DIE WIEL DRAAI HFSTK 18
HOOFSTUK 18
Toe Bernard Marietjie Sondagmiddag laat by die huis aflaai is Hans net weg loko toe en kan die twee meisies ongestoord gesels terwyl Marietjie uitpak. Marietjie vertel Elsabe alles van die naweek en dan stel sy haar probleem aan Elsabe: “Elsabe ek is hopeloos verlief op Bernard. Hy het my gevra om weer vir hom te kom kuier en of hy vir my ook kan kom kuier want hy is lief vir my. Dit bring my voor n groot probleem want ek het hom alles van ons vertel die naweek maar ek het hom nie vertel dat ons van Boskop afkom nie en ook nie van ons voornemens nie”.
Elsabe antwoord haar dadelik: “Marietjie jy sal hom die waarheid moet vertel. As hy dit agterna gaan uitvind gaan hy dink jy het misbruik van hom gemaak. As hy jou wil los omdat jy hom die waarheid vertel is dit daarnatoe. Hy gaan jou in elk geval los as hy dit agterna uitvind en gaan hy jou verkwalik dat jy hom nie vertel het nie”.
Elsabe se beurt om te vertel van hulle naweek en vertel sy dat Hans haar gevra het dat hulle Augustus maand trou sodra sy een en twintig geword het. Sy sê nie dat hulle saam geslaap het nie. Hulle is albei uit hulle velle uit van vreugde en gaan slaap hulle die aand met bonsende harte erg oorrompel deur die liefde.
Dinsdagaand toe Bernard kom kuier is Hans ook by die huis. Marietjie het die hele situasie aan Hans verduidelik en stem Hans saam met Elsabe, as sy vir Bernard wil behou sal sy vir Bernard die waarheid moet vertel. Hy voel egter dat dit nie nodig is om hom te vertel van hulle voorneme om Boskop terug te kry nie want dit het op hierdie stadium eintlik niks met hom te doen nie. Dit is vir Marietjie n groot verligting en ontvang sy Bernard met n oop hart en n warm soen toe hy inkom.
Toe hulle in die sitkamer gaan sit val Marietjie dadelik met die deur in die huis: “Bernard, daar is iets wat ek jou moet vertel. Ek en Hans kom van Boskop af, dit was my pa se plaas. Ek is jammer ek het jou nie vertel nie maar ek het nie geweet hoe gaan jy reageer nie.”.
Bernard kyk haar aan en sê dadelik: “Maar dit is mos nie n probleem nie. Ek weet dit in elk geval. Jy het jouself te veel weggegee die naweek en dit het my bietjie laat huiswerk dien. Ek het mnr. Roets gevra wie die vorige eienaars van die plaas was en toe hy sê Struwig het ek dadelik twee en twee bymekaar gesit. Hy het my ook vertel van die groot brand en die droogte die jaar daarna wat jou pa finansieël gebeek het”.
Bernard bly n oomblikkie stil en toe Hans iets wil sê hou Bernard sy hand op en gaan aan: “Ek weet dat Willem Roets n grondhonger vent is en al die plase om hom al ingepalm het. Dit is net Phillip du Plessis wat hardnekkig weier om Langspruit aan hom te verkoop en vir Willen is dit n groot doring in die vlees. Hy het dit genoem dat Dirk Struwig net so hardekwas was om aan hom te verkoop maar dat die brand en die droogte die volgende jaar die skaal in sy guns laat swaai het. Hy het net druk op die bankbestuurder uitgeoefen om die verband op die plaas op te roep sodat hy die plaas op n veiling kon opraap”.
Hans en Marietjie kyk vir mekaar en voel hoe n lam gevoel deur hulle trek. Wat hulle al die jare begin vermoed het van die bankbestuurder is dus waar en is dit toe Hans die feit van die verdwene plaaswerkers noem.
Bernard frons n oomblik en vra: “Hans kan jy hulle naam onthou en hoe hulle gelyk het?”.
Hans antwoord dadelik: “Een was n groot man, baie dominerend met n wil van sy eie. Hy het n snaakse naam gehad. Sy naam was Ramatsi”.
Dit lyk of n slang Bernard gepik het soos hy regop vlieg: “Ramatsi is Willem Roets se skaduwee. Waar die een is is die ander en onder die ander swartes is Ramatsi se woord wet maar is hy ook baie onderduims. Dit het ek besef nog elke slag as ek met hom te doen het. Willem is lief om boodskappe met hom te stuur en sy houding laat elke slag my nekhare rys.”
Dit is toe Hans sê: “Ek het nog altyd vermoed dat daar vuilspel betrokke was en ek het al baie gewonder of daardie Ramatsi nie iets met die brand te doen gehad het nie. Bernard maar ek gaan jou in my vertroue neem en jou iets vertel. Ek en Marietjie is van plan om Boskop terug te kry. Dit is die Struwigs se grond daardie en ons gaan dit terugkoop. Die spoorweë het na my pa se dood n mooi klompie uitbetaal en is dit vir ons in n trust gesit. My pa het ook vir ons elkeen n spaarrekening by die bank oopgemaak en is die geld wat hy vir ons na elke oes inbetaal het ook in die trust opgeneem. Marietjie word Junie maand een en twintig en is haar trustgeld los. Saam met myne, en Elsabe sn wat Augustus maand loskom, kan ons n aansienlike bedraggie neersit, die res sal ons by die landbank aansoek doen vir n lening”.
Bernard sê nie veel nie en oordink alles wat hy nou gehoor het vir n hele ruk. Elsabe gaan maak vir hulle koffie en Marietjie sterf tien dode. Aan die een kant is sy kwaad vir Hans maar aan die ander kant is sy bly dat Bernard nou die volle waarheid weet. As hy dan nou die vriendskap wil beëindig is dit daarnatoe.
Onder die koffiedrinkery merk Bernard skielik op: “Ek gaan Ramatsi bietjie bymekaar vat as hy weer daar op Boskop aangesit kom. Ek het n sterk vermoede dat hy iets met die brand op Boskop te doen gehad het. Van my kant af kan ek julle belowe dat ek alles in my vermoë sal doen om julle te help om Boskop terug te kry”.
Marietjie kyk hom met dankbare oë aan en knipoog Bernard vir haar: “Ek hoop maar ek kan op Boskop aanbly as julle Boskop die dag terug kry, ek is baie lief vir daardie plaas. Dit sal egter moeilik gaan want Willem Roets sal nie verkoop nie, daardie man het n grondhonger wat skrik vir niks en die feit dat Phillip du Plessis nie Langspruit aan hom wil verkoop nie is n seer puntjie by hom”.
Hulle begin oor ander dinge gesels en is dit toe Hans gaan slaap, hy is vroeg aan diens Harrismith toe, en Elsabe ook gaan inkruip wat hulle Marietjie en Bernard alleen in die sitkamer laat. Marietjie kom sit dadelik langs Bernard, neem sy hande in hare en sê vir hom: “Dankie Bernard nou kan ek dit vir jou sê wat ek Sondag nie vir jou wou sê nie omdat ek bang was wat jou reaksie sal wees as jy die waarheid weet. Ek is lief vir jou ook”.
Bernard trek haar nader en vind hulle lippe mekaar sn in n lang passievolle soen wat die bloed in hulle are rondjaag.
Daardie aand neem hy laat van Marietjie afskeid om haar met n bonsende hart agter te laat.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.