is ek of is ek nie
is ek of is ek nie
as ek in jou oë kyk
wat kilkoud na my
terugblik in die spieël
wonder ek wie is jy
is jy of is jy nie
die mooi gelowige
… of ʼn vals judasbok
is jy die voorbok
om die skape in
die drukgang by
die slaghok in te lok
… of die een wat
blitsig uitglip
is ek of is ek nie
volstruis met my
kop in die sand
verberg ek
myself agter
die reënboog-rookskerm
lei ek of vlei ek net
sal my voorbeelde trek
of my dade wek
is ek of is ek nie
die een wat jy die
liefste moes hê
of die een wat
jou nou die meeste
afstoot
kyk ek weg van die
een in die spieël
en op na die EEN
sien ek – ek is
die geknakte riet
regop gehou
deur U genade
en liefde
so trou
so groot
so ewig
so onverdiend …
©Marlene Erasmus
12/04/2019
*Internet foto gebruik
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.