Jongste aktiwiteit:

Die man met die ligblou oe – Deel 6

Die man met die ligbou oë – Deel 6

Susan de Kok sit in die vroeë oggendure in die klein sitkamertjie van die geheime woonstelletjie. Sy het reeds opgelet dat daar iemand buite die woonstel is, die persoon se skaduwee was onder die voordeur sigbaar. Toe sy deur die loergaatjie kyk, kon sy in die 180 grade beeld ‘n vuurwapen in die persoon se hand sien. Sy het vroeër die gordyne toegetrek en die bedliggie in die kamer aangelos, maar sy het op die stoel in ‘n doenker hoek van die sitkamer kom sit, gereed vir die aanvalsoomblik. Sy weet hulle sal enige oomblik kom, die nag is besig om in dag te verander en die skaduwees buite raak al hoe ligter.

Weer sien Susan die skaduwee onder die deur, sy sien hoe die deurhandvatsel draai en vassteek. Sy hoor hoe die inbreker die slot probeer bewerk met ‘n loper of ander slotgereedskap, maar sy is gereed. Versigtig om nie ‘n lawaai te maak nie, stap sy op sagte rubbersool skoene na die kombuis en maak die deur half toe agter haar. Die oorgehaalde .32 kaliber met die knaldemper is in haar regterhand, linkerhand op die deur se handvatsel. Die voordeur se slot spring met ‘n sagte klikgeluid oop. Die deur gaan stadig oop en die aanvaller se uitgestrekde hand met ‘n 9mm pistool daarin, word sigbaar. Susan sien hoe die persoon stadig vorentoe beweeg. Sy sien die arm en die gemaskerde gesig van waar sy in die donker kombuisie agter die deur skuil. Toe die persoon al amper verby die deur is maak Susan die deur effens groter oop, lig haar wapen skouerhoogte en skiet die inbreker reg agter die linkeroor direk in die kop. Die inbreker sak met ‘n sug inmekaar. Susan gryp die aanvaller se wapen voordat dit op die vloer neer kletter terwyl sy die voordeur sag toemaak met haar voet. Sy stap vinnig na die sitkamer.

Elke beweging is gekonsentreer, elke sintuig tot die uiterste ingespan. Sy het vroeër ‘n skutter op die dak van die gebou oorkant die straat gewaar. Sy loer deur die gaping tussen die gordyn en die muur. Die skutter lê nog steeds in dieselfde posisie. Susan is amper verbaas dat die man so lank so stil kan lê. Skielik verskyn ‘n gesig met ‘n wilde baard voor haar. Sy steier agteroor van skrik. Instinktief swaai die .32 op, altwee hande op die pistoolgreep, maar tot haar verbasing kry die vreemdeling op die balkon ‘n snaakse kyk in sy gesig, sy oë rol agtertoe in sy kop en hy sak stadig af op sy knieë. Sy gesig word vervang deur die bekende gesig van ‘n geheime agent. Die man knipoog vir Susan, trek sy dolk uit die terroris se nek en verdwyn geruisloos by die brandtrap af. Susan sug van verligting, maar hoor ‘n ligte klop aan die voordeur. Met die .32 agter haar vasgeklem maak sy die deur versigtig oop. Die Kolonel groet vriendelik en glimlag vir haar. “Alles is in orde De Kok, jy kan maar ontspan” verduidelik hy in sy rasperstem. Susan druk die .32 agter in haar broek en maak die deur toe agter hulle. “Die skerpskutter…?” vra sy en beduie na die venster. “Laas nag reeds afgehandel, maar ons het hom gelos om sy makkers te flous. Die mense was so self-verseker hulle het nie eens kommunikasie met mekaar gehad nie. Gedink hulle kom ‘n gewone vrou van die gras af maak” verduidelik die Kolonel en loer na Susan, wat nie die opmerking mis nie.

“…en die operasie?” vra Susan. “Afgehandel, teiken is gevang danksy Daniel en die span. Hussein Alli se terreurveldtogte is iets van die verlede. Hy sal vir die res van sy lewe baie alleen in ‘n onbekende plek bly” antwoord die Kolonel met ‘n sluwe kyk in sy oë. Susan de Kok glimlag breed en tel haar selfoon op. Sy skakel ‘n nommer en toe daar iemand antwoord sê sy eenvoudig, “De Kok, ons wil ‘n tafel vir 3 bespreek asseblief, maar een is op sy foon op die dak” en sy skakel die foon af. Sy weet dat die skoonmaak span sal weet wat sy bedoel en dat daar teen 9 uur geen teken van enige bloed of geweld hier sal wees nie. “Dankie Kolonel, maar ek is ook maar net ‘n gewone vrou” antwoord sy die Kolonel se opmerking in ‘n sagter stemtoon. “Allermins, De Kok, allermins” glimlag die Kolonel terwyl hulle in di egang af stap na die hysbakke.
***
Teen 11h00 is almal weer terug in die Opskamers. Daniel en die span het reeds hul wapens terugbesorg en al hulnodige dokumentasie onderteken wat bewys dat hul net wapens op ‘n skietbaan gevuur het en die vorige aand in ‘n hotel in die stad gekuier het, indien enigeen sou vrae vra.

“Missie 100% afgehandel, Hussein Alli word tans na ‘n onbekende bestemming oorgeplaas en julle het nog nooit van hom gehoor nie. Die wapen verkopers is almal dood en diegene wat by die woonstel agent De Kok wou leed aandoen, is ook almal uitgewis. Alli se trawante in Botswana asook enige bewyse van hul teenwoordigheid is ook 100% uitgewis,” begin die Kolonel die terugvoer sessie. Hy aarsel en kyk na Daniel. Daniel knik en die Kolonel gaan voort, “Die smokkelaars in Vryburg is net buite die dorp vasgekeer, al die wapens is gekonfiskeer en belangrike inligting is reeds uit die oorlewendes gekry. Daar word tans ‘n taakmag aangestel om hul politieke medewerkers in die Republiek te ondersoek. Hierdie legger word met dit aan ons kant gesluit. Dit word nou ‘n taak vir NI en die Valke”. Met dit draai die Kolonel na die operasie kantoor en begin sag op sy selfoon praat. Die gesprek is verby, die agente weet hulle kan verdaag.

Soos die agente na hul onderskeie voertuie beweeg herinner Daniel hulle aan die gebruiklike kuier na ‘n operasie. “Vannaand, 11h00 by Bernie’s, eerste rondte is op my!” roep hy uit en sien die duime in die lug van al die spanlede. “Bring vriende!” roep hy en las by, “Ek gaan…!” en hiermee word daar ‘n skerp wolwefluit gehoor en iemand blaas ‘n toeter.
***
Susan hoor die sleutel in die deur en weet instinktief dis Daniel. Net sy en Daniel het sleutels vir die woonstel. Sy sien die deur oopgaan en word dadelik vasgevang in sy ligblou oë. Hy hou haar styf vas en soen haar herhaaldelik in die nek. Vir ‘n lang ruk staan hulle in ‘n omhelsing vasgeklou, te bang om te laat gaan, bang die oomblik sal verbrokkel. Na ‘n ruk, wat voel soos ‘n ewigheid in ‘n sekonde vasgevang, gly Daniel sy hande oor haar skouers, neem haar gesig in sy sterk bakhande en soen haar lank en innig op haar mond. “Hallo Pragtig”, sê hy sag en glimlag, “as ek nie nou gaan stort nie gaan ek iets oorkom”. Susan glimlag en laat hom gaan, dankbaar dat hy weer by haar is.

Daniel stap die kamer binne, begin die sweterige, stowwerige swart klere van sy lyf afstroop en stap die badkamer binne. Hy draai die stort se krane wyd oop en staan kop-onderstebo in die skerp waterstrale. Hy voel hoe die stof en spanning van hom afwas. Die gebeure van die laaste 24 uur speel volspoed in flitse deur sy kop, maar sy gedagtes word onderbreek.

Susan se sagte hande streel oor sy rug en dan voel hy haar naakte kyf teen hom druk en haar arms om sy middel. Stadig draai hy in haar omhelsing en vou sy arms om haar. Sonder ‘n woord lê sy haar kop teen sy bors en voel hoe hy haar op haar kop soen. Susan was nog nooit so gelukkig nie. Sy druk vir Daniel stywer vas en voel hoe sy manlikheid teen haar maag druk. Sy glimlag en kyk stip in die pragtige ligblou oë terwyls sy sjampoe in sy hare smeer. Saggie soen sy sy wang en fluister dan in sy oor “Nou-nou my lief, nou-nou, eers moet jy skoon kom en dan…”, maar sy kry nie meer woorde uit nie want Daniel spoel sy hare met een hand af en trek haar styf teen hom met die ander. “Ja…” sug Susan en hou hom stywer vas terwyl die water oor hulle spuit.
***
Teen 22h00 ontmoet almal weer by Bernie’s, ‘n uithangplek vir die agente waar niemand omgee wie jy is of vrae oor jou werk vra nie. Daniel en Susan sit alreeds by een van die ronde tafels, drankies staan in glase en bottels die hele tafel vol. Die manne groet met verskeie handgebare en Daniel stel vir Susan aan die span voor. “Susan, dis nou almal, en almal, dit is Susan, Susan Pienaar, en dit…” sê Daniel terwyl hy ‘n pragtige rooikop dame aan die hand nader trek, “…is Susan de Kok. Die bose geeste het heeltyd gedink sy was jy, maar intussen was dit ‘n lokval wat ons vir hulle gestel het, ver van waar jy was, onder die beskermende oë van die Kolonel, maar genoeg hiervan, kom julle, kry ‘n dop, laat ons nie tyd mors nie, die lewe is te kort!” en daarmee lig Daniel sy glas en almal doen dieselfde.

Susan sit langs die rooikop, sy leun oor na haar en glimlag, “Dankie” sê sy en lig haar glas. Daar is skielik ‘n baie sterk vriendskapsband tussen die twee vroue. “Dis wat ek doen” antwoord Susan de Kok en die twee glimlag saam en kyk altwee in Daniel se rigting. Sy ligblou oë bekyk vinnig die hele kuierplek, neem alles en almal in en dan kyk hy na die twee vroue, lig sy glas en glimlag terug met ‘n baie tevrede uitdrukking op sy gesig. Susan Pienaar voel weereens hoe gelukkig sy is, hoe haar lewe in ‘n paar weke verander het, vol geraak het, en hoe veilig sy by die man voel, die man met die pragtige ligblou oë.

© Grootvissie
Desember 2017




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Colin het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Christa D het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Tearlach het ‘n nuwe publikasie gemaak