
Kersfees, Liefde en Familie
Soos elke jaar hierdie tyd kom die wiele knarsend tot stilstand, en ek wonder opnuut of daardie drie woorde nog saam in een sin gebruik behoort te word? Wel, verseker nie meer in my oorspronklike gesin nie, maar op die oog af is daar darem nog hier en daar vreemdelinge wat die feesgety sonder ooglopende letsels oorleef. Kerstyd het ‘n tyd geword van onverdraagsaamheid en openlike twis onder familie.
Dit het eintlik al jare gelede gebeur nadat twee uit die vier ‘siblings’ besluit het dat 25 Desember darem nou net te heidens is om aan aandag te skenk. Die derde een sit op die draad, en sy bene hang al goed oor na die anderkant toe. Hy hou genadiglik sy opinies vir homself. Als goed en wel – dit is hulle siening en ek is OK daarmee – totdat dit jaarliks gebruik word om my ystervarkpenne in die verkeerde rigting te vryf. God steur hom nie aan enige kalender nie, en ons is vry om God se geboorte te herdenk solank dit die opregte bedoeling van jou hart is.
As die familie in hul hart oortuig is dat Christus nie op 25 Desember gebore is nie (ek stem heelhartig saam), vier hulle dalk hul Skepper se geboorte op ‘n ander dag? Nee, toe ook nie. Geen dag word opsetlik afgekamp om doelbewus na te dink dat ‘iewers lank, lank gelede het ‘n onbeskryflike wonderwerk plaasgevind’ nie. Een wat homself nooit weer in die geskiedenis van die mens – nooit, ooit weer sal herhaal nie. ‘n Eenmalige gebeurtenis wat onder die post moderne mens groot twis en verdeeldheid veroorsaak, en elkeen staan op sy seepkis en sweer hoog en laag dat sý siening die enigste ware een is.
Waarmee ek heeltemal ongemaklik is, is die feit dat hierdie nuwe godsdiens elkeen die reg gee om almal wat anders dink, te kritiseer. Openlik ook, en met ‘n giftigheid wat my laat sidder en wonder waar hul liefde vir (en van) Christus nou eintlik is? Ek vind hul ons-is-‘n-paar-geestelike-trappies-hoër-as-jy-houding arrogant, onverdraagsaam, en meestal blatant afstootlik. En ja, ek het nou al helder en duidelik kennis geneem dat hulle geestelik so ver gevorderd is, dat ek nooit in der ewigheid sal opvang nie. Skynheilig of geestelik verwaand?
En soos ek onlangs verneem het, sal slegs mense met blou oë dit deur die hemelpoorte maak. Ek sweer! Nie eens die prediker se oë is blou nie, dus, ons sal eendag langs mekaar in die warm plek sit! Sê maar net…
Die hoogdrawende manier waarop opinies op ander afgedwing word, word ‘n rots in my keel wat ek net nie afgesluk kry nie. In kort, omdat ek nie hul siening oorgretig deel en soos ‘n blinde agter elke nuwe gier aanloop nie, was dit al goedgedink om regter oor my lewe te speel (kan hulle tot in my diepste hart sien?) en word sonder verhoor tot die ewige verdoemenis te vonnis. Ek wonder soms of my familie dan werklik so min selfvertroue in hul eie geestelike welstand het, dat hulle nie anders kan as om links en regs te oordeel nie. Net soos die grootste deel van die bevolking baie liggeraak is oor die kleur van hul vel (ai tog), is hierdie klompie ook sonder selfvertroue. Want, as jy weet wie jy is, en waar jy vandaan kom, kan die ander maar beledig. Dit gaan soos water van ‘n eend se rug afrol. (Ek preek nou vir myself hier. Moet leer hoe om geestelik eend te speel…)
So ja, ek kan in myself sien dat hierdie ‘n bitter pil is om te sluk. Veral wanneer ek terugdink en sien dat godsdiens die direkte oorsaak is waarom ons familie vir meer as sewe jaar reeds nog nie weer ‘n voet oor die ander se drumpel gesit het nie. My verstand snap nie so lekker dat die aanbidding van Christus, wat liefde en versoening verteenwoordig, soveel verdeeldheid en twis kan veroorsaak nie. As direkte oorsaak van hierdie ommekeer, het al die betrokkenes se huwelike verbrokkel, ouers en kinders is geskei, ouma verwerp vir kleindogter omdat die ma verkeerd glo. En ons wat aan die buitekant van hierdie kraaines staan, sien ‘n pad van verwoesting en pyn. En as godsdiens dít kan regkry, wonder ek soms oor baie dinge.
