As die visbakkies inkom
die lagune lê stil en silwerig
in die half-lou middaguur
‘n skildery in blou-asuur
en die geur van see hang in die lug
swikkend sleep visbakkies in
laag in die kalm water
swaar gelaai met blinklyf-vis
in die son ‘n skittering
Harders by die tonnemaat
word van die bakkies afgelaai
skep en gooi vir ure lank
die oes is groot, die werk is taai
jy kan koop, ‘n rand ‘n vis
‘n sak van twintig, ‘n winskoop gewis
gekook met mannameel of pap
aan jou gesin ‘n koningsdis
maar ek wonder –
was dit stormweer en woeste wind
vêr anderkant die pelikaan se punt
daar waar die harderskole loop
daar is die see mos wild en oop
daar stoot die westewinde sterk
ja, harders trek is harde werk
…………..
in die half-lou middaguur
sit ek oor die see en tuur
die lagune lê blou en silwerig
en die geur van die see hang in die lug
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.