Gasvlam samesyn
Woorde 794
“Jy weet, ek raak moeg vir mense.”
“Hoekom, wat het hulle nou weer gedoen?”
“Het jy die nuwe video gesien oor die DNA?”
“Jip.”
“Ek kan nie glo mense val vir dit nie.”
My gedagtes is nie by die gesprek nie. Die kreatiewe werksboek moet klaar, maar ek haak vas by ‘n spesifieke gedeelte wat ek nou al vier keer gelees het. Dit is net nog ʼn video in ‘n see van inligting en om die egtheid daarvan te gaan toets, het ek nie tyd voor nie. So ek luister met ‘n halwe oor terwyl ek lees.
Kreatiwiteit is die uitlewing van die siel…
“Jy moet sien wat die mense skryf. Almal is nou alweer in vrees.”
Ek knik net… en nie vir die intelek. Wanneer ons te doene het met…
“Ag aarde tog…”
“Wat nou?”
“Die mense is mal.”
“Hoekom?” … ons drome en–ons visie, dan– “Luister gou, dan los ek jou.”
… beweeg ons in die heilige realm en… “Reg so.” … is ons betrokke met kragte en energie groter as ons eie fisiese wêreld…
“Daar is nie ‘n manier dat hulle die stokkie so diep in jou neus kan druk om jou DNA te kry nie. Dit is net die laboratorium wat hulle gebruik. Hulle het nie tyd om jou DNA te vat nie. En wie betaal vir die toetse? Dit is te duur. Dink die mense nou rerig dat die staat dit gaan betaal?”
“Seker nie.” … ons is betrokke in ‘n heilige, afgesonderde transaksie waarvan ons min kennis dra; ʼn skaduwee, maar nie die ware vorm nie.
“Nou gons Bakkiesblad. Ek kan nie glo mense is so gullible nie.”
“Verveeldheid is ‘n lelike ding,” antwoord ek so deur die lees deur. …Vir die rede word dit aanbeveel dat enige byeenkoms van kreatiewe denkers in die gees van toegewyde vertroue moet plaasvind. Ons beroep onsself op die Groot Skepper wanneer ons ons eie kreatiwiteit wil aktiveer. Hierdie kreatiewe krag het die vermoë om ons lewens, toekoms ideale en drome te beantwoord.
“Dan praat hulle dat ons weer terugkeer na vlak 3. Maar dit kan nie gebeur nie. Dié land sien sy gat sonder ‘n spieël as dit gebeur.”
“Ek is nou moeg van die masker. Ons moet terug na normaal.”
“Dit sal nie gou gebeur nie, maar ek glo die einde is in sig. Die Here sal dit nie toelaat nie.”
… In ons lewens is ons dikwels ongeduldig, temperamenteel en selfs onvanpas in uitdrukking. Ons vind dit moeilik om mede-kreatiewe denkers in liefde te behandel soos ons behandel wil word. Ten spyte daarvan verdra ons mekaar juis omdat ons hierdie unieke vlak deel. Ons eer hulle selfs in ons uitbarstings en kritiek. Dit is ons verbinding met mede-kreatiewegenote.
As kunstenaars behoort ons aan ‘n ou en heilige …
“Beslis. Hoe gouer ons kan terugkeer na normaal, hoe beter. Maar Vlak 1 is meer geskik as Vlak 3.” … Ons is die draers van die waarheid en word deur dieselfde gees gelei.
“Ek wens net die mense wil ophou om sulke gemors te glo.”
“Hou op kuier op Bakkiesblad dan.” Stilte beantwoord my. Ek kyk op en die man is weg. Okay, dink ek … nou kan ek verder werk.
Die interaksie wat ons met mekaar het is dieper as die fisiese. Ons deel nie net met mekaar se persoonlikhede nie, maar deel ook die onsigbare. Dié deel waar gedagtes, drome, woorde, idees, liedjies en beelde geskep word. Dit vul ons wese en is geduldig om die lewenslig te sien.
Dit is wat ‘n gemeenskap van kreatiewe denkers moet wees … ‘n plek van veiligheid waar ons toegelaat word om te groei, te droom en dit wat brandended is uit te leef.
“Koffie?”
“Dit sal lekker wees, dankie.” Die gas word aangesteek en die ketel daarop geplaas. Met ‘n sug sit hy weer.
“Was jy op Facebook?”
“Nee,” ek kyk op. Sy manier van vra vreemd.
“Jy onthou vir daardie man wat altyd sulke lang goed skryf?”
“Kan nie sê dit lui ‘n klokkie nie.”
“Sy vrou het so pas laat weet dat hy oorlede is. Aan Covid-19.”
“Dit is jammer.” Stilte daal oor die stoep en ek hou op lees. Daar heers ‘n gewyde stilte terwyl die gasvlam sy hitte besing, ons gedagtes vasgevang in die dansende vlam.
Ons wêrelde is inderdaad klein. Met Covid-19 se beperkinge het dit nog verder verklein en ʼn plek van veiligheid is nou meer nodig as ooit te vore. Elke persoon: oud en jonk het dit nodig om bymekaar te staan. Vir die onbekende man het die einde reeds aangebreek. ʼn Hartseer einde wat eintlik ons menswees-afhanklikheid verder onderstreep.
“Die einde moet nou kom,” sê Isak. “Die Here weet ons het hom nodig.”
“Amen. Ons kan net bid en glo.”
© LynelleClark2020
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2020 – Samesyn-projek