Die Kampioen
Die Atleet
‘n Nuwe leerling in die groot skool was nie sommer raakgesien
en tog het hierdie vreemde kind spesiale aandag verdien.
Lenig en lank was hy, ja eintlik bietjie maer,
en aan sy groen skoolklere kon jy sien finansieel gaan dit maar swaar.
Saggies word daar gefluister, gelag, selfs hier en daar gespot,
en hul wat wel die seun wil groet vind hom geweldig bot.
Onbekend maak onbemind, en dit was die geval gewees
met die nuweling wat skynbaar alle geselskap vrees.
Die Saterdag is dit Interhoër, en almal moet daar wees.
“Mag ek ook hardloop?”, kom vra die lang maer seun bedees.
“Kort- of langafstand?” vra die oorblufte onderwyser hom.
“Hoe verder hoe beter” sê hy, en toe is hy weer stom.
Toe die drieduisend meter moet begin, kom staan hy op die baan.
Kaalvoet en met verrinneweerde skoolklere, kom kry die man sy staan.
Gou stap die onderwyser nader: “Doen net wat daai seun doen”
sê hy en wys na die atleet voor hom, “hy is die SA kampioen.”
Met die wegspring gly en struikel hy, maar hou wel sy balans.
Heel agter hardloop hy, en as hy wil verbygaan, gee niemand hom ‘n kans.
Stelselmatig sprei die groep egter al verder en langer uit,
spoedig is dit duidelik sy swak begin sal nie sy resies stuit.
Een vir een, man vir man, gaan hy by hul verby,
maar niemand neem notisie van die momentum wat hy kry.
Eers in die vierde rondte word sy vordering gemerk
toe die vyfde atleet van voor sy verbygaan wil beperk.
Hier op die paviljoene word nou naarstigtelik gesoek
na iemand wat weet op wat se naam hul hom moet roep.
“Ek dink sy naam is Petrus”, sê een ou meisie skaam,
toe nog een dit bevestig ken almal gou sy naam.
Toe net twee rondtes oorbly, is hul atleet ook nommer twee
en elke liewe leerling leer daai dag hoe om te skree.
Tussen die twee atlete is omtrent so sestig meter,
maar die afstand word stadig… stadig… kleiner, van dit is almal seker.
Die kampioen raak bewus van die skare se rumoer
hul opgewondenheid laat hom gou-gou oor sy skouer loer.
Die kaalvoet seun het opgevang, maar tussen hul is twintig meter.
‘n Ander sou dalk rustig wees, maar die kampioen weet van beter.
Die ‘laaste rondte’ klok se beier is die teken wat die kampioen laat lostrek,
maar hy’s salig onbewus daarvan dat die kaalvoet seun ook sy treë langer rek.
Met die om-die–draai se skouer loer is net tien tree die verskil
met beide atlete se Leerders wat luidkeels vir hul atlete gil.
Twee honderd meter bly daar oor toe hy langs die kampioen inskuif,
om die draai hardloop hul, deur die skare tot groter spoed gedryf.
Kop aan kop om die draai, niemand kan onderskei wie is voor,
die senuwees is opgevreet, daar bly maar tagtig meter oor!
Die skare is op hul voete, hul oë is vasgenael,
wie van die twee atlete gaan eerste die wenstreep haal?
Die arms pomp, die bene rek, gesigte stram getrek,
niks anders trek nou hul aandag nie, dis vir die wen wat hulle werk.
Diep asemteug, lang treë nog verder gerek,
stadig maar seker begin die een die ander verby trek,
en toe die lint gebreek word deur die seun geklee in groen
toe skreeu die skool verbete, want hy’s hul nuwe kampioen!
deur Stephan Uys
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.