Frederick (Fritz) Joubert Duquesne – Die swart Luiperd
Die Swart Luiperd, The man who killed Kitchener, FBI Most Wanted, Duquesne Spy
Ring – hierdie is maar net ’n paar terme wat geassosieer word met een van die mees
opspraakwekkende karakters in die Afrikaner se geskiedenis.
Daar is heelwat verhale oor Fritz Joubert Duquesne (uitgespreek Doe-Kyn) geskryf
en verskeie van die stories kom nie altyd ooreen nie. Ons het ondersoek ingestel
om hierdie ongelooflike karakter se lewensverhaal vir u, die leser, bekend te maak.
Frederick (Fritz) Joubert Duquesne was op 21 Desember 1879 te Oos-Londen gebore.
Sy ouers was welgesteld en hy was familie van genl. Piet Joubert.
Hy het grootgeword in Nylstroom en was op ‘n jong ouderdom na ‘n koshuis in
Engeland gestuur. Op die ouderdom van 17 was hy by die London University
ingeskryf en ‘n jaar later het hy na Brussels verhuis waar hy by ‘n militêre
universiteit studeer het.
Duquesne, nog net ’n seun, het gedurende hierdie tydperk bekend gestaan as die
beste swaardvegter in die hele Europe en het in drie van die opgetekende gevegte
sy opponente gedood!
In 1899 keer hy terug na die Z.A.R., net betyds vir die uitbreek van Tweede
Vryheidsoorlog. Hy word deel van sy oom genl. Piet Joubert se staf en was later
naby Ladysmith gewond. Hy herstel egter vinnig en neem verder deel aan die oorlog.
By die slag van Colenso word hy deur die Britte gevang maar hy ontsnap op heroïese
wyse nadat hy talle soldate uitoorlê het en ’n wag in die proses noodlottig gewond
het. Hy was later weer gevang en weereens ontsnap hy voor die aanvang van die
kryg verhoor.
Tydens die slag van Bergendal word hy tesame met die Boeremagte oor die grens
in Mosambiek ingedryf. Die Portuguese neem hom gevangene en stuur hom na ‘n
tronk Lisbon, Portugal.
Net voor hy gevang was het hy na bewering waens met onskatbare hoeveelheid goud
iewers in die Laeveld weggesteek sodat die Britte dit nie in beslag kon neem nie.
Hierdie goud was op pad na Europa om wapens en ammunisie vir die Boeremagte
aan te koop. Die goud is tot op hede nog nie gevind nie.
In Portugal verlei hy die tronkbewaarder se dogter en sy help hom ontsnap. Hy
vlug na Parys, Frankryk, en hier sluit hy aan by die Afrikanervereniging. Duquesne
besluit toe om die Britse magte te infiltreer. Hy sluit in 1901 aan by die Britse weermag
en word vinnig bevorder as offisier. Spoedig reel hy dat hy terug gestuur word na die
Z.A.R. op die Britte se onkoste!
Op Transvaal s’ bodem tref hy reëlings dat hy na die Nylstroom-distrik gestuur word.
Hier het sy haat vir Lord Horatio Kitchener ontstaan vanweë die geskroeide
aardebeleid en die konsentrasiekampe. Hy vind sy familieplaas verbrand, sy
suster verkrag en vermoor en sy moeder sterwend in ‘n konsentrasiekamp in Germiston.
In latere jare erken hy dat hy vir Kitchener persoonlik verantwoordelik gehou het vir die
ramp wat sy familie getref het asook die 27 000 Afrikanervroue en –kinders wat in die
Britse helkampe gesterf het.
Dit is nie duidelik hoeveel inligting hy op hierdie stadium aan die Boeremagte gegee
het nie. As Britse offisier het hy sonder twyfel toegang tot heelwat waardevolle
inligting gehad. Sy bynaam onder Afrikaners was die “Swart Luiperd” omrede sy
donker hare en die heldhaftige wyse waarop hy die Britse Intelligensiediens male
sonder tal ontduik het deur vertroulike inligting suksesvol aan sy Boere-kamerade
te gee. Die Britte het geweet dat daar ’n Boere-spioen in hul midde was maar hulle
kon Duquesne nooit vastrek nie.
Steeds in Britse uniform, word hy na Kaapstad verplaas waar hy besluit het om die
hawe en groot dele van die stad op te blaas. Hy was ‘n man wat mense maklik
beïnvloed het en kry dit reg om ‘n groep Afrikaners bymekaar te maak vir sy
beplande sabotasie van Britse militêre teikens in die Moederstad. Sy planne word
egter ontbloot nadat ‘n vrou van een van sy manskappe die Britte daarop attent
gemaak het dat hy ’n sabotasie komplot beplan. Die Britte maak toe ‘n aanbod aan
hom: indien hy die Boere se geheime militêre kodes ontleed sal hulle sy lewe spaar
. Hy ontleed dit maar gee valse inligting vir die vyand.
Daarna was hy na Bermuda gestuur as krygsgevangene. Kort na die Vrede van
Vereeniging in 1902 ontsnap hy met die hulp van die jong Anna Maria Outerbridge,
wie hy ook verlei het, na die VSA.
In New York het hy gewerk as ‘n joernalis en omrede hy Russies magtig was, het
die koerant hom gestuur om verslag te lewer oor die Russies-Japanese oorlog. Fritz
kon onder andere ook Frans, Duits, Portugees en Hollands vlot praat.
Hy het naam gemaak in die VSA as ‘n grootwildjagter en was ook bevriend met pres.
Theodore Roosevelt, wie hy gereeld raad gegee oor jag.
Ook het hy hom voorgedoen as ‘n Australiese soldaat, “Captain Claude Stoughton”,
en het geld verdien deur op reis te gaan en lesings aan te bied oor verskeie oorloë
waarin hy betrokke was.
Gedurende die Eerste Wêreldoorlog verhuis hy na Brasilië as die wetenskaplike
“Frederick Fredericks” om rubberbome te bestudeer. Hy het natuurlik geweet dat
die Britte baie skepe het wat voorraad vanaf Suid-Amerika na Europa vervoer om
sodoende hul oorlogspoging aan die lewe te hou. Na bewering het hy meer as 20
Britse skepe vernietig met die gebruik van tydbomme, o.a. HMS Salvador, HMS
Pembrokeshire, HMS Tennyson en die HMS Vauban.
In 1916 plaas hy ‘n berig in ’n Britse koerant dat “Fritz Duquesne deur die Amasone
Indiane in Bolivia vermoor was”. Hy vertrek kortliks daarna na Engeland en doen
hom voor as die Rus “Graaf Boris Zabrefski”. Dit is tot vandag toe nog onduidelik
hoe Duquesne in aanraking gekom het met die Duitse Intelligensiediens maar hy was
op hierdie stadium beslis ’n Duitse spioen.
In Londen reël hy dat hy saam met Lord Kitchener aan boord die HMS Hampshire
reis na Rusland. Op die hoë see gaan hy te werke om vir ‘n Duitse duikboot ’n
aanvalsein te stuur. Hy verlaat die skip net betyds voor ’n torpedo-aanval die
HMS Hampshire sink. Duquesne se lewensideaal word verwesenlik: Kitchener
is dood!
Duquesne ontvang later die Ysterkruis vir dapperheid by Keiser Wilhelm vir die rol
wat hy gespeel het om van Lord Kitchener ontslae te raak.
Omrede meeste van sy familielede in die Z.A.R. deur die Britte vermoor was het hy
nooit weer teruggekeer na sy vaderland toe nie. Hy was later in Amerika gevang
maar het homself voorgegee as ’n verlamde en na twee jaar in ‘n tronk vir gestremdes
het hy weer ontsnap.
In 1941, tydens die Tweede Wêreldoorlog, het die FBI hom weer vasgetrek nadat
hy verantwoordelik was vir die grootste spioenasie komplot in die Amerikaanse
geskiedenis: The Duquesne Spy Ring.
Hy was skuldig bevind van sabotasie op Britse militêre teikens. Hy het homself
verdedig gedurende die verhoor en sy lewe was gespaar omrede die hof bevind
het dat al sy teikens slegs teen Britse belange was en dat hy wraak gepleeg het
teen die Britte se oorlogsmisdade teen die Afrikanervolk tydens die Tweede
Vryheidsoorlog.
Op die ouderdom van 62 het Fritz nie weer ontsnap nie. Hy was 13 jaar later in die
tronk oorlede.
Dit gaan die verstand te bowe dat ons nie op skool geleer was van kapt. Fritz Joubert
Duquesne se merkwaardige lewe nie.
Bron: http://kvbnuusblad.blogspot.co.za/2012/02/ons-kinderhelde-word-soms-vergeet.html