Jongste aktiwiteit:

DIE WIEL DRAAI HFSTK 4

HOOFSTUK 4

In die jaar is Marietjie Struwig soos n blom wat tot sy volle ontluiking kom. Sy het ten volle jong meisie geword en so n mooi meisie trek aandag. Veral die matriekseuns breek hulle bene oor haar maar sy steur haar nie aan hulle nie. Soos haar broer is sy ook maar n eenkant mens maar skeep sy haarself nie af nie. Die geldjie wat Hans elke maand stuur is welkom want haar ou toelagie is te klein om werklik vir haar mooi klere te koop en Marietjie hou van mooi en smaakvol aantrek. Saam met Hans se geldjie kan sy dus klere koop om smaakvol aan te trek.
Op skool leer sy hard en kom haar eksamens goed deur. Haar kamermaat, Elsabe Steenberg, is saam met haar in die klas en dit help baie met die leerwerk. Dit is al werklike vriendin wat Marietjie het en met Elsabe deel sy al haar drome, haar en Hans se voorneme en moet sy alles vir Elsabe vertel wat Hans skryf. Sy is eintlik dood verlief op Hans vandat sy n jaar na Hans en Marietjie in die tehuis gekom het maar dit vertel sy nie vir Marietjie nie.
Elsabe sit juis by haar in die kamer terwyl sy besig is om vir Hans n brief te skryf. Sy en Hans het mekaar laas gesien toe Hans weg is Bethlehem toe en wil sy die Desember vakansie na Hans toe gaan want Hans het vir haar gekryf dat hy wel verlof gevra het maar dat die roosteropsteller amper n hartaanval gekry het toe hy wou verlof insit. Hy is duidelik gemaak verstaan dat getroude manne voorkeur kry en hy maar sal moet wag tot na die vakansie voordat hy op verlof kan gaan. Dan is dit weer skooltyd en sal hulle eintlik ook niks van mekaar hê nie.
Siende dat Hans nie na haar toe kan kom nie moet daar plan gemaak word dat sy na Hans toe gaan en is dit presies wat sy vir hom skryf. Hy moet kyk of hy nie vir haar êrens blyplek kry nie. Dan sal sy met die trein kom en ewe opgewonde deel sy die gedagte met Elsabe.
Elsabe het haar ouers albei in n motorongeluk verloor. Haar pa was n stasievoorman en is sy ook na New Canada gebring vir versorging want haar pa het jare diens gehad en sy het geen ander familie gehad om heen te gaan nie.
Elsabe staar droomverlore deur die venster: “Ek wens ek was jy Marietjie, ek het nêrens om te gaan nie en sonder jou hier sal dit maar n simpel vakansie wees”.
Marietjie antwoord dadelik: “Jy kom saam en ek gaan dit nou vir Hans skryf dat hy moet plan maak vir altwee van ons vir n blyplek, hy sal n plan maak”.
Daardie aand skryf Marietjie in haar dagboek: “Liewe dagboek. Hierdie jaar is besig om ten einde te snel en ek het Hans nie een keer hierdie jaar gesien nie. Hulle werk aan mekaar twaalf ure, sewe dae van die week. Ek verlang na hom en het vir hom geskryf ek gaan Desember maand na hom toe en Elsabe kom saam. Moenie giggel nie dagboek maar ek dink nog altyd sy is dood verlief. Hans kan in elk geval sy ou skoene agterna gooi as daar ooit eendag iets tussen hulle kom, sy is n stukkie goud. Dagboek sy deel in ons droom om Boskop eendag terug te kry en as ek soms moedeloos raak is sy die een wat my aanmoedig om vas te klou. Sy het ook niemand in die lewe nie en moet ek haar ook maar baie aande troos as sy moedeloos is en vrae vrae soos ek, die groot hoekom.
Dagboek ons leer nou dat dit klap vir die eindeksamen maar ek weet sommer dit wat pappa altyd gesê het: “Die oes is die arbeider se loon” sal waar word en ek sal goed deurkom. Hans sal trots wees op my. Dan is dit net twee jaar en dan is ons klaar met skool dagboek”.
Die volgende dag pos sy Hans se brief oppad skool toe en is dit nou net die wag op sy antwoord. Sy en Elsabe is ewe opgewonde oor die gedagte om Bethlehem toe te gaan vir die vakansie en sy is seker Hans sal n plan maak.
Intussen moet die aanvoorwerk by die huismoeder ook gedoen word want sy sal moet toestemming gee dat hulle die tehuis mag verlaat vir die vakansie. Toe hulle haar nader kry hulle n emmer koue water oor hulle toe hulle verneem dat die welsynwerker se toestemming ook gekry moet word en die gaan nie so maklik wees nie.
Hy sal wil weet waar hulle gaan bly en dit sal moet n meerderjarige persoon, verkieslik n egpaar, wees en dan sal die egpaar nog gekeur moet word ook. Marietjie en Elsabe is skoon moedeloos om dit te hoor en moet sy daardie aand weer n brief vir Hans skryf om dit aan hom te verduidelik en is hulle entoesiasme bietjie gedemp.
Toe Hans haar briewe kry is hy skoon moedeloos nadat hy dit gelees het. Hulle is weer op nagskof rangeer en kom Jannie agter dat daar fout is, Hans is baie stil.
Toevallig het hulle die vorige nag by Gert Engelbrecht, die voorman, verneem wat gebeur het toe sy pa onder die trein beland het toe Gert hoor wie Hans werklik is.
Gert het vertel: “Ek was nog n leierrangeerder en Dirk Struwig was daardie dag een van die brieksmanne. Hy het met twee trokke in nommer vyf pad ingery toe dit gebeur het. Die string trokke was kort en ek dink hy was haastig om weer voor te kom. Toe die trokke gestop is het hy afgespring, reg voor die twee loslokos wat in nommer vier opgekom het. Hoe hy die lokomotiewe nie gesien of gehoor het nie bly n raaisel”.
Die nag toe hulle uitstaan om loko te vat vra hy vir Hans wat skort en Hans vertel hom dat sy suster en haar vriendin wil kom kuier maar wat die probleem is.
Jannie kry sy maat innig jammer en sit n bietjie en nadink en toe besluit hy: “Hans hulle kan by my en my vrou kom bly. Ek dink nogal sy sal daarvan hou om die twee meisies by haar te hê. Ek sal haar vandag vra en jou vanaand sê maar sy sal ja sê, ek is doodseker daarvan”.
Die volgende aand gee Jannie vir Hans die goeie nuus, sy vrou sê dit is reg, die meisies kan maar kom.
Hans skryf dadelik vir Marietjie dat dit reg is, hy het vir hulle blyplek by n getroude paar, sy drywer, gekry en skryf hy ook n brief aan die huismoeder waarin hy Jannie se adres gee as hulle die welsynwerker wil stuur om te kom kyk of die omstandighede geskik is.
Toevallig is die welsynwerker die dag by die tehuis toe die huismoeder Hans se brief ontvang, dieselfde dag wat Marietjie haar brief ontvang en bespreek die huismoeder dit met die welsynwerker. Sy maak groot voorspraak vir Marietjie omdat Marietjie n sagte plekkie in haar hart het en sy weet hoe bitterlik Marietjie na Hans verlang.
Na n lang gesprek tussen die huismoeder en die welsynwerker word Marietjie en Elsabe ingeroep en kan hulle hulle ore nie glo toe die welsynwerker vir hulle sê dat hulle maar kan gaan nie, hy gaan nie eers kyk na die mense by wie hulle gaan bly nie. Hulle word net ernstig vermaan: “Julle is groot meisies en belowe my net dat julle op die trein versigtig sal wees. Soos ek verstaan sal julle met die nagtrein ry, as julle in julle kompartement is sluit julle die deur en laat niemand toe nie. Daar is altyd wolwe op die trein wat veral jong meisies nie met rus laat nie. Eintlik moes Hans julle kom haal het maar ek verstaan omstandighede dat hy werk en nie kan nie”.
Hulle belowe dat hulle niemand in hulle kompartement sal toelaat nie en is hulle by die deur uit soos twee warrelwinde. In die kamer kyk hulle mekaar groot oog aan, woorde kan nie die vreugde in hulle harte beskryf nie. Elkeen het sy eie rede, Marietjie gaan haar broer na n jaar weer sien en haar wêreld weer in n lang tyd. Elsabe sien uit om Hans weer te sien omdat sy tot haar ore toe verlief is op hom en wil sy ook nie Kersfees alleen wees nie. Eintlik is Marietjie en Hans ook al wat sy het.
Die aand nadat Marietjie Hans se brief gekry het skryf sy in haar dagboek: “Liewe dagboek, Hans het vir ons blyplek by sy drywer gekry. Sjoe dagboek ek kan jou nie sê hoe bly is ek nie. Ek het Hans hierdie jaar verskriklik gemis en dit sal wonderlik wees om weer in my wêreld te wees. Elsabe sal dit nooit erken nie maar sy sien net so uit daarna om Hans te sien en sy word sommer bloedrooi as ek haar so bietjie aankyk as sy van Hans praat. Hoe sê hulle, wat die hart van vol is loop die mond van oor.
Ek wil ook na pappa en mamma se grafte gaan kyk of alles mooi versorg is daar en blommetjies gaan opsit. Weet jy dagboek hulle is so jonk weg en ek sukkel om daarmee vrede te maak. As hulle oud en afgeleef was sou ek dit nog kon verstaan maar hulle was glad nie oud nie”.
Daardie aand is dit twee hoogs gelukkige meisies wat aan die slaap raak, elkeen met haar eie drome.
Toe Hans Marietjie se brief kry dat hulle toestemming gekry het om die vakansie na hom toe te kom is hy ook innerlik verheug want hy verlang na sy suster en alhoewel hy dit ook nie sal erken nie het hy maar n sagte plekkie vir Elsabe, die groenoog blondekop.
Toe hulle weer dagskof is nooi Jannie hom een aand oor om by die huis te kom kuier. Dan kan Hans sommer sy vrou ontmoet en self kom kyk dat daar genoeg plek is.
Hans laat geen gras onder sy voete groei nie en ontmoet hy die aand vir Ronel de Beer, so ou kortetjie met vlamrooi hare en sproete, maar n vreeslike innemende mens. Ronel is n netjiese vrou en omraan haar vlamrooi hare haar gesig met sulke vlammende golwe. Vir Hans is die sproete op haar neus net te oulik en het sy n spierwit bloes met n rooi rompie aan wat haar gesig nog verder beklemtoon, en kan sy gesels.
Sy kan nie ophou gesels nie en moet Hans haar alles van hom vertel. Hy vertel haar hoe hulle Boskop verloor het en van Marietjie en Elsabe. Toe hy van Elsabe vertel sien hy dat Ronel begin glimlag en toe terg sy hom ewe goedig: “En is Hans nie so bietjie verlief op Elsabe nie mmmm. Daardie ogies van jou lyk maar baie droom verlore as jy oor haar praat”.
Sy vertel hom weer alles van haarself. Sy het maar in Bethlehem groot geword, haar pa is ook n drywer, Rooijan de Klerk. Sy het Jannie ontmoet toe hy vir Rooijan begin stook het en Rooijan hom huis toe genooi het. Dit was liefde met die eerste opslag en het haar pa altyd gespot dat hy Jannie juis genooi het om na Ronel te kom vry dat sy ook n man kry want wie wil nou n rooikop, vlammende hare vrou hê, almal reken hulle is te bevoeterd. Jannie is weer n plaasseun wat voetplaat toe gekom het as jongste seun terwyl die twee ouer broers aangaan met die boerdery.
Sy verseker Hans dat sy baie uitsien na die meisies se besoek. Dat haar hele lewe om haar huis en haar man draai is gou duidelik soos sy gedurig aan Jannie vat en die manier wat sy met Jannie praat.
Dat sy moeite met die aand ete gedoen het is duidelik. Dit is die heerlikste skaaptjops met aartappels en groente.
Hans eet homself die aand trommeldik en is dit vir hom heerlik om weer n slag saam met mense aan tafel te sit en onder die ete deur te kan gesels. In die hostel meng hy nie eintlik met die ander nie en eet hy altyd sy kos in stilte sonder praatjies aanknoop met sy tafelgenote wat in elk geval nooit dieselfde mense is nie.
Dat Jannie baie erg is oor haar word onderstreep toe hulle na ete in die sitkamer intrek en sy eers gaan skottelgoed was toe Jannie vra: “Hans dink jy nie sy is die oulikste ou dingetjie op twee voete nie”.
Hans glimlag en moet saamstem: “Jy is gelukkig om n vrou soos Ronel te hê. Ek hoop ek kry ook eendag n vrou soos sy. Weet jy my pa was ook my ma se hele wêreld en het haar hele lewe om hom gedraai. Ek dink dit is hoekom sy sommer opgegee het om te lewe en so kort na hom dood is. Sy wou na hom toe gaan”.
Klaar skottelgoed gewas sluit Ronel by hulle aan. Dat sy die siel van enige geselskap is word gou duidelik en ou Jannie skud net kort kort sy kop: “Hier is nou n tipiese voorbeeld van vaderland en moedertaal. Ek werk en Ronel doen al die praatwerk in die huis”.
Dit is laat aand toe Jannie hom voor die hostel aflaai en hy kan gaan inkruip, baie tevrede met homself, en feitlik dadelik aan die slaap raak. Hy het vandag wonderlike vriende gemaak en weet hy dit is n vriendskap wat sal aangaan as hy en Jannie se paaie binnekort op die voetplaat gaan skei as Jannie sy drywers aanstelling kry.




Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed