Jongste aktiwiteit:

Koue Sweet

Koue Sweet

Hy druk die voordeurklokkie met ‘n opgewondenheid wat in sy binneste opwel en dit voel of dit hom vir ‘n oomblik gaan oorweldig. Die sagte voetstap aan die ander kant noop hom amper om van plan te verander en die hasepad te kies. Dis net kortstondig. Hy ruk homself reg en staan effe meer regop. So het hy nog nie oor iemand gevoel nie en hy gaan nie dat ‘n oomblik  van swakheid ‘n leeftyd bederf nie!

Vandat hy haar die eerste keer by die stapklub gesien het, kon hy sy oë nie van haar afhou nie. Die manier hoe sy, met haar helder lui stem, met hom gepraat het; hoe sy  oor haar skouer gekyk het, asof sy wou seker maak hy’s nog daar; die manier hoe sy haar beker met beide hande vasgehou het en haar bene gevou het op die stomp by die kampplek.

Die gedagtes maal deur sy kop en hy kan nie glo alles het so vining gebeur nie. Van die oomblik toe hy haar teen die steilte opgehelp het en vir die eerste keer aan haar hand geraak het, is sy gevoel vir haar op ‘n ander vlak.

“Hello Johan.”

Hy word teruggeruk tot die werklikheid. Hy het nie eens die deur hoor oopgaan nie.

“Susan!”

Hy kan vir ‘n oomblik nie ‘n woord uitkry nie. Die prentjie wat hy voor hom sien is hemels.  Sy het ‘n ligblou denim en ‘n sagte pienk kortmou truitjie aan. Sy is kaalvoet en haar magie steek effe tussen die truitjie en die denim uit. Sy lig haar hande op en omhels hom. Haar skoon hare druk teen sy wang en die sagtheid van haar rondings teen sy bors. Sy ruik soos vars geplukte blomme en hy snak na sy asem. Sy trek haar kop effe terug en kyk met haar groot groen oe in syne. Hul lippe raak aanmekaar en vir ‘n oomblik voel dit vir Johan Naude of hy wegsmelt in haar wese …

Skielik verstyf haar liggam in sy omhelsing! Sy kyk oor sy skouer en hy kan die vrees in haar oe sien.

“Pasop Johan!!” “Jou bliksem, wat dink jy doen jy met my vrou!”

Die hou teen sy kop laat Johan in ‘n donker duisternis wegsink. Hy probeer praat maar kan nie ‘n woord uitkry nie; hy voel hoe die bloed teen sy nek afsypel en in sy kraag wegklad.

Hy skrik wakker; die pyn in sy nek is oorweldigend. Hy stik in iets maar kan nie agterkom wat dit is nie. Instinktief wil hy aan sy mond voel, maar sy arms kan skaars beweeg. Stadig maar seker kom hy by. Hierdie keer kry hy sy hand tot by sy mond. Sy lippe en tong is kurkdroog. Waar is hy?

Dis pikdonker. Hy lig sy kop om te kan sien en stamp teen iets. Dis reg voor hom. Hy wil aan die voorwerp vat, maar sy beweging is te beperk en hy ervaar dat sy hande teen die kante van ‘n kisagtige voorwerp vasdruk word.

Hy is nou by sy volle bewussyn. Hy ruik die reuk van vars grond en hoor opeenvolgende plofgeluide wat klink soos iets wat met reelmaat val. Die swaarheid van die grondreuk oorweldig sy longe. Die werklikheidheid tref hom soos ‘n bliksemstraal! Hy voel hoe ‘n koue sweet oor sy liggaam uitslaan. Iemand is besig om hom lewendig te begrawe! Hy skree om hulp, maar niemand kan hom hoor nie!

Hy hoor en voel hoe die drukking van die grond, die houtomhulsel waarin hy hom bevind, toets . As hy net kon sien! Die plank bo sy gesig kraak en stort half ineen. Die grond sypel deur die kraak en begin binne sy mond en neus ophoop. Hy probeer met sy laaste bietjie krag die plank, wat nou amper teen sy gesig druk, met sy hande terugforseer, maar die drukking is te groot en druk sy hande teen sy bors vas tot dit voel of sy skouers gaan afskeur.

Dis nie hoe hy sy einde voorgestel het nie. Sy lewe flits voor hom verby. Hy probeer aan Susan dink maar kan nie haar gesig onthou nie…hy voel hoe die lewe stadig uit hom uitgedruk word …

“Word wakker!” Sy vrou se hand druk ferm op sy voorkop . “ Jy snork alweer en wie is Susan nogal !??”




3 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed