‘n Kerswens aan jou
Ek wens vir jou ‘n kersfees
met die soetste druiwe uit die kaap
met vonkel in jou druiwesap
en ‘n huppel in jou stap
Ek wens vir jou waatlemoene rooi
en appelkose in jou boord,
– met goue sonlig in die vrug –
wat wit bloeisels om jou strooi
mag die somerson se skynsel
‘n aandblos op jou wange los
gevolg deur goue dae en silwer nagte
– dis aan jou my kersfeesgroet
Tamarisk, my krismisboom
as soggens vroeg die oggenddou
die toiingrige tamarisk omvou
silwer pêrels aan sy takke hang,
fraiingtakke in ‘n wolkiedroom
omtower tot ‘n krismisboom
– skitterblink in die son –
spring daar in my ‘n vreugde op
oor die eenvoud en die skoonheid
van hierdie dowwe, dor woestyn
wat in klein-klein maat
maar tóg so grootliks deel
van sy vreugde en sy pyn
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.