Jongste aktiwiteit:

Goue stervisse

Ons leef terwyl ons kan. Ons lag terwyl ons kan. Ons gee liefde terwyl ons kan. Hoe lank ons sal kan, weet nie een van ons nie. Daar is net tyd totdat daar geen tyd meer oor is nie. En dan kan ons niks meer of weer doen nie.

Ek verstaan niks van al die aaklige goed wat in hierdie wêreld gebeur nie. Woeste golwe kom en wis ’n hele stad uit. Die aarde bewe en skud, breek oop en sluk ’n hele stuk in. Geboue, huise en mense verdwyn in die niet. ’n Vliegtuig vol mense verdwyn van die radar af in die niet. Oorlog heers waar broer teen broer, mekaar se lewens uitmekaarskiet. ’n Pragtige land, ryk aan grondstowwe en goud-mense, word deur die gierigheid en wraaksugtige haat van politici tot stof getrap. Misdaad, moord en verkragting word aangepraat. Of weggepraat.

Terwyl ons grootmenswêreld uitmekaarval, kom ’n kind en vra om na die strand te gaan waar hy na ’n goue stervis wil gaan kyk. Maar ons, die kwansuis wyse volwassenes, kán of wil ons nie wegskeur van bloed en pyn en trane en ellende nie. Drama en tragedie hou ons aan die enkel geboei.

Ek het al so baie rondgetrek. Soms net ses maande op ’n plek gebly, voor ek die bokse weer moes nader trek om nog ’n keer in te pak. Dit het my geleer om vinnig wortel te skiet en bande te smee. Om vinnig die hart van mens en omgewing bloot te lê. Vriendskappe te skep en te bou.

Wanneer ek of jy in ’n lewensgevaarlike situasie beland en vrees deur jou gedagtes golf, blits die gesigte van die mense vir wie jy lief is, saam met die vrees deur mens se gedagtes. Tesame met wat jy nagelaat het om vir hulle te sê of te doen. Dinge wat altyd daar agter in jou gedagtes op ’n te-doen-lysie staan, maar jy nog net nooit tyd voorgehad of gemaak het nie. Ek sal nog eendag……, maar eendag is nie gewaarborg nie. Môre is nie eers verseker nie.

In tye van voortdurende krisis, speel die gedagtes ’n towerspel. Dit baar die gereedskap wat ons nodig het om voort te beur teen die stormwind in. Dis hoe ons voortgaan en doen wat nodig is. Alledaagse take, skottelgoed was, omsien na ons geliefdes, brandstof in die kar gooi, eet en aantrek. Al het ek my man, my ouers, my kind of my werk verloor, die toekoms kom nie tot stilstand nie.

Ons smag en soek na krag en sterkte. So kies ons willekeurig of onwillekeurig, ons vriende. Wys my sy vriend en ek wys jou die man. Gelukkig en wonderbaarlik is dit ingeskryf in ons DNS. Wanneer ons pyn en lyding sien wil ons uitreik en hulp verleen. In sulke tye gryp ons mekaar vas, soos magnete. Beleef ons dieselfde omstandighede. Begin ons saamtrek soos ’n span Afrikaner osse. Ons moet net leer om nie te bekommer oor dinge wat nog nie gebeur het nie. Dalk ook nooit sál gebeur nie. Ons moet uitvind hoe om nie te mymer en peins oor dit wat reeds gebeur het nie. Dis gedaan en het geen keer nie.

Om ander mense, na aan my of selfs onbekendes, se probleme waar te neem laat my eie wegkrimp en die verhoog vir ’n wyle verlaat. In moeilike tye bevraagteken ons ons eie krag en vermoë om vas te byt sodat ons nie sal verbrokkel of verkrummel nie. Tog sak ons in die skrum en stoot deur, ten spyte van hindernisse. Baie keer as gevolg daarvan. En so ontdek ons ons eie kragte en magte. En God s’n! Krisistye ontbloot ware karakter. Hoe mens dit aanpak, is hoe jy dit afhandel. Met lekkerkry of swaarkry, sal ons dit klaarkry.

Terwyl die lewe besig is om te gebeur, word ons vervorm. Drome word vervang met nuwe drome. Wat ook al in die wêreld om ons gebeur, die lewe gaan voort. Een generasie gee die aflos stokkie oor aan die volgende generasie en die siklus van die lewe gaan aan. Regenerasie van lewe. Wat is dit wat digters in ons koppe probeer inhamer?

Winter word lente
Nag word dag. Donker word lig.
Wonde van die hart, genees. Al bly littekens oor.
Hartseer verdwyn en maak plek vir vreugde. In sommige gevalle gaan hartseer nooit weg nie, maar skuif op en maak geleidelik plek vir nuwe vreugdes.
Terwyl een golf teen die strand klots en breek, verskyn ’n nuwe daaragter.

Die mens wil aanhang, deurdruk en voortgaan. Dis nie in ons bou om hoop op te gee nie. Selfs wanneer alle rede tot niks gekwyn het. ’n Onverklaarbare aandringing dat ons verbind is tot mekaar se helper en opsigter. Dit weerhou ons om in wanhoop te verdrink of in die donker put te versink. Maar soms, net soms, lyk die donkerte meer aanloklik. Na ’n uitweg. Nie om te sterf nie, maar om uit die lewe uit te klim.

Om te veel te tob en dink aan probleme is nooit ’n goeie ding nie. Jou kop maak jou allerhande onwaarskynlikhede wys. Om daaroor te praat is ’n goeie ding. Gedeelde probleme word halwe probleme. Terwyl ek dit uitspreek kom die antwoorde en planne. Genesing vind plaas. Moenie kies om alleen te dra nie. Gebruik die helper tot jou beskikking. En die Helper!

Wat is dit met menslike aanraking? Om ’n geliefde vas te hou. Om iemand se warmte te voel en sy hartklop te hoor. Al is die persoon vêr, kan mens altyd sy warmte oproep. Die laaste aanraking sal ek nimmer vergeet.

Dis so belangrik om jou geliefdes en goeie vriende te ken. Rêrig te ken. Om te weet wat sy of hulle gewoontes is as moeilike tye hul opwagting maak. Te weet wanneer daar vrese verskyn. Ons weet nie wie, wanneer weggeneem sal word nie. Wie se tyd is verstreke en wie lewe voort? Dit blyk dat die rol van die dobbelsteen sal bepaal. Wie word geraak en wie is vry.

Soms faal woorde ons. Meer kere as wat ons wil erken. Al wat oorbly is stilte en tyd. Om so te lewe dat ons mense se harte sal volmaak. Iemand het gesê: ‘om voort te leef in ander se harte, is om nooit dood te gaan nie’.

Ek weet nie wat jou planne vir vandag is nie, maar maak tyd om aan dié vir wie jy lief is te sê hoe jy voel. Maak seker jy leef voort. Neem ’n kind vandag strand toe, om vir jou die goue stervis te gaan wys. Selfs die vissie sal ook nie vir ewig daar wees om gesien te word nie.




Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

7 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed