
Die meisie met die platform skoene
Dit is so die middel van 1970’s. Ons woon op ‘n plaas so vyftien myl of 24 kilometer vanaf Ladismith Kaap. My oudste broer Willem is in Standerd 9 of soos hulle deesdae sou se Graad 11. In die week maak my ouers en die bure beurte om “skoolkar” te ry dorp toe, maar ons klompie sit amper die kar alleen vol, want ons is vier boeties wat skool moet bywoon.
Op ‘n naweek besluit broer Willem hy gaan ‘n “girl” huistoe bring. Ma is ontsteld, want die meisie werk al, in die apteek op die dorp en Willem is in Standerd 9. So word ek die jongste spruit, wat seker in daardie stadium 9 jaar oud was, deur Ma opgekomandeer om orals saam met Willem en Antionette op die plaas te loop. Ma het seker gedink hulle sal nie onheilige dinge aanvang as ek “saam pickel” nie.
Wat ek kon onthou is dat sy daardie kurk platform skoene aangehad het, wat toe hoogmode was, ‘n mini gedra het, donker hare gehad het en natuurlik mooi was.
Die liefde blom en Willem oortuig my pa dat hy en die twee ander boeties wil gaan fliek op die dorp in die Stadsaal waar Saterdagaande omskep is in ‘n bioskoop, soos ons dit in daardie dae genoem het.
Op die plaas was daar net die Mercedes 200D, ‘n Bedford bakkie, wat meer gestaan het as wat hy geloop het, ‘n groot ou Chev lorrie, (Choklet, want hy was bruin geverf) en twee trekkers, ‘n Fiat 450 en ‘n Farmall trekker, daardie een met die twee voorste wielletjies so bymekaar. So is daar mooi en goed gepreek oor hoe versigtig daar met ons enigste kar gery moet word. Ek is uit die prentjie, want die fliek het ‘n “spoedbeperking” of ouderdomsbeperking (of so het hulle beweer). My troos was om saam met my Ma-hulle na die Saterdagaand vervolgverhaal oor die Radio te luister, Nag van die Tarentale. Die goeie ou dae…
So is daar ‘n paar Saterdagaande gaan “fliek”, eintlik maar om vir Antionette te gaan kuier. Een Satedagaand daag hulle nie op uit die dorp nie en Ma sit by haar rooi staanlamp in die sitkamer en brei. My pa slaap al. Dit is winter en vrek koud, toe my ma dit nie meer kon hou nie, bel sy op die plaaslyn. Sy bel, “Mooi Meisiesfontein” toe (die tannie het vier mooi dogters gehad), nog ‘n kuier plek. Sy bel die hospitaal, polisiestasie en niemand weet waar die drie boeties is nie.
Ma maak vir Pa wakker, hy prosedeer, dis koud buite die Bedford staan, top gasket geblaas, Choklet het nie ‘n battery nie. Dit is net die Fiat trekker wat oorbly, want hy het darem ligte, wat die Farmall nie het nie. Pa is bedonnerd, klim in die middernagtelike ure op die trekker en begin ry. Nie lank nie of die ligte kom terug werf toe. Nee, se Pa dis vrek koud, nog ‘n jas en serp en daar gaan hy weer die koue nag in op ‘n oop trekker.
Seker eers twee uur later kom Pa terug huistoe met net Willem en Andries by hom in die kar, hy praat nie gaan net kamer toe en klim in die bed, Willem praat ook nie, gaan op solderkamer toe en klim in die bed. Ma trek maar die storie uit Andries uit. Waar kry jou pa julle toe? Nee, Ma ons ry daar net na Algerynskraal toe ligte van voor af kom en Martin se, draai om dis Pa op die trekker. Ons kom by Pa wat amper verkluim is en al wat hy se is Martin, vat die trekker huistoe en hy klim agter die kar se stuur en se niks tot by die huis, soos in niks.
Andries onttrek hom en gaan ook kamer toe. Martin kom verkluim by die huis aan en gaan sit voor die Aga om warm te word. Ma maak vir hom ‘n warm drankie en sy vra uit.
Waar was julle. Ons was vrek van die bekommernis. Nee, Ma ons was nooit bioskoop toe nie, want toe ons daar by Antionette aankom om haar op te laai sit haar vorige boy friend daar, die Poeliesman by wie Willem haar afgevry het. Ai, sug Ma. Ja Ma toe is dit soos’ n Mexican stand-off, Willem wil nie besgee nie, die Poliesman wil niks hoor nie en Antionette se ook net niks. Ek en Abdries se aanmekaar ons moet ry, want Ma sal bekommerd wees, maar Willem sit. So oortuig ons hom later dat ons moet ry nadat hy die hoeveelste keer met Antionette gepraat het.
Ai, sug Ma. Ek dink Ma was hartseer vir Willem se hartseer, maar seker verlig dat die meisie uit sy lewe is.
O, ja sy het ook nogal baie mooi bene gehad….
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Junie 2021 – intertekstualiteit projek