Jongste aktiwiteit:

Huisskoonmaak

Die huis is stil. Ek skink my eerste koppie koffie, gaan sit op die stoep en luister na die voëlgeroep en probeer die voëls identifiseer. Ek ken nie al die name nie want die voëlboek help niks as mens nie die geveerde vriendjies kan sien nie. Die bosse is dig hier by die see, dis nie die bosveld die nie.
A! Daar roep die spookvoël. My ma het hom vir my naamgegee, sy ken sy roep van kindstyd af: “Jy hoor hom, maar sien hom nooit” het sy verduidelik. Die klae-smeek-roep herinner aan ʼn eensame siel – soekend na iets.
“More, Ma” dit kan net my eersgeborene wees, haar sussie roer nie so vroeg nie en is nooit so vrolik as haar oë die dag groet nie. Selfde ma, selfde pa, in dieselfde huis grootgeword, verskil soos dag en nag, so bisar.
“More Gesiggie, lekker geslaap?”
“Ja, en Ma?”
“Altyd” Ek wonder, soos elke oggend, hoeveel mense vra dit omdat hulle regtig belangstel en of dit maar net gewoonte is. Ek stel regtig belang. In mý huis moet mense lekker eet, lekker kuier en lekker slaap. Die res is onbelangrik.
“Ek dink ons moet bietjie die huis orden.” Oudste hou van orde, ek funksioneer in georganiseerde chaos.
“Wat bedoel jy met “orden”?” vra ek versigtig.
“Ma, julle het drie jaar gelede hier ingetrek en die goed staan nog net soos ons dit daardie dag uitgepak het. Ons moes haas met die intrekkery en het die goed net oral ingeprop. Niemand kry niks nie. Pa soek gedurig sy gereedskap en jý gooi elke dag ʼn vloermoer omdat jy nie dit of dat kry nie. Dis tyd, Ma.”
Vader tyd is ʼn gemene ou bliksem, het Christo Jacobs gesê, dink ek, nes die spookvoël weer roep.
“Ek stem,” praat mý ma uit die skuifdeur agter my “en dan kan ons sommer die huis ordentlik skoonmaak. Die vrou wat voor ons hier gebly het, was ʼn morsige mens en jou huisingenieur is ʼn broubles.”
“Ek gaan gou vir ons koffie maak, Ouma. Wil ma ook weer hê?”
“Nee dankie, ek kan net my koffie geniet as ek na die spookvoël kan luister in vrede. As die hadidas begin skelskree word die melk in my koffie suur en my gemoed swaar.”
“Ja, ek haat ook die hadidas. Ek weet nie hoekom het Noag nie hulle nekke omgedraai op die ark nie.” Nie my ma of dogter het agtergekom ek verwys na húlle nie. Kleinsus sou dadelik geweet het, maar sy slaap nog.
“Hoeveel onse is in Ma se pond as ma praat van ‘dan maak ons sommer die huis ook skoon’? Dit klink of Ma gaan help.”
“Ja, Ouma, gaan jy help?” tergvraag Anel en val in die stoel neer met haar bakkie snap-crackle-pop.
“Ek dog jy maak koffie?”
“Die water moet nog kook Oums. So wat gaan jy doen?” vra sy weer.
“Niks. Ek is oud, my hande vol rumatiek en my heupe is seer. Ek sal raadgee en supervise.”
“En koffie en water en koeldrank en kos aandra?” vra ek hoopvol
“Nee, ek sal sit en vir julle kyk en julle geselskap hou.”
“Oums, jy het jou beurt gehad in die lewe, jy hoef niks te doen nie.”
Anel en my ma high five terwyl die spookvoël weer roep. Ek wens ek kan my desperaatheid ook so uitklaag as ek luister hoe die twee my dag beplan.
“Kan julle nie nog bietjie harder tekere gaan nie? Dis nie asof ek nog probeer slaap nie.” Jongste is wakker en erg omgeëllie. Soos gewoonlik.
“It’s alive! And it speaks!”
“Shurrup Anel. Gaan maak vir my koffie”
“Hoekom met ek vir jou koffie maak, gaan maak jý vir mý!”
Jongste se moermeter klim nog ʼn graad of wat. “Want … jy is besig om vir jou en Ouma te maak en jy het my wakker geraas.”
“Ja, maar jy sit nog nie, én is die naaste aan die kombuis. Komaan Dude, ek maak baie vir jou koffie. Kry sommer iets om te eet, daar gaan groot gewerk word. Ons gaan hierdie huis vandag regpak.” stoomroller Anel voort.
“En skoonmaak” voeg my ma by.
“Ek sal eetgoed en drinkgoed maak, maar ek help nie met hierdie malligheid van julle nie, ek is nog op vakansie. Buitendien, julle kan nie net een môre opstaan en besluit om die groot skoonmaak te hê en my sommer net wil insleep nie. Vir so iets het ek baie tyd nodig om myself voor te berei. Dus, ek is nie deel van julle ‘ons’ nie.” het Jongste die woorde uit my mond gevat, omgedraai en teruggestap slaapkamer toe.
Die spookvoël is nou stil … ek het net die hadidas hoor skreeu en ek sprak geen sprook nie want Anel en my ma was reg, dit is tyd om in te trek in die huis.

Ek is die eerste een om te erken dat ek nog nooit Suzie homemaker was of ooit sal wees nie. Ek het laas as kind, onder dwang met baie dreigemente en straf, so skoongemaak soos daai dag, wat dae geword het, wat weke geword het, drie weke om presies te wees. Rome is nie in ʼn dag gebou nie. Dis nie dat die huis so groot is nie, dit is net dat ek my nie in ʼn blik laat druk of laat aanjaag nie. ʼn Vertrek per dag, met rusdae tussenin want skoonmaak vat tyd.
Huisskoonmaak is meer as net was, vee en afstof. Die groot werk is die regpak en wegpak en uitgooi. Manlief en Anel het die trek gepak daar in die bosveld en hulle het lustig weggegooi en uitgegooi. Met die uitpak hier in die boskaas van Natal het ek al agtergekom baie stukkies van my lewe is weg. Ek het nie gevra nie, daar was nie tyd nie. Om eerlik te wees, ek wou nie regtig weet nie … die stukkies van my lewe het baie deurmekaar gelê toe.
Soos ons ingeburger geraak het, en ek probeer het om wortel te skiet in die nuwe grond, het ek na my gister-stukkies begin soek. Mens gooi nie badwater, kind en al uit nie, jy is wie jy is met al jou selle, al dryf hulle afgewas in vuil badwater. Vuil badwater kan jou rose laat blom as die reën wegbly.
Toe ek begin vra of dit of dat gesien is, het ek uit die ontwykende antwoorde afgelei dat daar namens my besluit was watter stukkiesgister die moeite werd was om aan vas te hou en watter om te laat gaan.
Ek wou nie met onmin die nuwe lewe in die nuwe huis in die nuwe provinsie begin nie en het stilgebly … miskien is dit êrens in ʼn kas en sal ek dit eendag uitkrap, het ek myself getroos. Anel is reg, dit is tyd om te kyk wat is nog in die skatkis van my herinnerjuwele, om hulle deur te kyk, te evalueer en self te besluit wat bly en wat ry.
Hoe kies jy wat om weg te gooi van jou die-goeie-ou-tye-van-gister en wat hou jy vir die onthou-jy-die-oomblik-van-vreugde vir jou mores? Dis nie maklik nie. Elke gister wat jy uitgooi is ʼn tyd-verby-en-vir-altyd-vergete … “Iemand het hierdie sakdoek vir my gegee toe jou ma gebore is, Anel, bêre hom” … “Ek het die ou simpel mood ring gekoop toe ek en jou pa op honeymoon was, gooi maar weg Anel”
Nee, dis wragtig nie maklik nie.
Ons is op ʼn teebreuk, courtesy van Jongste, toe Anel en my ma begin praat oor horders. Hulle kyk graag een of ander program oor die sielsongelukkige mense wat nie eens ʼn leë papiersak kan weggooi nie.
“Hoe kom ‘ n mens op so ʼn punt in jou lewe?” wonder Anel
“Nee, ek weet nie. Jy moet sien hoe lyk van daai mense se huise! Die gemors lê kniediep en daar is nie ʼn stukkie vloer of rak of tafel of stoel of bed of ding sigbaar nie.” verduidelik my ma toe ek uitvra.
“Hulle het ʼn sielkundige probleem. Hulle het erge trauma gehad en nou voel hulle net veilig as hulle hulle goeters om hulle het.” verduidelik Jongste (sy is besig om sielkunde te swot).
“Mens kan sien daar is fout met hulle koppe. Sies, dis ʼn morsige besigheid.” merk my ma op en gril tot in haar tone.
“Okay. So ek verstaan en begryp daar is fout met hulle maar hoe laat hulle kinders of familie toe dat hulle so bly? Ek sal dit nooit as te nimmer toelaat nie.” Anel is my net weer oor toe ek haar ouderdom was. Sy sal die duiwel met ʼn emmer water stormloop as sy moet, om te doen wat gedoen moet word, of wat sy dink gedoen moet word.
“Hoor ek jou, my kind. Ek kan ook nie verstaan hoe mense dit kan laat gebeur nie.” papegaai my ma.
“Jy sal dinge net vererger as jy sommer instap en begin weggooi. Ek sê mos vir jou die mense het erge trauma. Hulle sal aggressief of baie depressief raak, mag jou dalk aanval of hulself seermaak.”
“Ja, Dude, ek sien hulle het ʼn sielkundige ook op die show, maar van daai mense maak my so kwaad. Ek meen hulle kan sien dis ʼn gemors en dis onveilig en vuil en alles, en dan wil hulle in hulle broeke dinges as die mense hulle wil help. Ek meen, die goed wat hulle nie wil laat weggooi nie! Dis ou bokse en stukkende poppe en halfgeëete pizzas. Dis crazy! Niemand kan niks met daai goed doen nie, maar hulle wil not a damn dit laat weggooi.” Oudste se lewe is nooit chaoties nie. Alles op sy plek en ʼn plek vir alles.
Uitgooi en weggooi is makliker as jy jonk is, jy het nog nie baie gisters waaraan jy krampagtig wil vasanker vir die harde mores wat jy voor jou heilige siel weet vir jou wag nie. Die bosveld is nie speletjies nie, die lewe ôk nie, wil ek haar waarsku, maar ek weet woorde gaan niks help nie, net die lewe kan daai waarheid vir jou leer. Die spookvoël roep ver.
“Ja nee wragtig my kind. As dit my kind is sal ek haar op vakansie stuur en daar ingeklim en voor die voet begin weggooi. Sommer alles. As sy terugkom dan is daar nie ʼn inkelte ding meer oor nie, en dan vat ek haar winkel toe en gaan koop nuwe goed. En as sy weer begin opgaar sal die hel los wees.” My ma het ook ʼn blikkie en ʼn botteltjie en ʼn rakkie vir elke ding.
“En as dit jou ma was, Oums?” Anel maak dit duidelik wat sy met my gaan doen as ek aan onnodige gistergoeters gaan vasklou as ons die ‘huis orden’.
“Dan doen ek dit nog steeds . Ma, kind, sussie, maak nie saak nie. Nee man, gʼn mens kan so bly nie.”

Die kombuis was die laaste vertrek. Met ʼn behaaglike sug het ek in die stoel neergesak. Doodmoeg maar diep tevrede. Die stukkies van my lewe lê nog hier en daar, maar nie meer so deurmekaar nie. Ek is diep seer oor die stukkies van gister wat sommerso weggegooi is sonder om my daarin te ken, maar al kan ek nie meer daai getjipte bordjie van grootouma Johanna in my hand hou nie, is hy steeds in my gedagtes. Mens kan aan die gisters vashou al kan jy dit nie meer met jou vingers vat nie. Soos jou kinders … wanneer hulle hulle eie lewenspad begin loop, in ʼn ander stad of provinsie of land.
“Ma, daar is darem niks so lekker soos om, as mens klaar is met ʼn vertrek, die verskil te kan sien nie! En daar is niks so frustrerend om ʼn hele dag lank jou dinges af te werk en mens kan steeds nie ʼn verskil sien nie.”
Ek hoor die spookvoël roep.
Ek knik net woordeloos my kop.
Ek verstaan hoekom sy niks meer kon of wou uitgooi nie. Sy het van ʼn vol huis na ʼn kamer in my huis getrek. Sy moes bykans al haar stukkies gister uitgooi en weggooi, die bietjiemin wat in haar kamer ingeprop is kan ek haar nie ook nog ontsê nie… sy is nie ʼn horder nie … sy is net oud.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed