Die sjokoladekoek
Die sjokoladekoek
Ouma Betjie stap sleepvoet deur die gang van die ou opstal op pad stoorkamer toe. Agter die deur staan die swaar geelhout wakis waar al haar kosbaarhede nog steeds bewaar word. Sy lig die deksel met ‘n kraak oop en begin soek. Heel onder kry sy haar resepteboek. Agterin, op twee los geel velle, is die resep waarna sy soek. Die sjokoladekoek waarvoor haar man Lodewikus, eintlik die hele familie, so lief was.
Met die twee velle in haar hand en met ‘n stout glimlaggie stap ouma Betjie kombuis toe. Sy ken die omgewing soos die palm van haar hand. Sy het hier grootgeword, getrou, kinders grootgemaak en ook oud geword. Haar en haar voorouers se spore lê diep gewortel op Meiringspoort. In die gang kry sy die gemmerkat wat homself skielik kromrug teen die muur vasdruk en toe holderstebolder by die deur uit vlug. Ouma Betjie giggel verspot.
Môre is die finale rondte van die jaarlikse Bobaas Bakkompetisie van die kontrei. Ouma Betjie het Sandra vroegoggend luidkeels hoor kla en mor omdat haar proef sjokoladekoek wat haar vir die bakkompetisie moes laat kwalifiseer, ‘n flop was. Ouma Betjie was elke jaar as Bobaas Bakster gekroon. Niemand kon soos sy bak nie. Maar dis veral haar sjokoladekoek wat gemaak het dat sy telkens met die prys wegstap. Dis goed dat Sandra in haar spore wil volg en die familienaam hoog wil hou.
Sy kan egter nie verstaan waarom Sandra nie die resep uit haar kop ken nie. Sy het sovele kere bygestaan terwyl ouma Betjie en ook Sandra se ma die koek gebak het. Sy wil nie graag haar resep deel nie, maar Sandra is darem haar agterkleinkind en al wie oor is van die Meirings. Sy sal maar vir Sandra die resep hier op die toonbank neersit. Gelukkig is môre nog ʼn paar uur ver, genoeg tyd om ‘n nuwe koek te bak.
Sandra kom die kombuis binnegestrompel, hande vol kruideniersware, en val byna oor die kat wat in die laaste sonstrale van die dag op die matjie lê.
“Pasop, kat, ek sal nog my nek breek!” brom sy onvergenoegd.
“Maar vir wat is jy so omgekrap?” vra Dieter. Hy staan by die koffieperkuleerder, besig om vir hom koffie te skink. Sy vrou is van gister af heeltemal ongedurig.
“Hoe het dit vandag met die bakkery gegaan?”
“My koek het geflop, heeltemal platgeval! Niks het gewerk nie, die sjokolade was vol klonte, die beslag te slap….ag nee, ek het my tyd gemors. As ek nie vinnig ‘n plan maak nie, kan ek maar vergeet van daardie oorsese reis! Katie se melktert het juis vandag aandag getrek. As ek tog maar net Ouma Betjie se resep..” “Maar wat is dit dan dié?” Sandra wys na die twee vergeelde velle papier wat op die toonbank lê. Sy skuif haastig die inkopies op die toonbank weg en tel die vergeelde papier op. Sy bekyk dit van alle kante. “Waar kom dit vandaan? Dit lyk dan soos…ouma Betjie se resep!”
Sandra se bene is skielik lam en sy gaan sit sommer op die vloer teen die kombuiskas. Sy verstaan dit nie. Sy het al wat kas, laai en al wat tas is in hierdie ou plaasopstal deursoek. Ouma Betjie se resepteboek met die gesogte sjokoladeresep was skoonveld. En hier, op die toonbank, oop en bloot, lê dit haar en koggel! Dat haar man haar nou so ‘n poets kon bak in haar uur van nood!
“Is dit jou idee van ‘n grap, Dieter?” vra sy verward-kwaad.
“Waarvan praat jy, vrou, ek het net voor jou ingestap. Ek weet niks van die papiere af nie. Dalk weet Lettie. Wil jy koffie …”
“Deksels man, los die koffie, kyk hier! Dis ouma Betjie se resep, in haar eie handskrif geskryf!”
Ek soek al jare na die resep!” Sandra hou die twee velle papier seëvierend na Dieter toe uit. “Kyk, al haar notas, alles is hier! Ons gaan Mauritius toe!”
“Maar waar kom dit nou vandaan?” vra Dieter uit die veld geslaan terwyl hy nader stap en die resep ‘n agterdogtige kyk gee.
“Vergeet hoe die resep in die kombuis gekom het, ek het nou nog ‘n kans om te kwalifiseer vir die bakkompetisie.”
Sandra het sommer weer nuwe moed. Met die resep in haar hande kan sy die wenkoek bak en die reis na Mauritius wen! Wonderlik! Twee weke se saligheid in die paradys! Sy sien al die strande, die palmbome, voel die rustigheid op haar neerdaal. Meer nog, sy smaak al die sukses van ‘n bobaasbakster!
Sandra begin teen ‘n spoed bestanddele op die toonbank uitpak, aandete en kosmaak skoon vergete. Meel, bakpoeier, eiers, sjokolade smelt … sy werk onverpoosd. Vir ‘n vlietende oomblik dink sy sy moet gou eers die resep oorskryf, dis darem maar baie dof en verouderd. Nee, daar is nie nou tyd nie. Later. Die koek moet klaar! Haar wenkoek moet in die oond kom!
Met ‘n glas wyn in haar hand sak Sandra later die aand moeg op die rusbank in die sitkamer neer. Haar bene pyn en haar rug is op ‘n paar plekke af. Die koek staan op die toonbank, trots en fier, uitgepof soos net ‘n pryswenner kan spog! Nog net die versiering dan kan sy gaan inkruip. Sy is byna seker sy sal nie net kwalifiseer nie, maar beslis ‘n tweede of dalk selfs eersteplek kry met haar inskrywing! Sy weet mos hoe ouma Betjie se koek smaak; donker sjokolade smelt-in-die-mond lekkerte.
Sy moet onthou om die resep in die resepteboek te plak. Hoe dit hier in die kombuis op die toonbank gekom het, kan sy nie verklaar nie, maar sy is te moeg om verder daaroor te wonder. Al wat nou saak maak, is dat sy die pragkoek môreoggend veilig by die kompetisie kry. Die res kan wag.
Vroeg die volgende oggend is Sandra aangetrek en reg om haar eersteprys-sjokoladekoek by die jaarlikse Bobaas Bakkompetisie te gaan aflaai. Net gou ‘n koffietjie drink. Dieter kom ingestap en gryp haar om die lyf.
“Hmm, dis vir jou ‘n bobaas koek! My vrou die bobaas bakster! Ek is so trots op jou! Mauritius, hier kom ons!”
“Ag, toe nou” Sandra bloos, maar verkneukel haar darem in die lof van haar man. “Ek is net bly ek het hierdie keer ‘n wenkoek met ‘n wenresep kon bak! Hou vir my duimvas!”
Sy wikkel haar uit haar man se arms en maak reg om haar trots-koek by die kompetisie te gaan aflaai. O aarde, sy het nog nie die resep in haar resepteboek geplak nie. Sy wou dit nog oorskryf ook! Sy moet dit tog maar gou doen, want Lettie kom vandag huis skoonmaak. As sy eers deur die kombuis warrel, is dit klaarpraat met die resep!
Sandra steek haar hand uit na die plek op die toonbank waar sy gisteraand die resep gelos het, langs die pragtig versierde koek.
“Nou maar waar is dit nou?” Sandra frons. Waar die resep gisteraand gelê het, is nou niks. Die stuk vergeelde papier is skoonveld! Net die pragtig versierde koek pryk op die toonbank.
“Dieter! Het jy die resep uit die kombuis verwyder?”
“Hoekom sou ek dit wou doen?” kom sy stem ongeduldig uit die gang. “Dit moet nog daar wees!”
“Wel, dit is nie!”
Stomgeslaan soek Sandra in die kombuis na die resep. Onder die tafel, by die stoof, selfs in die yskas. Mens doen snaakse goed as jou aandag toegespits is op ‘n wenresep. Niks, nêrens. Geen resep nie.
“Ai tog,” brom Sandra. Ek moes dit neergeskryf het! Nou is dit regtig weg!” Sandra en Dieter kyk met ongeloof na mekaar ‘n Stuk papier kan mos nie sommer tussen neus en ore verdwyn nie?
Ouma Betjie skuifel in die gang af. ‘n Stout glimlag speel om haar mond terwyl haar verrimpelde hand die vergeelde resep opfrommel en in haar voorskoot se sak steek. Toe sy geruisloos verby die kat beweeg, trek hy vir die tweede keer in twee dae sy rug krom. Net om die hoek is die groot ou plaaskombuis. Sy wil tog so graag Sandra se gesig sien voordat sy vertrek.
Ouma Betjie skuifel aan die ander kant van die toonbank by Sandra en Dieter verby, op pad agterdeur toe, waar Lodewyk vir haar wag. Haar verrimpelde mond is nog steeds in ‘n glimlag geplooi terwyl sy Sandra en haar man in die verbygaan bekyk. Mens bak net een keer ouma Betjie se koek en spog daarmee asof dit jou eie is! Dit sal hulle leer …
Sandra en Dieter voel albei die verplasing van energie, ʼn sagte beweging soos iemand of iets wat by hulle verbybeweeg … uit by die agterdeur …
©Bets Koen
Januarie 2018
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.