer dit nie kan bekostig nie?

Is dit vandag nog steeds nodig om voor te skryf wat ander moet aantrek? Watter skooltas gebruik mag word en selfs watter onderklere die dogters mag dra? Reëls vir eenvormigheid mag nodig wees, maar nie tot ʼn mate waarin dit onredelik en onbuigsaam word nie.

Die voordele van uniforms:

  • Dit lyk netjies.
  • ʼn Pligsgetroue leerling behoort nie deur sy klere beïnvloed te word nie.
  • Jou skooldrag identifiseer tot watter skool jy behoort. Slegte gedrag plaas onmiddellik aandag op daardie skool.
  • Of eenvormig te lyk skep nie net ʼn samehorige gevoel van trots nie, maar daar word ook groter dissipline onder die leerlinge ervaar.
  • Dit is maklik om iemand te identifiseer wat nie op die skoolterrein hoort nie.
  • Skoolklere word gesien as ʼn positiewe manier om skoolkinders te identifiseer en help om dissipline en veiligheid in skole te bevorder. Dit verminder groepsdruk en keer diefstal van duur klere.
  • Groepsdruk verminder en klasseverskille is minder sigbaar. Omdat almal dieselfde lyk sal ʼn kind wat uit ʼn minder gegoede huis kom, minder druk ervaar om dieselfde as haar vriendin te lyk wat ontwerpersklere kan bekostig. Kinders se selfbeeld is nog baie broos en kan maklik die teiken word van boelie gedrag indien hy of sy “anders” lyk.
  • ʼn Uniform stel almal gelyk.
  • Niemand hoef ure lank te wonder wat sy vandag sal aantrek nie.
  • Kinders gee meer aandag aan hul skoolwerk as om hul oor die nuutste modes te bekommer.
  • Kinders kan in slordige of selfs geskeurde klere by die skool opdaag.
  • “Gewone” klere is nie noodwendig meer bekostigbaar as skooldrag nie, al kan dit vir meer geleenthede gedra word.
  • Daar is niks wat jou so vinnig laat uitstaan as swak kwaliteit klere of slegs ‘n paar geskikte uitrustings nie. Die eenvormigheid van ʼn uniform is dus ʼn seën omdat almal elke dag dieselfde lyk.

Die nadele van uniforms:

  • Kinders kla maklik dat skooluniforms hul individualiteit vernietig, tog is daar meer as genoeg tyd na skool om jou uniekheid deur jou kleredrag uit te leef.
  • Sommige leerlinge voel ongemaklik in die dra van eenvormige klere en en sal meer gemaklik wees in klere van hul keuse.
  • Skooluniforms beperk ʼn kind se vryheid van keuse.
  • Kinders wat skoolklere dra het nie noodwendig beter maniere nie. Dit help hulle ook nie noodwendig om hulself beter in die klas te gedra of beter te konsentreer nie.
  • Die bekostigbaarheid van uniforms is dekades reeds ʼn onderwerp van bespreking. Tesame met die skoolfonds kan die aankoop van ʼn skooluniform ʼn aansienlike duik in die ouer se beursie maak en vir sommige raak dit al hoe meer onbekostigbaar.
  • Daar is baie min tot geen mededinging tussen verskaffers om hul produk teen die beste prys te verkoop nie. Wanneer ʼn verskaffer die alleenreg het op ʼn spesifieke skool se skooldrag, kan hy amper enige prys vra.

Idees om uniforms meer gemaklik en bekostigbaar te maak:

  • ʼn Grys of khaki-kleurige broek wat beide seuns en meisies kan dra en ʼn gebreide hemp. ʼn Grys of khaki-kleurige romp of jurk vir die dogters, indien hulle ʼn rok sou verkies.
  • ʼn Das waarop die skoolwapen gedruk is, of in die skool se kleure om onderskeid te tref tussen verskillende skole.
  • ʼn Effekleurige trui en windbreker baadjie vir die winter en sportbaadjie slegs as ʼn opsionele item vir hoërskool leerders.
  • Effekleurige grys skoolkouse.
  • Finansiële hulp aan ouers wat nie skooldrag kan bekostig nie.
  • Buitensporige pryse en die beperking om skooldrag slegs by enkele, uitgesoekte winkels aan te koop, moet by die Raad van Mededinging aangemeld word.
  • Studente wat spesifieke kledingstukke dra a.g.v. hul godsdienstige oortuiging, moet toegelaat word om dit te doen.

Dit is nou tyd om vir eens en vir altyd hierdie kwessie uit te stryk en ʼn goeie oplossing te vind. Mag hierdie dekade die een wees waarop ons eendag sal kan terugkyk en dankie kan sê dat die ouers nie opgegee het om vir meer mededingende pryse te baklei nie.

https://maroelamedia.co.za/leefstyl/ouerskap/verbruikersake-ouers-moet-self-besluit-oor-skoolklere/

https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/prys-van-skoolklere-gee-ouers-steeds-grys-hare/

Ano

 

Februarie 2024 – Dolos projek

1.Dolosse, trots Suid-Afrikaans
(Woordtelling : 522)

Dolosse is toe nie net kinderspeelgoed nie of kneukelbene van skape of bokke nie. Dit was egter die beginpunt van ʼn groot en belangrike uitvindsel wat vandag dwarsoor die wêreld gebruik word.
Na ʼn groot storm in 1963 meer as 60% van Oos-Londen se hawe uitmekaar geruk het, het ʼn ingenieur, Eric Merrifield, betonblokke ontwerp wat die vorm van skaap- of bok kneukels naboots, of selfs eerder die nederige dubbeltjie. Die blokke wat enigiets tussen 20 en 30 ton kan weeg, word langs- of bo-oor mekaar gelê, in ‘n netjiese ry of deurmekaar. Wanneer dit so heen en weer geplaas word, breek dit letterlik die muur van water voordat dit die aarde tref. Omdat die dolosse nie so solied soos ʼn muur is nie, breek die branders en verdwyn die water moeiteloos tussen die vele openinge. Dit is nie net effektief om die krag van water te breek nie, maar voorkom ook gronderosie langs die kus.
Voordat die dolosse ontwerp was, was groot rotse en blokke beton gebruik, maar selfs hierdie massiewe blokke is deur die water meegesleur en op ander plekke uitgespoel.
Enige plek waar land en water bymekaar kom en wat gereeld deur swaar storms getref word, kan dolosse gebruik word. Volgens die Amerikaanse Kus-navorsingsentrum, is dit selfs meer doeltreffend en koste effektief, as die steengroef wat vroeër algemeen gebruik was. Dit word in plekke soos California, New Jersey en die Oswego hawe in New York gebruik, sowel as in Indië en regoor Hawaii.
Die dolosse word in Yzerfontein, Kaapstad vervaardig waar beton met klein staal vesels gemeng word om dit te versterk. Die grootste dolosse word egter in die hawe van Ngqura (Coega hawe) in Port Elizabeth gebruik omdat die streek dikwels deur geweldadige storms geteister word. Daar is nagenoeg 30,000 dolosse langs ʼn kusstrook van 2,5km in Port Elizabeth geplaas.
Aanvanklik was die uitvindsel se naam, “die Merrifield-block”, maar is later met Dolos vervang. Daar is geen patentregte op hierdie uitvindsel nie, en as ʼn Kus-ingenieur, het Merrifield ook geen geldelike vergoeding ontvang nie.
Daar is egter gerugte dat Merrifield nie werklik die dolosse ontwerp het nie, maar ʼn 28-jarige tekenaar genaamd Aubrey Kruger. Na ʼn gesprek met Merrifield het Kruger die middag huis toe gegaan en drie stukkies hout van sy vrou, Daphne, se besem afgesny. Hierdie stukkies hout het hy in die vorm van ʼn “H” gesny en dit met spykertjies aanmekaar geslaan. Een van hierdie bene het skuins uitgestaan sodat dit soos ʼn dubbeltjie sou lyk. Hierdie vormpie het hy op Merrifield se lessenaar neergesit, sonder om te weet waarvoor dit gebruik sou word. Die eerste prototipe is daarna gebou en in 1964 is die eerste dolosse langs die hawe geplaas.
Kruger het egter nooit formeel erkenning ontvang nie, terwyl Merrifield die Shell Toekenning vir Ontwerp, tesame met die Wetenskap- en Tegnologievereniging van Suid-Afrika se goue medalje, gekry het.
Kort voor Kruger se dood in 2016 is sy aandeel in die ontwerp van hierdie belangrike uitvindsel uiteindelik erken. Twee munte, ʼn R2 muntstuk en ʼn tiekie is deur die Suid-Afrikaanse Munt gedruk. Hierop wat die dolosse uitgebeeld, sowel as die gesigte van Merrifield en Kruger.

