Die dag toe die bos afgekap is
Die dag toe die bos afgekap is, het ‘n radikale omwenteling plaasgevind sonder dat dit deur die blote oog waargeneem kom word of iemand daarvan bewus was.
Hulle het daai dag, die bos kom afkap. Sy het alleen daar gestaan en kyk. Slegs ’n waaarnemer.
Daar was die ou dik, diep vasgewortelde struik wat al vir jare daar gestaan het en alewig bo-oor die ander struike geklim en gegroei het. Aan die dikte van sy stam kon sy skat dat hy waarskynlik die oudste van die struike moes wees want hy het honderde kleiner lote gemaak wat bo-oor alles gegroei en geklim het en die ander plante en struike daar verdring en probeer dooddruk het.
Sy het gedink dat dit ‘n parasiet plant is met ‘n narcistiese tipe houding van die son mag slegs oor homself skyn en dat hy alles vir homself wil toe-eien terwyl die res niks moes kry nie. Reg langs die ou dik struik was ‘n kleiner struik van ‘n ander spesie soort wat al so vasgegroei aan die ou struik was en in die struik se lote ineengevleg was, dat die ou groot struik dit al heeltemal oorskadu en oorwin het. Sy kon sien dat daai kleiner struik nooit werklik tot sy volle reg so kon kom terwyl die ou groot een dit verdring en gedomineer het nie en dan dit het kompleet gelyk of dit op die ou dik struik se oorskiet aandag geleef het, waar dit in in sy skadu gestaan het.
‘n Hele entjie verder weg was daar ‘n kleiner bos struike wat bymekaar gestaan het soos in ‘n bondel struike wat saamdrom by ‘n byeenkoms. Een spesifieke een was groter as die res en dit het gelyk of hy die ander kleiner struike rondom hom dra en ook bo-oor hulle klim letterlik. Hulle was ook aan hom vasgevleg en in sy basis stam ineegevleg. Sy kon aan sy blare sien dat dit nie van dieselfde spesie was die res van die struike nie.Want sy blare het geblink soos die son op die blare geskyn het en as jy jou oë op skrefies sou hou dan het dit kompleet soos groen note in die son vertoon. Tenspyte van die blink blaar voorkoms op die oppervalk het dit honderde klein rooi vruggies gedra wat giftig was vir voëls en ander diere.
Hulle het begin kap … eers net die hoek met die groot ou dik struik en die kleiner een langs hom en toe sy later weer kyk was dit alles; die hele heining …. die groot ou dik struik met sy narcistiese houding, die een wat aan hom vasgevleg was, die kleiner groep struike wat in ‘n bos bietjie verder af gebondel het inkluis. Die enkeles wat hier en daar gestaan het …. alles. Die hele heining is afgekap totdat alles met wortel en tak uitgeroei was en net die skoon grond omgedolwe oorgebly het.
Die wolke het bokant haar begin saamdrom soos die lug swanger was in grougrys. Skielik het dit begin reën, eers ‘n paar druppels hier en daar en toe al hoe meer. Sy het gestaan en kyk hoe die reëndruppels op die grond neerval.
Sy het gewonder of daar ‘n simbolieke waarde agter die reën was want vir die heel eerste keer in ‘n baie lang tyd was daar ‘n ongelooflike kalmte en vrede in haar hart wat sy saam met die reën ervaar het.
Dit was asof die bos se afkap haar sig verander het want skielik kon sy verder as voorheen sien …. vér …vér …tot waar die oseaan en die lug mekaar ontmoet het op die horison se lyn.
Sy het omgedraai en weggeloop want toe die bos afgekap is, is die bos in haar hart ook afgekap en het haar trane haar kom vrymaak.
©Sonja Peacock – Maart 2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.