![](https://ink.org.za/wp-content/uploads/youzify-fes/members/191/2024/12/istockphoto-1061322602-612x612-1.jpg)
Kersfees-karaoke.
Kersfees-karaoke.
By die Meiring-huishouding is Kersfees altyd ’n bietjie… anders. Vanjaar het Pa besluit om karaoke deel van die kersfeesvieringe te maak, met die doel om “familieharmonie” te bevorder.
So breek Kersfees aan, en die verrigtinge begin. Ma sing met passie “Stille Nag,” maar haar stem is so hoog dat die bure se honde kermend begin blaf. Daarna dring ouma Betsie aan om “Santa Baby” te sing. Dit raak ’n affêre, veral toe sy haar skouers probeer wikkel soos die blonde Marilyn Monroe.
Toe is dit klein Gertjie se beurt. Hy kies “Jingle Bells,” maar sy interpretasie is meer geskik vir ’n popkonsert as ’n kerskonsert. Hy skree en gaan so tekere dat die kersboom skoon begin bewe en uiteindelik omval! “Dit is vir ’n dramatiese effek,” verklaar hy trots terwyl hy met die mikrofoon poseer vir ’n foto.
Maar die regte ramp kom toe Pa besluit om sy weergawe van “Do They Know It’s Christmas?” te lewer. Sy kunssinnige aanslag behels dat hy ’n spierwit laken om hom draai en soos ’n engel op die tafel klim. Alles is dalk nog aanvaarbaar, maar net totdat die tafel ingee en Pa in die melktert beland.
“Nou ja,” sê Ma droog terwyl sy die stukke melktert van Pa se hemp afvee, “volgende jaar hou ons liefs net ’n gewone kersete.”
“Of ’n stil Kersfees,” brom Ouma onderlangs.
Maar klein Gertjie glimlag van oor tot oor. “Ek dink ons het harmonie gevind, dis chaos met ’n melodie!”
©MarleneErasmus
14/12/2024
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Desember 2024 – Kersfees projek