SA’s wave-breaking dolosse

Proudly South African: The origin of the dolos

Ano

 

MAART 2024 – OOP PROJEK

1.Mensehandel, ’n moderne vorm van slawehandel

(Woordtelling : 901)

 

Die onlangse verdwyning van die sesjarige Joshlin Smith het opnuut die lig op kinderontvoering en mensehandel geplaas. Daar het reeds ‘n maand verloop sedert haar verdwyning en oënskynlik kon geen spoor nog van haar gevind word nie. Drie mense, onder andere Joshlin se ma en dié se kêrel is in aanhouding na die kêrel gesê het dat hy haar vir R20 000 aan ‘n vrou verkoop het.

Die definisie van mensehandel : Die koop, vervoer en verkoop van mense teen hul wil vir uitbuiting of kommersiële gewin. Mensehandel is ‘n moderne vorm van slawerny, ‘n skending van menseregte en ‘n ernstige misdaad. Die uitsluitlike doel van mensehandel is altyd uitbuiting. Slawerny, prostitusie / kinderprostitusie, pornografie / kinderpornografie, dwangarbeid / kinderarbeid, verwydering van ledemate en organe, bevrugting van ‘n vrou met die doel om die baba te verkoop (babyfarms), kinderhuwelike, onwettige (en soms wettige aannemings), sowel as ukuthwala (die ontvoering van ‘n jong kind as toekomstige bruid om sodoende die familie te dwing om vinniger toestemming tot ‘n huwelik te gee. Ongeveer 10 000 meisies is jaarliks slagoffers van kinderhuwelike in Suid-Afrika.).

Suid-Afrika staan bekend as ‘n bron-, transito- én eindbestemmingsland. Suid-Afrikaanse slagoffers is onder andere in Malawi, Venezuela en Brasilië gevind en word dikwels na Europa en die Midde-Ooste gesmokkel vir dwangarbeid en prostitusie. OR Tambo Internasionale Lughawe en grensposte na ons buurlande is ‘n bron van groot bekommernis omdat mense hier onwettig in- en uitgesmokkel word. Die grootste aantal slagoffers in Suid-Afrika is Suid-Afrikaners, en die tweede grootste groep is Taiwannese vroue. Soveel as 80% word vir prostitusie gebruik.

Ontvoering vind plaas wanneer ‘n persoon teen sy wil geneem word en vir ‘n losprys vrygelaat word. Mensehandel gebeur wanneer ‘n persoon deur misleiding weggelok word van hul tuiste en gekeer word om terug te gaan. In die meeste gevalle gaan hulle heel onskuldig en vrywillig saam met die oortreder omdat daar beloftes gemaak word van werk, vergoeding, en rykdom. Die slagoffer is dikwels baie naïef en magteloos, wat tot gevolg het dat hulle nie sommer ‘n plan van ontsnapping kan uitwerk en deurvoer nie. Sodoende word hulle dan vasgevang in ‘n netwerk waaruit hulle nie kan ontsnap nie. Hul basiese menswaardigheid en vryheid word gestroop en is weens hul omstandighede ernstig getraumatiseer. Dit lei dan daartoe dat hul vertroue in die mensdom verloor, wat dit weer op sy beurt moeilik maak om uit hul omstandighede te ontsnap. Sommige is gelukkig, maar die meeste mense verdwyn sonder dat daar ooit weer van hul gehoor word.

In Elanie Kruger se boek, Van Skoolbank tot Bordeelbed, vertel sy hoe sy as ‘n jong tienerdogter heel onskuldig in so ‘n web vasgevang was. Elanie, ‘n 16-jarige skooldogter wat in armoede deur twee alkoholistiese ouers grootgemaak was, se ma sterf weens selfdood en sy moes dringend werk soek om te help om aan die gesin se behoeftes te voorsien. Met ‘n CV van een bladsy kon die tiener nêrens geholpe raak nie. ‘n Vriend van haar broer het gesê hy kan haar help met werk in Bloemfontein, sy moes net ‘n sak klere bring en saam met hom ry. Hierdie man het haar egter aan iemand anders verruil om sy skuld te delg en sy is vir agt maande as seksslaaf in Bloemfontein aangehou. Sy was verhonger en eers van dwelms afhanklik gemaak, en het alkohol gebruik om haar omstandighede draagliker te maak. Om haar “eienaar” van ‘n inkomste te voorsien, is sy gedwing om met 15 – 20 mans per dag seks hê. Wanneer sy nie daarmee besig was nie, was aan ‘n bed vasgeboei en oor naweke in haar kamertjie toegesluit. Onder geen omstandighede was sy ooit toegelaat om buite haar “sel” te beweeg nie. Genadiglik kon sy met hulp van ‘n samaritaan daarin slaag om te ontsnap.

Die donker onderwêreld van mensehandel en seksslawerny is besig om skokkende afmetings in Suid-Afrika aan te neem. Die rede waarom prostitusie so toeneem is omdat dit ‘n lae risiko inhou en hoë opbrengste verseker. Tussen 2002 en 2020 is daar 16 000 kinders in Suid-Afrika as vermis aangemeld en ‘n kwart van hulle is nooit opgespoor nie.

