Jongste aktiwiteit:

Die beste medisyne!

Die beste medisyne!

Volgens navorsers is ʼn goeie lagbui nie net goed om die stres te verlig nie, maar kan dit jou immuniteit ʼn goeie hupstoot gee en jou pyne ligter maak. Dit laat my dink aan Salomo wat vreugde aanbeveel in die Bybel.

“Ek het vreugde aanbeveel: daar is niks beter vir die mens in hierdie wêreld nie as dat hy eet en drink en vrolik is onder al sy geswoeg.” Prediker 8:15.

Elsabé Aldrich sê in haar boek, “Vonkelkyk op die lewe”: ‘Humor is soos ʼn gewilde, duur velroom. Jy vermoed dit doen nie alles wat dit belowe nie, maar jy voel beter as jy dit gereeld aanwend.”

Ek dink met ʼn giggel terug aan die ATKV se Pluimpie toekenningsaand waar daar so ʼn insident plaasgevind het wat die skare behoorlik laat skaterlag het.

Die betrokke aand was ʼn spesiale aand, want dit was ook die 21 ste bestaansjaar van die ATKV in Namibië. Hennie Smit het die skare behoorlik aan die lag gehad met sy grappe. Eers is die Donsies uitgedeel en toe die Pluimpies waarna dit tyd was vir die Veertjie-toekennings.

Estelle en Mias word uitgeroep na die verhoog om hulle prys in ontvangs te neem vir hulle digbundel: Opgeefsels. Estelle was fyn uitgevat in die allermooiste enkellengte gehekelde romp. Estelle voel dadelik iets is nie so heel pluis met haar treë wat sy gee nie. Sy hou vas aan Mias se arm waar hulle die trappies bereik wat na die verhoog lei. Dit voel vir haar of “iets” haar enkels vashou sodat sy nie lekker kan loop nie.

Sy hang aan Mias se arm en fluister benoud: “Wag vir my ek kan nie loop nie”!

Met ʼn ferm hand vat Mias haar en makeer die pas met ʼn vaste tred. By die eerste trappie kry sy nie die een voet voor die ander gelig nie. Sy kyk af na haar enkels en gewaar haar sygladde onderrok mooi om haar enkels gedrapeer. Teen die tyd is almal se oë vasgenael op haar voete met die lagie satyn.

Net vir ʼn split sekonde kyk sy verleë af. Met een galante beweging buig sy af, raap die sondebok op, hou hom in die lug en gooi hom met ʼn mooi swaaibeweging deur die lug.

Vir ʼn oomblik hou almal hulle asems op en volg die onderrok toe dit op die niksvermoedende Hennie se klawerbord beland. Haar vrolike lag verbreek die ysige stilte en toe bars daar ʼn vrolike skaterlag uit. Soos een man staan almal op en klap vir haar hande.

Die mens kan soms so ernstig deur die lewe gaan. Dit is hierdie spontane gebeurtenisse wat kleur en geur gee aan die lewe. Omarm die humor in jou lewe.

©Marlene Erasmus
28/04/2022

(442 woorde)




3 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed