DIE WIEL DRAAI HFSTK 15
HOOFSTUK 15
Kupido laat almal redelik tot rus in Februarie maand toe Hans een aand halftwaalf in die huis kom. Oudergewoonte staan Elsabe op om vir Hans sy bord kos warm te maak in die oond en n bietjie koffie te maak. Soos gewoonlik het sy net haar dun kamerjassie oorgegooi en is dit weer een van daardie aande wat die lig haar liggaam skerp afteken onder die kamerjas. Nodeloos om te sê dat dit groot hunkerings in Hans losmaak en die nagsê alle hunkerings in hulle laat ontbrand. Dit is net die feit dat Marietjie ook in die huis is wat hulle daarvan weerhou om om saam bed toe te gaan en die liefde sy volle kring loop te laat neem.
Tevrede met wat hy vir eers met hulle bereik het besluit Kupido om sy aandag op Marietjie toe te spits.
Sy word die volgende dag in die goederekantoor nie dadelik bewus van die man wat by die toonbank staan om die lenige swartkop met die lang swart hare, wat oor die skouers tuimel, te beskou nie. Elsabe sien hom eerste en maak keel skoon om Marietjie se aandag te trek want dit is Marietjie se werk om die mense te help.
Dit is toe Marietjie opkyk wat sy die frisgeboude lang man in sy khakiklere voor die toonbank sien staan. Toe hy sien dat hy haar aandag het lig hy ewe beleefd sy hoed om n pikswart bos hare vir n paar oomblikke te vertoon en vertrek sy mond in n heerlike warm glimlag met twee bruin oë wat saamlag. Marietjie voel n warm gevoel deur haar trek en haar knieë voel jellie toe sy opstaan om hom te help. Soos sy aangestap kom toonbank toe laat haar lenige vol figuur met die wit bloesie en swart romp ook Bernard se hart fladder met vlinders wat in sy maag draai.
By die toonbank gekom steek hy sy hand oor die toonbank en moet sy teen wil en dank hand gee toe hy homself voorstel: “Ek is Bernard Vosloo, Boskop se nuwe plaasbestuurder en ek kom net gou teken en betaal vir die twee trokke kunsmis wat ek kom haal het”.
Vir Marietjie vervaag alles, sy handdruk stuur n elektriese stroom deur haar, sy hoor nie meer die ratelende tikmasjiene van die tiksters nie en is sy net bewus van die man voor haar wat haar hart laat bokspring. Sy kry dit skaars uit om te sê: “Marietjie Struwig”.
Ook Bernard voel n lam gevoel deur hom trek en hou hy haar hand langer vas as wat dit nodig is maar los hy haar tog sodat sy die vragbriewe in die vakkie kan gaan haal en vir hom bring. Hy teken die vragbriewe en gee vir Marietjie die tjek maar is sy diep bewus daarvan dat hy die hele tyd vir haar kyk. Klaar geteken en betaal lig hy weer ewe beleefd sy hoed in n groet en stap uit.
Toevallig is dit eenuur en tyd vir Maretjie om op ete te gaan. Gewoonlik gryp sy en Elsabe hulle handsakke en hardloop gou oor die spoor huis toe. Toe hulle by die kantoor uitkom loop hulle hulle in Bernard vas.
Hy nooi hulle vir n koppie koffie saam met hom in die stasiekafee wat nie ver is nie. Elsabe sien haar kans vir weerwraak met al Marietjie se gespottery met haar en Hans en maak verskoning: “Ek kan nie gaan nie, ek moet huis toe maar Marietjie sal graag saamgaan”.
Elsabe maak vinnig spore en laat n verleë Marietjie in Bernard se geselskap agter en moet sy maar saamstap met haar jelliebene en bonsende hart.
In die kafee is Bernard n ware gentleman, trek vir haar die stoel uit en sit sy hoed langs hom neer. Marietjie raak diep bewus van die bos swart hare wat maar erg deurme kaar gekrap is deur die hoed, maar wat haar maag laat fladder, is die dromerige bruin oë. Dit is die mooiste oë wat sy in haar lewe nog gesien het.
Oor die koppie koffie vertel hy haar meer van homself. Hy vertel haar dat hy as dorpsjapie altyd die hunkering gehad het om eendag te kan boer. Na skool het sy pa, wat n besigheidsman is, hom landboukollege toe gestuur en het hy eers twee jaar vir n ander boer in Senekal geboer tot hy nou deur Willem Roets aangestel is as plaasbestuurder op Boskop na die bedanking van die vorige bestuurder.
Marietjie hang aan sy lippe en is die uur hopeloos te gou verby. Toe hulle by die goederekantoor kom vra Bernard of hy haar weer mag sien waarop sy haar kop knik en hom hulle adres gee met die uitnodiging dat hy welkom is.
Toe hulle vyf uur by die huis kom het Hans ook net ingekom en is Elsabe se weerwraak nou op sy beste: “Hans jy gaan my nie glo nie, Marietjie se mnr. reg het opgedaag”, en vertel sy vir Hans van die dag se gebeure.
Marietjie vlug bloedrooi kamer toe waar sy haar dagboek nadertrek om hierdie dag op skrif te stel: “Liewe dagboek. Ek het vlinders in my maag, die bloed jaag deur my are, my bene is jellie en my hart hardloop weg met my. Sjoe maar jy is nuuskierig dagboek. Ek het vandag die mees fantastiese man ontmoet, sy naam is Bernard Vosloo en hy is Boskop se nuwe plaasbestuurder. Sjoe dagboek hy is die mooiste man wat ek nog ooit in my lewe gesien het en hy het gevra of hy my weer mag sien en ek het ja gesê .
Ek kan nie wag om hom weer te sien nie dagboek, ek hoop net hy wag nie te lank nie want ek weet, hy is mnr. reg”.
Bernard raak daardie aand aan die slaap met die beeld van n pragtige swarkop meisie in sy drome en Marietjie weer met die beeld van n swartkopman, Kupido glimlag.
Bernard laat ook geen gras onder sy voete groei nie en meld hy weer die volgende dag by die goederekantoor se toonbank aan. Dit is n bloedrooi en verleë Marietjie wat onder Elsabe se meerwarige kyk opstaan om hom te help.
Ewe ordentlik vra hy vir Marietjie of hy die aand vir haar mag kom kuier en skamerig sê sy ja.
Die res van die dag is vir haar n marteling want die tyd gaan hopeloos te stadig verby. Toe hulle by die huis kom word die sitkamer met n spoed skoon gemaak en moet Elsabe bont staan om te help om alles agter mekaar te kry.
Hans is nie by die huis nie, hulle is Modderpoort toe met die oorlaaitrein en boek daar af. Hy sal dus eers more terug wees en maak Elsabe sommer iets ligs vir hulle om gou te eet terwyl Marietjie haarself voorberei vir die aand.
Tipies vrou is sy nog besig toe Bernard aan die deur klop. Elsabe laat hom inkom en nooi hom sitkamer toe. Hulle sit net toe Marietjie die sitkamer inkom. Hulle sien haar nie dadelik in die deur nie en steek sy n oomblikkie vas om Bernard se beeld in te neem. Hy is geklee in n swart langbroek met n spierwit hemp en die swart hare is netjies gekam, genoeg om haar maag te laat fladder.
Toe stap sy in. Bernard self voel n fladdering toe sy inkom. Sy is geklee in n netjiese bont romp, soom so handbreedte bokant die knie, met n wit bloesie met so n effense lae hals. Sy het n paar tieroog oorbelle met n tierooghangertjie aan en n kunsblom in die are. Bernard kry n warm glimlag toe sy hom groet en gaan sit sy reg oor hom. Elsabe vra dadelik om verskoon te word. Sy het dingetjies om te doen wat nie kan wag nie, haar verskoning om hulle alleen te laat want sy wil glad nie derde mannetjie speel nie, die aand behoort aan hulle.
Die geselskap vlot dadelik en vra Marietjie baie uit na Boskop. Sy gee haarself n paar keer amper weg dat sy Boskop ken maar keer haarself elke slag betyds. Soos Bernard vertel leef sy haarself in want uit sy vertellings kom sy agter dat niks op Boskop verander het nie.
Bietjie later gaan maak sy vir hulle koffie en stap Bernard saam kombuis toe. Hy kom staan naby haar en kan sy nie help nie, sy word skoon lam in die bene en dink sy by haarself, as hy my nou soen gaan ek nie eers keer nie. Dit kom egter nie daarby nie en gaan sit hulle weer in die sitkamer om hulle koffie te drink.
Dit is toe hulle hulle koffie klaar gedrink het wat sy die soos n ou gesoute visserman die lyn en aas uitgooi: “Weet jy Bernard, ek sal graag die plaas wil sien. Soos jy vertel klink dit so lekker rustig, so anders as die dorpslewe”.
Bernard proe die aas: “ Dit is waar. Op die plaas skyn die sterre nog helder en hoor jy snags die natuur se geluide onbelemmerd. Dit is nie soos hier in die dorp wat die straatligte alles oorheers en snorkende motors die natuur se geluide verdof nie, daar leef mens nog”.
Toe sluk Bernard die aas: “Nou as ek jou nooi om een naweek vir my op die plaas te kom kuier sal jy kom?”.
Marietjie kan haar ore nie glo nie en antwoord dadelik: “Baie dankie dit kan net heerlik wees”.
Bernard is die naweek besig want hy moet instaan vir een van Willem se seuns op een van die ander plase wat naweek af is maar kan sy die volgende naweek kom, dan het hulle die hele naweek vir hulle self.
Toe Bernard vertrek stap sy saam met hom hekkie toe waar hy haar hande in syne neem en haar dankie sê vir die aand. Sy aanraking stuur skokgolwe deur Marietjie en nooi sy hom uit om weer te kom wat hy belowe hy sal doen.
Sy ontduik Elsabe wat reeds slaap en sluip haar kamer in om haar dagboek nader te trek: “Liewe dagboek. Hy het kom kuier vanaand en waaooow dagboek wat n heerlike aand in sy geselskap. Ek het hom weer genooi en hy het my volgende naweek Boskop toe genooi om daar vir hom te gaan kuier. Dagboek ek is so verlief dat jy kan toor met my. Vanaand toe ons koffie gemaak het het ek gewens hy wil my soen maar hy was te ordentlik daarvoor.
Dagboek jy reken natuurlik dit gaan oor Boskop. Ek wil net vir jou sê dagboek dat dit nie waar is nie. Dit gaan oor Bernard want hy het my voete onder my uit”.
Die volgende oggend vertel sy vir Elsabe van die vorige aand en dat hy haar die volgende naweek plaas toe genooi het. Elsabe sê nie n woord nie want sy gun Marietjie hierdie bietjie geluk uit haar hart uit. Sy opper egter tog haar beswaar: “Marietjie so gou. Jy ken die man skaars”.
Mrietjie steur haar egter nie aan Elsabe se beswaar nie en Elsabe besef vinnig dat Marietjie haar aan geen beswaar sal steur nie, gaan sal sy gaan.
Sy hoop net Hans is volgende naweek saans by die huis en besluit sy sy gaan dit met Hans bespreek. Dit kan dalk lekker wees om n slag die huis vir hulleself te hê sonder Marietjie se teenwoordigheid.
Sy het lankal agtergekom dat die manne ook maar hulle dinge lekker kan bewimpel as hulle wil. Hulle begin hulle dinge op die voetplaat al n paar dae voor die tyd uitwerk om by die huis te wees wanneer hulle wil.
Toe sy die aand dit met Hans bespreek is hy ene ore en beloof Elsabe dat hy sal sorg dat hulle in is Saterdagaand.
Die gedagte dat Marietjie so gou alleen by Bernard op die plaas gaan kuier staan hom ook nie aan nie en probeer hy Marietjie ompraat om dit eers te los tot hulle mekaar beter leer ken het. Soos in Elsabe se geval val sy pleidooi op dowe ore, Bernard gaan in elk geval voor die naweek weer kom kuier en dan kan hulle mekaar mos beter leer ken, is haar verweer.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.