Die man met die ligblou oe – Deel 5
Die man met die ligblou oë – Deel 5
Daniel stap na die rak vol wapens. Hy kyk na die Sig-Sauer wat hy by die dooie wag afgeneem het. Die wapen lyk goed, twee magasyne is vol. Hy kies nog drie vol magasyne vir dieselfde wapen asook ‘n nuwe 9mm met drie vol magasyne. Hy pak alles in ‘n koeëlvaste gevegsbaadjie tesame met ‘n paar ander hulpmiddels vir die aanval op Hussein Alli se boskamp. Die vier ander agente wat saam met hom gaan is almal hoogs opgelei en het reeds hul wapens gekies en hul toerusting gepak. Hulle vertrek almal met die Mercedes na die lughawe waar ‘n twee-motorige vliegtuig reeds vir hulle wag.
In die lug toets hulle weer kommunikasie, trek valskermsakke aan en sit getinte gevegsbrille op wat nie net die oë beskerm nie, maar alles skerper laat lyk in swak lig. Met ‘n klop op die skouer bevestig elkeen dat hul kameraad se uitrusting vas en korrek is. Die liggie in die vliegtuig se dak slaan oor na oranje. Die vlieënier se stem kraak oor die interkom, “Twee minute tot by romeo victor”. Die vyf agente staan agter mekaar by die oop deur, buite is dit donker. Dit is reeds twintig ure nadat die smokkelaars by die pakhuis uit verdwyn het met die wapens.
Intel het bevestig dat die vragmotor wel oppad na Vryburg is. Daar is vasgestel dat Hussein Alli homself tuisgemaak het op ‘n afgeleë plaas in die suide van Botswana. Van daar beplan hy nou terroriste aktiwiteite binne die Republiek van Suid Afrika met behulp van geheime magte in die Republiek. Daniel en sy span het een bevel, een objektief. Hul enigste doel, uitgereik deur die hoogste mag in die Republiek, is om Hussein Alli te vind en onskadelik te stel, maak nie saak wat die onkoste is nie, geen vrae sal gevra word nie. Die liggie in die vliegtuig slaan oor na groen, Daniel duik die duisternis in met die span wat kort op sy hakke volg.
Op die grond land hul geruisloos en vou vinnig die swart valskerms toe en berg hulle onder ‘n paar los takke. Daniel is reeds in verbinding met die Kolonel en bevestig dat hulle veilig op die grond is. Die oorhoofse oë het hulle reeds opgetel en daar word bevestig dat hulle sowat 5km noordwes van die teiken is. Daniel neem die voortou en die span beweeg vinnig maar stil in ‘n suidoostelike rigting tussen lae bosse en lang gras. Ongeveer dertig minute later lê en bekyk hulle ‘n plaasopstal deur nagsig lense. Daar is drie gewapende wagte, een op die dak en twee op die grond. Hul teenwoordigheid dui daarop dat dit die regte plek is. Daar is ‘n kleinerige huis en ‘n pakhuis. Nadat hulle hul horlosies gesinkroniseer het en Daniel die vyfminute teken gegee het, deel hulle op in kleiner groepe. Die skerpskutter stel homself so op dat hy al drie die wagte sowel as die voorkant van die huis en die stoorkamer kan sien. Hy fokus sy teleskoop op die dakwag en maak seker dat sy ekstra magasyn byderhand is, hy kyk weer na sy horlosie, dit is 11h57.
Twee agente beweeg na die agterkant van die huis. Daniel en die ander agent beweeg na die voorkant. Die skerpskutter kyk weer op sy horlosie, daar is een minuut oor. Hy maak homself gemaklik en fokus weer op die dakwag. Die man stap vyf treë na links, draai en stap vyf treë na regs. Presies om 12h00 draai hy weer, dit sal sy laaste draai wees, die knaldemper op die geweer maak ‘n ligte ploggeluid, die man sak inmekaar. Voordat enigiemand enige onraad kan bespeur verskuif die skerpskutter sy fokus na die wag voor die huis. Die knaldemper plof weer, die man steier agteroor en val in die gras. Die skerpskutter is reeds besig om op die derde wag te fokus. Die man het iets opgemerk, hy staan stil, kyk op na die dak, dit lyk asof hy wil alarm maak, maar die skoot deur sy nek veroorsaak dat hy nie ‘n geluid kan uiter nie. Hy slaan dood neer. Soos hy val dreun snelgeweervuur deur die nag.
Toe die wag voor die huis val staan Daniel op uit sy wegkruipplek langs die stoep. Deur die venster sien hy vier mans wat sonder hemde in die klein sitkamertjie sit en pornografie op ‘n ou teleivisiestel kyk. Daar staan bierbottels en wapens in die kamer rond. Daniel skop die voordeur oop en sprei die sitkamer met geweervuur. Die vier mans en die tv hou almal op met beweeg, net die klank van ‘n vrou wat hyg, op die agtergrond musiek van ‘n kitaar, kom nog deur die luidsprekers. Die res van die huis is stil.
Daniel hoor hoe die ander twee spanlede deur die kombuisdeur bars en gou die klein huisie se ander kamers begin ondersoek. Skielik is daar die klank van glas wat breek, soos iemand het na buite deur ‘n venster duik. Daniel spring om, net betyds om te sien hoe die man regop kom en dan skielik weer inmekaar sak met ‘n bloedkol hoog op sy bors. Daniel weet die skerpskutter is een van die bestes, en hy is dankbaar dat hy vannaand op die span is.
Die ander spanlede het reeds die huis deursoek. Daar is een man in ‘n kamer gevind, hy was besig om ‘n hoëfrekwensie radio in te skakel en na ‘n kaart op ‘n skootrekenaar te kyk. Hy staan nou op sy knieë in die sitkamer met sy hande op sy kop. Die radio is reeds vernietig en die skootrekenaar is reeds in verbinding met die Kolonel se opskamer. Alle hardeskyf inligting word per prioriteit sekuriteits verbinding op hoë spoed deur ‘n tegnikus afgelaai.
Die terroris kyk met groot oë na die verwoesting in die sitkamer waar die vier bebloede liggame van die wagte lê. Daniel kyk die man met absolute haat in sy ligblou oë aan, hy wys na die lyke van die terroriste, “Hussein Alli” sis hy, “dit is vir die 9 Christene wat jy in Somalië geskiet het, en dit is vir die 3 vroue…” en hiermee slaan Daniel die man met sy geweerkolf dwars oor sy neus en gesig. Die kolf breek die neusbrug en ‘n diep snywond bars oor die wangbeen oop. Bloed stroom uit sy neus en sy oë traan onwillekeurig soos hy omtuimel en met ‘n vreemde grynslag op die grond val. Die agente ruk hom regop en maak sy hande met plastiek kabelklampe agter sy rug vas.
“Voertuig in die stoorkamer lyk heel rybaar, brandstof is half” rapporteer een van die spanlede deur die kombuisdeur. Vinnig versamel die span enige ander elektronika in die huis en almal klim in die voertuig, met Hussein Alli styf tussen hulle vasgedruk op die agtersitplek. Soos hulle die grondpad in die rigting van die grens neem, lig Daniel sy hand met ‘n klein afstandbeheer daarin. Hy druk die knoppie en die plaashuis ontplof in ‘n vlammehel wat die dak afruk en alles binne-in oombliklik veras. Oomblikke later kom die plofgeluid oor die veld na hul aangerol. Daniel druk die kommunikasieknoppie teen sy nek en rapporteer aan die Kolonel. “Delta 1, teiken onskadelik, oppad na rendesvous, maak gereed vir kuiergas, aankoms 10 tot 20 minute, Delta 1 uit”. Die voertuig se ligte sny in die donker nag, en behalwe vir die enjin se gedreun is alles tjoepstil. Die spanlede tuur in die nag in, elkeen op die uitkyk vir enige ligte wat die teenwoordigheid van vreemde magte sal verklap, maar die nag is stil. Dit is 12h24.
Ongeveer 10 km van die grens af draai die voertuig weer in die veld in. Na ‘n stamperige rit van ongeveer 5 km kom hulle tot stilstand naby ‘n helikopter wat sonder enige ligte in die lang gras wag, die rotor draai vinnig. Daniel en die span draf vinnig, gebukkend na die wagtende helikopter met twee pare hande wat die onwillige Hussein Alli sleep-dra en sonder seremonie in die vliegtuig boender. Die enjin begin dadelik skree en hulle voel hoe die groot swart masjien opstyg en sien die grond onder hulle vervaag. Soos die helikopter oor die nabygeleë grens beweeg en hoogte kry kan die span die brandende spikkel van die oorblyfsels van die plaashuis op die horison sien, maar dan draai die masjien weg en dit word alles net iets van die verlede. Net die geraas van die wind en die rotors is hoorbaar soos die helikopter hoog bo die veld in die rigting van ‘n geheime militêre basis vlieg.
(word vervolg)
© Grootvissie
Desember 2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.