Ons kontak word beperk tot ‘n afgewaterde en beleefde verjaardag-sms. Telefoniese gesprekke is verbode want die duiwel sal saam met die sein oorklim. Ou suster, die duiwel weet in elk geval waar jy woon – en hy gebruik nie selfone of landlyne nie. Selfs nie eens die stadige posdiens nie! Hy reis nie per motor of te perd nie, en hy stap daagliks oor jou werf, loer by jou vensters in, altyd huiwerend iewers op die agtergrond.
Ek kan die feesgety in een woord opsom : Tragies. En dit het nie net ‘n skeuring in ons familie veroorsaak nie, maar in ons volk ook.
Hiermee neem ek dan nou ook ‘n doelbewuste besluit ter wille van myself en my toekomstige vrede : Solank die ander glo dat Christus vir hulle gesterf het, en vir my ook die ruimte kan gee om in daardie wonderwerk te deel (al lees ons nou nie ‘n Griekse bybel, of volg nie die streng Joodse voorskrifte tot na nie), kan ons saam in vrede op aarde leef. Dalk selfs eendag mekaar weer vind – voor dit vir altyd te laat is. Tot daardie dag het ek nie meer familie nie en gaan my ook nie meer daaroor verknies nie.
Leef en laat leef, elkeen is ‘n wonderlike skepsel van Christus.
4 Kommentare
-
Inkmoderator
Ano, my werk is om julle plasings te krit vir moontlike insluiting in die gedenkbundel, maar ek het dit goed gedink om 'n stuiwer in hierdie beurs te laat. Ek sien nie die twis raak, die verdeeltheid, die skynheilgheid en afsku nie, maar eerder die sagtheid en skoon-mooiheid van jou hart in hierdie 'versugting'. CJ Langenhoven het gesê: 'Alle godsdiens is liefde, en die meeste liefde is afgodsdiens.', en dit liewe maat is wat die verdeeltheid bring. Die mensdom maak hul eie opinie hul enigste liefde en dit is nie in diens van God nie. Dit is hartseer dat hierdie jou ervaring is en my opregte hoop is dat dit ter wille van jou mooi karakter spoedig anders sal wees. Dankie vir hierdie plasing; dit laat mens eie seëninge en samesyn méér waardeer. Behou jou mooi hartlikheid. IM
-
neels
Ano dit was baie goed om n slag van jou te hoor. ek dink die moderator en Toom het alles gesê wat daar te sê is
-
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die INK gedenkbundel projek
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Toom
Liefste Ano, hoe ly ek saam met jou! Die skeur loop middeldeur die hele (Christelike) wêreld: ek wil beweer dat daar inderdaad meer as net 'n paar skeure is... Heelwat meer. En ons almal (sekerlik ek ook) hou vas aan verskeie dogmatiese beginsels wat dit vir ons onmoontlik maak om die ander een se gesigspunt te aanvaar, of eers aan te hoor. Aan hierdie plek soek ek troos by 'n spreekwoord van Angelus Silesius. Dis die een wat ek op die 23e. of 24e. geplaas het, kort voor Kersfees: Kersfeessinspreuk - Geboort. Dan is dit waarlik oninteressant presies waar of wanneer Hy gebore is solank dit hier by my is. Dis my troos, my uitweg uit hierdie penarie. Groetnis vanToom