Kaja
Sy staar verlangend na die rook wat haar herinner aan die digte mis op haar berg in die Kaap. Sy verlang so vreeslik na die baai en haar meeue. Die wit sand korrels roep haar terug uit die agterstrate van die plakkerskamp waar sy nou woon.
Dig op mekaar staan die “kaja’s” met skaars n meter tussen hulle. In elke een woon n storie, een van hatseer, teleurstelling en vrees. Vrees vir die toekoms oorweldig elke emosie en wanhoop wat geloof bly toewurg is aan die orde van die dag.
Haar lang onversorgde hare waai in die wind en die kroniese asma hoes oorval haar terwyl sy daar staan en kyk na dit wat sy al oor en oor bekyk het. Elke dag herhaal homself en verandering is so skaars soos hoender tande hier op “klein bietjie hoop”. “Ashoop” dink sy. Die skraal middeljarige vrou dink aan beter tye, tye toe liefde en n huis nog n werklikheid was en nie iets wat mens net anderkant die spoor of in ou tydskrifte sien nie.
Sy dink diep en die eindelose vrae oorweldig haar gemoed. Wat kon sy tog anders gedoen het om hierdie gruwelike omstandighede te vermei?
Trane rol oor haar donker son gebrande wange en val voor haar in die sand. Die styf gedraaide koerant sigaret wil nie aansteek nie en sy smyt dit op die grond en trap vies daarop.
n Seuntjie wat van die kaja langs haar sit en kyk met sy oop mondjie, vang haar oog. Sy gluur hom aan asof dit sy skuld is dat die koerant sigaret nie wil brand nie. Sy trek vir hom gesig en steeds bly hy staar met sy oop mondjie soos n gapende goudvissie. Ella word sommer meer ongeduldig toe dit tot haar deur dring wat sy nou net gedoen het. Nee, dink sy. “Niemand gee om vir my en my omstandighede nie, hoekom moet ek? ” Niemand gee om nie.
Die verslete rok wat meer gate as knope het hang tot na-aan haar enkels, maar die stukkende plastiek sandale laat die vuil kolle aan haar bene en voete duidelik sigbaar. Haar arms is ook verbrand deur die son, soos sy elke dag op die hoek in die stad staan met haar bruin karton bord om geld te vra van almal wat wil sien. Niemand wil eintlik sien nie en die twee rande wat skierlik die laaste maande in bruin geld verander het, het geen genade nie. Dit is n soort afbetaling om sommer net nie te sien wat regtig in die wêreld hier onder aangaan nie. Dit is hoe die heel mense anderkant die spoor lewe.
Hulle draai hul probleme in geld toe en hoop laat dit verdwyn, maar sy wonder of dit nie maar net kleintjies kry as jy dit so agter die geld wegsteek nie.
Om haar sien sy nog kaja’s. Party is van sink gemaak en ander van karton bokse wat pap word in die reen. Party het tuintjies van plante wat die tannies aandra van elders, sommer in ou verf blikke geplant en ander weer het net trane. Dit val Ella op hoeveel kinders die mense hier in die kamp het. Honderde vuil gesiggies staar na n mens as jy deur die sand padjies stap. Wanneer die dominee van die “appostolie kerk” hierbo stop, lyk dit soos die laerskool wat uitkom. Haai mens, dit breek n mens se hart om soveel elende maar tog dankbaarheid te moet aanskou.
Die trane het nou droog geword op Ella se gesig. Die son begin skuil agter die berg en haar “boyfriend” gaan nou enige tyd huistoe kom. Sy begin aanstap na haar kaja, terwyl sy opnuut wonder wat sy gaan gee om te eet. Hans, haar jongste kom ook amper van die parkeer area daar bo by Pick a Pay af, dan is die hel los as daar nie kos is nie. Sy skud haar kop en trek haar skouers met moeite reguit. Dis hoe dit maar hier gaan, elke dag n intense herhaling van gister, tussen die kajas van die wit plakkers kamp.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Baie mooi geskryf