Jongste aktiwiteit:

Klong (Hoofstuk Vyf) ©Eduard Smith

Hoofstuk Vyf
“Ek wens alles kon anders wees. Ek is werklik jammer. Jy sal my dalk nooit kan vergewe nie, maar ek moet probeer om jou te laat verstaan hoekom ons dinge so gedoen het.” Francois praat terwyl hy die stomp tot voor die kampstoel aantrek. “Luister asseblief. Jy kan al die vrae vra wat jy wil maar laat my toe om eers die storie te vertel. Reg so?” Dreyer knik sy kop.
“Die dag nadat jy daar weg is, sou ek, soos jy weet nog drie dae by die huis wees om te blok. Daarna sou ons almal saam terug Potch toe gaan. Annemarie en jou pa het daardie middag laat by ons huis opgedaag. Ek dink jou Pa het net gewag vir my pa om te arriveer, toe is hulle daar. Annemarie se oë was bloedrooi gehuil en ek het my besêrk geskrik. Ek kan onthou ek het dadelik gevra wat het met jou gebeur. Jou pa het snedig geantwoord dat daar niks met Dreyer skort nie, en waarom sou ek so iets vra. Ek het verder stil gebly. Hulle drie het in die studeerkamer, agter ‘n toe deur gaan gesels. Ek wou jou bel maar maar het besluit om eers uit te vind wat gebeur het. Ek het vanuit die kombuis ‘n paar keer gehoor hoe jou pa en my pa se stemme verhef geraak het. Skielik het die studeerkamer se deur oopgebars en het my pa my naam gebulder. Ek het verskrik gaan vasstel wat de joos aan die gang was. Die twee mans wou weet of ek enigiets gesien het wat met jou suster gebeur het. Ek het natuurlik nie geweet nie. Hulle vir my vertel wat die aand met Annemarie gebeur het…het sy vir jou in die brief vertel wat gebeur het?”
Dreyer het geknik.
“Ek was totaal verstom en kon nie glo dat Gustav so iets sou doen nie. Annemarie het die hele tyd vir hom geskerm maar jou Pa wou niks daarvan weet nie. Hy was ongelooflik kwaad en het aangedring daarop dat ons almal na Gustav se ouers se huis gaan. Hulle wou albei by my weet waar ek was toe dit gebeur het. Waarom ons nie na haar omgesien het nie. Ek kon nie antwoord nie want ek kon nie vir hulle vertel waar ek regtig was nie. Daar was eenvoudig té veel aan die gang om nog ‘n bom te laat bars. Ons is almal daar in die kar weg, sonder dat of jou ma of myne geweet het van enigiets. Die res van die storie was ‘n gemors. Daar was ‘n geskree, dreigemente van die polisie, aanklagte en horde ander beledigings. My pa het vir Annemarie gevra of sy ‘n klagte by die polisie wil gaan lê. Jou pa het geskree dat sy dit natuurlik wil doen. Niemand het haar reaksie verwag nie. Sy het geweier. Sy wou hê hy moes hulp kry en dat dit nie sy lewe moet verwoes nie. Jy kon jou voorstel hoe die donner in jou pa was. Ek het rondgestaan soos ‘n hoender sonder ‘n kop. Gustav het met sy kop op sy knieë gelê en sy ouers was natuurlik geheel ontnugter. Gustav het verskoning gevra en vertel dat hy dronk was en nooit bedoel het om haar seer te maak nie. Jou pa het uit sy stoel gespring en as dit nie vir die ander mans was nie, sou die bloed seker geloop het. Dit het so lank gevat vir almal om te kalmeer. Annemarie het gesê sy wil nooit weer vir Gustav sien nie, maar dat sy nie ‘n klag wil lê nie. My pa, die regsgeleerde wat hy is, en sy dominante persona het nie werklik bygedra tot kalmte nie. Hy het genoem dat sonder haar aanklag daar nie ‘n regsaak is nie. Daar was soveel ander goed bespreek dat ek nie regtig kan onthou nie. Ek het my arm om jou suster gesit en haar probeer vertroos. Daar was ooreengekom dat nét die mense in daardie vertrek van die gebeurlikheid mag weet. Die ma’s en niemand anders mag ooit hieroor uitvind nie. Ons het, en ek veral, het ingestem sodat die gemoedere net kon kalmeer. Annemarie het sag in my oor gevra of ek jou gaan vertel. Ek het op daardie oomblik nie geweet wat om te doen nie, en het ingestem om eerder nie met jou daaroor te praat nie. Daardie aand toe jy gebel het, het jy ‘n aanmerking gemaak dat ek snaaks klink en nie myself is nie. Ek het dit afgemaak. Dit was die eerste moeilike ding wat ek moes doen om te help om Annemarie die vernedering te spaar en dan natuurlik voorskriftelik soos my pa my gedwing het, om die du Preez’s se naam te verdedig. Ek kon verstaan dat dit op daardie stadium nodig was aangesien my pa op die kortlys was vir die hoëgeregshof, en dat so ‘n skandaal dalk ‘n invloed sou hê. Jy, Klong, jy is self ‘n advokaat, jy verstaan dit seker? Selfs beter as ek.
Die volgende dag het ons gehoor Gustav het ingestem om by familie in die Kaap te gaan bly en ingeskryf vir een of ander rehabilitasie. Ek het baie tyd saam Annemarie begin spandeer, vir vertroosting, en natuurlik omdat ek geweet het hoeveel sy vir jou beteken. Ons is terug Potch toe ‘n dag of twee later, en elke dag het Annemarie vir my sterker gelyk en het sy haar sprankel weer teruggekry.
Ek wou haar so graag van my en jou vertel. Ek wou haar troos deur te wys dat as mens iemand werklik lief kry, dinge mooier en beter gaan word. Ek het baie keer probeer, maar ek het geweet jy sou dit nie goedkeur nie. Ek was ook so bang dat ons ouers sou uitvind, dat dit my ook weerhou het.
Ek was, en is steeds so lief vir jou. Jy was my hele lewe, maar wat tóé gebeur het, het alles vir ons almal verander. Annemarie het simptome van swangerskap begin wys, en aanvanklik het sy my nie vertel nie. Na sy by die dokter was en dit bevestig is, het sy my vertel. Ek was so geskok, en van voor af bedonnerd vir Gustav.
Ons het daardie naweek huis toe gery sodat sy met julle ouers kon gesels.”




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed