Jongste aktiwiteit:

ODE AAN DIE HERINNERING

ODE AAN DIE HERINNERING

[Eerstmaals op INK: 1. April 2016; my eerste plasing]

Soos ek hier voor my venster sit en droom,

en dis binne warm en buite ryp en sneeu,

daar hoor ek van die woud se donker soom

hoe die rawe kla en skreeu;

Dit koer nie soos die tortelduiwe,

dit gil en krys soos die wiel van die wa

wat oor die klipgrond-afgrond skuiwe

ewig ver, doer in my Afrika.

En ek dink aan die zoem van die tsetsevlieg,

daar hoor ek hiëna se snikkende roep. . .

as ek nou eerlikwaar moet bieg:

Ek verlang na my oupa se stoep!

Daar het ek etlike langaande destyds geluister

na die bosveld se roemoer en klanke

in al vinniger toenemende duister:

Gebrul en gefluit, geknor, die getjanke.

Dink maar, selfs die roep van afskuwelik hadida

kom my voor soos ‘n lied uit ‘n heerlike droom —

en ek wens, ek wens en verlang na Suid-Afrika,

waar die reier staan — en mý droom vir my droom.

Dis die droom van ‘n heeltemal anderse wêreld,

van die son met die geur van smeulende vleisbraai hout

of kerrie so skerp, die sweet om my neus maak pêrels —

wanneer niemand eers dink aan die woordjie „koud”;

waar die helder dag vinnig opkom, en hy kom om te bly,

en die nagdonker heel later ‘n kombers kom bedel;

die gesig van die maan straal oor die ganse kontrei

geteken met ink op sy blasronde skedel.

Maar in hierdie uiterste, koudste hoek van die hel

waar alles so stram is, dit breek maklik af

— daar ís soiets, laat ek jou mooi vertel —

daar hoor ek die lied van die jakkals se blaf . . .

Hier, waar die berkebome vol nagryp tot namiddag

opgery staan langs die padrand soos bruide

voor ‘n chinese massa-huwelik met duisend pare,

daar trek my hart soos ‘n speer na die suide . . .

Niks kan verdelg die ysige koue wat kruip deur die vingers

die tone, die knieë, die heupe (verstyf en verroes)

tot in die buik, in die borskas waar die hart lê en tril:

Gaan ek die winter oorleef? Of ek wil?

My kamer’s vol kleure – daarbuite is’t grou.

Deur die pype kom warmte – teen die uiterste kou.

Dis wat binne is wat besluit, dis die eintlike wil

wat sê, „Jy moet uithou, net uithou. Dis netnou April!”

Of ek wil? Of ek wil? Ek moet net wil!

☼☼☼☼☼

©1. April 2016…..☼☼☼☼☼⬡⬡⬡☼☼☼☼☼……………tje

[Hierdies het ek al Februarie geskryf, toe dit nou werklik koud was; toe kom die mislike newelige ,winter aan die kus’. En nou issital April. Vandag skyn iets daarbuite — ja, die son! Verbeel jou, die son!!!
Origens so lank sukkel arme ou analfabeet ek om lid te word. Nouja, so is dit, laat dit so wees.]




6 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed