Jongste aktiwiteit:

Dominee Pikkewyn
vir

Dominee Pikkewyn

Dit was Sondag-oggend vroeg in die pragtige Vrystaat en al die diere van die bos het reggemaak om kerk toe te gaan. Elke Sondag in die Vrystaat was baie spesiaal, omdat dit nagmaal was en dominee Pikkewyn vir die diere gepreek het. Die diere het vir Pikkewyn tydens ‘n algemene verkiesing as dominee gekies, omdat hy altyd ‘n swart- en wit manelpak dra wat net soos ‘n toga lyk . Pikkewyn was baie statig – hy het ‘n deftige swart strikdassie gehad en opgevoude moue, wat hom amper soos ‘n regte dominee laat lyk het.

Omdat dit nagmaal was, besluit dominee Pikkwyn daardie Sondag om die erediens onder die groot boom net buite Brandfort in die Vrystaat te hou. Al die diere het van wyd en syd gekom om die diens by te woon en om na dominee Pikkewyn se preek te luister.

“Ek gaan vandag vir julle ‘n demonstrasie gee oor die gevare van soetgoed, alkohol en sigarette,” preek dominee Pikkewyn toe die diere almal hulle sit gekry het. Die slange en akkedisse sit op die grond, die leeus onder die boom, die luiperde in die boom en voëls hoog in die takke.

“Ek gaan vir julle wys dat alkohol en sigarette en te veel soetgoed sleg is vir julle. Ek gaan ‘n klomp wurmpies vat en hulle in alkohol en stroop doop en hulle sigarette laat rook om te wys hoe sleg dit vir julle diere is.” Die diere van die bos skuif almal nuuskierig nader en rek hulle nekke om te sien wat dominee Pikkewyn bedoel met die gevare van soetgoed en drank en sigarette.

Langs dominee Pikkewyn se preekstoel staan ‘n bakkie met erdwurmpies in, amper soos die wurmpies wat vissermanne gebruik om vis mee te vang. Versigtig vat dominee Pikkewyn een van die erdwurmpies aan sy stert en laat hom stadig in die alkohol val. Die wurmpie swem effens rond en drink bietjie van die alkohol wat hom al hoe vinniger laat swem. Toe word die wurmpie moeg en hy swem al hoe stadiger, net sy swembril steek naderhand bokant die rand van die glasie uit.

Net voordat die wurmpie gereedmaak om te sink, hou Dominee Pikkewyn die glasie met alkohol omhoog, sodat al die diere van die bos kon sien. “Kyk nou mooi,” sê dominee Pikkewyn vir die diere, “die wurmpie is poegaai omdat hy die alkohol gedrink het. Dit is ‘n waarskuwing vir julle om nie alkohol te drink nie.’

“Miskien is die erdwurmpie net moeg,” fluister Mys die Muis vir Ollie Olifant wat langs hom sit. Geronkie die Donkie en Mossieman sit ook onder die boom, met ore gespits om vir die dominee en luister.

“Noudat ek vir julle gedemonstreer het hoe gevaarlik alkohol is,” sê dominee Pikkewyn, “gaan ek nou vir julle wys hoe skadelik sigarette en tabak vir julle is. Kyk nou baie mooi!’

Dominee Pikkewyn haal ‘n sigaret uit en gee dit vir die tweede erdwurmpie om te rook. Die tweede wurmpie vat so ‘n paar trekke aan die sigaret wat die dominee vir hom hou en toe begin hy sommer hewig hoes. Binne ‘n paar minute minute borrel die rook by die wurmpie se ore uit. En toe val hy om en daar lê die wurmpie, plat op sy rug.

“Sien julle,” sê die dominee vernaam, “rook is sleg vir julle. Dit maak mense dood.”

“Maar ons is nie mense nie,” fluister Mys die Muis benoud vir Ollie, ‘ons is mos diere.” Ollie snork net en krul sy slurp in die rondte, baie bang dat dominee Pikkewyn hom gaan raaksien en hom ook ‘n sigaret gaan laat rook.

“En nou,” sê dominee Pikkewyn vermanend en hy hou nog ‘n wriemelende wurmpie hoog in die lug op, sodat almal hom kan sien. “Nou gaan ek vir julle wys hoe sleg koeldrank vir jou is. Koeldrank is vol suiker en stroop! Ek gaan die wurmpie in ‘n blikkie stroop doop. Julle gaan sien, sy kierangs gaan braai!”

Die diere van Bloemfontein se bos skuif angstig nader om te sien wat met die derde wurmpie gaan gebeur. Die spanning onder die diere loop hoog en party van hulle kan nie waag om te kyk nie. Geronkie die Donkie maak sy oë met sy groot ore toe, sodat hy nie hoef te sien hoe die noodlot die arme erdwurmpie tref nie.

Stadig laat sak dominee Pikkewyn die laaste wurmpie in die stroop en die diere hou hulle asem op. Die wurmpie swem so bietjie rond, maar die stroop is swaar en hy sink sommer net so weg. Die skare diere sit doodstil, te bang om ‘n oog te knip of om te beweeg.

“Ek dink daai wurmpie is nou stroopsoet,” waag Geronkie versigtig en loer beangs na Mossieman.

Plegtig bestyg dominee Pikkewyn sy kateder en maak stadig sy keel skoon om die nagmaaldiens af te sluit. “Sien julle diere, as julle te veel alkohol drink, en as julle sigarette rook of te veel soetgoed eet, gaan jy dood.” Die diere snak na hul asem en kyk benoud na die dominee. Die laaste ding op aarde wat hulle wil doen, is om nou dood te gaan.

Mys die Muis leun oor na Ollie Olifant se kant toe om in sy oor te fluister.

“Ollie,” sê Muis saggies, “ek dink Dominee Pikkewyn het ‘n groot fout gemaak. Ek dink hy bedoel dat, as as jy rook, en jy drink baie alkohol… en jy eet sommer baie soetgoed, nê, dan gaan jy nooit wurms kry nie.”




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed