Jongste aktiwiteit:

DIE WIEL DRAAI HFSTK 17

HOOFSTUK 17

Toe Elsabe Saterdagoggend opstaan is die eerste wat haar opval dat Hans nog nie in is nie. In die begin is sy nie bekommerd nie maar toe hy deur die oggend nie inkom nie begin sy bekommerd raak. Net voor een voor hulle huis toe gaan bel Marietjie die loko want hulle is nou baie bekommerd, Hans moes lankal in gewees het Dit is of die spanning uit hulle vloei toe hulle die rede vir die vertraging hoor en sien hulle nou uit na die naweek, elkeen natuurlik met haar eie planne en agendas Toe hulle by die huis kom begin Marietjie dadelik haar tassie pak vir die naweek want sy verwag Bernard enige tyd. Sy moet haastig koes vir n vlieënbe kussing toe sy onder haar pakkery teenoor Elsabe, wat by haar sit, opmerk: “Julle moet julle gedra vanaand as ek nie hier is nie hoor. Nie stout wees nie want dit lyk my mos dat Hans hele nag by die huis gaan wees”.
Elsabe storm bloedrooi by die kamer uit om haar verleentheid te verberg. Sy het net klaar gepak toe Bernard se bakkie voor die huis stop. Hulle groet hom vriendelik en is Marietjie by hom in die bakkie vir haar plaas kuiertjie. Elsabe neem weerwraak toe sy groet: “Nie stout wees daar in julle eensaamheid nie hoor”.
Toe hulle op die plaas stop nooi Bernard haar dadelik in en gaan wys haar haar kamer aan. Sy staan n paar oomblikke stil om die pragtige tuin voor die huis te bewonder en laat dit n groot verlange deur haar gaan, mamma was altyd so gesteld op haar tuin en is dit of sy mamma se teenwoordigheid aanvoel.
Sy vra om n paar oomblikke verskoon te word dat sy net gou haar klere vir die naweek kan ophang in die groot hangkas wat in die kamer staan. Dit is haar ou kamer van jare terug en gaan sit sy eers n paar oomblikke op die bed om alles in te neem. Die kamer is gemeubileer met n driekwartbed, n spieëlkas met sy stoeltjie en die groot hangkas. Teen die muur hang n groot geraamde foto van n kudubul wat rustig onder n boom staan. Toe sy nader staan om die foto te beskou sien sy Bernard se handtekening onderaan die foto. Dit verras haar want dit is duidelik dat Bernard n uitstekende fotgraaf moet wees en hy het haar nie vertel daarvan nie.
Klaar uitgepak gaan sit Marietjie haarself voor die spieël en beskou. Dit is vir haar n vreemde gewaarwording om na soveel jare weer in haar ou kamer te wees. Terwyl sy vir haarself in die spieël sit en kyk besef sy dat sy die naweek versigtig sal moet wees om haarself nie weg te gee nie. Sy wil nie hê dat Bernard moet weet dat dit hulle plaas was nie, dit kan dinge vorentoe net bemoeilik as die vriendskap tussen haar en Bernard dalk begin groei.
Toe sy uit die kamer uitkom wag Bernard reeds vir haar en gaan hulle kombuis toe waar hy vir hulle koffie maak. In die gang hang nog twee van Bernard se vergrote geraamde fotos, een van n leeumannetjie onder n boom en een van n olifantbul met sy slurp hoog in die lug. Albei fotos het sy handtekening onderaan. Marietjie is skoon sprakeloos en merk sy op: “Bernard jy het my nooit vertel dat jy n meester fotograaf is nie. Sjoe ek moet jou geluk wens op hierdie fotos, hulle is asemrowend”.
Bernard glimlag vir haar met n warm glimlag: “Dit is my stokperdjie van kleins af. Ek is mal oor fotografie en sal jou later nog van my fotos wys”.
In die kombuis dwaal haar oë deur die kombuis waarin nou van die modernste kombuistoerusting is. Al wat oor is van die ou dae is die Jewell koolstoof wat lyk of dit nie meer gebruik word nie want daar is n gasstoof. Hulle sit sommer by die kombuistafel en koffie drink en is dit toe hulle klaar is dat Bernard vir haar om die huis gaan wys. Die vrugteboord is herstel en die ou sinkdam waarin hulle altyd geswem het is vervang. Langs die dam staan die windpomp wat die brand oorleef het met sy wiel wat rustig in die windjie draai om n stroompie water in die dam te laat inkoop. Marietjie loop ingedagte tot by die pyp en hou haar hand onder die water terwyl haar beeld in die water vir haar terugloer. Bernard kom staan langs haar en is dit nou twee beelde wat terugloer. Sy skrik toe Bernard vra: “Waar kuier jou gedagtes nou rond”.
Sy skud haar kop glimlag vir hom maar vra sy net: “Kom wys my gou die tuin voor die huis, ek het nog nie werklik kans gehad om my in hierdie pragtige tuin te gaan verlustig nie. Dan gaan wys jy my die melkstal en die lande asook die stoor”.
Marietjie word yskoud toe sy haar fout agterkom. Sy het haarself nou weggegee besef sy toe Bernard haar nadenkend aankyk en vra hy homself in sy gedagtes af hoe sy, n dorpsjapie, van al die dinge weet. Hy glimlag vir haar en antwoord: “Ek sal jou more die lande gaan wys, kom ek gaan wys jou die melkstal en die stoor. Dit is in elk geval nou melktyd dan kan jy sien hoe word die koeie gemelk”.
By die melkstal is dit n ou bekende toneel uit haar kinderjare wat voor haar afspeel. Die arbeiders sit met hulle emmers onder die koeie en melk dat die skuim op die emmers staan. Dan word die melk in n groot tenk gegooi vanwaar die kanne volgetap word en in n ry gepak word vir die melkvragmotor om dit te kom haal romery toe.
Sy onthou hoe sy en Hans altyd hulle bekertjies gebring het om n beker melk vars uit die koei se speen te kry, lekker warm vol skuim bo op. As hulle klaar gedrink het het die wit kringe altyd so om hulle monde gesit..
Alles is mooi herstel en keer hulle terug huis toe waar hulle op die stoep gaan sit en gesels nadat sy die pragtige blomme en struike in die tuin bewonder het. Dit is toe die son laag begin sak wat Bernard besluit om vir hulle n vuurtjie te maak en vir hulle n vleisie te braai. Marietjie vra hom om haar te wys waar alles in die kombuis is dan kan sy vir hulle n slaaitjie maak. Sy moet egter hoor dat Bernard se huisbediende dit alreeds deur die dag gemaak het en dit in die yskas gesit het. Sy kan vir hulle elkeen n drankie ingooi terwyl hy die vuur maak.
Nadat sy hulle drankies ingegooi het sluit sy by hom aan onder die lapa aan die agterkant van die huis waar hy ook nou gaan sit het terwyl hy wag vir die vuur om aan die gang te kom. Dit is toe hy haar vra: ‘Marietjie ek weet niks van jou af nie terwyl jy alles van my weet. Vertel my bietjie van jou. Al wat ek weet is dat die drie van julle saambly en jou broer n stoker is, verder weet ek niks”.
Marietjie besef dadelik dat sy hom sal moet vertel maar dat sy haar woorde versigtig sal moet kies, sy wil nog steeds nie hê dat hy moet weet van die verbintenis tussen hulle en Boskop nie. Sy vermoed dat hy klaar agterdogtig is nadat sy haarself vanmiddag so weggegee het. Sy vertel hom dus die hele storie hoe hulle hulle plaas verloor het en dat haar pa toe op die spoorweë gaan werk het. Sy vertel hom hoe hulle in die weeshuis beland het en die lewe daarna maar verswyg sy die feit dat die plaas Boskop was.
Bernard kyk haar net lank aan maar sê nie n woord nie. Hy vermoed iets en vra homself die vraag af of daardie plaas Boskop kan wees maar hy vra haar nie.
Die geselskap dwaal in n ander rigting en begin hy braai toe die kole reg is. Marietjie gooi vir hulle nog n drankie in en toe die klaar is is die vleis ook gereed. Marietjie dek vir hulle onder die lapa waar hulle rustig teen die ondergaande son die stilte en die natuur geniet. Toe dit donker is steek Bernard twee lampe op en sit hulle n rukkie op die stoep. Later gaan was hule gou die skottelgoed en daarmee klaar gaan sit hulle buite op die stoep.
Bernard gaan pluk vir haar n paar blomme en kom gee dit vir haar met die woorde: “Dit is om dankie te sê dat jy vir my kom kuier het. Ek hoop dit is die eerste van baie kuiertjies hier by my. Dit is heerlik met jou hier”.
Marietjie neem sy hand in hare en gee dit n drukkie en voel sy hoe die elektriese strome deur haar gaan toe hy haar hand terugdruk en sê; “Bernard, dit is net so lekker om hier by jou te wees en lê sy haar kop n oomblik op sy skouer neer. Dit is toe Bernard sy arm om haar sit en voel hulle albei hoe die spanning uit hulle uitvloei. Bernard gaan skink vir hulle nog n drankie en is dit toe hy terugkom en sy glasie lig wat hy sê: “Op n lang en blywende vriendskap. Sy kyk hom diep in die oë en beaam met haar woorde; “Ek stem saam met jou Bernard”.
Hulle sit lank so stil en rustig langs mekaar met hulle hande inmekaar elkeen diep bewus van die ander een se teenwoordigheid met die naggeluide om hulle en die maan wat teen die horison begin klim.
Dit is toe Bernard vra: “Marietjie sal jy omgee as ek n paar fotos van jou neem”.
Sy kyk Bernard grootoog aan: “ Ek wil dan net gou iets spesiaal gaan aantrek vir daardie fotos hoor”, en daarmee staan sy op en verdwyn kamer toe. Sy besluit om gou haar lang wit rok aan te trek, druk gou n kunsblom in haar hare in en toe sy op die stoep uitstap het Bernard sy kamera toerusting gereed. Toe hy haar sien trek hy sy asem diep in, dit is of sy aangesweef kom nie aangestap kom nie.
Bernard neem n paar fotos van haar en belowe hy haar hy sal vir haar ook n stel sal laat maak sodra die film ontwikkel is. Na die fotonemery gesels hulle nog n rukkie op die stoep en besluit hulle so elf uur om te gaan slaap. Bernard sien haar voor haar kamerdeur af en verdwyn sy in haar kamer in, erg verward want sy het nie eers n nag soen gekry nie terwyl sy gehunker het daarna.

In haar kamer trek sy haar slaapklere aan en trek haar dagboek nader wat sy saamgebring het om in die lamplig n inskrywing te maak: “Liewe dagboek. Ek sit hier in my ou kamer op Boskop met jou en gesels. Ek en Bernard het heerlik saamgekuier maar ek dink ook ek het myself weggegee toe ek so ewe ongevraag gevra het hy moet my die melkstal en die stoor gaan wys. Die manier wat hy na my gekyk het sê vir my dat hy iets vermoed. Ek het hom alles van ons vertel behalwe dat ons van Boskop af kom. Hy het my nie eers een keer probeer soen nie en sjoe dagboek ek het gewens hy wou. Of hy is te ordentlik of hy is agterdogtig en ek dink dit is die geval, ek het myself te duidelik weggegee vanmiddag maar hy het nie gevra nie.
Dagboek ek is hopeloos verlief op Bernard en dit plaas my in n moeilike situasie. Ek sal of hierdie vriendskap moet beëindig of hom die waarheid vertel en ek weet nie wat gaan sy reaksie wees nie. As ek hom die waarheid vertel sal ek hom ook die waarheid moet vertel van ons voornemens om Boskop terug te kry”.
n Ligte kloppie aan haar deur laat haar die dagboek blitssnel bêre en in die bed spring voor sy Bernard innooi.
Hy kom sit by haar op die bed en vra: “Hoekom slaap jy nog nie. Ek was gou kombuis toe toe sien ek die lig onder die kamerdeur skyn en wil ek net kom hoor of daar iets is wat ek kan doen”.
Sy antwoord hom nie en glimlag net vir hom. Haar hele wese hunker na hom en wens sy in haar hart dat hy haar moet soen. Dan antwoord sy hom: “Eintlik geniet ek maar net die stilte wat so anders is as in die dorp. Ek kan my verluister aan die naggeluide, die gesing van die besies en die ander geluide terwyl ek deur my oop venster die sterre en die lieflike volmaan indrink”.
Bernard neem haar hand in syne: “Dit is hoekom ek hou van die plaaslewe. Ek hou van die stilte in die nag. Bedags hou ek van al die werksaamhede op die plaas. Ek sal nooit n kantoorman kan wees nie, ek is n natuurmens”.
Dit is of die atmosfeer skielik gelaai is en die volgende oomblik trek hy haar nader. Marietjie gee gewillig mee en haar hele liggaam begin hunker. Sy lippe sluit oor hare en gaan staan tyd vir hulle stil toe die soen al intenser word tot hy wegbreek. Sy trek egter sy gesig weer nader en gaan staan tyd weer vir hulle stil in nog n lang minnaarskus wat die bloed deur hulle are jaag tot Marietjie wegbreek: “Kom ons gaan slaap Bernard voor ons te ver gaan”.
Bernard staan op, gee haar n nagsoen en stap die kamer uit om Marietjie met n draaiende kop, flinders in die maag en sterre in haar oë agter te laat.
Dagboek kry nog n inskrywing: “Waaaooow dagboek, hy het my gesoen en ek voel skoon deurmekaar”.

Vir Hans en Elsabe is dit ook n heerlike kuieraand en met hulle twee alleen in die huis braai Hans ook vir hulle n stukkie vleis waarna hulle styf in mekaar se arms gaan sit. Die liefde tussen hulle floreer en volg die een soen op die ander. Dit jaag die hunkerings en verlangens tot n hoogtepunt en is dit toe hulle gaan slaap en Elsabe vir Hans kom nag sê wat die dam se wal breek. Of dit doelbewus was sal mens nie kan sê nie maar het Elsabe net haar deurskynende nagklere aan, sonder haar kamerjas.
Die lig skyn deur die kamerjas om haar vol liggaam skerp af te teken en dit is vir Hans te veel. Hy trek Elsabe by hom in die bed in en begin die aanrakings tussen hulle die hunkerings en verlange in hulle liggame n hoogtepunt bereik tot hulle nie meer kan nie. Hulle laat die liefde tussen hulle sy volle loop neem om hulle van die een hoogtepunt na die ander te voer om hulle later uitgeput in mekaar se arms aan die slaap te laat raak.
Toe hulle wakker word lê sy met haar kop op Hans se bors en terwyl hy haar lig oral op haar hare soen vra hy haar: “Elsabe ek het jou lief met my hele lewe. Sal jy met my trou as jy Augustus maand een en twintig word”.
Sy wurm haar net stywer teen hom vas en knibbel sy oor n slag en antwoord: “Ek het jou net so lief Hans en ek wens ons kon sommer more al trou”.

Bernard gaan wys Marietjie die oggend die res van die plaas terwyl sy bediende vir hulle middagete voorberei. Vir haar is die hoogtepunt die groen wuiwenede mielie lande waar die wind liggies deur die blare ritsel. Dit is vir haar n belewenis om soos van ouds die skape en beeste rustig te sien wei in die weidingskampe. Daar word nie veel gepraat nie en is dit of hierdie stille oomblikke hulle nader aan mekaar bring. Bernard kom agter dat sy haar inleef in die stilte van die plaas.
In die stilte van die veld neem Bernard haar weer in sy arms en smelt hulle lippe saam in n minnaarskus tot Bernard wegbreek en sê; “Marietjie ek is lief vir jou en ek wil jou weer hier by my op die plaas hê en vir jou in die dorp kom kuier sodat ons n verhouding kan opbou”.
Sy antwoord hom nie, knik net woordeloos haar kop. Die uur van waarheid is nader as wat sy gedink het. Sy sal hom moet die waarheid vertel, die vraag is net hoe gaan hy reageer. Dit is ook die oomblik wat sy besluit dat sy graag wil hê dat hulle vriendskap ten volle groei en toe antwoord sy: “Ek wil net so graag hê dat ons vriendskap groei Bernard. Ons moet dit net stadig vat en seker maak van ons gevoelens vir mekaar”.




Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed