Geronkie die Donkie wil nie bad nie
“Geronkie, jou stout donkie, waar is jy?”
Mossieman en Mys loop deur die Vrystaatse bos en roep na Geronkie die Donkie, maar Geronkie is skoonveld.
“Hy kruip weg,” beduie Mossieman vir Mys die Muis wat dapper langs hom stap.
“Hoekom?”
“Hy wil nie bad nie. Geronkie weet dit is tyd vir sy jaarlikse bad, maar hy wil nie bad nie want hy weet die water in die Vrystaat is koud. Nou kruip hy iewers vir ons weg.”
“Ons moet hom kry,” sê Mys die Muis heldhaftig. Hy soek met sy oë deur die bos en fynkam elke boom en struik. Mossieman en Mys soek en soek en loop die hele dag deur die bos, maar hulle kry Geronkie nêrens nie.
‘Julle gaan nie vir Geronkie kry nie,’ skree Bobby Bobbejaan vermakerig vir Mossieman en Mys bo uit sy boom uit. “Hy weet goed julle wil hom bad, hy kruip vir julle weg, julle gaan hom nooit as te nimmer kry nie!”
Nà ure se gesoek is Mossieman en Mys die Muis baie moeg gesoek en hulle gaan sit onder ‘n groot moerbeiboom se skaduwee. Fluks bring Spinnie Spinnekop vir hulle elkeen ‘n creamsoda met ‘n papier-strooitjie om hul dors te les.
“Ons sal ‘n plan moet maak,” dink Mossieman radeloos. “Ons sal vir Geronkie om die bos moet lei en vir hom ‘n lokval stel om hom sy bad te gee.”
“Wat het jy in gedagte?” vra Mys sameswerend.
“Waar is Olie Olifant? Hy moet kom help.”
“Olie Olifant? Wat wil jy met Olie Olifant doen Mossieman?”
“Gaan roep hom net Mys, ek sal later verduidelik. Toe, hardloop.”
Mys spring met ‘n vaart daar weg, op soek na Olie Olifant wat gewoonlik in die digte bosse rustig staan en blare vreet. Mys kom versigtig nader en roep vir Olie. “Mossieman soek jou Olie, jy moet by hom gaan rapporteer.”
“Waarvoor,” vra Olie doodluiters en hou aan om blare van die takke van die bome af te vreet.
“Olie, jy beter gaan. Jy weet as Mossieman jou soek moet jy spring, hy is die baas. Maak gou anders kom jy in die moeilikheid by Mossieman. Toe, roer jou.”
“Maar waaroor gaan dit, Mys? Hoekom is dit so dringend?”
“Jong, ek mag nie uitpraat nie, maar dit het iets met Geronkie se jaarlikse bad te doen. Hy wil alweer nie bad nie en jy moet kom help.”
“Reg so,” sê Olie en hy bêre met sy lang slurp die laaste groen blare in sy kies . “Ek kom.”
Mossieman het ‘n slim plan en hy roep vir Bobby Bobbejaan nader. “Bobby, gaan sê jy vir Geronkie dat Olifant na hom soek.”
“Ek maak so Mossieman,” jil Bobby Bobbejaan van plesier en spring rats die bome in. Bobbejaan is ‘n bok vir sports en hy hou van poetse te bak. Nie te lank nie, of Bobby Bobbejaan kry vir Geronkie die Donkie waar hy agter ‘n bloekombos wegkruip.
“Aha! Nou het ek jou Geronkie!” skree Bobby Bobbejaan opgewonde.
“Hoe het jy my so gou gekry, jou bobbejaan,” vra Geronkie mismoedig en loer benoud om hom rond, bang dat Mossieman naby is en hom gaan dwing om te gaan bad.
“Nee wat, Geronkie, jy kan nie meer wegkruip nie,” lag Bobby Bobbejaan. “Jou ore is te lank en hulle steek agter die bloekomblare uit.”
“Ja, ek weet,” teem Geronkie mismoedig en probeer sy ore skaam verberg. “My ore is te lank, ek weet nie waar om hulle weg te steek nie.”
“Ek moet nou verkas en terugrapporteeer aan Mossieman,” skree Bobbejaan en hy spring weer die bome in. “Onthou om vir Olie Olifant te gaan soek.”
“Ek maak so, Bobby,” sê Geronkie en kom stadig uit sy wegkruipplek uit, “solank Mossieman my nie in die hande kry nie. Ek is bang vir hom, ek wil nie bad nie.”
Uiteindelik kom Olie Olifant by Mossieman aan waar hy rustig op ‘n tak langs die rivier sit en dink.
“Waarmee kan ek help, Mossieman?”
“Ek is bly jy het gekom, Olie. Geronkie is stout en hy wil nie sy jaarlikse bad vat nie. Jy moet ons help.”
“Wat moet ek doen?”
“Maak jou maag vol water met jou lang slurp – drink soveel water as wat jy kan en bêre al daardie water in jou maag.”
“Dit kan ek maklik doen,” sê Olie en stap af rivier toe. Olie drink sy maag knuppeldik vol water en swaai sy slurp heen en weer van pure plesier.
“Reg,” sê Mossieman tevrede toe hy sien dat Olie Olifant se maag vol water is. “Nou moet jy wakker wees, Olie. Geronkie gaan na jou kom soek en as hy naby kom, moet jy hom met jou lang slurp afspuit. Gee hom ‘n lekker stort.”
“Dis maklik, Mossieman, ‘ek het soveel water in my maag dat ek vir Geronkie sommer ‘n papnat stort gaan gee.”
Al die diere van die bos kom nuuskierig nader om te kyk wat gaan gebeur. “Olie! Olie!” hoor hulle Geronkie se stem deur die bos weergalm. “Wàààr is jy?”
“Hierso Geronkie,” bulder Olie Olifant en lig sy slurp hoog in die lug. “Soek jy na my?”
“Olie, Olie, ek soek jou!” Geronkie kom al hoe nader en sien vir Olie raak. “Bobbejaan sê jy het ‘n boodskappie vir my Olie. Hier is ek, wat is die boodskappie?”
Olie Olifant trompet met sy slurp hoog in die lug en kyk vir Geronkie. “Geronkie, staan bietjie so skuins, ek gaan nou vir jou die boodskappie gee.” Voor Geronkie besef wat aangaan, maak Olie Olifant sy slurp vol water en spuit vir Geronkie papnat. Olie het soveel water in sy maag dat hy sommer vir Geronkie tien tien minute lank natspuit.
Uiteindelik hou Olie op en al die diere van die bos lag vir Geronkie waar hy sopnat-druipstert staan, sy ore hang sommer halfmas. Alles is nat, Geronkie se ore, sy vel, sy hare en sy stert.
Toe Geronkie na sy besprinkeling klaar afgedroog het, kyk hy verwytend na Olie Olifant wat weer lustig aan die bome se blare vreet.
“Ag sies Olie, hoekom spuit jy my so papsopnat? Wat is die boodskappie wat jy vir my wil gee?”
“Geronkie, my ou maat” lag Olie Olifant, “die boodskappie is dat jy moet onthou om elke jaar jou bad te vat. Anders sproei ek jou sopnat.”
“Maar Olie” kla Geronkie beteuterd en maak agter sy lang ore droog, “ek bad mos een keer in die somer en bietjie minder in die winter.”
‘n Rukkie later sit Mossieman, Olie Oliefant en Mys die Muis behaaglik en uitspan onder ‘n groot ou Vrystaatse vyeboom, elkeen met ‘n proeseltjie in die poot en baie bly dat die groot werk om vir Geronkie gebad te kry, vir nog ‘n jaar verby is.
Mys die Muis lig sy kelkie om ‘n heildronk op Olie Oliefant in te stel. “Mooi gedaan Olie!”
“Ja, knap gedaan Olie,” beaam Mossieman Mys die Muis se woorde, “jy moet daaraan dink om ‘n stort- en sproeibesigheid te begin.”
“Ek het al klaar Mossieman,” lag Olie Olifant tevrede, “my nuwe besigheid se naam is Papnat Besproeing en ek beplan om al die diere van die Vrystaat een keer ‘n jaar ‘n lekker gratis sopnat stort te gee.”