Dit het al gebeur dat ouers hul kinders op Gumtree adverteer, vir so min as R5 000, of voorvalle waar kinders aan aanneemouers verkoop word omdat die ouers nie self kinders kan kry nie. Waar pas Joshlin Smith in hierdie prentjie in? Is sy verkoop aan ‘n persoon wat graag ‘n dogtertjie wou hê, as seksslaaf of dalk vir mutie?

Uit 193 lande waar mensehandel voorkom, was ons in 2016 27e op die ranglys. Volgens die statistieke van 2023 is ons nou nommer 7! Tussen Desember 2007 en Januarie 2022 is 11 077 gevalle gerapporteer waar mensehandel vermoed word. September 2021 het die Minister van Polisie, Bheki Cele, aan die parlement gerapporteer dat tussen 2018 en 2021, 781 Suid-Afrikaanse kinders die slagoffers van kinderhandel was.

Ouers moet ten alle tye weet waar hul kinders is. Jy het die reg om jou kinders se selfone na te gaan om te sien met wie hulle kontak het, waar hul afsprake gaan wees en met wie hulle gesels. Wees openlik met jou kinders en verduidelik dat dit vir hul eie veiligheid is. Een uit elke vyf slagoffers is seuns.  Mensehandel neem nie ouderdom, geslag, geloof of ras in berekening nie. Niemand kies om ‘n slagoffer van mensehandel te word nie. Met ander woorde, enigeen loop ‘n risiko om ‘n slaaf te word.

 

https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/kinderontvoering-en-mensehandel-hoe-groot-is-die-probleem-werklik/

https://www.news24.com/news24/southafrica/news/human-trafficking-arms-trade-and-drugs-why-south-africa-ranks-7th-on-global-crime-index-20230927

https://www.iol.co.za/the-star/news/south-africans-warned-to-be-vigilant-as-human-trafficking-is-increasing-b5109748-ade4-448a-b855-2684d102ecb3

 

Ano

 

APRIL 2024 – UIT DIE OOG VAN ‘N KIND PROJEK

1.Kinders van tegnologie

(Woordtelling : 1379)

 

Generasie Alpha. Die geslag gebore tussen 2010 en 2024, kinders van die tegnologiese eeu. Die benaming is die voorstelling van ʼn nuwe begin en om nie terug te keer na die ou gebruike of lewenswyses nie. Hierdie is die eerste generasie waarvan almal in die 21e eeu gebore is, met geen vrees om die nuutste iPad of selfoon te gebruik. Sukkel ouma met haar selfoon of rekenaar? Wink net die naaste vyf-jarige nader en hy sal dit gou-gou uitsorteer!

Hierdie generasie is ook die eerstes wat reeds van die oomblik van geboorte met tegnologie kennis sou maak. In plaas van ʼn fopspeen of die veiligheid van moederlike arms, is die televisie en selfone die moderne babawagter. Kleintjie is lastig want mamma moet aandag aan haar werk gee, so wat is nou makliker as om Wheels on a Bus, of Baby Shark nader te trek en baba vir die volgende uur of twee gelukkig te hou?

Generasie Alpha kan reeds ʼn selfoon gebruik nog voordat hulle in sinne kan praat en is loshande die mees tegnologies-vaardige geslag wat nog ooit gebore is. Voorskoolse kinders is dikwels beter om hul gunsteling speletjies en stories op die internet te vind as wat hulle weet hoe om die swaai met die heen-en-weer beweging van hul bene te laat swaai. Hulle kan ʼn foon “blaai”, maar weet nie hoe om die blaaie van ʼn tydskrif te laat verander nie.

Soos met enige ander ding in die lewe kan tegnologie ‘n euwel of ‘n aanwins wees. Wat gebeur met ‘n kind wat gedurende daardie belangrike vormingsjare moet leer hoe om op een been te staan en boom te klim en eerder sy oë vasgenael op ‘n skerm wil hou? Soms daag die kind by die skool op en het geen idee hoe om ʼn pen vas te hou nie, maar kan sonder ʼn probleem boodskap aan sy ma stuur. Tyd sal wel leer of hierdie geslag groot hoogtes gaan bereik, of dalk nie. Soms voel dit asof ons masjiene toelaat om vir ons te dink en daarom is ons breinkrag ongemaklik besig om te krimp!

Dit is dus ook nie ʼn verrassing dat kinders nie meer dieselfde aandagspan het as vorige geslagte nie. Hul gedagtes spring vinniger van die een projek of speletjie na die volgende een en dit is uitputtend om by hul vinnig-wisselende gedagtes by te hou. Hul woordeskat is beperk, kommunikasievaardighede is onder verdenking en dit lyk asof hul kreatiwiteit ook daaronder lei.

Al gebruik byna almal van ons tegnologie op een of ander manier, is dit maar ʼn klein persentasie wat die voor- en nadele van die digitale eeu van dag een af ervaar. Hulle is ʼn generasie wat die hele tyd gestimuleer wil word deur ʼn skerm in plaas van interaksie met ander lewende wesens. Hulle is tegnologies meer verbind met ander, maar het swakker verhoudings en is dikwels sosiaal wanaangepas.

Die Alpha generasie is ook die jongste generasie wat ʼn wêreldwye stilstand tydens die Covid-19 pandemie beleef het. In hul vormingsjare het hulle kennis gemaak met ʼn wêreld wat heeltemal tot stilstand gekom het en waar elke persoon op sy eie eilandjie moes woon. Skole was gesluit en hulle moes aanpas by ʼn lewe van afsondering en gepaardgaande Zoom klaskamers. Geen verjaardagpartytjies of sommer net ʼn lekker namiddag kuier by ʼn maat nie.

Hulle sal nooit ʼn wêreld ken waar jy in jou kar moet klim om ʼn video (wat is dit??) by ʼn video winkel te leen nie. Hoeveel van hierdie geslag het al in ‘n stampvol rolprentteater gesit? Dit is nou heelwat makliker om sommer ʼn rolprent met die druk van ʼn knoppie op jou selfoon af te laai. Jy hoef nie eens jou hare te kam en kontant saam te piekel  nie. Jy hoef nie meer ordentlik aangetrek te wees wanneer jy Checkers toe moet gaan nie want jy bestel sommer jou inkopies deur ‘n toepassing op jou foon en dit word hopelik binne ‘n uur by die voordeur afgelewer. Gʼn lang rye om te wag vir ʼn beskikbare kassier nie.

In plaas van “teenagers” het ons nou “screenagers” en alles wat daarmee gepaardgaan. Generasie Alpha is gebore in dieselfde jaar toe die eerste iPad bekend gestel was, Instagram geskep was, en App die woord van die jaar was. Hulle het geen idee hoe om ʼn woord in die woordeboek na te slaan nie, of om hul straatadres op ʼn eenvoudige padkaart te vind nie. Die moderne huise is kleiner met minder pakplek, dus is boeke wat op ʼn iPad afgelaai word die natuurlike antwoord. CD’s is skielik nie meer beskikbaar nie? Geen probleem, ons laai musiek sommer van die internet af.

