
Die Tupperware-Triomf: ʼn era van plastiek.
Die Tupperware-Triomf: ʼn era van plastiek.
In die afgelope eeu is daar een naam wat uitstaan as simbool van uitnemendheid in voedselbewaring en voedselberging: Tupperware. Hierdie ikoniese produk het ʼn enorme rol gespeel in die manier waarop baie huishoudings voedsel bewaar, voorberei en geberg het. Tupperware het beslis in menigte huisvroue, wêreldwyd se harte gekruip.
Die ontstaan.
Tupperware se ontstaan het vroeg in 1942 plaasgevind toe Earl Tupper, ʼn Amerikaanse chemikus sy eerste klokvormige plastiekhouer ontwerp het. Daarna het vele plastiekhouers die lig gesien. Earl het sy eie onderneming gestig in Leominster, Massachusetts. Hy noem sy besigheid: Tupper Plastics. Vier jaar later het hy aan die afronding van sy plastiek verander en het poliëtileen gebruik om sy eerste Tupperware-stel – The Wonder Bowl, bekend te stel.
Die bak was ʼn plastiekbak wat met ʼn baie digte seël die inhoud veel langer kon vars hou. In daardie beginjare wou hy sy produkte aan winkels verkoop, maar dit het nie voorspoedig gegaan nie. Mense was nie bewus van die voordele wat Tupperware vir hulle ingehou het nie. Toe verskyn Brownie Wise op die toneel.
Die Tupperware-partytjie revolusie.
Brownie Wise was ʼn geskeide adviesrubriekskrywer van Florida. Sy het ʼn goeie aanvoeling gehad vir bemarking en kon ʼn geleentheid in die mark raaksien en benut tot Tupperware se voordeel. Brownie het begin met die sogenaamde Poly-T-partytjies waartydens sy die houers demonstreer het. Haar teikenmark was tuisteskeppers. Bietjie later het sy dan huisvrouens gewerf om ook te help met die bemarking van Tupperware. Tupperware-parytjies het die “in-ding” geword en verkope het die hoogte ingeskiet.
Die duursaamheid van Tupperware.
Een van die uitsonderlike eienskappe van Tupperware is beslis sy duursaamheid. In die tyd waarin ons leef waar plastiekprodukte dikwels eenmalig gebruik word wat ʼn ernstige omgewingsprobleem veroorsaak, bied Tupperware ʼn betroubare oplossing vir die probleem. Tupperware se lewensduur en kwaliteit het tot gevolg dat dit vir jare gebruik kan word. Sodoende verminder dit die probleem van plastiekafval. Tupperware bied ʼn groener alternatief vir die mensdom.
Toe dinge begin skeef loop.
Deur die jare was Tupperware so suksesvol dat dit amper in ʼn selfstandige naamwoord verander het. Daar is baie prototipe plastiekware vervaardig en enige plastiekhouer is Tupperware genoem, al was dit nie die ware Jakob nie. Daar het verskeie probleme opgeduik in die Tupperware-kamp soos byvoorbeeld die manier van direkte verkoopsmag tot by handelsnaamkwessies. Finansiële probleme het opgeduik weens hoër rentekoerse en dalende verkope.
Die beskikbaarheid van verskeie plastiekware het Tupperware se bestaan bedreig. Die strawwe mededinging van groter en bekende handelsmerke soos Pyrex en Glad het ook bygedra tot Tupperware se dilemma.
Baie verbruikers het van mening verander om na meer volhoubare maniere te kyk vir die berging van kos.
Is die einde in sig?
Daar is onlangs berig dat die Tupperware-ryk moontlik hul einde in die gesig staar. Daar word melding gemaak van finansiële probleme en groot skuldlas.
Tupperware-produkte mag dalk binnekort versamelitems word.
©MarleneErasmus
21/07/2023
(482 woorde)
Bronne:
www.en.wikipedia.org/wiki/Tupperware
www.people.howstuffworks.com/tupperware2.htm
www.rarehistoricalphotos.com/tupperware-parties-pictures-history/
www.tupperware.com/
2 Kommentare
-
Ano
Oh aarde! Dit sal jammer wees as Tupper heeltemal uit ons lewens sal verdwyn. Tog, die "lewenslange waarborg" is toe ook nie heeltemal so lewenslank nie. Dit is nou glad nie meer so maklik om 'n beskadigde item om te ruil nie.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Julie 2023 – OOP projek