Hes Hakkel en die Hanepoot Februarie projek Silwer 358 woorde
Dit was haar liefde vir die bottel wat haar lewe gekos het. Ou tant Mart het altyd na ou Hes hakkel as ‘die tannie met die druiwekorrelmond’ verwys. Hes was baie lief vir haar Hanepoot Muskadel. Daar het maar altyd ’n botteltjie iewers rondgestaan. Dit was ‘n anderse soort liefde daardie. Hes kon nie ’n dag sonder die wingerdsap nie. Dit was haar verslawende liefde. Tog kon mens nie help om vir Hes jammer te voel nie. Die liefde kom in verskeie vorme. Hes se eerste grootste liefde was in die vorm van ‘n ‘properse Engelse jentelman’. Blousel blou oë en gebou soos ‘n griekse god. Sy was maar skaars agtien jaar oud toe die lafentelhaan op die dorp verskyn het. Daardie tipe liefde kom net een keer in ‘n meisie se lewe en Hes het haar hart verloor. Ongelukkig, soos almal verwag het, het lafentel vining spore gemaak toe Hes se gewig skielik begin toeneem. Hes moes dadelik ’n besluit neem. Sy het vir ’n paar maande by haar ouma in die Kaap gaan kuier om kamtig te gaan help om na haar siek oupa om te sien. Hes het geleer van onbaatsugtige liefde. Sy het haar trane afgedroog en die blou kombersie vir oulaas gesoen voordat sy die bondeltjie aan die verpleegster oorhandig het. Dit was juis daar in die Kaap wat Hes die muskadel ontdek het. Wyn vir die pyn. Hes was nooit weer dieselfde nie. Sy het gelewe vir haar werk en was ‘n toegewyde werknemer. Hes het ‘n nuwe liefde ontdek – lojaliteit! Slegs een keer ‘n jaar sou Hes verdwyn. Dan sou jy haar klein figuurjie op die rotse gewaar, blou kombersie in die hand en muskadel in die sand. Dit is juis ook hier waar Hes se verlangende liefde haar die see ingelok het. Die seer het op ‘n dag net te veel vir Hes hakkel geword. Dit was eers teen skemer wat die vissers die blou kombersie en die leë bottel muskadel op die rotse sien lê het. Van Hes was daar geen teken nie. Haar liefde vir muscadel en die seer van vertrapte liefde het op die rotse rusplek gevind.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2022 – Liefde (OOP) projek