Dit is ook die eerste geslag wat glad nie weet hoe om kontant te gebruik nie. Hulle sukkel om hul sakgeld-begroting te laat klop want dit is baie makliker om direk uit jou bankrekening te spandeer as wat dit is om te sien hoe kontant minder word. Dit is ook die eerste geslag wat in ʼn era van Crypto geld gebore word.

Elke generasie is anders as enige ander wat voor hulle gebore is. Elke generasie wil dinge ook anders doen. Beter en makliker. Hierdie kinders se lewens is dus in ʼn groot mate baie makliker as enige vorige generasie s’n. As verbruiker is jou inkopies nie beperk tot wat die dorp se winkels aanbied nie, want hulle kan enige denkbare artikel van enige plek in die wêreld bestel. Jy het net ‘n bankkaart en ‘n paar werkende knoppies op jou selfoon nodig.

Die meeste van hulle sal nooit nodig hê om in ʼn gebou bymekaar te kom om antwoorde op ʼn eksamenvraestel met ʼn swart pen in te vul nie. Die manier waarop ons stem sal heel waarskynlik ook binnekort verander en sal dit eendag nie meer nodig wees om ure lank in ʼn lang ry te staan voor jy met die beskerming van ʼn lendelam kartondoos, jou kruisie op ʼn stuk papier te trek nie.

Tog is ons Alpha generasie nuuskierig, leergierig en hoogs intelligent. Dit is asof hulle alreeds van geboorte oor ingebore inligting beskik wat ouer generasies eers later in hul lewe met groot moeite moes aanleer. Hulle is verseker baie meer tegnologies gevorderd as enige ander generasie en het geen probleem om inligting binne sekondes te bekom nie. Sal so ʼn kind ooit die frustrasie en wonders leer ken van biblioteke en om inligting na te slaan vir ʼn skooltaak? Sal hulle ooit prentjies uit tydskrifte soek en knip om daardie skooltaak te versier?

Omdat hierdie kinders in ʼn splinternuwe omgewing gebore word, moet ouerleiding en die skool se leerplanne ook daarby aanpas. Ons kan bloot nie ons kinders opvoed soos wat ons dertig of vyftig jaar gelede grootgemaak was nie. Ons lewe in ʼn ander tyd, ʼn heeltemal ander wêreld as waaraan ons nog ooit blootgestel was. Die “vreemde oom” is ook nie meer daar buite op die straathoek nie, maar in jou kind se hand, en op die lessenaar waar hy sy huiswerk doen. As ons nie aanpas by ʼn ewig-veranderende wêreld nie, sal ons ook nooit ons kinders op ʼn sinvolle manier kan lei en opvoed nie. Ons sal bloot geen begrip vir hul uitdagings hê nie.

Maar tog ken hierdie kinders niks anders nie en dit kan ʼn wonderlike geleentheid wees, of dalk een waarin vetsug, angstigheid en depressie hoogty vier. Die mens se brein ontwikkel bloot net nie so vinnig soos die tegnologie nie. Maar maak nie ʼn fout nie, tegnologie is uiters verslawend en daarom is balans baie belangrik. Die kind moet aangemoedig word om buite te speel of aan ander aktiwiteite deel te neem soos om te verf of skaak te speel.

Die goue reël is dat ʼn kind slegs een uur per week voor ʼn skerm mag deurbring, vermenigvuldig met die hoeveelheid jare van die kind. ʼn Eenjarige baba sal dus nie meer as een uur skermtyd per week mag geniet nie, en ʼn vyfjarige vyf ure per week. En terwyl ek dit tik weet ek dat byna niemand dit só toepas nie want ons kleintjies kry byna oombliklik onttrekkingsimptome wanneer die skerm afgeskakel word.

Ja, ons uitdagings is groot en of die liewe Alpha’s se lewens makliker of moeiliker as gevolg daarvan sal wees, sal net die toekoms ons leer.

 

https://mccrindle.com.au/article/topic/generation-alpha/generation-alpha-defined/#:~:text=That%20is%20why%20the%20generations,born%20from%202025%20to%202039.

https://mccrindle.com.au/article/topic/generation-alpha/four-distinctives-of-generation-alpha/

https://mccrindle.com.au/article/topic/generation-alpha/generation-alphas-future-is-bright/

 

Ano

 

JUNIE 2024 – ONBEKENDE PROJEK

3.Uiteindelik! Die geheim van ’n lang en gesonde lewe

(Woordtelling : 658)

 

Morrie Markoff, was gebore op 11 Januarie 1914 en sterf aan ʼn beroerte op 3 Junie 2024. Sy naam mag dalk nie ‘n huishoudelike naam vir die Suid-Afrikaners wees nie, maar dit maak nie eintlik saak nie. Op 110-jaar was hy ten tye van sy afsterwe die oudste man in Amerika.

Dit is egter nie sy uitsonderlike hoë ouderdom wat hom so merkwaardig maak nie, maar eerder die feit dat hy geen neurologiese afwykings soos demensie of Alzheimer’s gehad het nie – siektes wat ons dikwels met hoë ouderdom assosieer. Voor sy dood het hy gevra dat sy brein vir navorsing aan die Brain Donor Projek geskenk word. Dit word erken as die oudste kognitief-gesonde brein wat nog ooit geskenk is. (https://braindonorproject.org/who-we-are/)

Om op ʼn hoë ouderdom nog so helder van verstand te wees, is iets wat baie min mense beskore is. Morrie en Bettie was 81 jaar getroud toe sy op 103-jarige ouderdom oorlede is. Hulle het grootliks ʼn vegetariese dieet gevolg, kitskos en gaskoeldrank vermy en selde alkohol gebruik. Selfs gekoopte koekies was ʼn rariteit in hul huis. Hulle het nooit gebottelde water gebruik nie en het kraanwater gedrink. Die gebruik van plastiek is in elk geval oor die algemeen vermy, juis weens die gesondheidsgevare daaraan verbonde. Morrie was ʼn roker wat na dertig jaar opgehou het nadat hy keelkanker gekry het.

Ten tye van sy dood was Morrie nog ʼn aktiewe blogger, die oudste ter wêreld. Hulle was reeds diep in hul 90’s toe hulle steeds naastenby 5 km (3 myl) per dag gestap het. Beide Morrie en Bettie het ʼn houding van leergierigheid gehad en het in ʼn verskeidenheid onderwerpe belanggestel, veral in die wetenskap.

Morrie het na Graad 8 skool verlaat en in Kalifornië as masjinis en verkoopsman gewerk. Hy het in politiek belanggestel en graag ander lande besoek. Nie alleen was hy ernstig oor sy eetgewoontes en gesondheid nie, maar hy was ook ʼn baie kreatiewe persoon. So het hy op ʼn dag ʼn toilet reggemaak en uit die afval metaal ʼn beeld van ʼn ballerina geskep. Tesame met sy skryfwerk het hy ook foto’s van hierdie metaal kunswerke op sy blog geplaas. Op die ouderdom van 103 publiseer hy ʼn memoir, “Keep Breathing: Recollections from a 103-year-old”, en was ten tye van sy afsterwe besig om aan sy volgende boek te werk.

Ter viering van sy 100e verjaardag het die Red Pipe Gallery in Chinatown in 2014 sy kunswerke en foto’s van sy reise uitgestal. Morrie word oorleef deur sy vyf kleinkinders, twee agterkleinkinders, en sy 83-jarige dogter.

When you reach the age of 100, suddenly, even if you did nothing notable, you are a celebrity. Friends, even longtime ones, neighbours and strangers look at you differently. You see and feel it. When perfect strangers find out, they shake your hand, as if, by osmosis, you can transfer the secrets of long life to them.” “Keep Breathing: Recollections from a 103-year-old,” by Morrie Markoff https://morriemarkoff.wordpress.com/

Niemand weet wat vir hom voorlê nie. Niemand weet hoe lank hy gaan leef en hoe gesond hy ten tye van sy afsterwe sal wees nie. Tog het ons wel ʼn mate het ons beheer daaroor, want ons elkeen kies hoe ons leef en watter gewoontes ons in stand hou. Alhoewel daar gesê word dat die wetenskaplikes nie werklik weet wat demensie en Alzheimer’s veroorsaak nie, speel dieet ʼn groot rol in die gesondheid van jou brein. ʼn Dieet met ʼn hoë vetinhoud versmoor letterlik jou breinselle. ʼn Lewensstyl met min fisieke- en verstandelike oefening is net so sleg vir jou algehele gesondheid. Dit is nie net wat jy by jou mond insteek nie, maar ook jou gedagtes en gewoontes wat jy in stand hou.

Wees bewus van jou eetgewoontes, hoe jy jou ure verwyl en selfs watter oortuigings jy onbewustelik in stand hou. Goeie gesondheid hang nie net af van dit wat jy by jou mond insteek nie, maar ook jou gedagtes en (onverwerkte) emosionele toestand.

 

https://people.com/oldest-man-dies-110-donates-brain-to-science-morrie-markoff-exclusive-8666288

Ano

 

AUGUSTUS 2024 – SKULDLAS PROJEK

2.In ons slimmigheid het ons eintlik dom geword

(Woordtelling : 1175)

 

Voor wie se deur lê ons die skuld vir die samelewing se agteruitgang van ons fisiese- en geestestoestand? Is dit die dokters of psigiaters se skuld? Die kerk dalk? Wat van die skool? Dit is gewoonlik die instansies wat ons glo meer kennis het, maar is dit rêrig die waarheid? Dra hulle werklik die welstand van die mensdom op die hart, of is daar dalk iets groter aan die gang?

Die diagnose van ernstige en lewensgevaarlike siektes neem in die laaste paar dekades met rasse skrede toe. Kanker, veelvoudige sklerose, outoïmuun siektes, diabetes, depressie, Alzheimer’s… Selfdoodsyfers is die hoogste van alle tye en dit lyk nie asof daar ʼn oplossing is nie.

Maar wanneer begin jy voor jou eie deur te vee en verantwoordelikheid neem vir jou eie geestelike-, emosionele en fisiese welstand? Hopeloos te veel mense slurp elke woord en gedagte op asof hul lewe daarvan afhang, maak nie saak hoe onlogies dit is nie. Dan aan die ander kant, is daar diegene wat absoluut alles bevraagteken en selfs broodnodige behandeling saam met die baba en badwater by die deur uitgooi.

Ons leef werklik in vreemde tye.

Dit is heel waarskynlik nie so eenvoudig as om die skuld op een enkele persoon of instansie te plaas nie. Iewers in die laaste eeu of twee, en ten spyte van wonderlike vooruitgang op mediese gebied, het ons skielik begin glo dat pille die antwoord vir elke probleem is. “Dokter, my man is gister dood en ek weet nie hoe om dit te hanteer nie.” “Hier is vir jou ʼn pilletjie en kom sien my weer oor ʼn maand.”

Moet my nie verkeerd verstaan nie, medikasie is ‘n wonderlike ding, maar dit het sy tyd en plek. Die probleem kom in wanneer medikasie vir ‘n doodnormale toestand voorgeskryf word in plaas daarvan dat die persoon emosionele ondersteuning kry. Anti-depressante word lankal nie meer net vir depressie voorgeskryf nie, maar ook vir angstigheid, premenstruele stres, obsessiewe kompulsiewe versteuring (OCD), hartseer, fobies, sosiale angstigheid, eetversteurings, post-traumatiese stres, slaaploosheid, skeelhoofpyn, menopouse, en selfs neurologiese pyn. Soveel as 45% van die gebruik van anti-depressante is nie vir depressie nie.

Lees dit weer en neem kennis van dit wat jy by jou mond insteek.

Dit was in die 1950’s toe die eerste antidepressante vervaardig is, en gedurende die 1980’s was die voorskryf hiervan ‘n algemene praktyk. Skielik was die helfte van alle siektetoestande behandelbaar met die sluk van ‘n enkele pilletjie – of twintig.

Ek vermoed ons het ʼn globale probleem. Met ander woorde, ons wil alles met ‘n pilletjie reg dokter, en dit is onmoontlik. Vir jou liggaam se langtermyn gesondheid voorspel die daaglikse gebruik van chemiese middels niks goeds nie, al word dit deur die dokter voorgehou as ʼn permanente oplossing vir ʼn probleem wat eintlik ‘n heel ander tipe behandeling nodig het. Dit is nie net ʼn tydelike kruk nie, maar uiteindelik word jy geestelik verlam en geheel en al afhanklik, iets waarvan jy moeilik mag herstel. Die persoon onder behandeling neem dus dikwels jare of selfs dekades getrou hul medikasie voordat hulle vrae begin vra, indien ooit. Dit is immers makliker om ʼn pilletjie te drink as om deur jou geestelike pyn te werk.

In ons moderne eeu is dit deesdae die tendens om eers ʼn siekte te bemark waarna ʼn lys van pille as behandeling voorgeskryf word. Om dit op te som, ons hele lewenswyse is totaal en al skeefgetrek.

Ek beweer nie dat alle siektetoestande uit onverwerkte emosies spruit nie, maar wanneer mens aandag begin gee aan ʼn persoon se optrede en dan luister na klagtes oor sy gesondheid, kan jy dikwels ʼn baie duidelike verband sien. Daar is ʼn skrikwekkende groot verband tussen mense wat ʼn kind of eggenoot aan die dood afgestaan het, en die diagnose van kanker en neurologiese siektes.

Oor die algemeen het ons heeltemal verleer dat daar ‘n verbintenis is tussen jou verstand en liggaam en hierdie natuurlike, innerlike kennis, word dikwels in dieselfde kategorie geplaas as voorvaderaanbidding. Wanneer jy ʼn breuk ervaar tussen jou natuurlike aanvoeling vir jou eie welstand, nie verantwoordelikheid neem vir jouself nie, en afhanklik raak van die kennis van die dokters, moet die rooi ligte reeds flikker. Ongelukkig word ons saggies geïndoktrineer om ons godgegewe gawe te misken want indien jy toegelaat word om vir jouself te dink, sal dit nie lank neem voordat jy ander inligting ook sal bevraagteken nie.

