Jongste aktiwiteit:

Klong (hoofstuk Vier) ©Eduard Smith

Hy sit vir minute stile en staar in die gloed van die vlamme, wat warm teen sy gesig voel. Sy binneste voel soos die kern van die vuur en daar is ‘n mengsel van angstigheid en woede wat soos ‘n sooibrand agter in sy keel vorm. Hy durf nie nou praat nie…hy het reeds té veel gehuil en sy emosies soos ‘n jas gedra. Sy ingewande brand en trek in onbeskryflike knoppe. Die brief lê in sy skoot terwyl sy arms sty om sy opgetrekte bene span.
Francois praat eerste. “Daar is baie dinge wat ek moet verduidelik…”
“Ek is nie seker ek wil regtig die volle waarheid weet nie…julle het my lewe verwoes Frans…julle het my gees gebreek…”
“Ek gaan alles verduidelik maar ek wil een belofte van jou eis…’n laaste guns en dan hoef jy nooit weer jou woord aan my toe te vertrou nie…asseblief?”
Dreyer het opgekyk en woordloos geknik. Hy kan nie dink waarom hierdie man wat voor hom kniel enige vergifnis verdien nie.
Hy onthou die dag ná die eksamen twaalf jaar terug. Hy het opgewonde huis toe gery en kon nie wag vir die vakansie om amptelik te begin nie. Die see het vir hulle gewag. Hy, Francois, Annemarie, Peet en Ciska sou vir twee weke by Umhloti gaan uitspan. Hy is die enigste een van die vriendekring wat in Johannesburg studeer het. Die ander was almal by Potchefstroom se kampus. Annemarie was ook daar. Sy was eerstejaar saam met Ciska. Hulle het albei onderwys studeer terwyl Peet en Francois as derdejaars vir politieke wetenskap ingeskryf was. Hy wat Dreyer is het regte studeer.
Daardie dag het sy lewe onherroeplik verander. Maande daarna het hy gewens hy het net aanhou ry. Hy kon die woorde en gebeurlikhede nie uit sy kop kry nie. Hy het skielik die mense waarvoor hy sy lewe lank lief was, verafsku.
“Dreyer…? Luister jy?”
“Huh? Askies.”
“Ek vra of ek maar kan gesels?”
“Ek luister…”
“Ek het destyds oor net een ding gelieg…”
“Een ding? Een ding? Hoe durf jy my verder verneder? Dit is hoekom ek verkies het om vir jare eerder nie met julle te praat nie…ek wil nie…”
Francois sit sy hand ferm op Dreyer se skouer.
“Luister asseblief voor jy reageer. Ek wil jou nie verneder nie. Ek wil nie. Ek sweer, maar ek moet hieroor praat…asseblief.”
Dreyer vou die brief op en skuif sy liggaam in die kampstoel. “Ek luister…”
“Ek het net oor één ding gelieg en elke oomblik gehaat toe ek voor jou gestaan het. Ek kon die seer in jou oë nie verdra nie en het vir twaalf jaar met die verwyt geloop. Dit was erger na die miskraam. Ek het gewens ek kon die tyd terugdraai en dit alles reg maak. Ek gaan nou alles vertel maar ek wil jou eers smeek vir daardie laaste guns…”
“Wat is dit Fransie?”
Francois se mondhoeke trek as die bynaam deur hom resoneer.
“Jy moet my belowe dat jy vir Annemarie sal vergewe. Niks van hierdie hele affêre is haar skuld nie. Sy was ‘n slagoffer van omstandighede net soos jy. Asseblief, jy moet haar nie kwalik neem nie. Dit is te laat om dit vir haar te sê maar jy kan haar in jou hart vryspreek.”
Dreyer vee sy oë met sy palms af en knik sy kop.
“Emmm…die aand ná Annemarie se partytjie, nadat ek jou by die kar gegroet het…jy was so opgewonde oor die laaste eksamen van die jaar en die vakansie wat voorgelê het; jou oë het geblink soos daardie vakansie wat ons hier op die plaas gehad het. Onthou jy die aand op hierdie spesifieke plek in ons matriekjaar? Daardie aand het ek dieselfde blinkvonk in jou oë gesien. Ons het gepraat oor die uil wat skree “good-lord-deliver us”…”
Skielik het Dreyer gepraat. “Weet jy hoeveel keer in die afgelope jare het ek die uil ge-eggo: “Good-lord-deliver-me?”




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed