Jongste aktiwiteit:

Brief uit die Boesmanland (silwer)

Als lyk nog net soos toe jy hier was, blom, die enigste verskil is dat die seisoen weer draai en donker elke dag ‘n bietjie vroeër kom.

Die duin steek steeds sy mooigeit weg vir dié wat wonder hoekom iemand in die Boesmanland wil bly, óók vir hul wat sonder om die afdraaipaadjies te verken, die hoofpad tussen Jozi en die see met oogklappe aan ry.

Op die Roomse Kerk se klein balkon reik Liewe Jesus nog Sy hande hoopvol uit na ons, en op die hange van die berge rondom Pella blink houtkruise in die goue strale van die son.

By Raap en Skraap hang stroopsoet vruggies sonryp aan die dadelpalms, op die weiveld snoep vet dorperskaap aan growwe vleigrashalms.  Die Oranje kronkel tydsaam op sy slangspoor na die wye oseaan, en tussen hier en Aggeneys pendel mynwerkers nog van vroeg tot laat vir hul en hulle mense se bestaan.

Ja, niks het hier verander nie, en tog is dit asof daar ietsie anders aan my elke dag se dinge is.  Miskien is dit omdat die reën wegbly, die hartland bitter droog en  warm is, of heel waarskynlik sommer net omdat ek jóú hier mis.

©️Elize Kruger
12 Februarie 2022




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed