Jongste aktiwiteit:

Pieter Mostert
vir
0 gesien

Pieter Mostert

Lees meer oor Pieter Mostert

BRONSKLAS

Januarie 2023 – Projek NUUT

1.Sinestesie*

Ek sit op die stoep van my lewe
en voel hoe die dag na stilte roep
wyl skaduwees soos reuse word

ek hoor hoe die strykstok van die son
sy laaste note bladlees
in die balk van die seisoene

ek sien hoe die son skemer dirigeer
tot v-ê-r … v-ê-r … oor die horison
en laag buig voor die applous van die sterre

ek voel hoe die nag sy karos hang
om die skouers van die lig

ek sien hoe triljoene flikkerende sterrenote
toonset in die balk deur die maan gebaan
en soos skitterende spinnerakke verskyn
in die lirieke van die hemelruim

ek ruik die akapellas van die nag ontwaak
uit hul diepe slaap
en begin tot eer van die Skepper
’n loflied sing
kraaknuut
vonkelnuut
vars

op die stoep van my lewe …

© Pieter Mostert

[*Sinestesie beteken letterlik ‘saam waarneem’ m.a.w. dit is ’n vermenging van sintuiglike waarneming, in die sin dat twee sintuie dieselfde ‘ding’ gelyktydig waarneem]

 

3.Lente

Sy spoel winter se rou uit haar oë se blou
in die helderskoon van die môredou
grimmeer haar wimpers op die horison
glimlag in die spieël van die oggendson

strooi vars konfettibloeisels oor boom en blom
wat naak in haar teenwoordigheid kom
spore groen oor grasvlaktes se drome
voëls besing haar koms in die bome se krone

vreugde neurie in die stem van die wind
sluier oor die land soos ‘n uitbundige kind
haar palet dra alle kleure en geure
ritsel haar kwas uitgelate in verlate skeure

in haar are bruis en borrel vreugderiviere
in die velde sing en dans die diere
wyl haar stem eggo deur kranse en valleie
en sy die blos op haar wange spons in vleie

laat o Heer ook U lente vonkelnuut in my lewe blom
soos wat U nuwe lente op aarde kom
——-ooo000ooo——-
(© Pieter Mostert)

 

APRIL 2023 – KLUG PROJEK

1.Rat voor my oë

Ek hoor nog jou stem
wanneer die suidewind
deur oupa se garsland waai
en elke garshalm
asof in eerbied vir die wind
v-ê-r  na benede buig

Nou na al die jare
sit ek alleen hier
op oupa se plaas
en lyk die garshalms
vir my soos jou hande
wat my winkend nader roep

Ek wil jou gaan soek
tussen die rye en rye garshalms
wat glimmend in die maanlig
vir my wink
waar ek en jy
gespeel en gelag het as kinders
saam ons drome gedroom het
Maar
as ek opgewonde nader stap
raak jou stem weg
onder die gesuis van die wind
en steek ek in my spore vas
bang dat jou rat voor my oë
heimwee uit vergange se dae
opnuut sal draai …

 

(© Pieter Mostert)

Mei 2023 – OOP projek

1.God dig die skepping

Die Gees van God het gesweef
oor die die waters van duisternis
wanorde woestheid leegheid –
daar was niks …

D-a-n

metrum Hy ’n meesterlike kosmiese orde
– creatio ex nihilo –
God dig Genesis – die Begin –
polisindeton ’n dimensie van tyd en ruimte en energie
skielik was daar iets
Legio neologismes wemel in Sy skeppingsgedig

God dig lig
oksimoron lig van duisternis
metronoom die nag- en daeraad
dit was aand en dit was môre –

die strofe van die eerste dag in Sy digbundel gekarteer

Sy magswoord metafoor die uitspansel –
inversie die ewig uitdyende kosmiese heelal
oksimoron die waters deur ‘n gewelf
dit was aand en dit was môre –

die tweede dag is in ’n koeplet in Sy digbundel gekarteer

God dig LEWE
Hy vul die aarde met plante en diere,
seën hulle en sê: “wees vrugbaar en vermeerder”
dit was aand en dit was môre –

die derde dag is in ’n tersiene in Sy digbundel gekarteer

God dig die son en die maan en die sterrestelsels
binne die idioom van Sy metafoor dig Hy
twee groot ligbronne
wat tussen derduisende sterre hang
wat aan die hemel van Sy gedig wemel
die son bedags
die maan snags
in die uitdyende kosmiese gewelf
dig Hy die seisoene
dit was aand en dit was môre –

die vierde dag is in ’n kwartyn in Sy digbundel gekarteer

deur Sy magswoord dig God
‘n avifauna en ’n akwatiese sisteem
“…voëls van die hemel en visse van die see…”
die Digter seën hulle om met vrugbaarheid
in die digbundel van Sy ekologiese stelsel op die aarde in te skakel
dit was aand en dit was môre –

die vyfde dag is in ’n kwintet in Sy digbundel gekarteer

met Sy personifikasie dig God die mens
uit die stof van die aarde
in die suggestie van Sy beeld en Sy gelykenis
as Sý digter op die aarde
die Digter seën die mens om met vrugbaarheid
in die digbundel van Sy ekologiese stelsel in te skakel
daaroor te heers te bewerk en te bewaar –
as rentmeesters van Sy gedig

toe die digter deur Sy skeppingsgedig lees het Hy gesê:
dit was baie goed.
dit was aand en dit het môre geword –

die sesde dag is in ’n sestet van Sy digbundel gekarteer

op die sewende dag het die Digter gerus
dít is Sý Sabbatdag
deur Hom geseën en geheilig

die engele in die hemel het die Digter
se skeppingswerk aanskou
elk met ses vlerke omvou
een vir elke skeppingsdag
om daarmee Sy lof te verkondig
en met verheerlik toe te sing

maar

op die sewende dag was selfs die engele stil
en het die Sabbatdag sélf
‘n loflied die Digter
en
Sy skeppingsgedig toegesing

Die Digter het die Sabbat geheilig
en
aan elk van Sy Engele
’n sewende vlerk toegedig

– Creatio continua –

——-ooo000ooo——-

(©  Pieter Mostert)

Junie 2023 – Winter projek

2.Haikoe2 (duinegras)

duinegras verbleek
traanrou in die wind se klou
soutloop my wange
——-ooo000ooo——-
(© Pieter Mostert)

*traanrou

 

SILWERKLAS

Eervollevermelding vir Junie 2023 Winter projek

Haikoe1 (grasangelier)

 

grasangelier wuif
winteroë traanryp mis
sluier voor die son
——-ooo000ooo——-
(© Pieter Mostert)

*traanryp

 

September 2023 – OOP projek

2.Liewe Moeder Natuur

orden my denke hierdie lente
om in my handel en wandel
deur die lushof van jou blomtuin
jou skoonheid te metronoom
binne die sonette waarvan jy droom
idiome vir jou te weef waarna jy streef
binne die stylfigure van jou reënwoude
vleilande riviere strome watervalle
ritme te komponeer in jou hartseer
binne die rympatrone van die strofes
in jou gedigte oor jou uitgestrekte vlaktes
die eggo’s van jou kranse
binne die balk van Sy skepping
in harmonie met
geloof …
hoop …
liefde …

——-ooo000ooo——-                                                                                          
(© Pieter Mostert)

 

Oktober 2023 – KORT projek

2.Redenasie

argumente woeker die elemente …

————————oo00oo———————

©Pieter Mostert

 

Februarie 2024 – Dolos projek

3.Kreukels

Ons harte praat nie meer
die spasies tussen jou woorde
en my sinne het verweer
vergestalt in leë akkoorde

gepaarde rym en omarmde rym het verdwyn
gekruisde rym en gebroke rym het verskyn

ek voel nog wanneer jou hart klop
maar jou oë is soos ’n leë dop

naïef sê ek nog vir myself:
“The soul has been given its own ears
to hear things mind does not understand” *

maar
die dolosse van beskerming
teen die aanslae van die lewe
het vir ons deurmekaar geval

realiteit dig nou ons verhaal
in ’n vreemde taal

wat daar eens was
is nou net kreukels
in die spore van die wind …
——-ooo000ooo——-
(© Pieter Mostert)
(*Slagspreuk van bekende Persiese digter, Rumi)

 

JUNIE 2024 – ONBEKENDE PROJEK

2.Die wiel van ’n digter

spiraal Sy diggenre
in die uitdyende kosmiese gewelf
orden Hy uit wanorde toonset
oneindigheid en liriek die ewigheid
van sy skeppingsgedig in vloeiende strofes

die Digter laai die nag- en daeraad af
tel die dae op in weke
verdeel hul in maande
vermenigvuldig hulle in jare
en liasseer hulle in seisoene

tussen die blaaie van sy digbundel
midddelpunt hy die onbekende
in sy ewig uitdyende genadesirkel

die wiel van die Digter spiraal
ewigheid
oneindigheid
tydloosheid
onbekendheid …

waar
wanneer
sal Sy wiel stop
om my af te laai?

*(NOTA AAN DIE LESER: Ek stel God as digter van Sy skepping voor binne die ordelike diggenre van sy almag, en wel in alle eerbied en nederigheid binne die raamwerk van die talent wat hy vir my gegee het om in ons pragtige Afrikaanse taal te kan skryf en dig. Vir my lê die onbekende in die laaste strofe van my gedig).

 

——-ooo000ooo——-
(© Pieter Mostert) [Silwer]

 

JULIE 2024 – OOP PROJEK

3.My liefling

kom ons droom weer saam
onder die Kgalagadimaan
onder die sterre se blink
waar die wind se boodskap
deur die gras klink

waar die melkweg se raam
in die spieëls van jou oë baan
en ons liefde as kind
tussen die duine vrede kon vind

waar kameeldorings skadu’s sambreel
vlammetjies hardekool ons harte heel
en ’n duineliedjie van die Kgalagadi
knetter in elke vlammetjie se letter

my liefling
kom ons droom weer saam
in die sluier van die Kgalagadimaan
——-oo0oo——-
(©Pieter Mostert)

AUGUSTUS 2024 – SKULDLAS PROJEK

1.Die doring in my vlees

ek staan op die drumpel
van my gewete
en voel hoe my jare
na introspeksie roep
wyl stemme eggo
uit die kraters van my brein
hoor ek hoe die strykstok
van my skuldlas
die note van verantwoording aflees
binne die balk van rekenskap
ruik ek murg en been en bloed
as die doring in my vlees
sy skroeiende mantel
om my skouers hang
sien ek my skuldlas
aan Gólgota hang
en besef ek
Sy genade
het my skuldlas vergoed
——————oo00oo——————

© Pieter Mostert

 

Desember 2024 – Kersfees projek

2.As die son …

 

as die son se oog die horison vlek
en pêrelpienk oor die duineveld lek
begin die nag se sterreprag wemel
want dit is Kersfees ook in die hemel

——-ooo000ooo——-
(©Pieter Mostert)

 

Maart 2025 – OOP Projek

2.Raak my nie* Dagbreek

Raak-my-nie dagbreek
raak-my-nie in blom
distels wat steek
het tussen ons gekom

soek ek na jou lopers
om daarlangs te rank
met vreemde stropers
dwaal jou spruite af

raak-my-nie herinneringe
raak-my-nie vergeet
verdwaalde onthou
waarvan jou spuite nie weet

blomme wat dorings eggo
haak-en-steek my
totdat ek seer verweer
weer ’n afjak kry

eggo jou ego antwoorde
antwoorde wat haak-en-steek
Raak-my-nie dagbreek
raak-my-nie in blom
——-ooo000ooo——-
(© Pieter Mostert)
(Pastiche n.a.v. Ingrit Jonker se gedig: ‘Bitterbessie Dagbreek’ en interteks uit Totius se gedig: ‘Die Godsbesluit’)
*NOTA:- ‘Raak-my-nie (Mimosa pigra), is ‘n struik wat kan groei tot ‘n hoogte van ses meter. Dit het varing-agtige groen blare wat saamvou gedurende die nag of as dit aangeraak word. Groot dorings, (5 tot 10 cm lank), en kom voor op die stam met kleiner doings op die takke. Die struik dra pienk ronde blommetjies, (10 tot 20mm in deursnee). Die blompunte produseer olyf-groen saadpeule. DIT IS ‘N VERKLAARDE INDRINGERPLANT)’
(BRON:https://af.wikipedia.org/wiki/Raak-my-nie)

 

APRIL 2025 – AARDE PROJEK

1.Sy is al wat ons het

die sponsgebiede van haar wange
lê oopgebars onder die vingers van die son
die bloeisels van haar wenkbroue verlep
omdat haar vleilande drooggelê is

benoud klaaglied haar winde huil
in die braille-trane van die reën

lees haar boodskap in die gloed-gebare
van die son se golwe op haar horison
luister na die mymeringe in die solos
van haar watervalle riviere stroompies

moederaarde eggopatroon haar kranse
luister! — sy is al wat ons in hiérdie lewe het
——-ooo000ooo——-
(© Pieter Mostert) [02/04/25]

 

JUNIE 2025 – PIEKNIEK PROJEK

3.Tydlose oomblikke

Kom wandel saam met my
op saggolwende slingerpaadjies
met oneindig draaitjies
waar die wind sy snare stem
in die rooibruin-sand van duineland

dan skryf ek weer jou naam
met ’n kameeldoring in die sand
waar ewig tydloos lê ons spore saam

tussen die duine op ’n rietmatjie
onder ’n kameeldoringboom
berei ek dan vir jou ‘n piekniek-maal
van bolle en knolle uit die sand gehaal

gemsbokkomkommer tsamawaatlemoen
wildebessie en wildeheuning in seisoen
en sink ons ’n kalbassie sjampanje saam
waar ons met nuwe drome kan versoen

sluit dan jou oë my lief
luister met jou gees
die duineveld hou saam piekniek
geitjies blaf jakkals tjank hiënas lag
die duineveld se musiek is uniek

kom ons piekniek weer
tydlose oomblikke
van saamwees …
——-oo0oo——-
(Kopiereg Pieter Mostert)

JULIE 2025 – SKADUWEE VAN TYD PROJEK

3.Realiteit

spore in die sand
vergestalt
in skadu’s van tyd
geïntegreerde polsslag
van realiteit

—–ooo00ooo——
©Pieter Mostert

AUGUSTUS 2025 – LINKSHANDIGE PROJEK

2.Onder grammatikale frons

marsjeer die letters van my brein
soos skuinsgedrukte houtsoldaatjies
oor die parade van regshandigheid

tussen aanhalings en uitroeptekens
gaan lê my letters in linie agteroor
tussen kommas en punte
agter vraagtekens
op die palmbevlekte papier
van my notaboek
———ooOoo———
©Pieter Mostert

 

3.Spieëlhand van sand

(’n gedig van ’n jong Boesmanseun)

my linkerhand dra sand
soos ’n kind wat wind verstaan
ek skryf nie reg nie, sê hulle
maar my lyne volg wildspore
wat saggies loop in die sand

ek het nooit regs gejag nie
soos die manne met speer en reël nie
ek het linksom geswaai in die dromedans
as die sterre agteruit beweeg
en stilte sonder woorde praat

die eland kyk my skeef aan
ek trap buite die kring
maar in my hand is ’n ritme
’n asem wat lank terug gehoor is
wat nie in boeke pas nie

ék is die een wat droom van Naoea
wat links loop waar die sand sag is
ék is die een wat hoor
hoe Kaggen lag in die agterspoor
ék is die een wat weet dat die wêreld
nie ’n reguit lyn is nie

die wêreld is nie reguit nie
ék, met my spieëlhand van sand
lees tyd agteruit
in voetspore wat vergeet is
soos ’n kind wat wind verstaan

my linkerhand dra die sand
en niks in my is verkeerd nie
net anders
soos stilte wat beweeg

©Pieter Mostert

TER WILLE VAN DUIDELIKHEID GEE EK OOK DIE VOLGENDE NOTAS EN ONTLEDING VAN MY GEDIG AAN DIE LESER DEUR:-
• In Boesmanwysheid is die linkerhand nie ’n fout nie, maar ’n fluistering van die wêreld se ander waarheid. Hierdie gedig is geskryf as ’n spieël, nie net van liggaam nie, maar van gees.
• Ek het hierdie spieëlgedig saamgestel uit my persoonlike notas tydens my vele gesprekke met Buks Appelblaar, leier van ’n groep Boesmans in die suidelike Kalahari van Botswana.);
• Naoea = By monde van die Boesmans in die Kalahari is Naoea die Hoogste Wese in die tradisionele geloofstelsels van die Boesmans;
• Kaggen = die bedrieër-god wat volgens die Boesmans van gedaante kon verander deur soms die vorm van ’n Mantis, ’n Slang of ’n Eland aan te neem;
• Geplaas in die mond van die jong Boesmanseun, wys hierdie spieëlgedig op die emosionele, kulturele en spirituele dimensies van linkshandigheid as simbool van andersheid. Die teks maak gebruik van Boesman-beeldspraak soos o.a. wildspore, eland, dromedans, Naoea en Kaggen), om die liggaamlike geheue en liminale padwandeling van die linkshandige as inheemse metafoor vir nie-konformiteit te raam;
• Hierdie gedig funksioneer as ’n liriese sirkel in die sin dat die tweede helfte daarvan ’n weerspieëling van die die eerste is, maar her-orden die beelde en betekenisse;
Hierdie vorm weerspieël die kringpatrone van die trance-dans, en herinner aan die sikliese tydsbesef van die Kalahari-Boesmam (San);
• Simboliek van die “manne met speer” (Historiese betekenis) = Verteenwoordig die klassieke jagter/vegter-figuur: manlik, regshandig, aggressief;
Die speer is nie net ‘n wapen nie, maar ‘n simbool van lineêre aksie, oorheersing en beheer van ruimte;
Kontras met linkshandigheid:
Linkshandigheid word hier voorgestel as ’n verset teen daardie dominante, geweld-gelaaide paradigma;
Die spreker kies nie die pad van aanval of verdediging nie, maar ’n ander rigting: waarneming, gevoel en verbinding;
• Simboliek van die “reël” in die figuurlike sin van die woord = sosiale norme, reël-sisteme, voorskrifte, riglyne vir wat as aanvaarbaar, reg of normaal gesien word;
• As instrument van uitsluiting:
Die “reël” bepaal wat binne en wat buite val;
Linkshandigheid, as iets buite die norm, word dus daardeur ge-“reël,” of eintlik ‘uit-gereël’;
• Die “Spieël”-weerkaatsing van homself. Die digter definieer homself negatief:
“Ek is nie soos húlle nie;” en
Dit is nie ’n rebelse selfverheffing nie, maar ’n erkenning van verskil, dus ’n liminale identiteit wat in die spieël van die dominante kultuur reflekteer, maar nie daartoe behoort nie.

 

 

SEPTEMBER 2025 – ORDE NA CHAOS PROJEK

1.Een vuurhoutjie

Gemsbok lees die winterweiding
in die duine-note van die wind
waar Kameeldorings vreugde vind
en die tapyt van die duineveld besing

een vuurhoutjie uit mensehand
glip deur die vingers van die wind
en steek sy vreugde aan die brand
vuur en vlam skep chaos in duineland

yl klossies stoppelbaard roet-swart
oor die wange van die duineveld
en ’n uitstekende chaos roukleed smart
voor die oë van die son

dan kom die reën sy arms om haar vou
en word chaos tot orde herbou
——-ooo000ooo——-
(©Pieter Mostert)

 

GOUE KLAS

OKTOBER 2025 – OOP PROJEK

3.Die Kaap is eg-Afrikaans (Afrikaapse gedig)

My bra ko ghaai saam os hier ini Kaap
kos wyn lekka jol en kakpraat tot os slaap
as die Bloubulle die Wee Pee soemaa so trap
op Nuweland inni stryd om die Kerriecup

kry vir djou ‘n bokomtjie saam djou wyntjie
of somma ‘n bunny chow met ‘n warm kerrietjie
lekka Kaapse snoekkop by die kêffie oppi hoek
en ok sammoesas en koeksistas, as djy soek

eksê, ons hana-hana die Kaap aani brand
dis kwaailappies, os ghaai in os Kaapland
smôrens fix os daai babalas met ‘n kopskiet
dan kan os van moeks se lekka bobotie iet
hyl ons oor die Bulle die Wee Pee verslaan
luister na die beat vani braners opi rotse slaan

loep koep vir my cherrie blomme in Adderleystraat
gooi samet my chommies lawaaiwater tot laat
môre ry ek Tafelberg se cable car samet my motjie
en hoor ek nog die kaalvoet klonkie se stem:
“Lekka, lekka ywe, laat die ghantang nader skywe…” *
besef ek; die Kaap word eg Afrikaaps bedrywe

—————–ooo0ooo—————–
(© Kopiereg: Pieter Mostert)
(* interteks geneem uit “Kaalvoet klonkie” van I. D. Du Plessis)

 

NOVEMBER & DESEMBER 2025 – OOP PROJEK

1.Wie is ek en wie is jy?

Ons is albei boorlinge van hierdie land
al noem jy my ’n sogenaamde immigrant
wie verniel en verwoes nou –
vir dertig jaar lank nou
kon jy nie die pas volhou
om maar net voort te bou
op jou “immigrante erfenis”
wie spoeg nou met wette
wat die nasie soos “kanker laat verval”

Ons is albei boorlinge van hierdie land
al noem jy my ’n sogenaamde immigrant
my oupagrootjie het teen engelse immigrante geveg,
my oupa sy dae in immigrante konsentrasie kamp verslyt,
ek is vandag ‘n uitgeworpene
immigrant in my eie land,
en my seun in die werkmag onderdruk
moet landuit vlug

Ons is albei boorlinge van hierdie land
al noem jy my ’n sogenaamde immigrant
wie is nou die onderdrukker?
wie steel roof plunder vernietig verwoes
wie is die mees gekulde mees ontroue –
mees gevreesde “vyand”
“ONLY” / SLEGS ?

Nou wonder ek
sal ons eendag deel
in die priemgetalle van die ewigheid
“ONLY” / SLEGS ?
————-ooo0oo————–
©Pieter Mostert

*Satire – Antwoord aan Mathew Phosa op sy gedig Wie is ek

2.Vuurtjie van my hart

My denke vlamtong ’n vuurtjie
rooibruin gebleikte doek
essel die oë van my hartsverlange
kleure palet saggolwend
kwas my denke
doek my vuurtjie tussen rooi duine

my oë praat gebaretaal met vlamtonge
hitte-vrede my hart
ek sien die duine in die vlamme
ek voel die kameeldoringhout
kool die oë van my hart
ek proe die hitte droog my lippe
ek ruik die asem van die rook
ontsnap die werklikheid
meetbaar in elke vlammetjie se brand

gister se drome skerwe vandag se realiteit
firewall’ spieël my lewe
my ‘serwer’ se data mirage vrede
vlamvingers knoppie emosies op my ‘keyboard’
‘delete’ ‘undo’ ‘copoy’ ‘paste’
herprogammeer die ‘server’ van my lewe
tussen rooi duine data vlamvingers

surrealisties
keyboard’ die vuurtjie van my hart
reëele werklikheid plooi my eensaamheid
vlamtong my verlange na rooiduine
verkool my drome tot as in die sand
krankheid gebaar verkreukelde hande

dowe ore
moeë oë
kaggel nou
die vuurtjie van my hart …
—————–ooo0ooo—————–
(© Pieter Mostert)

 

JANUARIE 2026 – NUWE BEGIN PROJEK

3.My hart is waar my tuin is

Ek sit op die lowergroen grasperk in my tuin
tussen blinkblaar- karee- en olienhoutbome
en kyk hoe die blougrys oumans baard
hul dooie takke versier, omring met
’n verskeidenheid komplimenterende vetplante,
gekontoer in netjiese blombeddings.

Die dag roep na stilte terwyl skaduwees
tot reuse groei en die laaste strale van die son
vleiend blink op die blare van my versameling
bonsaiboompies
geïntegreer met die landskapering
van my ekologies voël-vriendelike tuin.

Híér is my huis; híér is my hart; híér is my heimat;
vir die afgelope veertig jaar is my hart híér;
híér waar my tuin is.

Maar; nou moet ek afsaal; of liewer afskaal,
na ’n ander tuiste verhuis
na wie weet waar; gaan ek weer moet opsaal?

Op die skouer van my heimat het ek
my afskeidstrane gestort, skitterblink
soos ryp in die winter het hulle
aan haar lowergroen kleed gehang.

Soos ’n ster in die hemelruim het my lewe
in ’n oogwink, voor my oë verskiet;
terwyl ek bewoë deur die dagboek
van my hartseer blaai opsoek
na ’n nuwe begin; wie weet waar … ?

———–oo00oo————
©Pieter Mostert

 

FEBRUARIE 2026 – OOP PROJEK

2.Koppie van verlatenheid

In my wildste drome
sou ek nooit kon dink
dat daar uit my bodem
sou verrys ’n koppie
waarop ’n kruis gaan staan
wat na die hemel wys

uit my stof is Hy bestel
en met God’s asem opgetel

die glorie van Sy bloed
het gedrup op my bodem
gekleef aan elke korreltjie
van my sand

Ontmasker het Sy bloed
die poorte van duisternis

nou lê op my bodem slegs
’n koppie in die stomheid
van verlatenheid

———ooOoo———
©Pieter Mostert

 

3.Introspeksie

ek blaai deur die gesigte
van my gedigte
sien verdoeselde drome
in my rympatrone vorm elemente
van rymdwang in die enjambemente
van my sonnette in segmente
van woordaksente in my sekstette
en liriese koeplette herhaling
van konsonante en vokale
in my liefdes-ballades
en epiese odes

ek lees die metafore
in my spore van onthou
soek ek na natuurlike ruspunte
in die beeldspraak van my vryeverse

in my vergelykings dans
personifikasie in die stylfigure
van my gure
tot abstrakte begrippe
van lewe op die uitheffings
van my 2025-se gesigte
waarop ek nou
my 2026-gedigte bou

——-ooo000ooo——-
(© Kopiereg: Pieter Mostert)




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed