In die broosheid van my jare
Is dit ek wat so staar asof uit die vervloë
met die weerlose wysheid wat skuil in my oë ?
Wil die spieël teen die muur in gebaretaal praat
as die swaartekrag rem aan my lakse gelaat ?
Kan die statigheid steeds met die jonkheid flankeer
as die jare wegkrimp in sy gryse verweer ?
Stram litte bekla hulle lot op ‘n streep
as die beendere te lank vertoef in ‘n greep
En oefening toets die onwrikbare wet
dat stamina ook ‘n vervaldatum het
Sintuie wat taan doem nog kwelvrae op ;
troef die frats wat wil glo dis net als in die kop
Dit alles gesê, bring die jare sy vrede
Die son kom nog op ; ek’s bestem vir die hede
Ek’s nog hier, ek is mens, ek kan liefhê en wens
Ek kan hardloop tot by die voorsienigheid se grens
Ek kan uitdrukking vind in my rol op Gods aarde
Ek kan wees wat ek is ; net daarin lê my waarde
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.