Januarie 2022 Drama projek – Uitslae en kommentaar
Baie geluk aan hierdie 8 LEDE!
ALGEMENE NOTA:
Sommige van julle het hierdie maand van die opdragte misgelees en nie toegepas nie. Baie het nie die neologisme aangetoon of geskep nie, en dan was daar die wat langer as 16 lyne geskryf het. Ek het besluit om dit alles oor die hoof te sien want ek het baie van die inskrywings gehou. Volgende keer egter gaan ek nie so toegeeflik wees nie.
Baie dankie vir pragtige werk hierdie maand.
INK MODERATOR
GEDIGTE:
GOUD
NR 3 Andries Fourie met Monsieur Le Fleur
NR 8 Anzé Bezuidenhout met Krummels en sand
NR 4 Andries Fourie met Reënleser
SILWER
NR 21 Elmarie Nienaber Van Kampen met Finis
NR 22 Elmarie Nienaber Van Kampen met grense
NR 14 Amanda De Meillon met Lied vir Liza
BRONS
NR 20 Johan van Rensburg met Wiskundig foutief )Covid 19)
GEEN
GEEN
GORREL
NR 2 Driekie Grobler met Aandadig aan moord
NR 3 Marlene Erasmus met Sus se plot
NR 1 Madelé Burger met Net ‘n stukkie been
RUBRIEKE
NR 1 Driekie Grobler met ‘n Vlinder word gebore
NR 2 Marlene Erasmus met Haal so die angel uit die eerste skooldag
GEEN
ARTIKELS
GEEN
VERHALE
NR 2 Amanda De Meillon met Oupa en die Canabis
NR 1 Madelé Burger met die nuwe intrekker
GEEN
KOMMENTAAR:
BRONS
1..Melancholiese mosaïek
Melancholie definieër as ‘n indringende hartseer wat veral sonder rede gebeur. In jou eerste strofe sou ek raai behandel jy hierdie onderwerp, alhoewel die losstaande woorde (hul hou wel met mekaar verband) vir my soos ‘n bladsy uit ‘n woordeboek lees. Ek besin steeds of ek daarvan hou al dan nie. Die opdrag vra na ‘n dramatiese gedig en ek dink jy het tog daarin geslaag. Wat vir my mooi is, is dat daar ‘n duidelike volta tussen strofe 1 en 2 gebeur.
Die koeplet teen die einde trek ‘n lyn onder die positiewe verandering in die gedig.
Ek het gewonder met die opstel van hierdie projek of ‘n dramatiese vers ook positief kan wees, en het nou na die aanlees van joune besef dit kan.
Ek sou persoonlik meer aandag skenk aan die konstruksie van die gedig om die vloei en ritme aan te help, maar ek dink tog jy het daarin geslaag om ‘n dramatiese aanbieding te maak. Jy het egter nagelaat om ‘n goeie sinoniem (óf neologisme) vir “drama” in jou vers in te sluit.
2..Drenkeling
Jy bied 2 kwatryne waar daar in die eerste ‘n dramatiese “verhaal” afspeel. Die tweede stanza begin ‘n verandering in toon en dit is mooi. Ek ervaar ook dat die inhoud sterk metafories oor die menslike geestestoestand kan wees. Dit is ‘n slim toertjie. Dit is ‘n goeie poging. Jy het nagelaat om ‘n sinoniem vir “drama” in jou vers te gebruik.
9..Dobbelsteen
Jy het die opdrag verontagsaam. Die opdrag sê duidelik nie meer as 16 reëls nie. Ek kan jou gedig dus nie regmatig evalueer nie.
13. Job
Ek het voorbehoud wat hierdie vers betref, nl. :
a. Die inhoud is onoorspronklik, selfs die les daarin ook;
b.Die sinne is lank, en daarom is dit ‘n ritmiese nagmêrrie;
c.Die sinskonstruksie is vreemd en slordig;
d.Die woordkeuse op sommige plekke is vreemd omdat dit slegs gekies is om aan ‘n sekere rympatroon te voldoen;
e.Die eerste sin van die vers maak geen sin nie…
Ensovoorts, ensovoorts. Ek het baie moeilik hieraan gelees. Miskien, as jy wil, kan ek jou help om hieraan te redigeer. Stuur gerus vir my ‘n epos na inkmoderator@gmail.com.
18..’n Klug
Daar is ‘n paar jakkalsies in jou vers wat ek graag behandel:
a. by “êrens in leemte” skort of ‘n bepaalde of onbepaalde lidwoord. Indien jy daarsonder wil skryf moet die naamwoord eerder in meervoudsvorm wees. Die lidwoord is ‘n funksiewoord wat die verhouding tussen inhoudswoorde oordra.
b.in die volgende 2 reëls “tussenin // twee verdeelde wêreld” kan “wêreld” nie ‘n enkelvoud wees nie aangesien jy in die getal reeds aangedui het dit is meer as een. Indien jy die twee meervoudsvorme wil vermy kan jou sin so lyk: “tussenin // twee wêreld verdeel”
c.reël 12: voëls kwetter nié kletter nie
d.die laaste strofe se woordorde is of verkeerd of ek verstaan dit nie.
Ek dink jou vers sou kon baat by die gebruik van punktuasie. Die enjambiese aanbieding lees lomp. Ek merk geen sinoniem of neologisme vir die woord “drama” in jou vers nie.
19..Bedanking
Die crux (storie/les/verhaal) in die vers is vir my duidelik desnieteenstaande dat dit so kripties geskryf is. Ek persoonlik voel dat goeie poësie werk as dit geskryf is soos mens praat. As jy weer jou vers gaan lees met my bostaande opmerking in gedagte gaan jy verstaan wat ek probeer sê. Soms is dit weglaat van koppel- en lidwoorde genoodsaak om dalk tot die ritme by te dra, maar dan kan enjambement nie die enigste ander ondersteuning wees nie. Die insluiting ‘n begrippe soos “uit God se tuin geluk” is so geyk en deurtrap. Hier gebruik jy dit slegs om by te dra tot jou rymskema. Skrywers wat onthou wil word gebruik ou sinsnedes maar trek daarvoor nuwe baadjies aan. Jou vers kan skitter maar daar is baie klein jakkalsies wat jou “aanplanting” verniel.
20. Wiskundig foutief (Covid 19)
Die gedig is nie alleen slim ontwikkel nie maar het vir my in hierdie “uur” van Covid wat nou al geyk gepen is, ‘n vars invalshoek laat waardeer. Ek het in die laaste twee jaar, seker soos elke ander leser, ‘n oormaat Covid en Covid-verwante leesstof, en teen my sinnelikheid natuurlik, verorber. Elke San, Jan, Skryfsarel en Inkwillie het ‘n versie, ‘n opinie, ‘n gapende gorrel of ‘n opiniaat ter papiere verink. Jou vers is ‘n varsheid in die geforseerde drukgange.
Daar is dingetjies in jou vers waarop ek punte van kritiek het, maar dit maak nie afbreek aan jou besonderse poging nie.
a. As ‘n vers met ‘n hoofletter begin behoort dit met een of ander punktuasie te sluit;
b.Elke stansa behoort nie met ‘n hoofletter te begin nie, want dit word slegs vereis as jy die voorafgaande sluit;
c.Is elke woordkeuse in jou vers die beste? Ek twyfel, maar dit neem niks van jou vers weg nie.
d.Ek sou wou sien dat jou vers sterker sluit, en nié in ‘n stomp 3 woord sin nie.
Welgedaan. Jy het uit die klosterfobiese karton gedink toe jy jou vers geskryf het.
SILWER
6..Dramatiese optrede
Jy het ‘n besonderse sinoniem vir drama in jou vers gebruik. Ek voel egter dat jy met veel minder, meer kon sê in die vers. Ek gaan my verstout en een gedeelte (strofe 2) herskryf ter voorbeeld:
“Riffels van die lewe
is soms ‘n verskrikking:
aardbewings, oorstromings
wat die mensdom trotseer”
As voorbeeld hierbo. Eenvoud en die vermyding van té veel inligting kan help om die vers meer vaartbelyn te maak. Jou vers beskik oor potensiaal maar ek dink jy moet redigering hiervan oorweeg.
