Hoe neem mens afskeid?
Hoe neem ek afskeid
van ‘n leeftyd vriend?
Hoe groet ek jou
as ek weet dis ons laaste vashou?
As ek weet môre belowe
nie jou lag-
Te bang ek vra myself
Hoe dit klink
Stakato, huk-huk
Of roosblare sag
Miskien ‘n heksie se melodie gesteel?
Hoe keer ek dat die wal ineenstort?
Hoe hou ek die fort?
Hoe stop ek huil?
Hoe sluk ek my trane?
Ek is so gewoont
aan die lig in jou oë
wat die donkerte in my wegjaag
En die dimpel in jou wang
waaruit jy kan pap skep
Of die manier hoe die blomme
in jou nooit verlep
Hoe leef ek sonder jou gebede?
Na die storm stille vrede
van jou glimlag
Of jou hande wat sag-sag
my woeste hart straal
O, daai harde, wyse kyk wat jy gee
as ek droogmaak
Of hoe jy altyd raas
om my ‘n sterker mens te maak.
Ek weet die jare kom vinnig
dit sluk ons in en spoeg niemand uit
Tyd- wat vir niemand stilstaan
te lief vir sy resiesbaan.
Die nag klink te eensaam
sonder ons geselsies
te rusteloos sonder die geritsel
van papier na papier
as jy lees.
Te vreesvol sonder jy
wat sê
Moenie vrees
Sonder jy wat my herinder
Van Jesus wat sorg.
Hoe onthou ek jou, Ysterouma?
jou oë wat tiere jaloers maak?
Jou stem- wat sê
Stilbly is beter
Sonder jou trane van jare se letsels
Wat skaam oor jou gestreepte wange rol
want trots is jy.
Jy’s ‘n leeu sterk
Jy’s valser as ‘n maer vark wat skree
as jy sing
-Maak ‘n leeftyd se impak
Jy’s ‘n sonneblom-
altyd na Jesus gedraai.
Net die gedagte van jou
maak my ryk.
Hoe neem ek afskeid,
van ‘n leeftyd ouma-
Hoe glimlag ek nou
as môre ons laaste
vashou kan steel?
————-
Opgedra aan my wonderlike ouma, Doris vd Westhuizen wat my nog altyd bygestaan het.
Récayla Blom.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.