Jongste aktiwiteit:

ENGELE OP MY PAD-MY BESKERMENGEL

ENGELE OP MY PAD

Enige mens het seker engele op sy lewenspad en is dit sekerlik waar dat engele in baie mense se lewens n groot invloed op hulle lewe kan uitoefen.

Ek glo vas dat daar ook beskerm engele in enige mens se lewe is, sommige mense noem dit die noodlot ander noem dit hulle sesde sintuig, ek noem dit beskerm engele.

Ek was jare op die spoorweë as stasievoorman werksaam en het op Whites-Wes afgelos toe die insident plaas gevind het.

Whites-Wes was op die hooflyn tussen Kroonstad en Bloemfontein en het die Welkom taklyn hier uit die hooflyn gedraai.

Dit was n koue wintersoggend en was die trein oppad na Whites-Wes toe met twee stoom lokomotiewe vooraan.

Die spoor het om n draai van Whites afgekom en het ek in die preekstoeltjie langs die spoor gestaan met die tablethouer, wat die tablet op het om die drywer te magtig om Welkom toe te ry, in my hand. Teen die opkomende son het ek nie die trein gesien nie, net n aankomende rook en stoomwolk soos die twee lokomotiewe die swaar vrag teen die opdraende uittrek. Toe die voorste lokomotief by my kom en begin verbygaan het ek die tablethouer vir die stoker uitgehou om te vang. Die volgende oomblik het ek gevoel hoe word die tablethouer uit my hand uit gestamp. Ek dink die stoker het ook maar op gevoel gegaan en toe die tablethouer gemis.

Ek het dadelik uit die preekstoeltjie uitgeklim, normaalweg het ons bly staan om vir die kondukteur sy briefie op te gee, maar nou moes ek die tablethouer gaan optel want die drywer het klaar remme aangesit om te stop en die stoker terug te stuur vir die tablet.

Toe ek op die grond was het ek die slag gehoor. Die eerste trok agter die lokomotiewe was gelaai met lang pale wat myne toe gaan vir mynstutte. Een van hierdie pale het dwars geval en het die preekstoeltjie getref. As ek in daardie preekstoeltjie bly staan het was ek sekerlik dood.

My vraag tot vandag toe, na al hierdie jare, is nog steeds, was dit die stoker wat die tablethouer uit my hand uit gestamp het of was dit my beskerm engel wat sy hand tussen in gedruk het en die tablethouer uit my hand uit gestamp het

Die tweede keer wat my beskermengel die tablethouer uit my hand uit gestamp het was op Featherstone. Toe die drywer die tablethouer by my misgevat het, sonder enige rede want dit was elektriese eenhede met skoon uitsig, moes ek ook haastig die preekstoeltjie ontruim om solank te begin draf om die tablet voor by die drywer, wat reeds remme aangesit het, te kry.

Toe die slag, n pakkasdeur wat oopgegaan het vang die preekstoeltjie. Weereens as ek daar bly staan het was ek dood.

Ek glo vas dat ek n beskerm engel het want daar was al baie insidente in my lewe waar my beskerm engel tussenbeide getree het, hierdie was maar net twee voorvalle en ek kan my beskerm engel nie genoeg dankbaar wees nie.




Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed