Die Worsie Sonder Punte
Een oggend vra
My man vir my
Waarom ek elke worsie
Se punte tog afsny?
Ek moet toe sonder aarsel
Die rede aan hom noem
“Dis hoe my liewe moeder
Dit nog altyddeur maar doen!”
Ek gaan toe na my moeder
Om by haar tog te gaan hoor
Waarom dan elke worsie
Sy punte moet verloor
“My kind” sê sy
“Ek weet nou self nie meer,
Toe ek nog maar ‘n kind was
Het my moeder so geleer.”
Nou gaan ek na my ouma toe
Dat sy my tog kan sê
Waarom daar glad geen worsie
‘n Puntjie aan mog hê.
“Ag ouma, ouma,
Sê my gou,
Waarom geen enkel worsie
Sy punte mag behou?”
“My kindjie” sê my ouma toe,
Dis maar die ritueel
Soos wat jou ouma-grootjie
Dit van kindsbeen met my deel.”
Ek begeef my na die hospitaal
Waar sy haar nou bevind
En hoop sy sal my antwoord,
Haar liefeling kleinkind.
Ek vra haar sommer vinnig
Die vraag wat ek wil vra
“Sê my liewe ouma,
Ag sê ‘seblief vir my,
Waarom’t ouma elke worsie
Se punte afgesny?”
“Ag liewe kindjie” antwoord sy,
“Dit is tog geen geheim.”
“Die pannetjie wat ek destyds had,
Die was mos veels te klein!”
© Anton Bosch 05/09/2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.