Jongste aktiwiteit:

Koos in die Kruger Park

Koos in die Kruger Park, deur Stephan Uys
So ‘n jaar of wat gelede gaan Koos en sy vrou met hul kroos Kruger Wildtuin toe vir ‘n vakansie. Koos boer in die Vrystaat, en hy is ‘n bul van ‘n man. Hy het vroeërjare proewe vir die Bulle gespeel, maar in ‘n wedstryd teen die Sharks het hy sy enkel se ligamente geskeur en sy aandag daarna op die boerdery gefokus. Dou voor dag, net voor oopmaaktyd, stop die gesin voor die hekke. Daar is net twee voertuie voor hulle. Koos wil net begin humeurig word omdat niemand die hekke oopmaak nie, toe hulle oopswaai. “Kerels, julle is 20 sekondes laat” trap Koos die manne uit toe hy deur die hekke ry. Almal voor hulle is buitelanders met voorafbetaalde toergelde, en die inteken gaan vinnig… totdat Koos voor die ontvangsdametjie te staan kom. Nou moet ek eers verduidelik. Koos is nie suinig nie, maar elke rand is gelyk aan X aantal mieliekoppe; en as jy van geld praat, tel Koos die rye mielies. Deesdae kos dit mos ‘n arm en ‘n been alvorens jy die Kruger heiligdom kan betreë. Koos is heeltemal onvoorbereid toe Precious, dis die ontvangsdametjie agter die toonbank se naam, vir hom die bedrag aandui wat hy dan nou moet betaal. Hy kan homself nie indink dat so ‘n groot lap mielies net een dag in die Kruger Park betaal nie. Hy praat stadiger en verduidelik toe mooi vir haar sy verstaan hom verkeerd, hy is nie daar om aandele te koop in die reservaat nie. Effe op haar perdjie vertel Preciuos vir Koos dit is wat toegang tot die reservaat kos. ‘n Lig gaan vir Koos op en hy sê vir haar sy verstaan skynbaar steeds verkeerd, hulle kom nie vir die week kuier nie. Hulle is daar as dagbesoekers, en hy sal weer net voor toemaaktyd by die hek wees, al het hulle 20 sekondes van sy dag gesteel. Teen die tyd is Precious se koffiemoer goed geperkuleer as gevolg van die groot boer wat met haar wil kostes beredeneer, terwyl die tou agter hom al langer rek. Sy verduidelik toe in geen onseker terme vir Koos dat die gegewe prys die regte prys is, tensy hy nie kan bewys lewer van sy Suid Afrikaanse burgerskap nie. In daardie geval sal die kostes radikaal verhoog, en sy noem die Internasionale fooi. Koos sien in sy gees die lappe landerye wat die arme buitelanders moet betaal en in diepe dankbaarheid vir sy burgerskap offer hy toe maar gedwee die gekwoteerde hoeveelheid op. Die dame gee vir hom ‘n paar dokumente en ander parafernalia, en Koos gryp dit haastig voor sy nog kan prys maak op dit.
Skaars deur die hekke toe moet Liefie ‘n koppie boeretroos skink vir versterking. Koos se enjin word gesmeer met koffie en Liefie moet gereeld optop. Dit is ‘n mooi oggend en die diere is lus vir mense kyk. Elke paar meter moet Koos stop vir die een of ander lewende wese, al is dit nou ook net ‘n miskruier wat met sy hopie die pad kruis. Reeds vroeg sien hulle ‘n paar witrenosters, en kort daarna kom hulle op ‘n groot trop buffels af. Koos het sy biltongmessie uit en so in die ry kerf hy van sy selfgemaakte biltong. Die biltong en ryery maak ‘n man dors, en dis weer tyd vir Liefie om die enjin te olie met bietjie boeretroos. Skukuza lê wyd en die kinders begin kla dat hulle honger is. Liefie deel kaaskrulle uit en Koos sny biltong vir die spruite. By ‘n T-aansluiting kies Koos om die