Die aarde — Deur die oë van Digters [Silwer]
Digters het na my mening ‘n uitnemende ‘sinestesie-oog’ vir die deernis en prag van die aarde waarvan hul deel is. In die woorde van die Amerikaanse digter, Emily Dickinson: “O, ongeëwenaarde aarde, ons onderskat die geleentheid om op jou te woon!” As elke mens kan leer om vir ‘n oomblik stil te staan en met, of te wel, deur die oë van ‘n digter na die aarde kyk, sal hul meer bewus word van die kosbaarheid van die aarde wat onder ons rentmeesterskap staan.
Die digter, Eugène Marais, beskryf in sy gedig Winternag, die aardse skoonheid van ‘n hoëveldse winternag, deur gebruik te maak van “subtiele klankskoonheid en metaforiese krag”. Voorts kom Marais se siening oor die natuur, (aarde), baie sterk na vore uit sy gedigte oor die Boesmans waarin hy aantoon dat daar ast’ware ‘n hegte band tussen die mens en natuur, (aarde), is, en dat die primitiewe mens hul nie gedistansieer het van dit wat eg aards is nie. Bykans al Marais se gedigte spreek van die natuur se prag en skoonheid.
Verder kom sy siening oor die natuur dan ook duidelik na vore uit sy bekende gedig ‘Die dans van die reën’, waar hy die reën deur middel van personifikasie as ’n vroulike danseres voorstel, wat die natuur tot ‘n groot dans oproep. “Die dansmotief bring samehang in die gedig, wat ‘n gevoel van viering en onderlinge verbondenheid binne die natuurlike wêreld oproep. Die beelde wat Marais in die gedig gebruik asook die ritmiese trant waarin dit geskryf is, laat die klem val op die unieke skoonheid en diversiteit van die Afrika se pragtige landskap.”
Dan was daar die digter C.L. Leipoldt wat gejubel het oor die prag en skoonheid van die aarde. Dít kom veral na vore uit sy gedig ‘Oktobermaand’, waarin hy hom vereenselwig met koggelmandertjies, goggatjies, die miertjies, ens. In ’n Hand vol gruis uit die Hantam, raak hy weer digterlik oor die “geil lusern in die laagste landjie”, en ruik die “keurbos” oral om hom. Aardse dinge soos ’n geil lusernlandjie in die laagte en ‘viooltjies in die voorhuis’ was vir hom die “beste dinge.”
Elizabeth Eybers weer raak liries oor die Sonneblom in een van haar gedigte en ook die fluit van die Piet-my-vrou in ’n ander.
Jan F.E. Cilliers (1865 – 1940) spreek weer sy siening, na my mening, oor die aarde uit in sy lang gedig ‘Die vlakte’, waarin hy soos volg begin:
“Ek slaap in die rus van die eeue gesus,
ongesien, ongehoord,
en dof en loom in my sonnedroom,
ongewek, ongestoord.
Tot die yl-bloue bande van die ver-verre rande
skuif my breedte uit,
wyd-kringend aan die puur al-omwelwend asuur,
wat my swyend omsluit.
Jong aarde se stoot het my boesem ontbloot
bo die diep van die meer;
en volswanger van lewe oor waat’re geswewe
die gees van die Heer.
Uit die woelende nag van haar jeugdige krag
brag die aarde voort … ”
Dit is nou bykans 85 jaar later en ek voel genoop om, as digter wat besorgd is oor die aarde, my hoof in skaamte te sak in my volgende Fragment-Pastiche: ‘Elegie’, aan Cilliers:
Elegie
my droom verdof in die stof
geblus my rus ontstellend onrusbarend
uitgestrek uitgerek verstoord
oor my breedte uitgeskuif
berge rommel plastiek saai paniek
afgeskuif op my bodem frommel
stootskrapers rommel oor my boesem
skeur kettingsae in flarde my binneste
afval uit die onheilsdal het in my skoot geval
geslagte en geslagte geweldadige magte
stortreën kernafval in die sloot van my skoot
sus vrees onrus oor wat my lot sal wees …
Die digter T.T. Cloete, wys weer in sy gedig God: die digter, daarop dat:
“daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die môremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur ‘n digter gemaak.” (Driepas, 1989).
Die liedjieskrywer, Pieter van der Lugt, spreek weer sy kommer uit oor die ekologiese toestand van die aarde onder die titel ‘Nuwe aarde’.
Die talentvolle kunstenaar, Nataniël sing sy Liedjie getiteld ‘Sy is al wat ons het’.
“Moeder aarde draai haar om uit die son se ergste brand
En sy droom van digte woude en haar oë waai vol sand
Sy soek na haar kinders maar hul dans nou met musiek
langs duisend vuil riviere en berge van plastiek.”
Wat ’n riller boodskap is hierdie een van Nataniël nie?
Om metafories-mooi oor die aarde te dink, dig en skryf moet digters met ‘sinestesie-oë’ die aarde getrou bly.
Is jy getrou aan die aarde?
—————————————–oo00oo———————————-
©Pieter Mostert
[Woordtelling = 782 ]
Bibliografie
- Eybers, Elizaheth. Rymdwang. 1987. Kaapstad: Human & Rousseau.
- Marais Eugène N. 1959. Dwaalstories. Kaapstad: Human & Rousseau.
- Louw, N.P. van Wyk. 1981. Versamede gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.<
- Opperman, D. J. 1974. Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
- Sewall, Richard B. 1974. The life of Emily Dickinson (Deel I). London: Faber & Faber.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir April 2025 – AARDE projek