
Die prys van stof
Sal die oggendklanke wat jy hoor
jou siel so mateloos bekoor
uit ‘n chalet gehuur deur ‘n agent
of deur die dun wand van ‘n tent ?
Word die jakkalstjank nie dalk verskraal
op die grootskerm natuurkanaal ?
Sal jy dit nie méér kan bewonder
in die Kalahari, teen sononder ?
Sal die aandete jou nader trek
aan die hart van die natuur se plek
deur die beste toerusting te huur
of die aardse reuk van rook en vuur ?
Hoor jy nie meer die nostalgie
in die hadida se uitroep nie ?
Of word sy skemervlug se grasie
net ‘n voorstedelike irritasie ?
Wil ons die wildernis verpak
in ‘n konsentraat vir ons gemak ?
Is dit die bron van hartsgeluk
om dit met een teug af te sluk ?
Hoeveel wil saam romantiseer
oor die nostalgie wat eenvoud leer ?
Maar skryf dit nooit in hul verhaal nie
want die prys van stof word nie betaal nie
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.