10. Flitsmomente
Die gedig lees kripties in die sin dat dit voel asof ‘n versameling gedagtes hul pad papier toe gevind het sonder nodige en funksionele vloei. Jy gebruik tweede en derde persoon verwysings in die vers wat die leser verwar. Ek hou van die “drama” sinoniem maar dit is omtrent al. Jou vers beskik oor potensiaal maar het redigering nodig.
11..Die legende van CJ Langenhoven se trem
Ek wil jou eerstens geluk wens met die gebruik van die woorde “kalfakter” en “koen”. Dit is jare laas wat ek die gebruik daarvan raakgelees het. Mooi so. Ek dink egter die woord “van” wat “waaghalsig/moedig” voorafgaan is str1 lyn 2, behoort eerder weggelaat te word. Jy kan bloot sê: “koen koers vlaktes in…”
In die derde strofe, lyn 1, gebruik jy die woord “verwis” wat nie bestaan nie. Het jy bedoel “vergewis”?
In die laaste strofe gebruik jy die # teken en skryf trem met ‘n hoofletter. Beide is nie funksioneel nie.
Die vers in die geheel is ‘n heerlike storievers wat geskiedkundig waar is. Ek hou daarvan.
12..Nessun Dorma
Dit is ‘n groot Opera wat jy mooi kompak saamgevat het. Ek het geen kritiek hieroor nie. Dalk kan jy in jou voetnota die betekenis van Vinceró vir jou gehoor verduidelik. Mooi gedoen.
14..Lied vir Liza
Die legende van Elise Savoye en Jean Durant is pragtig in jou vers vervat, vandaar natuurlik die “Heks” van Hexrivier wat verwys na hoe die jongens na haar verwys het as die “bekoorlike towenares”.
Ek hou van hoe jou vers ontwikkel is, die woordkeuses en die heerlike ritme hierin. Die herhaling van strofes speel ‘n onoortroffe rol in die “spanning” wat jy probeer skep. Dit is mooi dat jy ‘n ou legende afgestof het en daaroor ‘n nuwe vers geskryf het. Welgedaan.
15..Dubbeldekker-doodsbus
Dit is ‘n treurspel wat reeds 37 jaar aan die harte van baie knaag. Dankie dat jy dit onthou in jou vers. Ek het egter ‘n voorbehoud wat die aanbieding betref. Die gedig lees soos ‘n telegram wat die ritme en vloei erg versteur. Ek sou wou sien dat dit meer storie- en minder feitgedrewe was. Dit is ‘n belangrike gebeurtenis in ons geskiedenis, en laat ons dit altyd onthou. Laat ons ook die helde vereer, soos jy gepoog het. Ek stel voor jy redigeer hieraan want dit is ‘n belangrike vers wat in die digkuns verewig behoort te word.
16..Makaberemirakel
Ek wil net uit die staanspoor jou titel bespreek, ter wille van die ander lesers wat ‘n tydjie afknyp om die kommentare te lees ter opleiding. In hierdie geval moet die leser nie “mirakel” as “prestasie” interpreteer nie, wat dalk aanstoot mag gee, gegewe die inhoud van jou vers, maar eerder as “verskynsel / vreemde saak” waarvoor “mirakel” ook ‘n sinoniem is.
Die geskiedenis, soms ‘n wrede ontnugtering van waartoe die mens in sy haat in staat is, maak goeie materiaal vir veral ‘n vers wat “drama” as tema het. Ek vind jou vers, hoe geskiedkundig juis dit ookal is, baie “verslaggewend” wat nie in mynsinsiens ‘n goeie, vloeibare en maklik leesbare gedig maak nie. In storievorm, met minder een-lyn kriptiese data kon jou vers soveel sterker daaruit gesien het. Ek hou van jou titel en die tema-juistheid.
17..Smeekbede
Daar is oneindigende pitkos hierin. Ek wil ‘n voorstel maak, om die smekinge selfs sterker te laat deurskemer. Kom ons neem strofe 1 as voorbeeld:
“laat my losbreek;
laat my vry vlieg, én hoog,
om my vlerke, wat lánk reeds geknip is,
tot wasdom te laat groei”
Jy kan selfs op ander plekke in die vers “herhaling” inspan om, soos die voorbeeld hierbo, die emosie van smeking te versterk.
In die 3de strofe, moet jy (‘n) gebruik as “treurspel” in enkelfout gebruik word.
Ek bedink die gebruik van “genoeë” soos jy dit aandui en wonder of dit taalkundig korrek is. Vind mens nie eerder genoeë nie, eerder as die vorm waarin jy dit skryf nie? Miskien kan “plesier” of “tevredenheid”, as sinoniem, ‘n beter keuse wees.
Ek hou van jou vers en jy kan die voorstelle oorweeg soos dit jou geval.
21..finis
Dit is die kuns van suksesvolle, en boonop, treffende poësie, as dit ‘n eerlike geselstrant aanneem. Jou vers is aangrypend aards en menslik eerlik, en daarom maak dit ‘n impak op jou leser. Ek dink die vers is kort en kragtig en dit stu teen die lesershart. Ek wil my effe aanmatig en ‘n voorstel maak betreffende die slot van jou vers. Oorweeg om die slot so aan te pas (of met eie keuse sinonieme soos dit jou geval):
“was die slot onvermydelik –
dit is volvoer
ek lees: finis.”
Ek hoop jy begryp wat ek probeer vermag. Dit is asof die slot net na ‘n tikkie “uitrek” vra. Jou vers is, met of sonder veranderings, aangrypend. Welgedaan.
22..Grense
Die slot is veral dramaties, en so eie aan die menslike toestand. Die psige bereik ‘n punt waar die laaste streep die sand getrek word, en wee die oortreder. Ek hou daarvan dat jy eers na die tasbare as grense verwys en dan dat die karakter die finale “grens” trek wat nie noodwendig ‘n fisiese nie, maar ook ‘n psigiese en gemoedsstandpunt kan wees. Die aardsheid, ‘n bekendheid in die vers maak dit inhoud aangrypend tasbaar. Daar is min skrywers én lesers wat die metafoor van ‘n “finale breekpunt” kan mis interpreteer, en juis daarom maak die bekendheid in die emosie van jou vers ‘n treffer. Welgedaan.
GOUD
3..Monsieur le Fleur
Ek weet nie hoe diep hierdie vers van jou op ‘n bronteks staatmaak nie, en of dit geensins geskoei is op die “waarheid” of ‘n “legende” nie. Ek het vinnig geloer of ek ‘n verwysing hierna kan opspoor maar my soektog het niks opgelewer nie. Dit daar gelaat. Wat ook al die inspirasie hiervoor was, het die vir groot leesgenot gesorg. Ek is beïndruk met jou puik aanbieding wat ritmies en rymlik is. Dit verg ‘n besonderse oor en insig om ‘n rympatroon te ontwikkel wat nie geforseerd is nie. Welgedaan. Ek bly nuuskierig oor die verhaal en voel asof ek uitmis indien dit klassieke literatuur is en ek het nog nie die voorreg gehad om dit te lees nie. Nietemin, jou vers is besonder en merk elke boksie van uitnemendheid. Indien jy ‘n bronteks gebruik het, maak asseblief melding daarvan in ‘n voetnota.
4..Reënleser
Ek het al by verskeie geleenthede interpretasie as onderwerp aangespreek, en baie van my gedagtes hieroor is verewig in die eter van die kuberruim. My siening daaroor, in kort, is dat ‘n digter (veral, maar ander skrywers ook) nie ‘n verpligting het om elke nuanse en metafoor só te pen dat die leser konstant oortuig is van die ware betekenis nie. Dit is natuurlik, op die ander hand, heerlik om te begryp wat die digter probeer sê, maar die leser hoef nie met ‘n lepel gevoer te word nie. Terug by jou gedig. Ek lees Johannes op Patmos raak, met ‘n slim omgang met sy openbarings. Dan sien ek die weervoorspeller op die beeldradio, die natuur self wat is haar almag dreunende aankondigings maak en ook die menslike toestand wat probeer sin maak van die tekens en wat dit sal inhou. Ek mag dalk so ver verwyder wees van jou bedoeling dat ek die pot ver mis sit, en dit juis, maak interpretasie van die digkuns so ‘n heerlike uitdaging. Ek hou van jou vers wat mooi ontwikkel is tot ‘n heerlike leesrvaring. Welgedaan.
5..Beproewing
Die personifikasie van die emosie self is ‘n slim manier om hierdie vers aan te bied. Dit is natuurlik belangrik om die gedig swaar en donker te maak sodat die ware karakter van beproewing ontbloot kan word. Jy het daarin geslaag om die leser ten volle te oortuig dat dit nie ‘n aangename “ervaring” is om deur beproewing geteister te word nie. Jou vers is oortuigend. Mooi gedoen.
7..Die wind se lied
Dit is ‘n keurige vers waaroor ek nie veel kritiek nie. Dit is slegs die beeld van “ryp granate” wat so effe geyk is. Mooi gedoen.
8..Krummels en sand
Daar is baie meer vleis aan hierdie vers wat met die eerste oogopslag raakgelees word. Dit is werklik ‘n slim vers wat baie sterk sosiale kommentaar lewer op die moderne menslike toestand.
Die slim manier waarop jy beelde uit die Bybel hier inspan is treffend en skerpsinnig. Ek hou baie van jou slim vers. Welgedaan.
GORREL
1..Net ‘n stukkie been
Jou gorrel is keurig. Dankie dat jy dit met ons gedeel het. Maak seker dat jy jou werk oorlees voor jy plaas want dit sal klein foutjies van woordherhaling, -keuse en sinkonkonstruksie vermy.
2..Aandadig aan moord
Keurig. Maak seker dat jy jou werk deurlees voordat jy plaas dan sal jy vermy om woorde in sekere sinne te herhaal. Die storie is mooi en keurig vertel. Goed gedoen.
3..Sus se plot
Keurige verhaal. Welgedaan.
4..Amper dood
Keurige vertelling.
5..Is dit die moeite werd?
Die gorrel sou baie beter gelees het as dit nie so slordig aan gebied is nie. Daar is woorde in sinne weggelaat, punktuasie is op verkeerde plekke of totaal verkeerd aangewend. Dit lees asof die skrywer kriptiese notas gemaak het en nie ‘n verhaal vertel het nie. Die gorrel kort indringende redigering.
6..Van Drama Queens en vloermoere
Let op spelling.
7..Skoert Ouma
Woordorde en keuse kort aandag. Die sinne in die gorrel is baie lank en dit maak die lees daarvan moeilik. Gebruik genoegsame punktuasie. Let ook op spelling.
RUBRIEKE
1..’n Vlinder word gebore
Keurige rubriek. Ek het geen kritiek hierop te lewer nie. Mooi gedoen.
2..Haal so die angel uit die eerste skooldag
Alhoewel ek van dié versorgde aanbieding hou dink ek dit moet eerder onder die “Artikel” genre gepubliseer gewees het. Nietemin is dit ‘n keurige en netjiese stukkie werk met goeie voorstelle.
ARTIKELS
1..Dramatiese gebeure
Alhoewel daar blyk goeie navorsing te wees is die aanbieding so kripties en onvolledig dat dit baie moeilik lees. Die leser sou daarby baat as die skrywer effe uitbreiding gedoen het en die verskillende “soorte” beter geskei het. Dankei vir jou deelname.
VERHALE
1..Die nuwe intrekker
Dankie vir jou deelname. Ek dink die storie en karakters kon effe beter ontwikkel geword het. DIt sou baat as die skrywer op die een lyn in die storie gekonsentreer het en daardie spasie gebruik het om die situasie tussen die dames te ondersoek en beter te ontlont. Die storie voel werklik gejaagd.
2..Oupa en die Cannabis
Hierdie verhaal lyk so bekend en dit voel of ek dit reeds voorheen beoordeel het. Is dit waar? Indien ek verkeerd is vra ek verskoning maar dit voel baie bekend. Ek hou van jou verhaal en die manier waarop die ontwikkeling daarin gebeur. Welgedaan, en indien ek verkeerdelik opgemerk het vra ek weer verskoning.
3..Suurmelk
Dankie vir jou deelname. Keurige verhaal.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.