GEVANGE
GEVANGE
Ons wil vrykom van onsself
deur dieper te delf
soms sink ons nog laer
en raak verder gebelg.
Eeue lank smag mense
desperaat na verligting
breek roekeloos los van grense
val dieper vas; inperking.
Ongeag berekend of ingedagte
knip oop opsies ons vlerke;
waar vergrote areas mekaar oorkruis
kleim die tande van euforie sy perke.
Daar’s altyd ‘n plus, ‘n minus
en ‘n handelaar: vryheid word verdien,
die koper kies om die brein te sus –
danksy Gucci sal niemand merke sien nie.
Diere voel gelukkig in veilige ruimtes;
kinders plus reëls is gelyk denke wat vloei;
orde hou veilig vir skep en floreer
en geleenthede vir meesterlik groei.
As vryheid mateloos onbeperk raak
sal Utopia oprys, verbrand en vervliet
soos chemiese reaksies veroorsaak
word, deur ‘n ondeurdagte traak-my-niet.
©️Charlene Jordaan Kotzé (Junie 2023)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Julie 2023 – OOP projek