
DIE MOORD OP REBECCA MORRISON HFSTK 9
HOOFSTUK 9
Paul Coetzee maak dadelik n goeie indruk op Kas toe die man sy kantoor instap en homself met n ferme handdruk voorstel. Jongerige netjiese man met n sekuriteitsuniform aan en nooi Kas hom om te sit.
Kas val ook dadelik met die deur in die huis: “Meneer Coetzee ek vermoed dat iemand jou Stanza geleen het om Rebecca Morrison te ontvoer en te gaan vermoor. Iets moes skeef geloop het en kon sy nie jou motor weer parkeer waar hy gestaan het nie. Ek wil hê dat jy my die hele storie van voor af vertel want die ondersoekbeampte was duidelik nalatig in hierdie ondersoek en jy kan my dalk baie help as jy die storie vir my oorvertel. Daar is dalk net iets wat hulle oorgesien het wat belangrik is”.
Paul begin sy storie: “Kaptein ek is baie heilig op my Stanza en versorg haar soos n baba. Ek werk as sekuriteitshoof in die kompleks oorkant die New Arcade inkopiesentrum en parkeer my Stanza gereeld daar omdat dit naby my werk is. Ek is soggens sewe uur by die werk en werk saans tot vyf uur toe. As iemand dus my motor wou gebruik het hy baie tyd gehad”.
Kas vra geduldig: “Vertel my wat het jou gewaarsku dat jou motor gebruik is sonder jou toestemming”.
“Kaptein in die eerste plek was my motor nie geparkeer waar dit gestaan het nie. Ek was bietjie verbaas daaroor maar toe ek my logboek oopmaak om die kilometerlesing neer te skryf het ek dadelik bemerk dat daar omtrent n tagtig kilometer verskil is. Kaptein ek is baie akkuraat op my logboek en kon nie n fout maak nie. Toe ek die voertuig aanskakel het ek dadelik bemerk dat die brandstofmeter se naald gesak het. Ek het toe uitgeklim en aan die masjien gaan voel. Dit was nog effens warm”.
“Meneer Coetzee, hoe lank terug sou jy sê was jou motor gebruik toe jy dit ontdek het”, vra Kas.
“Kaptein ek sou sê so drie na vier ure terug. Wat my ook bedag gemaak het is die parfuumreuk in die motor. Ek rook nie en het n fyn reuksin”.
Kas antwoord: “Dankie daarvoor meneer Coetzee. Dit bevestig net weer my vermoede dat jou motor deur n vrou gebruik is en dat ek met n moordenares te doen het. Het jy al die voertuig gewas en binnekant skoon gemaak na hierdie voorval”.
“Ja kaptein ek het en binnekant gesuig. Ek het die polisie gevra of ek dit kan doen nadat hulle daar was en het my motor daardie selfde aand gewas want dit was vol stof en die bande was vuil. Dit was vir my duidelik dat die motor op n stofpad geloop het. Daar was ook gras aan die onderstel van my motor wat daarop dui dat die voertuig oor n middelmannetjie gery het”.
Kas sug want duidelik sal enige moontlike bewysstuk nou vernietig wees maar dan verras Paul hom. Kaptein daar was twee lang blonde hare agter in die motor. Ek het dit netjies in n koevert gebêre en sal dit more vir jou bring”.
Kas vra dadelik: “Het jy dit vir die ondersoekbeampte genoem”.
Paul antwoord dadelik: “Ek het kaptein maar hy het hom nie eers daaraan gesteur nie”.
Kas sit n oomblikkie en nadink. Rebecca het swart kort hare gehad en dit kan dus nie haar hare wees nie.
Kas sug en dan vra hy: “Meneer Coetzee ons het motorspore op die toneel gekry en forensies het n afdruk daarvan gemaak. Sal jy omgee as ek reël dat die mense jou more besoek en jou motor se bande vergelyk met die afdrukke wat op die toneel gemaak is”.
“Geen probleem nie kaptein, hulle kan my maar net skakel en ek sal hulle by my motor kry”, antwoord Paul terwyl Kas opstaan. Paul staan ook op, hulle groet mekaar en verlaat Paul die kantoor.
Nadenkend gaan sit Kas en begin weer die dossier bestudeer. Hy begin al meer die gedagte vorm dat Morrison n minnares aangehou het en dat hy Morisson van nader sal moet ondersoek om hom na hierdie minnares toe te lei want dan het hy sy moordenares. Hy sal maar wag tot na die begrafnis voordat hy Morrison in alle erns begin opkook want hy het die gevoel dat hy nou niks uit die man sal kry nie.
Iemand klop aan Kas se deur en op sy “binne” stap Andrew Watkins, “City News” se misdaad verslaggewer, sy kantoor binne. Kas het nog altyd van Andrew gehou en het al baie keer vir hom inligting gegee wat vir Andrew n goeie storie besorg het.
“Ja Andrew wat kan ek vir jou doen vandag”, vra Kas.
“Enige nuwe verwikkelinge oor die Morrison moord kaptein”, vra Andrew.
“Jip Andrew. Hier het nou sterk bewysstukke na vore gekom dat sy ontvoer is en toe by die mynskag vermoor is. Ons het die motor opgespoor. Goudkleurige ouerige Datsun Stanza en ons het beslis met n moordenares te doen. Lang blonde hare en ons is nou besig om leidrade op te volg wat haar aan die kaak gaan stel”.
“Sjoe kaptein kan ek maar skryf”, vra Andrew.
“Jy kan maar skryf Andrew en maak melding van die lang blonde hare. Jy weet n benoude kat maak benoude spronge en dalk maak hierdie kat nou benoude spronge”, antwoord Kas terwyl Andrew opvlieg. Hy is nou haastig om sy storie te gaan skryf.
Met niks verder om te doen nie gaan doen Kas verslag aan kolonel le Grange en keer huiswaarts daarna waar rooikop Annetjie vir hom wag.
Soos altyd bespreek hy die saak met haar en is dit toe sy die voorstel doen dat hulle die volgende dag Rebecca se begrafnis moet bywoon: “Kas moordenaars is lief om baie keer so n begrafnis by te woon. Seker maar n sielkundige storie”.
Die begrafnis die Vrydag is n groot begrafnis. Die mense pak die Joodse sinagoge vol. Duidelik almal uit die top klas van die stad en kyk Kas, wat gesorg het dat hulle in die agterste ry beland almal versigtig deur. Daar is egter niemand wat sy aandag trek nie.
Stephen Morrison, vergesèl van sy twee seuns met hulle vrouens, kom die sinagoge op die laaste binne en gaan sit in die voorste ry.
Na die diens beweeg hulle na die Joodse begraafplaas toe en is hier aansienlik minder mense en nog steeds merk Annetjie en Kas niemand op wat verdag lyk nie.
Na die begrafnis gaan Kas terug kantoor toe en is hy net in sy kantoor toe daar ieamand aan sy deur klop.
Op sy binne stap n man wat hy dadelik herken as sy kantoor in. Ongetwyfeld een van Stephen Morrison se seuns wat hom kom besoek.
Kas staan op en stel homself voor. Die man stel homself voor as Nathan Morrison en Kas nooi hom om te sit want hy kry die gevoel dat hierdie n lang gesprek gaan wees.
“Kaptein ek wil weet hoe die ondersoek na my ma se moord vorder. Het julle al enige leidrade”, vra Nathan.
“Meneer Morrison om die saak vir jou op te som gaan ek jou kortliks vertel wat blykbaar gebeur het. Jou ma is verlede Vrydag ontvoer deur n onbekende, blykbaar blonde vrou en tot by die skag gedwing waar sy vermoor is. Die voertuig is n Datsun Stanza wat daar opgemerk is. Volgens die spore wat ons daar gekry het was dit n vrou. Na die moord het die vrou die Stanza terug gebring. Die eienaar van die Stanza het agtergekom dat sy motor misbruik is en het die polisie ingeroep”, antwoord Kas.
Nathan skiet sy volgende vraag: “Kaptein waarom beweer jy dit is n blonde vrou”.
“Die eienaar van die Stanza het twee lang blonde hare in sy kar gekry toe hy die kar, wat vol stof was, die aand skoon gemaak het Ek het die twee hare in my besit en kan dus D.N.A. toetse laat doen as ek die skuldige vasgetrek het”, antwoord Kas.
“Enige idée wie die vrou kan wees”, vra Nathan.
“Meneer Morrsion ek moet eerlik wees ek tas nog in die duister rond maar kry sal ek haar kry. Dit moet iemand wees wat jou ma om een of ander rede uit die pad wil hê. Tussen ek en jy gesê, ek het al begin wonder of jou pa nie n minnares het dat sy dalk jou ma vermoor het nie maar jou pa ontken ten sterkste dat hy n minnares aanhou”, antwoord Kas.
Nathan Morrison swyg n hele paar oomblikke en dan laat hy die bom bars: “Hy lieg vir jou kaptein. Hy het n minnares maar sal dit nooit erken nie. My ma het die n paar keer vir my en my broer genoem. Wie sy is weet ek nie want my ma het ook nooit n naam genoem nie”, antwoord Nathan.
Kas is heel verras met Nathan se stelling en dan vervolg Nathan: “Kaptein my ma was n wonderlike mens. Ek en my broer stel net in een ding belang en dit is dat die een wat my ma vermoor het aan die pen moet ry. Sy moet betaal vir haar daad en as my pa in die proses ondergaan is dit nou maar daarnatoe. Ek en my broer is seker daarvan dat dit sy minnares is wat gulsig geraak het en my ma vermoor het met die hoop dat my pa met haar sal trou as my ma uit die weg geruim is”.
Nathan staan op: “Dankie dat jy my gesien het kaptein en ek hoop jy kry haar vinnig. As jy my pa in die proses vernietig, so be it en as hy medeskuldig is dan moet hy betaal vir my ma se dood”.
Kas stap saam met Nathan tot by die deur: “Meneer Morrison ek gaan jou pa hard hamer. Dankie vir hierdie inligting. Nou kan ek die handskoene uittrek en ek waarborg jou dat jou ma se moordenares voor die einde volgende week agter tralies sal wees. Daar verskyn more weer n koerant berig waarin daar genoem word dat ek n blonde vrou soek.
Ek is redelik seker daarvan dat dit iemand gaan laat wakker skrik. Ek glo jou pa sal besef dat ek baie na aan sy blonde minnares gekom het en dat hy dalk van besluit verander en met my begin praat”.
“Dankie kaptein en sterkte. Ek hoop jy kry haar gou”, is Nathan se afskeidswoorde voordat hy in die gang afstap.
4 Kommentare
-
Amaspoke
Ek het baie gemis, ek sal moet teruggaan en voor begin. Dit klink of daar nog 'n paar verrassings wag.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
O toggie... iemand se doppie is baie naby aan klink!!!! Baie lekker gelees Neels ek hoop jy plaas sommer baie vinnig die volgende hoofstuk