Jongste aktiwiteit:

Dora se mooiste dag

Dora* se mooiste dag

Dora wag tussen die ander mense. Sy wil hier wees wanneer hulle aankom. Blykbaar is hulle op pad. Haar ma se woorde van ’n paar dae gelede draal in haar gedagtes:

“Jy moet vrede maak met jou lot, Dora. Daar is niks aan te doen nie want geeneen se raad het enigsins gehelp nie.”

Vanoggend se opstaan was weer ’n gemors, want soms gaan dit erger as ander dae. Dit is toe dat sy besluit het genoeg is genoeg. Sy sien werklik nie meer kans om so aan te gaan nie. Sy was so gelukkig as kind; vol selfvertroue het sy in ’n liefdevolle gesin opgegroei. Tot daardie dag, twaalf jaar gelede … en sedertdien was niks ooit weer normaal nie.

Sy hoor opgewonde stemme en sien ’n groot groep mense aankom. Haar moed sak tot in haar stofplakkies. Sy draai om. Hier is vandag geen kans vir haar om naby te kom nie. Sy stap ’n paar tree; haar wange nat van trane. So was dit verlede week ook toe sy maar huis toe gegaan het.

“Ek moet net naby kom. Ek weet dis al wat nog kan help.” Sy draai weer om en kyk na al die mense. Dan skraap sy weer haar laaste moed bymekaar en stap tussen hulle in.

“Ek moet net nader kom.” Sy druk so effens by iemand verby. Die vrou glimlag vir haar en die sagtheid op haar gesig gee Dora weer moed. Hulle stap ’n entjie aan. Toe besluit Dora om nog nader te probeer kom. Sy druk weer by iemand verby en skrik toe die haar bars aanspreek.

“Ongeskikte vrou, waarheen dink jy gaan jy?”

Vinnig skuif sy agter ’n paar mense verby om weg te kom van daardie nors man. Dan probeer sy weer by iemand verbygaan om vorentoe te beweeg. ‘n Kind struikel voor haar en sy val amper bo-oor die seuntjie, maar buk dan om hom op te help. Hy vee met ’n stowwerige handjie oor sy vuil wange en sy voel ’n giggel in haar borrel. Dan sien sy weer ’n opening waar iemand amper stilstaan om opgewonde iets met ’n vriendin te deel. Dora druk haar maer lyfie vinnig deur en skuif sommer ook by nog ’n paar mense verby. Party kyk haar skeef aan, maar weer is daar ’n vroutjie wat vir haar glimlag.

“Wil jy so graag nader gaan? Kom, stap hier langs my. Vanwaar is jy?”

“Ek kom ook uit die dorp uit en ja, ek moet net naby kom. Daar is iets vreeslik belangriks wat ek vandag moet regkry.”

“Nou kom,” sê die vrou en druk Dora so skuins voor haar verby sodat sy weer nader kan gaan.

Dan sien sy die Man. Rustig stap Hy net ’n paar tree voor haar. Sy hoor sy stem en verwonder haar aan die sagte, maar diep vriendelike noot daarin.

“Dis nou of nooit,” skryn dit deur haar en sy druk tussen die twee mense voor haar deur maar die een draai op daardie oomblik skuins en dit keer haar. Dit was nie bedoel nie, maar Dora besef sy kan nie nader nie en hierdie is dalk haar laaste kans. Sy buk af en strek haar arm uit so ver as wat sy kan. Dan raak sy die soom van hierdie Man se kleed.

“Dankie tog, ek het dit reggekry,” en met vreugde biggel trane op in haar oë. Sy staan ’n oomblik stil, maar die skare stap aan en sy moet saamstap. Maar dan draai die man met die sagte stem om.

“Wie het My aangeraak?” Hy kyk rond, maar die mense ontken almal met ’n kopskud dat dit hulle was en ’n man reg langs Hom vra:

“Here, die mense dring tog rondom U saam en druk teen U.”

Maar Jesus sê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het.”

Angs oorweldig Dora. Sy vrees die ergste nadat sy reeds gevoel het hoe sy gesond geword het. Sy begin huil. Sy kom val voor Hom neer en daar voor al die mense vertel sy Hom toe waarom sy Hom aangeraak het.

“Here, dis nou al twaalf jaar wat ek aan bloedvloeiing ly. Dit hou net nooit op nie. Ek is elke dag onrein en Here, ek mag nie naby die tempel kom nie. Geen man mag naby my kom nie. Ek het al alles probeer, maar niks het gewerk nie. En toe het ek gehoor U gaan hier wees en ek het geweet U is die Enigste wat my gesond kan maak. Maar ek kon nie naby genoeg kom om U te vra nie, daarom het ek hard probeer om ten minste net aan U te raak. En ek is gesond. Ek voel dit sommer.”

Jesus raak haar aan en trek haar aan haar hand op.

Toe sê Hy: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!”

Dora lag en voel asof sy kan ronddans van vreugde. Om gesond te wees, om net normaal elke maand, soos ander vroue, deur die lewe te kan gaan … dit voel vir haar asof Iemand haar met soveel liefde omhels, haar hart klim amper uit haar borskas uit.

Laatmiddag kom sy tuis.

“Mamma, ek het dit reggekry!” roep sy toe sy by die deur instap.

Haar ma kyk haar vraend, bekommerd aan.

Dora omhels haar en begin vertel. Saam staan hulle later na die sonsondergang en kyk en weet … niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Hierdie Jesus waarvan almal praat, is hulle Here en Christus, hulle Verlosser en hulle sal Hom elke dag, van nou af, loof en prys.

©adéle theron

*Dora … die naam is fiktief want sy moet mos ’n naam hê




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed