
Dorsgety (Goud)
hier, waar ek en jy
onbewoë
op ons agterstewe sit
en opgetoë toekyk
hoe Godswater
oor Godsakker
sypelend aanstryk,
delf ons eintlik lankal
die gatkant
van die onderspit
dwarsdeur
die polsende are
van moederaarde
se onherwinbare hart;
waar minerale
edelmetale
en lawende waters
onder die oppervlak
stelselmatig sak
en krimpend knak
(om ‘n dorsgety te voed)
soos óns behoeftes
skaamteloos aanteel
en onverpoosd voortwoed
© Loretta Szikra
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Julie 2023 – OOP projek