Pieter Mostert
BRONSKLAS
Januarie 2023 – Projek NUUT
1.Sinestesie*
Ek sit op die stoep van my lewe
en voel hoe die dag na stilte roep
wyl skaduwees soos reuse word
ek hoor hoe die strykstok van die son
sy laaste note bladlees
in die balk van die seisoene
ek sien hoe die son skemer dirigeer
tot v-ê-r … v-ê-r … oor die horison
en laag buig voor die applous van die sterre
ek voel hoe die nag sy karos hang
om die skouers van die lig
ek sien hoe triljoene flikkerende sterrenote
toonset in die balk deur die maan gebaan
en soos skitterende spinnerakke verskyn
in die lirieke van die hemelruim
ek ruik die akapellas van die nag ontwaak
uit hul diepe slaap
en begin tot eer van die Skepper
’n loflied sing
kraaknuut
vonkelnuut
vars
op die stoep van my lewe …
© Pieter Mostert
[*Sinestesie beteken letterlik ‘saam waarneem’ m.a.w. dit is ’n vermenging van sintuiglike waarneming, in die sin dat twee sintuie dieselfde ‘ding’ gelyktydig waarneem]
3.Lente
Sy spoel winter se rou uit haar oë se blou
in die helderskoon van die môredou
grimmeer haar wimpers op die horison
glimlag in die spieël van die oggendson
strooi vars konfettibloeisels oor boom en blom
wat naak in haar teenwoordigheid kom
spore groen oor grasvlaktes se drome
voëls besing haar koms in die bome se krone
vreugde neurie in die stem van die wind
sluier oor die land soos ‘n uitbundige kind
haar palet dra alle kleure en geure
ritsel haar kwas uitgelate in verlate skeure
in haar are bruis en borrel vreugderiviere
in die velde sing en dans die diere
wyl haar stem eggo deur kranse en valleie
en sy die blos op haar wange spons in vleie
laat o Heer ook U lente vonkelnuut in my lewe blom
soos wat U nuwe lente op aarde kom
——-ooo000ooo——-
(© Pieter Mostert)
APRIL 2023 – KLUG PROJEK
1.Rat voor my oë
Ek hoor nog jou stem
wanneer die suidewind
deur oupa se garsland waai
en elke garshalm
asof in eerbied vir die wind
v-ê-r na benede buig
Nou na al die jare
sit ek alleen hier
op oupa se plaas
en lyk die garshalms
vir my soos jou hande
wat my winkend nader roep
Ek wil jou gaan soek
tussen die rye en rye garshalms
wat glimmend in die maanlig
vir my wink
waar ek en jy
gespeel en gelag het as kinders
saam ons drome gedroom het
Maar
as ek opgewonde nader stap
raak jou stem weg
onder die gesuis van die wind
en steek ek in my spore vas
bang dat jou rat voor my oë
heimwee uit vergange se dae
opnuut sal draai …
(© Pieter Mostert)
(3)