Dr. Mate Gabor, skrywer van The Myth of Normal en The Body Says No, som ons moderne denkwyse baie mooi op.  Drie maande gelede publiseer die New York Times ‘n artikel asof dit die grootste ontdekking van die eeu is, naamlik dat daar ‘n verband bestaan tussen ons siektetoestande en ons geestesgesondheid. Hierdie selfde observasie is egter reeds deur ‘n Amerikaanse chirurg, James Paget gemaak, in 1870, ‘n hele 150 jaar gelede, maar nou raak ons opgewonde asof ons iets heeltemal nuut ontdek het. ‘n Vrou wat aan borskanker en depressie ly, se kans op oorlewing is baie skraal. Dr. Paget het destyds al gesê dat dit so ooglopend is, jy kan dit nie ignoreer nie!

‘n Baie bekende geneesheer, Sir William Osler, sê in 1880/1890 dat rumatoïede artritis ‘n siektetoestand is as gevolg van stres. In daardie tyd was daar nie studies om hierdie waarneming te staaf nie, maar hy het op sy intuïsie vertrou. Sedertdien was daar wel vele studies gedoen wat hierdie waarneming goed staaf. Ongelukkig is dit ook so dat indien jy na ‘n rumatoloog sou gaan, jy nie uitgevra sal word oor jou emosionele toestand, of hoeveel stres jy ervaar nie.

Die eerste persoon wat veelvuldige sklerose gediagnoseer en beskryf het, was ʼn Franse neuroloog van die 19e eeu, Dr. Jean Martin Charcot. Hy het ook uitgewys dat dit gebeur as gevolg van stres en onverwerkte hartseer.

So hier en daar is daar ʼn dapper dokter wat stilletjies agter die kap van die byl probeer kom. Hulle vind ook dikwels dat daar ʼn afname is in die gebruik van medikasie en die emosionele ondersteuning van die dokter is. ʼn Luisterende oor het dus veel groter gesondheidsvoordele as wat ons mag besef. Hierdie dapper mense is ongelukkig baie dun gesaai en dit mag dekades neem voordat ons dit (weer) as ʼn normale deel van mediese sorg sal sien.

Maar vandag kyk mense jou aan asof jy mal is wanneer jy noem dat daar ʼn verband is tussen ernstige siekte en onverwerkte emosies. Dit is asof mense in die laaste honderd of meer jare heeltemal emosioneel afgestomp geraak het en verwyder is van hul ingebore kennis. ʼn Rede kan wees dat dit vandag byna ʼn skande is om emosionele probleme te hê. ʼn Ander sy van die probleem is dat dit harde werk is om na binne te kyk en die gemors in jou gemoed uit te sorteer. Om dit af te rond, sielkundige hulp is geensins goedkoop nie en vir die grootste deel van die bevolking heeltemal buite bereik.

Is daar ooit hoop op verandering en ʼn werkbare oplossing? En om eerlik te wees, dit laat mens eintlik net magteloos voel.

 

Bronne : https://youtu.be/EzvCFVtPXvQ?t=3

https://www.latimes.com/science/sciencenow/la-sci-sn-antidepressants-not-for-depression-20160523-snap-story.html

 

Ano

 

SEPTEMBER 2024 – OOP PROJEK

3.Afrikaans, die taal van die onderdrukker, EN die onderdrukte

(Woordtelling : 789)

 

Taal is nie sommer-maar-net ʼn klomp woorde wat met sekere klanke aanmekaar gestring word nie, maar dit het sy eie geskiedenis. En veral omdat Afrikaans nog ʼn jong taal is, hoef ons die geskiedenis daarvan nie te vreeslik ver in die verlede te gaan soek nie.

Afrikaans is oorspronklik deur die slawe aan die Kaapkolonie gepraat en het ontstaan as ʼn oorspronklike tipe Fanagolo. Mense wat verskillende tale gepraat het was as slawe aangehou en op een of ander manier moes hulle kommunikeer. Dit is geensins anders as ons hedendaagse mynwerkers wat hul eie mengsel van verskillende tale saamgegooi het om mekaar beter te verstaan nie – ʼn mengsel van hoofsaaklik Zulu, Afrikaans, Engels en watter ander taal daar ook ingesluit word.

Destyds, toe Afrikaans nog ʼn jong taal was en nie net meer deur die slawe gebruik was nie, het die destydse Britse regering nie geskroom om Afrikaans te onderdruk nie. Engels was die voertaal in die skool en as jy nie Engels gepraat het nie, is ʼn skryfbord met die woord “donkey” om die kind se nek gehang. Dit was die kind se straf omdat hy gedurf het om die onbeskaafde taal, Hollands, te gebruik.

Die verengelsing het veral sedert 1860 skerp in skole in die Kaapkolonie toegeneem. Kinders moes met mekaar Engels praat om straf vry te spring. Die straf vir so ʼn oortreding was nie net die dra van die skryfbord nie, maar ook honderde reëls wat uitgeskryf moes word met stellings soos, “I must not speak Dutch and ought to know it by now.”

Afrikaans was dus ook gesien as die taal van die armlastige, die onopgevoede, vuil en verwaarloos. Heel moontlik is hierdie mense dan ook as minder intelligent beskou en as minderwaardig gehanteer. Hierdie vorm van straf het eers tot ʼn einde gekom toe moedertaalonderrig vanaf 1912 in skole ingestel sou word. Die provinsiale rade van Vrystaat, Transvaal en die Kaap het bepaal dat die eerste ses jaar van ʼn kind se onderrig in sy moedertaal moes wees.

Hierdie selfde praktyk was aan die begin van die twintigste eeu in Frankryk gebruik. Kinders wat betrap was dat hulle Baskies in plaas van Frans sou praat, sou ʼn stok genaamd Anti-Basties, met ʼn riem om sy nek moes dra. Die kind wat aan die einde van die dag hierdie Anti om sy nek gehad het, moes na skool agterbly en uitskryf werk doen. Die gebruik van hierdie praktyk was vernietigend en binne twee geslagte was Baskies as gebruikstaal feitlik heeltemal uitgewis.

Op eie bodem, sedert die 1950’s, was daar pogings om moedertaalonderrig vir alle tale in Suid-Afrika in te stel. Ongelukkig was daar groot teenkanting vanuit die nie-blanke geledere, veral toe die Wet op Bantoe-onderwys in 1953 moedertaalonderrig verpligtend gemaak was. Tot hul eie nadeel, wou hulle nie in hul eie taal onderrig word tot in die destydse St. 2 nie, en wou ook nie ʼn dubbel-medium onderrig ontvang wat Afrikaans of Engels sou insluit nie. Vandag, meer as sewentig jaar later, is daar nog steeds nie ʼn werkbare oplossing gevind nie. Inteendeel, die ANC-regering het in die laaste dertig jaar dit so saggies in die agtergrond laat wegsyfer en vele pogings om moedertaalonderrig weer ingestel te kry, misluk klaaglik.

Selfs aan die Universiteit van Stellenbosch was daar klagtes dat die koshuisstudente nie met mekaar of hul besoekende ouers Afrikaans mag praat nie. Dit is dus bloot ʼn herhaling van onderdrukking van jou reg om jou moedertaal te praat, selfs met mense wat dieselfde taal as jy handhaaf. En hierdie ongeskrewe reël het ook buite klasverband gegeld – ʼn basiese skending van enige persoon se menseregte, maak nie saak watter taal jy praat nie.

Al het Engels die taal van aspirasie en sofistikasie geword, is dit interessant dat Engels nie deur die oorgrote meerderheid van die land se inwoners as moedertaal gebruik word nie. Afrikaans is die derde grootste moedertaal naas Zoeloe en Xhosa. Engels daarenteen word deur minder as 10% van die totale bevolking as moedertaal in Suid-Afrika gebruik, maar word wel as voertaal deur die wyer publiek aanvaar. Wat ook interessant is, is die feit dat die meeste Afrikaans sprekendes nie blankes is nie, maar 50% is bruin, 40% wit, 9% swart mense, en 1% kom uit ander groepe. Dit beteken dus dat 60% wat Afrikaans as moedertaal gebruik, nie blankes is nie.

Net die toekoms sal leer of ons ooit uit die foute van ons verlede gaan leer. Dit is lankal tyd dat elke kind die voorreg het om in sy eie taal skool te gaan. Ons kla so maklik dat kinders nie met begrip kan lees nie, maar om een of ander rede wil die regering nie die nodige fondse beskikbaar stel sodat die werklike probleem aangespreek kan word nie – moedertaalonderrig.

 

 

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/was-afrikaners-taalverdrukkers/

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/twee-kontinente-twee-gemeenskappe-dieselfde-hartseer-taalgeskiedenis/

https://www.sun.ac.za/english/Documents/In%20the%20news/2016%2004%20April/07%20Apr%20-%20Die%20Beeld%20-%2012%20leuens%20oor%20die%20taal.pdf

 

Ano

 

Novemeber 2024 – OOP projek

1.Kunsmatige intelligensie en gesondheidsorg

(Woordtelling 1298)

 

Navorsers by die Tsinghua Universiteit in China was die afgelope jaar of twee besig om ʼn hospitaal genaamd Agent Hospital, te bou en hulle hoop om dit voor die einde van 2024 in werking te stel. Liu Yang is die leier van hierdie projek. Die verskil van hierdie nuwe hospitaal is dat dit deur kunsmatige intelligensie bedryf sal word en nie deur mense nie. Pasiënte word gediagnoseer en behandel deur veertien AI (kunsmatige intelligensie) dokters en vier -verpleegsters of assistente.

Is dit dalk die ondergang van nie net die gewone huisdokter nie, maar ook die chirurg, laboratorium tegnikus, radioloog, apteker, dieetkundiges, pediaters, ginekoloë ens. nie? Gaan die masjien tog eendag die mens vervang?

Dit is definitief ʼn pluspunt dat die robot of AI baie meer pasiënte kan sien as wat menslik moontlik is. Hy hoef nie te slaap nie, het nie jaarliks ʼn vakansie of verhoging nodig nie, word nie siek nie. In hierdie hospitaal kan die veertien robotte tot 10 000 pasiënte binne enkele dae diagnoseer en behandel waar dit dieselfde hoeveelheid dokters tot twee jaar sal neem om dieselfde hoeveelheid pasiënte te behandel. Dit is verseker ʼn bonus dat sy akkuraatheid 93.06% is!

Verby is die dae wat jou dokter na jou simptome luister, bietjie kopkrap, en jou dan na die laboratorium vir bloedtoetse stuur. As die diagnose korrek is, moet jy die voorskrif kom optel, en indien nie, moet jy terugkom vir verdere toetse totdat die probleem opgelos is. Dit gebeur soms dat die dokter glad nie die oorsaak van jou ongesteldheid kan vasstel nie, al was elke moontlike toets onder die son gedoen. Soms word die verkeerde medikasie voorgeskryf en dan moet die pasiënt behandel word vir die newe-effekte daarvan. Soms word die verkeerde diagnose gemaak en die gevolge kan lewensgevaarlik wees.

Met elke besoek moet daar enigiets tussen ʼn paar honderd tot derduisende rande opgedok word, afhangende of jy ʼn huisdokter of ʼn spesialis sien. Mediese fondse dek ook nie alle ondersoeke of selfs sekere medikasie nie. Voor jy jou oë uitvee, is daardie rekening leeggetap en moet jy uit eie sak begin betaal en die meeste mense kan bloot net nie so ʼn onvoorspelbare uitgawe bekostig nie.

Die ongemaklike waarheid is dat ʼn mens nie ʼn masjien is nie, al het jy jare se studies en ondervinding agter die blad. Daarom gebeur dit nog steeds dat ʼn dokter hand in die hare sal sit en by die mees waarskynlike siekte behandeling sal begin toepas. So word die moontlike siektetoestande een na die ander uitgeskakel totdat jy by die regte diagnose uitkom. As jy gelukkig is, gebeur hierdie vinnig, anders kan dit ʼn baie duur ondervinding word. Aan die ander kant, sal ʼn masjien ooit vir ʼn pasiënt sê dat sy ipekonders het, terwyl sy in haar hart weet daar is iets fout en die dokter kan dit net nie diagnoseer nie.

China se idee van hierdie hospitaal is dat jy vir AI vertel watter simptome jy ervaar. Omdat dit ʼn rekenaar is, het hy toegang tot baie meer kennis as wat in ʼn mens se brein ingeprop kan word. Nog voor die besoek verby is, is die diagnose gemaak en die regte medikasie vir daardie spesifieke probleem word voorgeskryf. Dit verminder die kans dat jy keer op keer sal moet teruggaan omdat jou ongesteldheid nie verbeter nie, of omdat die medikasie nie die verwagte uitwerking het nie.

Tog kan kunsmatige intelligensie nie heeltemal die menslike aspek vervang nie. ʼn Rekenaar kan nie jou hand vashou wanneer jy bang is nie. Hy kan jou ook nie ʼn drukkie op die skouer gee nie. Doen dokters dit nog? Miskien is rekenaars se “bedside manners” op die oomblik nog bietjie te klinies vir die oorgrote meerderheid van die mensdom.

 

Die voordele van kunsmatige intelligensie in gesondheidsorg.

Dit is meer bekostigbaar en koste effektief vir almal – pasiënt en mediese praktisyn. Daar is beter pasiëntesorg en ʼn toename in administratiewe effektiwiteit. Pasiënte hoef nie vir ure lank in ʼn ry by die hospitaal te sit en wag om ʼn dokter te sien nie. Die dokters word nie uitgeroep vir ʼn noodgeval terwyl jy geduldig in die wagkamer wag nie. Vinnige en akkurate diagnoses word onmiddellik gemaak, of dit nou x-strale is, MRI’s, of breinskanderings is, en kan diagnoses soos kanker, beenbreuke en hartsiektes onmiddellik diagnoseer. Hierdie tegnologie kan ook die regte medikasie vir die spesifieke persoon voorskryf om veiligheid en vinnige herstel te verseker. Siektes word heelwat vroeër en met groter akkuraatheid gediagnoseer. Operasies word met groter akkuraatheid uitgevoer en skakel grootliks menslike foute uit.

 

Die nadele van kunsmatige intelligensie in gesondheidsorg.

Daar is ʼn risiko aan verbonde om jou persoonlike en sensitiewe inligting vir “almal” beskikbaar te hê. Indien die rekenaar die verkeerde opleiding kry, of die verkeerde inligting word ingevoer, sal hy nie ʼn akkurate diagnose kan maak nie. Wie is verantwoordelik indien die verkeerde diagnose gemaak word? Die algemene publiek mag dalk nie die nodige vertroue hierin hê nie, en dus nie ontvanklik hiervoor wees nie. Dit sal baie kos om te ontwikkel en te implementeer. Indien ʼn mediese dokter te veel op kunsmatige intelligensie staatmaak, kan sy eie vermoë om diagnoses te maak daaronder lei. Daar mag etniese probleme ontstaan wanneer die pasiënt se geloofsoortuigings en/of familie voorkeure nie in ag geneem word nie. Ons het daagliks te doen met data wat uitlek, kuber aanvalle, en lospryse wat geëis word om inligting weer vry te stel.

 

Tog maak sommige lande soos die VSA, Kanada en Engeland al hoe meer gebruik van kunsmatige intelligensie in mediese ondersoeke. Selfs hier in Suid-Afrika is dit nie heeltemal onbekend nie, alhoewel dit verseker nog onbemind is. Die probleem is dat medici nie hierdie tegnologie erken nie (want dit hou ʼn moontlike bedreiging vir hul loopbaan as dokters in?). Die algemene publiek het ook nie vertroue hierin nie want dit word nie deur die medici ondersteun en gebruik nie. Boonop is praktisyns van hierdie tegnologie skaarser as hoendertande.

Sommige mense beweer dit is niks anders as ʼn New Age praktyk, of selfs heksery, is nie. Hulle sal veel eerder voor ʼn mens sit en vele toetse ondergaan sonder om ooit by die werklike oorsaak van hul probleem uit te kom, as wat hulle aan ʼn rekenaar gekoppel wil word en binne minute hul hele mediese geskiedenis swart-op-wit te sien.

Daar is verskeie name vir hierdie praktyk naamlik Quantum Analysis, Quantum Healing of Scio. Die kliënt word aan ʼn rekenaar gekoppel met elektrodes wat om die enkels, polse en kop vasgebind word. Dit neem sowat ʼn uur om ʼn volledige ondersoek te doen – iets wat ʼn dokter weke sal besig hou en derduisende rande sal kos. Elke orgaan word getoets en indien dit nodig is, sal die persoon na ʼn mediese praktisyn verwys word vir verdere behandeling. Indien die pasiënt by die dokter se spreekkamer opdaag, akkurate diagnose reeds gedoen, kan behandeling baie vinniger begin – d.w.s. indien die dokter vertroue in hierdie praktyk het.

Hierdie masjien kan enigiets diagnoseer van hoë stresvlakke, depressie, verlaagde immuunstelsel, kroniese pyn, slaaploosheid, tot ʼn gewone ou verkoue wat net nie wil verdwyn nie.

Die skandering kan die persoon help om ongediagnoseerde allergieë uit te sorteer, te veel of te min vitamines en minerale, ongebalanseerde hormone, probleme met spysvertering. Is daar dalk virusse/bakterie/fungus/parasiete in die persoon se bloed of organe. Jou bloeddruk, suikervlakke en cholesterol word getoets sonder dat ʼn druppel bloed jou liggaam verlaat. Spore van siektes wat jy dekades tevore gehad het, kan soms steeds in die liggaam opgespoor word, en effektief behandel word.

Ons is wel verbaas dat daar ʼn hospitaal geopen sal word wat net deur robotte beman word, terwyl ons lankal reeds van hierdie tegnologie op ʼn klein skaal gebruik maak. Dit is nou net nog nodig om Jan Alleman te oortuig dat onbekend nie onbemind hoef te wees nie.

 

Bronne :

https://www.globaltimes.cn/page/202405/1313235.shtml

https://hitrustalliance.net/blog/the-pros-and-cons-of-ai-in-healthcare#:~:text=Data%20privacy%20and%20security%20risks,underdiagnosis%20of%20certain%20demographic%20groups.

https://www.ulverston-natural-health-centre.co.uk/quantum-energy-scan.html

 

Ano

 

Desember 2024 – Kersfees projek

3.Dit betaal om Kersfees te vier

 

(woordtelling : 249)

 

As verkoper is ek dankbaar dat mense Kersfees vier want opgewonde kopers spandeer aansienlik makliker. Dit is voordelig om hierdie opgewondenheid tot op die laaste druppel te melk.

Die ekonomie van Kersfees is globaal en begin reeds in Oktober met die hoogtepunt gedurende die laaste week voor Kersdag. Mense koop nie net geskenke nie, maar spandeer ook meer aan kos en ander onnodighede. Covid het ʼn geweldige invloed op die ekonomie gehad, maar ou gewoontes is geleidelik besig om terug te keer, ten spyte van hoë inflasie en ʼn styging in werkloosheid.

Die kommersialisering van Kersfees word oor die algemeen as ʼn slegte ding gesien, veral wanneer die koper op skuld koop, of dalk in Januarie nie geld het vir kos of skoolklere nie. ʼn Handelaar se verantwoordelikheid is bemarking en verkope, en hy is nie skaam om ʼn behoefte te skep nie. Of die koper dit kan bekostig of nie, is nie sy probleem nie.

Dit is onduidelik hoeveel Suid-Afrikaners gedurende hierdie tyd spandeer, maar volgens Finder.com se statistieke het die gemiddelde Brit in 2023 sowat R14 000 aan geskenke uitgegee. Dit is ʼn styging van R4 000 teenoor die vorige jaar.

Desember is ook ʼn tradisionele vakansiemaand en die feesdae beteken dat mense meer tyd saam met vriende en familie deurbring. Suid-Afrikaners hou van braai en selfs informele kuiers lei tot groter uitgawes.

Ongeag wat mense se siening oor die viering van Kersfees mag wees, die gewoonte om meer te spandeer sal verseker nie maklik verander nie.

 

https://www.currencytransfer.com/blog/expert-analysis/how-does-christmas-affect-the-economy

©Ano




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Christa D het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Koos Elsum het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak