
Iewers – waar daar skape wei
Sy velskoen trap ‘n spoor;
hy vat die voetpad deur die gras
en loop tot by dieselfde rots
waar hy al soveel male was.
Hy breek dun, droë takkies
van die doringboom se kroon
en bou ‘n vuurtjie in die veld
op die plaas – daar waar hy woon.
Die koffie in die kan
bring hy rustig tot die kook;
hy drink dit swart en bitter
hy eet ‘n stukkie brood.
En diep in sy gedagtes
tel hy sy skape een vir een;
hy dink weer aan die droogte
en wens dat dit (in Vádersnaam)
tog net sal reën.
*
hy voer lusern vir sy skape
hy maak sy lammers groot
en lei hul na waar kalm waters
deur die aard’ se kors opstoot
*
Met net ‘n stokkie in die hand
krap hy die syfers in die sand.
En terwyl die vlamme knetter
en bossies wierook op sy vuur,
bereken hy die kiloprys
en die beste tyd
om lammers vir die slag te stuur.
Net eerdat hy huis toe gaan
buk hy by die fontein
en was sy hande in die water –
waar die melkweg bo hom skitter
en die koper maan se lig
oor die aarde om hom skyn.
Die wagter oor baie skape
voel ook soms ‘n bietjie bang –
dat ‘n roofdier of ‘n rower
van sy lammers
sal kom vang.
Maar
in die ope velde
hef hy sy oë op na bo;
hy sien die sterrehemel
en iets … ja, íéts
laat hom weer glo –
hy raak opeens bewus
van die naguiltjie* se sang
en vier sterre wat
– gespykerd –
teen die donkerte bly hang.
****
© Carma Shaw
2 Junie 2018
* naguiltjie – daar word geglo dat die naguiltjie se roep die woorde “O God, beskerm ons” naboots.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.