Kelkiewyn*
Hoe wit is die wit sneeu
en hoe swart jou swart jas.
Jy glimlag soos gister
toe jy nog hier was.
Onthou . . .
bottergeel vlinders
vlinder immer verby
die lillablou blomme
wat elke somer gedy.
Hier wag skilferbasbome
– wat wyd alom kroon –
waarin houtkappers, duiwe
en meelogies woon.
Na elke lang droogte
word ons altyd geseën –
teen skemer lê ons damme
vol van silwerblink reën.
Kelkiewyn in die stof –
sterre tuimel daar bó
oor ‘n grondpad wat kronkel
deur die Tankwa Karoo
en elf pelikane
koers oor Melkbos se strand
daar waar jy eens geloop het –
koue water, warm sand.
*
So, as jy ooit verlang
na amber klippe en son
as jy voel jy’t verdwaal
as jy huis toe wil kom –
volg net maar die roete
(dis tog oral te vind)
oor die blou van die see,
in die vlug . . .
van die wind.
© Carma Shaw
2 Januarie 2017
*Kelkiewyn – Die Kelkiewyn (Pterocles namaqua) is ‘n voël(patrys) wat in die weste en sentrale gedeelte van Suider-Afrika – in halfwoestyn en grasveld – leef.
6 Kommentare
-
-
Palet
Baie mooi
-
Kiekies
Luide aanhoudende applous!! Ek het nog nooit-ooit een van jou gedigte gelees wat nie pragtig en veelseggend was nie.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Soos gewoonlik oortref Carma haarself. Jy verbeter ook net met elke werk