Jongste aktiwiteit:

DIE MOORD OP REBECCA MORRISON HFSTK 10

HOOFSTUK 10

Die koerantberig lok wel verskillende reaksies uit. Toe Shireen Hatfield die berig lees kan sy nie anders as om ongemaklik te voel nie. Sy kry die gevoel dat dit net n kwessie van tyd raak voordat die polisie die net gaan nouer trek en haar aan die pen laat ry.

Haar verstand werk oortyd soos sy al die gebeure weer oordink maar besef sy dat die enigste een wat die polisie na haar toe kan lei Stephen is. As hy net nie praat nie voel sy redelik veilig maar sy kan ook nie met Stephen hieroor praat nie want dit kan hom agterdogtig maak. Vir die eerste keer begin sy oorweeg om net eenvoudig pad te gee. Sy het genoeg geld in die bank om êrens n nuwe begin te gaan maak.

Ook Stephen Morrison lees die berig die Saterdag oggend. By hom kom die gedagte die eerste keer op wat hom oor Shireen laat wonder. Hoe meer hy daaroor dink hoe meer kom hy tot die besef dat hy haar sal moet konfontreer. Of sy sal erken dat sy Rebecca vermoor het betwyfel hy sterk. Hy is in elk geval van plan om van Shireen ontslae te raak want hy wil haar nie regtig in sy lewe hê nie.

Stephen sit nog in sy studeerkamer die aangeleentheid en oordink toe die bediende kaptein Kas Dreyer se aankoms aankondig.

Toe Kas sy studeerkamer instap groet Stephen hom en vra hom om te sit. Kas se oog vang die oop koerant voor Stephen en merk hy teenoor Stephen op: “Meneer Morrison jy het seker die berig oor die blonde hare gelees”.

Stephen knik sy kop: “Ek het ja. Het julle al n idée wie die blonde dame kan wees”.

“Nee meneer Morrison maar ek gaan jou reguit konfontreer vanmore. Jou seun, Nathan, was gistermiddag by my en het beweer dat, volgens sy ma, jy n minnares gehad het. Wie is daardie minnares want ek is doodseker daarvan dat sy jou vrou vermoor het”, kom Kas met n direkte vraag.

Stephen voel hoe hy koud word. As hy nou Shireen se naam noem kan hy van medepligtigheid verdink word en dit gaan hom en sy besigheid vernietig.

Hy bly te lank stil na Kas se sin maar dan antwoord hy: “Nee kaptein ek het nie n minnares aangehou nie”.

“Meneer Morrison, dink mooi. Kry gaan ek haar kry. Ek dink jy moet eerder erken dat jy n minnares aangehou het en haar naam en adres vir my gee. Spaar my die moeite om te gaan krap tot ek die skakel wat my na haar toe gaan lei oopkrap en jou dan verdink van medepligtigheid. Dit gaan die lewe vir jou baie ongemaklik maak”.

Vir n oomblik oorweeg Stephen om die waarheid te praat maar dan besluit hy daarteen. Hy besef dat hy nou ver van Shireen af moet wegbly want hy kry die vermoede dat Kas dalk iemand op sy spoor kan sit om hulle na Shireen toe te lei.

“Nee kaptein, ek weet nie waarvan Rebecca gepraat het nie en het sy beslis vir Nathan onder n wanindruk gebring”, antwoord hy.

Kas besef dat hy nie n erkenning uit Morrison gaan uitkry nie en dat dit maar die hardepad gaan wees om die nodige bewyse te kry. Hy staan op, groet Morrison en vertrek.

Sy afskeidswoorde aan Morrison is: “Meneer Morrison jy moet mooi dink. Ek gaan die waarheid uitvind op een of ander manier. As jy nie n minnares het nie sal ek jou beslis om verskoning kom vra maar as jy wel n minnares aan hou en sy het jou vrou vermoor dan gaan ek jou verdink dat jy medepligtig was”.

Kas laat n bekommerde Morrison agter. Vir hom is die oplossing dat Shireen so vinnig as moontlik moet verdwyn en hulle alle kontak moet verbreek. Hy sal egter moet uitvind of sy wel vir Rebecca vermoor het en daarvoor sal hy haar moet te siene kry. Hy is egter te bang om na haar woonstel toe te gaan en sal haar dus êrens moet ontmoet.

Moorison besluit om Shireen te skakel en toe sy antwoord is hy vinnig op die man af: “Shireen die speurder was nou net weer hier by my. Hy hamer my daarop dat ek n minnares het want blykbaar het Rebecca teenoor Nathan genoem. Nathan het dit nou vir die speurder genoem en die man is nou baie agterdogtig. Ons sal mekaar iewers moet ontmoet en die saak bespreek. Ek kan nie na jou woonstel toe kom nie want ek is bang ek word dop gehou”.

Shireen voel hoe sy koud word, dinge begin nou vir haar te ongemaklik word; “Dit is reg Stephen waar en wanneer moet ons ontmoet”.

“Sewe uur vanaand by die Blue Room, ek sal nou vir ons n tafel bespreek”, en met die druk Stephen sy telefoon dood.

Kas gaan huis toe en begin al sy opsies oorweeg. Sy eerste opsie is om insae in Morrison se bankrekenings te kry want hy is redelik seker daarvan dat hy daar n spoor sal kry. Die man moes tog sekerlik op n gereelde basis sy minnares betaal het. Hy sal dus Maandag n hofbevel moet kry om hom in staat te stel om Stephen se bankrekenings te ondersoek. Dit kan dalk ook n goeie idée wees om weer na die bande van Morrison se telefoongesprekke te luister. Dit is al of hy die gevoel kry dat hy iets gemis het. Dit gaan tydrowend wees maar daar is nie n ander opsie nie.

Annetjie kom hom egter tot hulp toe sy aanbied om na die bande te luister terwyl Kas Maandag hof toe gaan om sy aansoek te laat verhoor en dan bank toe te gaan nadat hy sy hofbevel gekry het.

Terwyl Kas en Annatjie n rustige Saterdag aand geniet ontmoet Stephen vir Shireen in die Blue Room. Dit is nie die tipe plek waar die elite van die stad uithang nie en is die kanse dat van Stephen se ryk vriende hier sal wees en hulle erken feitlik nul

Toe hulle by hulle tafel plaas neem bestel Stephen vir hulle elkeen n whiskey. Aandagtig beskou hy Shireen, wat in n ligte wit lae hals bloesie met n swart romp geklee is, sonder om te praat. Dit jaag deur sy kop of hierdie meisie werklik tot moord toe in staat was maar alles begin daarop wys. Vanaand moet hy sekerheid kry of dit wel sy was besluit hy terwyl hulle wag.

Dit is n minuut of wat tot die kelner hulle drankies voor hulle neersit. Stephen beduie vir hom dat hulle sal vra as hulle besluit het wat om te eet.

Stephen oorweeg n paar oomblikke hoe hy Shireen gaan benader maar besluit om op die man af te wees toe hy met haar praat: “Shireen die speurder het dit reguit aan my gestel dat Rebecca deur jou vermoor is. Hy weet nog net nie wie jy is nie want ek bly ontken dat ek n minnares het. Ek gaan jou nou reguit vra en verwag n reguit antwoord. Het jy Rebecca vermoor “.

Shireen voel of sy lam word. Dinge begin nou vir haar te warm word. Sy oorweeg haar opsies ernstig vir n paar oomblikke maar dan besluit sy om dit te ontken.

“Nee Stephen ek het nie. Lyk ek vir jou soos n moordenares”, vra sy maar kyk Stephen nie in die oë nie. Sy kyk vir die glas met haar drankie in.

Ook Stephen oorweeg sy opsies want hy is seker dat Shireen vir hom lieg want waarom kan sy hom nie in die oë kyk nie.

“Shireen ek gaan nie verder kanse vat nie. Ek dink jy moet verdwyn uit die stad uit. Ek gaan vir jou n honderd duisend rand in jou rekening inbetaal en dan moet jy vinnig uit die stad uit pad gee voordat die polisie op jou toeslaan”, laat Stephen haar drome in duie stort. Shireen voel sy word lam maar weet sy sy sal moet padgee. Van n lewe saam met Stephen is daar nie meer sprake nie maar besluit sy om terug te baklei vir meer geld.

“Nee Stephen, jy gaan nie so maklik van my ontslae raak nie. Ek sal verdwyn met twee honderd duisend rand. Ek was goed genoeg om jou minnares te wees en nou wil jy my sommer net so weggooi en dit omdat Rebecca vermoor is waaraan ek geen skuld het nie. Ek het verwag dat ons ons verhouding sal voortsit sodra die stof oor Rebecca se moord gaan lê het en ons eendag sal trou en saam wees”, val sy aan.

Stephen skud sy kop: “Ek sal nooit met jou getrou het nie Shireen. Die ouderdomsverskil is te groot en buitendien het ek goed vir jou gesorg in die tyd wat jy my minnares was. Daardie tyd is nou verby en jy weet net so goed soos ek dat jy Rebecca vermoor het. Ek sal dit egter bly ontken om jou genoeg tyd te gee om weg te kom sodat jy nie gevang word nie. Dit sal in elk geval n verskriklike skandaal afgee as jy gevang word en jou naam word aan myne gekoppel waarvoor ek nie kans sien nie”.

Shireen besef sy is besig om te verloor: “Ek dink ons moet maar gaan. Twee honderd duisend rand of ek help die polisie met n naamlose oproep voordat ek verdwyn, dit is die minste waarmee ek tevrede sal wees”.

“Goed ek sal dit vir jou oorplaas”, sluit Stephen die gesprek af terwyl hy ook opstaan om te loop.




Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

4 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed