Gister se kersliggies.
As kind was Kersfees ’n wonderlike tyd. Die opwinding het reeds weke voor die tyd begin. Ons het koekies gebak en die kombuis was gevul met die reuk van speserye en soet gebak. Blink geskenkpapiere het onder die boom gelê, en dansende liggies het die nag laat lewe. Dit was ’n tyd van pure verwondering, ’n sprokie waarin alles ligter en eenvoudiger gevoel het. Kersfees was ’n belofte, elke oomblik was gevul met hoop, vreugde en samesyn.
Vandag is Kersfees steeds spesiaal, maar tog ook anders. Die eenvoud van kinderjare het plek gemaak vir ander dinge. Nou is daar beplanning en begrotings: geskenke wat duurder geword het en maaltye wat fyn beplan word. Ons probeer die “perfekte” dag skep, maar soms voel dit asof ons, in die strewe na perfeksie, die sorgelose vreugde van vroeër vergeet. Die spanning rondom ’n oorvol tafel, die druk om almal gelukkig te maak – het van daardie vroeë dae kom verdrink. Tog, tussen die logistiek, verlang ek na daardie kinderlike oomblikke van eenvoud en verwondering.
Die nostalgie van my kinderjare herinner my om te fokus op wat regtig belangrik is. Dit is nie die geskenke of die kos nie, maar die klein dinge: die glimlag van ’n geliefde, die vrede van ’n sterlignag en die warmte van saamwees.
Kersfees se ware betekenis bly tydloos: liefde, hoop en om tyd saam met die mense wat ons liefhet te koester. En dalk is dit al wat regtig nodig is.
© Marlene Erasmus
14/12/2024
(248 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Desember 2024 – Kersfees projek