paadjie na regs te neem, ‘n keuse waaroor hy later baie spyt sal wees. Die pad loop so af met ‘n helling, draai teen die rivier en vat dan koers na ‘n uitkykpunt bo-op ‘n koppie. Daar waar die pad by die rivier draai kry hulle leeus, en sommer baie van hulle. Koos tel gou-gou en sien daar kan maklik ‘n senior en junior rugbyspan gevorm word met die getalle teenwoordig. Koos kry so ‘n heimwee in sy hart. Hy sou so graag teen die Leeus wou uitdraf vir ‘n wedstryd. Dit is nou die Leeus daar van Johannesburg af, nie daardies met die wit truie en witter velle van die groterige eiland nie. Ai, as dinge maar net anders was, dink hy met heimwee terwyl sy oë so oor die leeus gly. Die leeus het ‘n koedoe platgetrek en is besig om doodseker te maak geen jakkals of aasvoël gaan iets verniet kom eet nie. ‘n Paar van die mannetjies lê pote in die lug terwyl die wyfies seker maak die welpies speel mooi met dit wat oorgebly het van die bok. Na ‘n halfuur se gesit en enjin olie optop saam met biltong en kaaskrulle, word die motor aangeskakel. Koos wil net die voertuig in rat sit toe ‘n olifant tussen die leeus instorm met ‘n hengse trompetter! Jy sien net leeus spat, dit is net geel strepe in alle rigtings! So met die heen en weer storm tussen die leeus sien die olifantbul Koos se nuwe “sevenseater” raak. Die bul, wat nou so skuins agter die kar staan, gaan staan stil en beloer die gedrog vir ‘n oomblik, so al asof hy besluit of dit die moeitewerd is om te storm of nie. Juis op die kritieke punt van besluitneming skop die motor se elektriese waaier in. In die doodse stilte waar olifant en mens na mekaar staar, is die waaier se gedreun so oorverdowend soos donderweer teen die klipkoppie agter die plaashuis. Die olifant gee ‘n harde trompetter en storm met wapperende ore op Koos en die sevenseater af. Koos gaan onmiddelik oor in aksie. Sy voet los die rem, en hy trap die versneller in dat hy eintlik ‘n duik in die vloerpan trap! Die enjin brul soos een van netnou se leeus en… niks gebeur nie! Jy sien Koos ry op die plaas ‘n 2,2L Ford Ranger, die automatiese model. In sy haas vergeet Koos dat hy nou in ‘n handrat motor is. Koos trap die koppelaar dat daar nog ‘n duik in die vloerpan is, gooi die kar in eersterat en los die koppelaar terwyl hy die versneller diep wegtrap. In die tussentyd is Liefie besig om haar jongste twee spruite uit hul stoeltjies te pluk en teen haar moederlike bors vas te druk terwyl sy histeries op ‘n groter Krag as Koos om hulp roep. Die olifant het intussen goeie veld gewen en is net ‘n meter of wat weg, toe daardie sevenseater soos NASA se Challenger van ouds uit die blokke wegspring. Koos druk die toere in die rooi voor hy na tweede oorskakel, maar eers in derde rat begin die olifant kleiner te word in die truspieëltjie. Koos en kie ry in stilte die hoogte uit en stop by die uitkykpos. Koos kyk na Liefie, en Liefie kyk na Koos. “Close!” sê Koos. “Too close” sê Liefie, en dan ontlaai die spanning terwyl almal lag en hul eie interpretasie gee van wat sopas gebeur het. Na so ‘n ruk bedaar almal. Koos kommandeer Liefie vir ‘n versterkinkie. Hy het egter dalk sy tenk bietjies te vol gemaak en sê hy gaan gou olie aftap. Liefie waarsku nog teen tiere en goete, maar Koos lag net en gaan soek ‘n boom om sy merk teen te maak.
Intussen het Kees ook by die uitkykpos opgedaag. Hy kry gereeld hier kos van toeriste, en net soos Koos se telge voel hy ook effe dun om die middel. Hy wip kordaat tot bo-op die oopgedraaide vensterbank waar Koos se groot voorarm altyd op rus, en glimlag breed vir Liefie. Liefie is glad nie Kees se taal magtig nie en verstaan sy tande uitpak as ‘n teken van agressie. Toe die groot bobbejaan nog by die kar inklim om te kom vriende maak met die mooi vrou op die voorste sitplek, begin Liefie weereens om hulp te roep. Hierdie keer roep sy darem na Koos. Koos is nog besig om die droogte se rug te knak toe Liefie se stem sy bloed laat stol en sy water laat opdroog! Teen die tyd dat hy sy gereedskap weggepak het, is hy al amper by die kar se deur. Koos weet nie veel van Bobbejane af nie, maar hy weet hulle is gevaarlik en sterk. Toe Koos aan die deur wil vat begin die bobbejaan daarbinne ‘n riel te dans op die sitplek. Koos staan terug en Kees bedaar en gee weer vir Liefie ‘n gerusstellende glimlag wat haar maag laat draai. Koos stap versigtig tot langs die venster en sê vir Liefie met ‘n rustige stem sy moet die kos by die venster uitgooi, dan sal die bobbejaan ook uitspring. Met bewende hande lig Liefie die deksel van die mandjie met peuselgoed op. Sy druk haar hand in en vat so ‘n paar goed in haar vuis vas. Kees weet ook dat hy nou iets te ete gaan kry, en hy help graag deur die eetgoed uit Liefie se hande te gryp. Wat nie Liefie, Kees of Koos sien nie, is dat Liefie so ‘n halfmeter se swart drop ook uit die sak uittrek. Dit is vir hierdie swart “slang” wat Kees toe nou vooroor buk om uit Liefie se hande te gryp. Kees sien die “swart mamba” net te laat. Sy maag gee ‘n draai en dan maak sy knypers wawyd oop! Intussen het Koos tot teen aan die venster beweeg. Met die vooroor leen om die kos te kry is Kees se visier sekuur op die venster gerig, en toe die knypers losskiet, skiet hy vir Koos reg teen die bors. Koos steier terug asof hy deur ‘n 303 geskiet is, struikel oor sy eie voete, en val sy wind uit op die grond. Kees voel ook baie beter nadat hy van die “slang” en die laaste bietjie kos in sy maag ontslae geraak het. Hy spring by die venster uit en vat die pad, reguit kranse toe. Liefie sit en bewe asof sy in die inloopyskas vasgesit het vir twee dae. Eers toe sy vir Koos hoor steun en kreun klim sy uit en stap na waar hy stadig tot verhaal kom. Selfs in haar half histeriese toestand wil sy net uitbars van die lag. Koos was al kniediep in dit gewees, maar nou is hy sowaar tot by sy bors in daardie goed wat miskruiers so ywerig rondstoot. Sy byt op haar lippe, want sy kan sien Koos is nou moeilik. Hy skeur sy knooplose hemp oop en trek hom uit asof hy bang is die goed kry lewe as dit beweeg. Hoewel die vaste stowwe saam met die hemp op die grond beland, het Koos nog heelwat van die bobbejaan se welriekende vloeistof aan hom. Liefie gaan haal die boeretroos en begin vir Koos met ‘n babadoek en koffie af te was. Na ‘n halfuur of so se gewas ruik Koos meer na koffie as na Kees, en hy maak versigtig die deur oop. Hy kyk verstom na Liefie. Die bobbejaan het sowaar as wraggies sy skoot sekuur deur die venster gestuur. Die kar is onbeskadig. Koos klim in en vat die pad na Skukuza. Dit is eers toe Skukuza in die voorruit verskyn dat Liefie ewe onskuldig vra: “Kosie, vir hoeveel miskruiers het daardie bobbejaan vandag werk gegee?”
Koos het homself daar in die badkamers gaan reinig, ‘n nuwe hemp gekoop (soveel mieliekoppe het hy skaars aan sy troupak gespandeer) en toe gaan eet die gesin ‘n stewige brunch. Na ete word daar bietjie rondgeloer en wild gekyk rondom die kamp, maar teen half twaalf verdwyn Skukuza in die truspieëltjie. Skaars buite die hekke moet Liefie weer begin om Koos se olievlakke hoog te hou. Hulle het vars koffie gekry, en ‘n nuwe pak biltong is uitgehaal. Die diere het blykbaar genoeg van die mense gehad, want buiten vir ‘n kameelperd of twee sien hulle net rooibokke. Teen twee uur is die koffiefles leeg en Koos se blaas so vol dat as hy rondskuif jy water hoor klots. Koos soek ‘n stilhouplek naby ‘n groot boom waaragter hy kan gaan staan. Nadat hy gestop het maak hy seker al die vensters is toe, hy wil nie weer met ‘n bobbejaan probleem sit nie! Koos stap agter die boom in en reg in ‘n groot maanhaar se drome in. Wie die grootste geskrik het, is nog nie seker nie, maar beide die leeu en Koos skrik hulle water skoon weg. Koos draai om en begin hol vir die sevenseater asof die hele Transvaalse rugbyspan agter hom aan is. Die leeu sien Koos as ‘n ligte verversing tussen etes en met drie spronge is hy by Koos. Toe die leeu spring vang Koos se voet ‘n boomwortel wat uitsteek, en hy val neer dat sy tande handeklap. Met die vallery spring leeu se kind bo-oor sy kop. Koos kom eerste regop en kies kortpad kar toe, en die kortste pad is reg oor die groot geel kat wat nog verdwaas op die grond hurksit. Koos reken hy gaan op die leeu se blad vastrap en hom dan ast ware vandaar af “launch”, soos die Engelsmanne sal sê. Wat Koos egter nie op gereken het nie, is daardie leeu se stert!
Koos trap met sy linkervoet vas sodat hy met sy regtervoet op die leeu se blad kan vastrap. Sy groot nommer twaalf waterloper trap egter die leeu se stert so diep in die grond in vas dat die leeu nie kan opstaan nie. Twee dinge gebeur nou amper tegelyk. Die pyn skiet deur die leeu se brein en hy probeer wegspring, maar hy kan nie. Die leeu kap-kap met sy voorpote in die lug terwyl hy so amper regop gaan staan. Koos is terselfdertyd besig om deur die lug te trek, sy regtervoet uitgestrek om op die leeu se blad vas te trap. Met die dat die leeu toe regop spring, beland Koos wydsbeen oor die geel gevaarte se rug. In een beweging gryp Koos daardie leeu se welige boskaas met sy groot piesangtroshande vas en vou sy bene styf om die leeu se lyf. Koos se gewig en momentum ruk die leeu se stert los uit die grond. Toe leeu se kind grondvat, sit Koos op sy rug soos ‘n wafferse cowboy. Koos por die leeu so bietjie in die lieste, en toe vat hulle saam koers die bosse in. Liefie en die kinders sien hoe Koos, met sy bene styf om die leeu se ribbes gevou, vir dood en lewe vasklou terwyl hy en die leeu in die bosse in verdwyn.
Liefie sug. “Die Koos tog, hy kan die mees onbesonne dinge aanvang!” Sy skuif verergd oor na die bestuurderskant en is bly om te sien Koos het darem die sleutels binne gelos. Sy skakel aan en begin stadig na die hek se kant toe ry, want oor ‘n paar uur sluit die hekke dan moet hulle uit wees.
So tien minute voor die hekke sluit stop Liefie en die kroos by die hekke en vra die wagte of Koos al daar is. Niemand weet van niks en sy moet eers vertel wat gebeur het. Sy is nog nie eers klaar gepraat nie, toe bestyg die manne hul radios soos bye ‘n bak suikerwater bestyg. Binne vyf minute is daar drie soekgeselskappe uit om Koos se beendere te probeer opspoor. Liefie het intussen deur die hekke gery. Heel kalm probeer sy vir hulle verduidelik Koos sal by die hek wees voor toemaaktyd. Hy haat dit om laat te wees, en boonop gaan hy nie nog soveel mielies afstaan aan Kruger se koffers deur laat te wees nie. Die horlosie tik stadig verby en Precious, die dame van vanoggend, bring vir die gesin koffie – “on the house” seg sy toe Liefie wil betaal. Met so veertig sekondes oor op die klok jy net bosse kraak. Dan hoor Liefie hoe haar Koos sy leeu aanjaag tot groter spoed. Sy kyk op haar horlosie en sien dit is haas tyd dat die hekke sluit. Met nog sewe sekondes oor kom Koos met die leeu onder hom op die hek afgepeil. Hy pluk daai leeu se kop amper van sy lyf af toe hy by die hek kom. Die leeu kap met sy voorpote in die lug toe Koos hom so terugtrek aan sy ore. “Daar’s hy, manne. Gee hom so bietjie water asseblief”, sê Koos vir die twee vaal geskrikte amptenare by die hek terwyl hy ewe kalm van die leeu se rug afseil en die hek agter hom toetrek. “Leeury maak mens dors Liefie, hoe lyk dit met ‘n drinkdingetjie?” vra Koos vir Liefie terwyl hy agter die stuurwiel inskuif.




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed